’n Mens mag dalk dink dat die jaar 2020 as een van die moeilikste jare in die moderne geskiedenis bekend sal staan. Ons het onrus in baie lande en streke regoor die wêreld gesien, vanaf lande in Sentraal- en Suid-Amerika, tot in die Verenigde State, Europa en Hongkong. COVID-19 is iets wat ons dalk almal graag sal wil vergeet, maar die grootste nalatenskap daarvan kan dalk die jare lange ekonomiese impak wees en wanneer ekonomieë in duie stort, volg daar gewoonlik slegte dinge.

Die V.S. was die afgelope 75 jaar ’n stabiliserende mag in die wêreld, ondanks sy vele tekortkominge. Wanneer ek dit sê sal dit ongetwyfeld kritiek uitlok, maar sou enigiemand wat die geskiedenis en geopolitiek verstaan, regtig verkies dat die Verenigde State deur Rusland, China, Iran of Noord-Korea vervang word? Ten spyte van al Amerika se foute – en daar is baie – sou die wêreld ’n baie slegter plek gewees het indien Japan of Duitsland die Tweede Wêreldoorlog gewen het. Gelukkig was albei hierdie lande, ten minste vir die afgelope dekades, bykomende stabiliserende magte tot voordeel van ons wêreld. Alhoewel ons gelukkig is dat hulle nie die Tweede Wêreldoorlog, vanweë die rigting wat hulle destyds ingeslaan het, gewen het nie, het hulle sedertdien wonderlike veranderings aangebring en hulle verdien ons diepste respek daarvoor.

Ja, 2020 gaan in die geskiedenis bekend staan as ’n jaar om te onthou – of sal dit? Na wat ons reeds gesien het (en net God weet wat nog in die laaste maande van hierdie jaar gaan gebeur), kan dit dalk na ’n vreemde vraag klink.

Kan gebeure egter in die jare na 2020 só katastrofies wees dat dit uiteindelik die traumas van 2020 meer na ’n geskiedkundige voetnota verander?

Daar is ’n rede waarom hierdie tydskrif die Wêreld van Môre genoem word. Ons weet dat ’n baie beter wêreld aan die kom is wat nie op die goedheid van die mens gebaseer nie, nie op vooruitgang in die wetenskap gebaseer is nie, ook nie op godsdienstige herlewing gebaseer is nie, maar wel op die beloftes wat gevind kan word in die Boek wat deur so baie mense besit word, maar wat so min mense lees. Selfs baie mense wat wel daardie Boek lees (om nie te praat van diegene wat dit nié doen nie) vind dat die voorspellings daarin te goed is om waar te wees. Ja, ons lees in die Bybel dat die Messias sal terugkeer en ons beter hoop dat Hy wél sal kom, want die kanse dat die mensdom nog 50 jaar sal kan oorleef, lyk nie goed nie. Om eerlik te wees, dit lyk nie eers goed dat ons nog 20 jaar kan oorleef nie!

Goeie nuus …

Die Bybel beloof dat Jesus Christus sal terugkeer om oor die hele aarde te heers (Sagaría 14:9; Handelinge 1:11) en vrede sal bring na hierdie gebroke wêreld. Daardie vrede sal nie onmiddellik kom nie, aangesien die nasies teen Hom sal veg (Openbaring 17:14). Stel u voor dat die wêreld so mislei sal wees deur ’n magtige, bose wese, wat agter die skerms werk, dat nasies eintlik sal veg teen die Een wat sal kom om die vernietiging van die mensdom te keer (Matthéüs 24:21-22; Openbaring 12:9)! Ons Skepper sal nogtans, ondanks Satan se pogings, Sy vyande verslaan (Sagaría 14:12-15).

