Het u probleme wat u skynbaar nie kan oorkom nie? Voel u alleen in u stryd? Moenie die krag van gebed wat u lewe kan verbeter verwaarloos nie!

Wanneer u te staan kom voor die lewe se probleme, is daar een lewensbelangrike stap wat u altyd behoort te neem.


Watter soort probleme het u? Probleme met u gesondheid? U finansies? U werk? U familie en vriende? U geestelike en emosionele bestendigheid? Verskillende probleme verg dat ons verskillende stappe moet neem om dit op te los. Elke blywende oplossing het egter een gemeenskaplike stap, naamlik gebed.

Ja, ons behoort ons deel te doen. Die Skepper-God het egter alle mag in die heelal. Hy kan aan ons dramatiese bevryding gee en ons op wonderbaarlike maniere help!

Indien u God vra om u te help om u probleme op te los en u gebede te verhoor, wat verwag Hy van u? Die Bybel sê aan ons: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6).

Indien u die Bybelse verhale lees van hoe God mense gehelp en verlos het van geweldige spanning en beproewings, sal u meer geloof verkry. Lees die verhaal van Daniël in die leeukuil (Daniël 6); die verlossing van Sadrag, Mesag en Abednégo uit Nebukadnésar se vuuroond in Babilon (Daniël 3), die ontsnapping van die antieke Israeliete deur die Rooi See (Eksodus 14). Lees aangaande die wonderwerke wat gedoen is deur Jesus van Nasaret – die Seun van God – toe Hy die siekes, blindes, lammes en dowes genees het (Mattheüs 9:18; Johannes 11). Lees van hoe Jesus die dooies uit die dood opgewek het! Dit sal help om aan u geloof en hoop te gee!

Die profeet Jeremia het aan die volk van antieke Juda, wat deur Nebukadnésar in ballingskap weggevoer is na Babel, hoop gegee. God het belowe om te reageer op hul nederige gebede nadat hulle hul lesse geleer het: “Want so sê die Here: As eers sewentig jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring. Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die Here, en julle lot verander en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het, spreek die Here; en Ek sal julle terugbring na die plek vanwaar Ek julle in ballingskap weggevoer het” (Jeremia 29:10-14).

Daardie selfde beginsel geld vir u! U kan ’n gesprek voer met die Skepper van die Heelal! Hy sê dat u Hom kan vind, indien u Hom met u hele hart soek. U kan bid of met Hom praat en Hy sê: “Ek sal na jou luister!”

Hoe moet ons bid?

Wat leer die Bybel ons oor hoe ons moet bid? Nadat Jesus Sy dissipels gekies het, het hulle Hom gevra om hulle te leer bid: “En toe Hy op ’n sekere plek besig was om te bid, sê een van sy dissipels vir Hom nadat Hy opgehou het: Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy dissipels geleer het” (Lukas 11:01).

Wat het Jesus hulle geleer? Hy het Sy dissipels ’n raamwerk gegee van onderwerpe waaroor hulle met God kan praat. “En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons elke dag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat aan ons skuldig is; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose” (Lukas 11:2-4).

Christus se “modelgebed” wys ons dat die eerste belangrike aspek van ons gebed is erkenning van wie God is! Hy is ons Vader. Aangesien God u Vader is, wil Hy hê dat u uself sal sien as Sy seun of dogter, in u gebede die baie persoonlike en intieme verhouding wat Hy met u wil deel, erken. U mag ook graag God wil erken as die Skepper, soos Koning Dawid so dikwels in sy gebede gedoen het, waarvan baie aangeteken is in die boek Psalms in u Bybel.

Indien u ooit voel dat u nie weet waaroor om te bid nie, maak net u Bybel oop by die Psalms. Baie van die Psalms is die opregte gebede van Dawid. Hy was baie reguit, oop en eerlik met God oor sy gevoelens, sy vrese en sy probleme. Dawid het in verwondering gestaan by die aanskoue van die hemele en die uitgestrektheid van die Skepping. U kan dit sien in so baie van die Psalms, veral in Psalm 8, of Psalms 18, 19 en 24, om geïnspireer te word deur Dawid se voorbeeld.

Bid vir Sy Koninkryk en Sy Wil

Wat is die volgende aspek wat Jesus uitwys waaroor ons moet bid? “Laat u koninkryk kom” (Lukas 11:2). U mag Christus se voorbeeld wil volg deur te bid vir Sy Werk – dat die goeie nuus, die evangelie, verkondig sal word in die hele wêreld. Waarom is dit nodig vir Jesus Christus om terug te keer en te heers oor die hele aarde? Wanneer u u daaglikse koerant lees of luister na die nuus, uiter u dikwels dadelik ’n innige gebed vir God se Koninkryk om gou te kom? Die tragedies van oorlog, geweld, siekte, armoede en alle aspekte van menslike lyding maak dat ons smag na God se Koninkryk.

