Beweeg die mensdom in die rigting van demokrasie of na diktatorskap – na vryheid of na tirannie? Diegene wat vandag onder ’n demokratiese regering voorspoedig is, kan dankbaar wees, maar is demokrasie die werklike antwoord? Ofis daar ’n beter manier?

John Adams, tweede president van die Verenigde State van Amerika, het Virginia se wetgewer John Taylor daaraan herinner: “Onthou, demokrasie duur nooit lank nie. Dit verflou gou, raak uitgeput en vermoor dit self. Daar was nog nooit ’n demokrasie wat nie selfmoord gepleeg het nie” (brief gedateer 15 April 1814).

Beweeg ons wêreld in die rigting van ’n toekoms van groter demokrasie? Of, beleef ons die begin van demokrasie se ondergang? Huidige ontwikkelings in Europa sinspeel op die ontstaan van ’n tien-nasie blok van toonaangewende lede vanuit die huidige Europese Unie (“10 Countries for a United States of Europe”, PressEurop, 20 Junie 2012). Beteken dit dat Europa vinnig beweeg na ’n kern van “tien konings” (koninkryke of nasies) soos beskryf in Daniël 2:33; 41-43)?

Demokrasie in beroering

Massiewe geopolitieke verandering is aan die gang. Die Amerikaanse presidensiële verkiesingsveldtog het oorgeskakel na “hoogste versnelling”. Regoor die Arabiese wêreld sukkel nasies vanaf Libië tot Egipte om demokratiese en Islamitiese impulse met mekaar te versoen. Dit lyk of die nuutverkose Egiptiese President, Mohammed Mursi, in ’n magstryd gewikkel is met die verskanste Egiptiese heersende weermag (BBCNews, 10 Julie 2012). Libiese politici flikflooi vir vroue se stemme (The Guardian, 7 Julie 2012). Bloed vloei nog steeds in Sirië (BBCNews, 12 Julie 2012). In Europa dryf Duitsland Europa na groter eenheid, ten koste van individuele nasies se soewereiniteit (Reuters, 10 Julie 2012).

Wat van die Arabiese wêreld? Namate groepe soos die Moslemse Broederskap verrys na dominansie en hul stryd voortsit deur die hele Midde-Ooste, sien ons die opkoms van demokrasie, of die inluiding van nuwe diktatorskappe? Dink aan Egipte. Is die konflik tussen die Moslemse Broederskap en die verskanste leierskap van die weermag (BBCNews, 10 Julie 2012) ’n voorbeeld dat die Arabiese wêreld na “Westerse-styl” oop demokrasie beweeg, of na ’n Islamitiese kalifaat? Diegene wat die “Arabiese Lente” en die sogenaamde “opkoms van demokrasie” in die Arabiese wêreld verwelkom het, sien nou die opkoms van demokraties verkose regerings wat verkondig – soos die Moslemse Broederskap – dat hulle Sharia wet (Moslem-teokratiese) vir hulle nasies wil hê (Reuters, 5 April 2012)!

Die antieke Griekse filosoof Plato het befaamd gewaarsku: “Tirannie ontstaan van nature uit demokrasie; en die mees grofste vorm van tirannie en slawerny ontstaan uit die uiterste vorm van vryheid” (The Republic, Boek VIII). Is sy waarskuwing in die kol? Of – hetsy in Amerika, Europa, die Arabiese nasies of elders – is dit besig om in ons moderne wêreld te gebeur?

Toekomstige regering

Deur die Skrif openbaar God dat daar ’n beter vorm van regering aan die kom is, beter as diktatorskappe, die sosialistiese republieke, die kommunistiese kollektiewes – selfs beter as demokrasie wat, soos Eerste Minister Winston Churchill in November 1947 dit so skitterend aan die Britse Laerhuis gestel het, “... die slegste vorm van regering is, behalwe al die ander wat alreeds probeer is”.

Die Skrif openbaar dat nóg Sharia, nóg demokrasie, nóg diktatorskap, nóg anargie, die toekoms is wat God vir die hele mensdom beplan het. Die goeie nuus is dat die Evangelie van die toekomstige Koninkryk van God ’n belangrike boodskap insluit aangaande ’n toekomstige billike en regverdige regering! Wat presies is God se benadering egter tot regering? Regering is ’n integrale deel van die ware Evangelie-boodskap! Watter tipe van regering behels die “Evangelie van die Koninkryk van God” eintlik? Jesus het gekom om “die evangelie van die koninkryk van God” te verkondig (Markus 1:14-15). Die woord “koninkryk” (van die Griekse woord basileia) beteken regering. Die evangelie-boodskap wat Jesus gebring het, was oor die toekomstige regering van God – wat op hierdie aarde gevestig sal word met Sy wederkoms (Openbaring 17:14). Die terugkerende Jesus Christus sal nie demokraties verkies word nie. Inteendeel, op daardie tydstip, sal die “koninkryke” van hierdie wêreld Syne word, Hy sal as hul Koning heers vir altyd (Openbaring 11:15). Een wonderlike, maar dikwels oor die hoof gesiene faset van God se plan is dat vandag se getroue Christene wat die wil van die Vader doen nie slegs in daardie glorieryke naderende Koninkryk sal ingaan nie; God sal hulle ook aanstel om, onder Christus, te heers in daardie komende koninkryk (Openbaring 5:10; 20:6; 22:5) – ’n koninkryk wat gevestig sal word volgens God se regeringsvorm van geregtigheid en liefde, wat regdeur die duisend jaar van die millennium sal strek (Openbaring 20:4-6) en daarna “vir ewig en altyd” (Openbaring 22:5).

