’n Oupa het my een keer van ’n ervaring wat hy met sy tienjarige kleinseun gehad het vertel. Oupa het die seun gevra: “Wat leer julle deesdae op skool?” waarop sy kleinseun geantwoord het: “Het Oupa geweet dat daar suur in ’n mens se maag is, maar dat dit nie ’n gat daarin vreet nie?” Oupa het vir hom gesê, “Ja, dit is wonderlik! Dit is hoe God ons as mense gemaak het”. Hy was ontsteld toe die kleinseun antwoord: “Oupa, ons doen nie die Godsdiensding by ons huis nie!”

En dit was waar. Geen bewustheid van God was ingesluit by die opvoeding van hierdie seuntjie of van sy broers en susters nie.

Slaan ’n paar jaar oor na vandag se strate in soveel stede regoor die wêreld waar ontsaglike groot skade aan eiendomme aangerig word, terwyl plundering en bloedvergieting hoogty vier, is dit duidelik dat groot dele van die mensdom opgegroei het sonder om enige kennis van Godsdiens op te doen. Gebrek aan eerbied vir God lei onvermydelik tot ’n gebrek aan respek vir diegene wat na Sy beeld geskape is. Dit het tot gevolg dat, onder baie ander betreurenswaardige dade, onwelvoeglike taal gebruik word teenoor diegene in gesag en kras slagspreuke gespuitverf word op geboue en monumente. Sulke haat openbaar ’n algehele miskenning, nie net van die eiendom van ander mense nie, maar selfs ook vir hulle lewens.

Dit was alles so voorspelbaar. ’n Geslag wat die noodsaaklikheid van ’n twee-ouer huishouding ignoreer, beywer hulle vir selftevredenheid, verneder diegene wat dit waag om te dissiplineer en verkleineer hoë standaarde van persoonlike gedrag. Hulle leer hulle kinders daadwerklik om deel te neem aan geweld, om vuil taal te gebruik en keur seksuele losbandigheid goed. Hulle kweek op dié manier ’n kultuur wat deur morele verrotting verteer word.

Wat ons kinders behoort te weet

In antieke tye het God die standaarde geopenbaar van wat reg en verkeerd is. Hierdie tien basiese reëls vir menslike gedrag word in Exodus 20:1-17 en Deuteronómium 5:6-21 gevind. Nadat Hy hierdie reëls baie duidelik gemaak het, het God ’n ontsaglike verantwoordelikheid aan alle ouers gegee:

“En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees, en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor praat as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronómium 6:6-8).

Dit dek bykans alle menslike aktiwiteite wanneer ouers daaglikse roetines gebruik om hulle kinders te leer hoe om konsekwent aan God gehoorsaam te wees om hulle sodoende voor te berei vir ’n geestelik oorvloedige en vervullende lewe. Salomo het geskryf: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spreuke 22:6).

Daar was tye wat die Israeliete hulle Skepper gehoorsaam het en as gevolg daarvan was hulle met vrede en voorspoed geseën. Hulle was egter meer dikwels nie gehoorsaam nie en moes die gevolge daarvan ly. Deur die eeue heen was daar enkele persone wat volgehou het om hierdie lewenswyses te volg. In die eerste eeu n.C. het Jesus van Násaret, God in die vlees, die geldigheid van Sy Wette herbevestig: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Johannes 14:15).

In ’n vroeëre tyd het Dawid van Israel – ’n herder, digter, musikant en koning – geskryf: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie” (Psalm 14:1). Dawid het dit duidelik gemaak dat ’n mens geen verskoning het om die bestaan van God te ontken nie. “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande. Die een dag stort vir die ander ’n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan: daar is geen spraak en daar is geen woorde nie – onhoorbaar is hulle stem” (Psalm 19:2-4).

Die belangrikheid daarvan om die volgende geslag te leer en op te lei, word in die Nuwe Testament herbevestig. In sy brief aan die gemeente in Éfese beveel die apostel Paulus die vaders aangaande hulle kinders, “voed hulle op in die tug en vermaning van die Here” (Efésiërs 6:4).

Gryp die geleentheid aan en leer u kinders van die Skepper-God en Sy reëls vir die mensdom. In die Koninkryk van God – wat ingelui sal word met Christus se Wederkoms wat op hande is – sal dit regoor die wêreld gedoen word en alle geweld, vernietiging en ellende sal uitgewis word. Mag God daardie dag bespoedig!