Die meeste belydende Christelike kerke vandag glo dat hulle die opdrag van Jesus volg, nl. “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Markus 16:15). Baie opregte pogings wat goed klink is al aangewend om ’n boodskap te verkondig dat God lief is vir almal, Jesus gesterf het om sondaars te red en dat deur die aanvaarding van Jesus as u Verlosser, u hemel toe sal gaan. Wat die meeste belydende Christene egter nie besef nie, is dat hulle ’n ander evangelie aanvaar het as dié een wat Jesus en die Apostels verkondig het!

Bybelprofesieë onthul dat die evangelie van Jesus verontreinig sal word, dat die wêreld mislei sal word om ’n vals evangelie te glo, maar dat die ware Evangelie weer hervestig en verkondig sal word net voor die wederkoms van Jesus Christus. Daardie profesieë is vandag besig om gestalte aan te neem!

Die ware Evangelie

Dit is insiggewend om die evangelie wat Jesus verkondig het, te vergelyk met die evangelie wat deesdae in die meeste kerke verkondig word. Jesus het nie rondgegaan en mense gevra om “hulle harte aan die Here te gee” en ’n kort gebed te doen, sodat hulle gered kan word nie.

Baie Skrifgedeeltes vermeld eenvoudig die duidelike boodskap dat “Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig [het], en gesê ... diekoninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15). In die boek van Mattheüs verwys Jesus slegs drie keer na Sy komende dood en opstanding, tog verwys Hy meer as 30 keer na die toekomstige koninkryk van God! Markus en Lukas vermeld ’n soortgelyke beklemtoning. Toe Jesus Sy dissipels aangestel het, het “Hy ... hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig” (Lukas 9:2). Jesus het die mense geleer dat diegene wat hul bekeer het en dan nederig en leerbaar word, “die grootste in die koninkryk van die hemele” sal wees (Mattheüs 18:1-5). Jesus het die Apostels belowe dat hulle in die toekomstige Koninkryk “op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel” (Mattheüs 19:23-30). Toe Christus na Sy opstanding aan Sy dissipels verskyn het, was die koninkryk van God die hoofonderwerp wat bespreek was (Handelinge 1:1-7).

Die Apostels het dieselfde boodskap uitgedra. Toe Philippus na Samaria gegaan het, het hy “die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig” (Handelinge 8:12). Aan die einde van sy bediening het Paulus nog steeds “die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee ... aangaande die Here Jesus Christus” (Handelinge 28:23,31). Die apostel Johannes het verduidelik dat gelowiges gedurende die Millennium “konings en priesters vir onse God” sal wees, en saam met Christus as “konings op die aarde” sal heers (Openbaring 1:4-8, 5:10, 20:4-6). Die Bybel sê, afgesien van Jesus, het “niemand ... opgevaar in die hemel nie” (Johannes 3:13), nie eens koning Dawid nie (Handelinge 2:29-34, 13:36). Dus moet ons vra: Wat het geword van die boodskap wat Jesus en Sy Apostels verkondig het?

’n Ander Evangelie

Jesus waarsku ons: “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom” (Mattheüs 7:15-19). Hy voorspel aangaande die eindtyd: “... baie sal onder my Naam kom ... en hulle sal baie mense mislei” (Mattheüs 24:3-5,11). Die apostel Paulus waarsku die ouderlinge in Efese: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Handelinge 20:28-31). Paulus waarsku die Korinthiërs om nie mislei te word deur mense wat “’n ander Jesus ...’n ander gees ... ’n ander evangelie” verkondig nie (2 Korinthiërs 11:1-4). Tog is al met die korrupsie van die ware Evangelie begin tydens die dae van die Apostels!

In ’n brief aan die broeders in Galasië, geskryf ongeveer 52 n.C. sê Paulus: “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ’n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai” (Galasiërs 1:6-7). In hierdie geval, het valse leraars daarop aangedring dat ’n man besny moes word om ’n Christen te kan word – wat nie waar was nie (Galasiërs 2:3-5, 5:1-15). In hierdie hoofstukke verduidelik Paulus dat niemand geregverdig word deur die uitvoering van ritualistiese wassings en ander verwante seremonies wat die Joodse godsdienstige gemeenskap voortdurend gedoen het nie.

