Vraag: Ek het tot die besef gekom dat ek my hele lewe lank teen God gesondig het. Ek het ’n probleem om te glo dat Hy my al die verskriklike dinge wat ek gedoen het ooit sal kan vergewe. Is daar enige hoop vir my?

Antwoord: 
Ja, daar is hoop! U kan Jesus Christus as u persoonlike Saligmaker aanvaar, u tot Hom wend met opregte bekering en Hy sal u sondes vergewe en aan u die vermoë skenk om Hom te kan gehoorsaam asook om die vreugdevolle en oorvloedige lewe te leef wat Hy vir u begeer.

Dit is nie ’n kwessie van of u “goed genoeg” is om deur God geroep te kan word nie. Dit is God, nie u nie, wat verantwoordelik is vir u roeping. Die Skrif maak dit duidelik dat tensy God u roep, u nie die keuse het om te kies dat u na Hom getrek “wil” word nie. Jesus sê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Johannes 6:44). Waarom kom so min mense dan werklik na hul Verlosser toe? Beteken dit dat God ’n “mislukking” is? Nee! Die verstommende waarheid is dat God nie nou probeer om “almal te red nie” – die meeste mense ontvang eenvoudig nou net ’n waarskuwing en word voorberei vir die Groot Wit Troon-oordeel waartydens hulle hul eerste werklike geleentheid sal kry om God se Waarheid te verstaan, om dan berou tot bekering te ervaar, Jesus se offer aan te neem en Hom gehoorsaam te wees. Om meer te leer aangaande hierdie aspek van God se Waarheid wat deur so min verstaan word, lees asseblief ons boekie: Is Hierdie die ENIGSTE Dag van REDDING? U kan dit aanlyn lees op ons webtuiste www.wvm.co.za, of kontak ons streekskantoor die naaste aan u, soos gelys op bladsy 2 van hierdie uitgawe, om ’n gratis gedrukte kopie aan u te stuur.

Hoe dit ook al sy, wanneer u hierdie artikel lees, behoort u die moontlikheid te oorweeg dat God u dalk nou roep. Daar is nie so iets soos “’n tweede kans” nie – en as God nou aan u die geleentheid bied om een van Sy eerste vrugte te word (Jakobus 1:18; Openbaring 14:4) behoort u in alle erns van daardie geleentheid gebruik te maak. Wat behoort u dan te doen?

Om vergewe te kan word moet u eerstens u sondes erken en dit voor God bely. Bekeer u dan daarvan, word gedoop en ontvang die Heilige Gees. Daarna, met die hulp van God se Gees, moet u uself voortdurend daaraan verbind om op te hou om te sondig en moet u daarna streef om in ooreenstemming met God se Wet te lewe. Om te besef dat u ’n sondaar is en dat u moet distansieer van u sondes, is ’n noodsaaklike stap. God wil ons graag vergewe indien ons ons bekeer en ons na Hom toe wend. “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ’n leuenaar en is sy woord nie in ons nie” (1 Johannes 1:8-10).

Is u ’n te groot sondaar om vergewe te kan word? Voordat God Saulus tot bekering geroep het het hy God se mense bitterlik vervolg. “Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer” (Handelinge 8:3). Hy het selfs deelgeneem aan die moord op ’n diaken in die Nuwe-Testamentiese Kerk. “En hulle het hom buitekant die stad uitgewerp en hom gestenig; en die getuies het hulle klere neergelê by die voete van ’n jongman met die naam van Saulus. En hulle het Stéfanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees!” (Handelinge 7:58-59). God het egter nogtans Saulus tot Sy diens geroep en hy het die apostel Paulus geword! Lees hierdie wonderbaarlike storie in Handelinge 22:1-21.

Waarom sou God so ’n sondaar soos Paulus geroep het om Sy dienaar te word? Paulus verduidelik dit in ’n brief aan die jong evangelis Timotheüs. “En ek dank Hom wat my krag gegee het, Christus Jesus, onse Here, dat Hy my getrou geag en in die bediening gestel het, my wat vroeër ’n lasteraar en ’n vervolger en ’n geweldenaar was. Maar aan my is barmhartigheid bewys, omdat ek dit onwetend gedoen het in ongeloof. En die genade van onse Here was baie oorvloedig met geloof en liefde wat in Christus Jesus is. Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is. Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om ’n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe” (1 Timotheüs 1:12-16).

Ja, God het Paulus, daardie groot sondaar, geroep sodat Hy aan ons kan wys dat ons ook gered kan word as ons ons bekeer, daarna streef om ons Verlosser te gehoorsaam en Hom dan toelaat om ons as Sy gehoorsame dienaars te gebruik. As God Saulus kon roep, is daar dan ’n kleiner moontlikheid dat Hy u kan roep? Om meer te leer aangaande hierdie noodsaaklike onderwerp, lees asseblief ons boekie: Behoort u Gedoop te word? U kan dit aanlyn lees by ons webtuiste www.wvm.co.za, of kontak ons streekskantoor die naaste aan u, soos gelys op bladsy 2 van hierdie uitgawe om ’n gratis gedrukte kopie aan te vra.