God se woord aangaande regering

Jesus Christus het aan die lig gebring dat die hele wet van God gegrond is op twee beginsels: Liefde tot God en liefde tot die naaste (vgl. Mattheüs 22:36-40). Inderdaad, God se ware natuur word uitgedruk as liefde (1 Johannes 4:8, 16). Nie slegs is God se wet gebaseer op liefde nie, Hy en Sy regering is ook goed (Mark 10:18), volmaak (Psalm 18:31) en reg en geregtig (Jesaja 9:6). God se “volmaakte wet” (Jakobus 1:25) is sonder gebrek van enige aard. Ons weet dus dat God se regering goed, billik, welwillend en regverdig sal wees. Vanaf die Ou Testament tot die Nuwe Testament, tot Jesus Christus se geprofeteerde wederkoms en daarna, sal God se benadering dieselfde wees.

God het self die Ou-Testamentiese priesterskap ingestel. Daar bestaan geen twyfel dat hierdie priesterskap oorerflik was nie, dat dit oorgedra is deur diegene wat direk deur God aangestel is na daardie manne wat deur Sy benoemdes gekies is (Numeri 3:10; 1 Samuel 3:10-21; Jeremia 29:26). Let ook daarop dat God Moses aangesê het om die Leviete aan te stel in hul pligte van diens (Numeri 1:50; 3:10). Vanaf Moses se tyd, tot die tyd van Samuel, het Israel onder die leierskap van aangestelde Hoëpriesters gestaan.

Die Israeliete het Samuel verwerp. God het toe gesê dat hulle Hom eintlik verwerp het (1 Samuel 8:7). Daarna het God vir Saul aangestel in ’n nuwe amp van fisiese koning oor Israel (9:17). Dawid het Saul opgevolg as koning (16:12). Van die baie konings wat gevolg het, was sommiges oor die algemeen regverdig en ander was weer oor die algemeen boos.

In die Nuwe Testament, nadat die Heilige Gees beskikbaar gestel is vir Christene, het God voortgegaan om hierdie vorm van aanstelling te volg (Johannes 20:21-22 en Handelinge 2:2-4). Let op die keuse van die sewe diakens (Handelinge 6:3), en Titus se aanstelling van ouderlinge in opdrag van Paulus (Titus 1:5). God verwag vandag van Sy dienaars om Sy wil, met behulp van die Heilige Gees en deur middel van gebed en vas, te onderskei om te bepaal wie in posisies van leierskap aangestel moet word. God duld nêrens onderdrukking of die misbruik van mag nie. Hy verwag van diegene wat leiers is om diensknegte te wees (Markus 10:44) – net soos Hy dit in antieke Israel gedoen het, soos Hy dit tans in Sy Kerk doen en soos Hy dit in die toekomstige Koninkryk van God sal doen. Nêrens in die Skrif kies Hy daardie diensknegte deur politiek, stemmery of demokrasie nie!

Goddelike regering vir ewig

Christene in vandag se wêreld behoort onderdanig te wees aan die heersende gesag (Romeine 13:1; Titus 3:1). Hulle sien egter ook uit na die vinnig naderende Koninkryk van God, ’n werklike wêreldregering wat op die planeet Aarde sal regeer. Hulle bid vuriglik vir daardie koninkryk om te kom (Mattheüs 6:10). Daardie regering sal nie wat ons vandag demokrasie of diktatorskap noem toepas nie. Nog minder sal dit “boetie-boetie kapitalisme” of “staatsosialisme” bedryf. In plaas daarvan sal die toekomstige Koninkryk van God ’n teokratiese monargie wees met die terugkerende Jesus Christus wat sal heers as Koning van die konings en Here van die here (Lukas 19:11-19; 1 Korinthiërs 6:2; Openbaring 2:26-27; 11:15; 19:16). Soos hierbo aangedui sal vandag se getroue Christene, diegene wat in hierdie tydperk aan hul Verlosser getrou gehoorsaam was, hulle wat geleef het volgens Sy wet wat in hulle harte geskrywe is (Hebreërs 10:16), onder Hom regeer (Openbaring 1:6; 5:10). Hulle sal goddelike regering en regverdige aanbidding leer aan alle mense (Jesaja 30:21; Miga 4:2)! Dit sal ’n tyd wees wanneer Jesaja 9:6 bewaarheid sal word: “... tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde”. Mag God daardie dag bespoedig!