Ons gebede moet daardie verlange weerspieël. Die hele wêreld het die Koninkryk van God nodig. Die wêreld moet her-opgevoed word in goddelike waardes – die lewenswyse wat vreugde en vrede sal meebring. Dit is die weg van God se wet. In die Koninkryk van God, sal Christus aan die hele wêreld die ware lewensweg leer – wat onderhouding van die Tien Gebooie, soos Jesus hulle uiteengesit het, insluit. Daar is ’n weg van liefde wat die regte resultate oplewer. Elke nasie op aarde het daardie soort opvoeding nodig!

Vervolgens leer Jesus ons in die raamwerk-gebed die belangrikheid daarvan om God se wil na te streef en nie ons eie nie. Jesus leer ons om te bid: “... laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Lukas 11:2). Dit is ’n uiters belangrike sleutel tot verhoorde gebede. Die mens is van nature uiters selfsugtig. Die wêreldse siening is een van hebsug en gierigheid. Ons het almal die “ontvang”-motief gehad en, moontlik het u dit nog! Baie mense wil net hulle eie begeertes bevredig sien. Hulle wil hul eie pad volg. Ons lees in Spreuke 14:12 en 16:25: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood”. God se manier, verduidelik deur Jesus van Nasaret se voorbeeld, is die manier van “gee”! Is dit die manier waarvolgens u bid? Bid u vir ander mense voordat u vir uself bid? Bid dat God se wil in u lewe sal geskied – Hy weet wat vir ons die beste is!

Die nag voor Sy kruisiging toe Jesus in doodsangs gebid het, het Hy gevra dat die beker van lyding by Hom sal verbygaan – as dit God se wil is! Let op dat Jesus gebid het: “Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied! En ’n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. En toe Hy in ’n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val” (Lukas 22:42-44).

Jesus was bereid om vir u te ly! Hy het Sy wil onderwerp aan Sy Vader se wil! Wanneer u worstel met ’n probleem of beproewing, vra vir God se verlossing, maar bid ook dat Sy wil sal geskied. Is u bevrees dat dit te veel gevra is? Is u bang dat u nie die beproewing kan deurstaan nie? Let daarop dat God die Vader selfs Jesus Christus moes versterk om die offer wat Hy moes bring, te verduur.

Eis beloftes deur gebed

God maak ook Sy wil aan ons bekend in die duisende beloftes wat Hy in die Bybel aan ons gee. U kan daardie beloftes opeis! Kom ons kyk na ’n paar van hulle. “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus” (Filippense 4:19). Wat het u nodig? Het u behoefte aan kos of klere? Het u behoefte aan ’n werk? Vra! God belowe om in elke behoefte van u te voorsien, maar u moet u deel doen! Wat het Jesus gesê? “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word” (Mattheüs 7:7). Solank as wat u vra dat God se wil sal geskied, nie u eie nie, sal Hy in elke behoefte van u voorsien, soos Hy beloof het!

Ons het ander behoeftes wat ons soms nie regtig besef nie, soos om weer op die regte geestelike pad te kom wanneer ons afgedwaal het. Soms het ons teregwysing nodig. Ons kan vertroos word deur die wete dat die Here aan ons die leiding sal gee wat ons nodig het om terug te kom op die regte spoor. Soms kan dit pynlik wees, maar dit is altyd tot ons beswil (Hebreërs 12).

Om die krag van gebed te ervaar, moet ons ons prioriteite in orde kry. Wat is u prioriteite in die lewe? Weet u wat u doelwit in die lewe behoort te wees? In die sesde hoofstuk van Mattheüs, beklemtoon Jesus dit dat God in ons behoeftes sal voorsien, maar dat ons ook ’n rol het om te speel: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheüs 6:33). Na watter “dinge” verwys Jesus? Hy praat van al die fisiese dinge wat mense nodig het en dikwels bekommerd oor is, omdat hulle nie op God vertrou nie! Jesus berispe hierdie beangste mense vir hul vrese: “As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ’n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?” (Mattheüs 6:30).

Daar is geen rede vir vrees nie – God het die wonderlike belofte gemaak dat as ons eers die koninkryk van God soek, sal ons ook ’n hegte verhouding met ons Vader in die Hemel en met Sy Seun – ons Verlosser – Jesus Christus, opbou. God weet wat ons nodig het, maar Hy wil ons leer om op Hom te vertrou en om afhanklik van Hom te wees.

Die meeste Amerikaners weet dat hul land se geldeenheid gedruk of gegraveer is met die woorde: “In God we trust”. Kan ons as Christene lewe volgens hierdie eenvoudige, maar diepsinnige leuse?