Ongelukkig het valse leraars later Paulus se woorde verdraai tot ’n valse leerstelling dat Christene nie meer nodig het om die Tien Gebooie te gehoorsaam of om die Bybelse Sabbat of Heilige Dae te onderhou nie. Onthou, Jesus het die gebooie, die Sabbat en Heilige Dae onderhou en ons geleer om dit ook te doen (Mattheüs 19:16-22; Johannes 14:15; Lukas 2:41-42, 4:16; Johannes 7:8-10). Sy dissipels het Hom nagevolg en dieselfde dinge geleer (sien Handelinge 13:42-44, 17:2, 18:21; Romeine 2:13; 1 Korinthiërs 5:8).

In teenstelling met wat baie mense deesdae glo en verkondig, is die ware evangelie wat Jesus en Sy Apostels verkondig het, in die vroeë eeue na Christus verontreinig en vervang met ’n valse evangelie wat vandag deurgaan as “hoofstroom Christelikheid” – ’n verdraaide weergawe van die ware Evangelie waarin baie nie-Christelike idees opgeneem is. Sommige mense mag dit skokkend vind, maar dit is nie ’n ongegronde of onverantwoordelike bewering nie. Die Encyclopaedia Britannica maak hierdie onthullende stelling: “... oorgeplant in die Griekse wêreldbeskouing, was die Christelike leerstelling onvermydelik aangepas – inderdaad getransformeer ... Messiaanse verwagtings is vergeet ... die idee van die koninkryk van Christus op aarde ... het bykans verdwyn, en het slegs behoue gebly as die geloof van onbekende groepe ... die weg van verlossing is verander, so ook die begrip van verlossing ... veral nadat die Romeinse Ryk verlossende Christelikheid aangeneem het ... verlossing was voortaan nie meer die neerdaling van die Nuwe Jerusalem uit die hemel nie, maar die opvaarding van die heiliges na die hemel, vir die individu is dit nie die opstanding van die fisiese liggaam nie, maar die onsterflikheid van die siel” (“Christianity”, 11de uitgawe).

Historikus Edward Gibbon maak ’n soortgelyke waarneming. Hy skryf dat die leerstelling van die millennium – die aardse heerskappy van Christus en die heiliges in die koninkryk van God – noukeurig verkondig is deur die teoloë van die vroeëre Kerk en “blyk die heersende sentiment van die ortodokse gelowiges te wees” – nogtans is daar met hierdie fundamentele leerstelling weggedoen (The Decline and Fall of the Roman Empire, hoofstuk 15). Hy sê: “Die leerstelling van Christus se heerskappy op die aarde was eers behandel as ’n diepsinnige versinnebeelding, algaande beskou as ’n twyfelagtige en nuttelose mening, en uiteindelik verwerp as die absurde uitvindsel van dwaalleer en dweepsug” (ibid.). Dit is wat gebeur het met die ware Evangelie! Gibbon skryf ook dat die vroeëre Kerk “die wet van Moses met die leer van Christus verenig het ... die onsterflikheid van die siel verwerp het as ’n mening wat geen geldigheid uit die heilige boek ontleen nie” en heidense gebruike soos die Saturnalia verafsku – wat nou gevier word as Kersfees (ibid.) – nogtans word dit nou beskou as basiese beginsels van hoofstroom Christelikheid!

Die Bybel onthul dat verskeie belangrike dinge sal gebeur net voor die einde van hierdie tydperk. Dit is betekenisvol dat Jesus gesê het die verkondiging van die ware Evangelie sal die pad voorberei vir Sy wederkoms. Hy profeteer: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Die tydskrif wat u nou in u hande hou is deel van daardie voortgesette getuienis – ’n getuienis wat vir meer as ’n halwe eeu die ware Evangelie aan miljoene mense regoor die wêreld in die gedrukte media verkondig. Die Tomorrow’s World se beeldsendings en die www.TomorrowsWorld.org of www.wvm.co.za webwerf is ook sleutelaspekte van die geprofeteerde getuienis. Om meer oor hierdie belangrike onderwerp uit te vind, vra asseblief vir ons gratis boekie: Glo u die ware Evangelie? Hierdie belangrike profesieë is tans besig om gestalte aan te neem!