Bid uit die hart

Nog ’n baie basiese beginsel om die krag van gebed te ervaar, is die volgende: Praat slegs uit die hart uit. U hoef nie vasgevang te wees in gememoriseerde gebede wat leeg en betekenisloos is nie. Jesus waarsku ons oor nuttelose herhalings: “En as julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word. Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra” (Mattheüs 6:7-8).

Baie gelowe beklemtoon herhalende gebede – herhaling van dieselfde paar woorde oor en oor, of deur gebruik te maak van gebedswiele of gebedsvlae wat veronderstel is om ’n boodskap te stuur van beoefenaars daarvan aan hulle onsigbare god. God sê dit alles is tevergeefs! Onthou, God verwag dat u ’n persoonlike verhouding met Hom moet nastreef. Aangesien Hy u behoeftes ken, mag eenvoudige versoeke al wees wat nodig is, maar u moet opreg en innig wees soos u sou wees in u omgang met ’n geliefde! Wanneer u nadink oor die seëninge wat God aan u gegee het, fisies en geestelik, sowel as beantwoorde gebede – moet dan nie vergeet om Hom in u gebede daarvoor te bedank nie (Efesiërs 5:20)!

Jesus sê: “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10). Christene ervaar lyding en baie beproewings in die lewe. Hulle het egter die krag van Christus om hulle te help om dit te verduur. Hulle het ook die geleentheid om die ware waardes van die lewe te hervestig en ’n oorvloedige lewe te herwin. Dus, bykomend tot God se belofte dat Hy aan elke behoefte van ons sal voorsien, is daar ’n spesiale belofte oor die begeertes van ons hart: “... en verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart” (Psalm 37:4). Wat ’n wonderlike belofte! Uiteraard moet dit geoorloofde begeertes wees, in harmonie met God se wil. Indien u in harmonie is met God se wil, dan is daar so baie maniere waarop God graag u lewe wil verryk en u verwagtings en drome wil vervul!

Wat van die onboetvaardige?

God wil hê dat u tot Hom moet bid en u lewe met Hom moet deel. Gebed verander dinge; dit is u lewenslyn na God. Verhoor God egter die gebede van onboetvaardige sondaars? Ons behoort te verstaan dat ons nie kan verwag dat God ons gebede sal verhoor as ons eiesinnig voortgaan om doelbewus ’n sondige lewe te lei nie.

Wat is sonde? Neem kennis: “Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God” (1 Johannes 3:4 NV). God kan en wil die boetvaardige egter red! “Kyk, die hand van die Here is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie” (Jesaja 59:1-2).

God sal nie die gebede verhoor van verharde, onboetvaardige mense wat sonde doen nie. Wat gebeur egter as u regtig, ernstig u lewe wil verander? Wat as dit u innige begeerte is om verlos te word van u sondige gewoontes? Indien u werklik God se hulp wil hê om u te bekeer en te verander en indien u die moed aan die dag lê om tot die daad oor te gaan en u sondes persoonlik en privaat aan God te bely, dan sal God u help.

Hoe kan u weet Hy sal? Die Skrif illustreer dit deur Christus se verhaal van die Fariseër en die tollenaar: “En Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel. Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ’n Fariseër en die ander ’n tollenaar. En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie – rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry. En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig! Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word” (Lukas 18:9-14).

God sal nie die gebede van ’n onboetvaardige sondaar verhoor nie, maar Hy sal u gebed verhoor indien u diep en innige berou het, indien u u sonde bely, net soos God die nederige belydenis van die tollenaar verhoor het. Soos die apostel Johannes skryf: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9). Dit is God se belofte. Dit verg moed om ons sondes te bely. Ons moet egter almal ons verootmoedig en na God soek met ons hele hart.

Wat sal gebeur wanneer ons dit doen? God sê aan ons in Jesaja 55:6-7: “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik”.

God wil graag die ewigheid met ons deel. Soos ’n liefdevolle Vader, belowe Hy om aan ons ons basiese behoeftes te gee. Hy belowe ook om aan ons “goeie dinge” te gee. Hy belowe om aan ons die begeertes van ons hart te gee. Ons moet bereid wees om Hom te soek, op Hom te vertrou en aan Hom gehoorsaam te wees. Wanneer u dus ’n probleem of behoefte het, bid daaroor! U sal op die pad wees na vergifnis, genade, begrip en onbeskryflike seëninge en oorwinnings oor sonde. Onthou die belofte dat God die “... mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink” (Efesiërs 3:20).

Eis dus God se beloftes op! Stel daardie lewenslyn van gebed in! Dit sal u lewe nou verander, en u voorberei vir die toekomstige Koninkryk van God onder die liefdevolle heerskappy van ons lewende Verlosser, Jesus Christus!