Selfs dán sal vrede nie moontlik wees voordat daardie groot bedrieër – die vors van die mag van die lug, wat die mensdom aanhits om te veg en oorlog te voer – verwyder is nie (Efésiërs 2:2; Openbaring 20:1-3). Dit sal die weg baan vir ’n verandering in die menslike natuur, wanneer God Sy Wette op die menslike verstand en harte sal skryf (Hebreërs 8:8-13). Met sterk leierskap sal Satan se bose invloed uit die weg geruim word. Met God se Gees wat sal oorheers, sal daar ’n tyd van vrede volg.

Ons lees een profesie na die ander met betrekking tot daardie tyd:

“EN aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die Here van die leërskare het dit gespreek” (Miga 4:1-4).

Die profeet Jesaja beskryf hoe die terugkerende Messias liefdevol vir die swakkes sal sorg en die aarde se omgewing sal verander:

“Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis. En die gloeiende grond sal ’n waterplas word, en die dorsland fonteine van water; in die plek van die jakkalse waar hulle gelê en rus het, is gras met riete en biesies” (Jesaja 35:5-7).

Dit is die goeie nuus! Of u nou enige vertroue in die Bybel stel of nie, daar is baie redes waarom u dit behoort te doen, dit sal gebeur. Dit hang nie daarvan af of ek of u dit glo nie.

... Nog slegte nuus

Wanneer ons na die jaar 2020 kyk, waarom sal ons twyfel of dit bekend sal staan as ’n jaar om onthou te word? Dit is duidelik dat hierdie jaar in die skadu gestel sal word wanneer dit vergelyk word met die jaar waarop Jesus Christus werklik weer sal kom, maar daar is nog ’n rede: Die jaar 2020 was slegs ’n opwarming voor die traumatiese jare wat die toekomstige goeie jare vooraf sal gaan. Dieselfde Bron wat die toekomstige idilliese wêreld voorspel, waarsku ook oor die ergste tyd van swaarkry wat die mensdom nog ooit beleef het. Tensy die mensdom van sy bose weë afsien, is die jaar 2020 slegs ’n voorsmaak van wat nog voorlê. Dit is tragies, maar daar is geen bewyse dat die mensdom van rigting sal verander nie. Dit is ’n seldsame gebeurtenis as menslike wesens hulle dwaling erken en hulle weë verander.

Daar is een opvallende voorbeeld: Ninevé, die hoofstad van antieke Assirië. Die Assiriërs is die voorsate van die hedendaagse Duitsers. U is miskien bekend met die verhaal van Jona wat deur ’n reuse vis ingesluk is, maar ken u die hele verhaal? Alhoewel party mense dink dat dit niks meer as ’n storie is nie, het Jesus die geskiedkundige egtheid daarvan bevestig en selfs verduidelik: “Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en – meer as Jona is hier!” (Matthéüs 12:38-41).

Jesus het verduidelik dat die toestande op die aarde uiteindelik so haglik sal word dat alle lewe op die randjie van vernietiging sal wees (Matthéüs 24:21-22). Geagte Leser, slaan asseblief hierdie gedeeltes na. Hierdie is nie óns opinie nie, maar woorde uit die Skrif! Tensy ons in die geheel van ons sondes wegdraai – dit wil sê van die oortreding van God se Wette – lê daar ’n baie moeilike tyd voor wat 2020 inderdaad na ’n kleinigheid sal laat lyk. Ons sal nie net al hoe meer onrus in ons stede sien nie, maar ons sal sien dat selfs die natuur teen ons draai – Deuteronómium 28 en Levítikus 26 gee ’n volledige uiteensetting van hierdie toekoms.

Wanneer u sien dat iets wat soos vrede lyk en deur menslike pogings bereik is, moenie selfvoldaan raak nie. Ons word gewaarsku: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thessalonicense 5:3).

Al hierdie dinge sal gebeur – die goeie nuus asook die slegte nuus. Dit hang nie daarvan af of ek of u dit glo nie. Wanneer hierdie dinge oor ons kom, soos dit sekerlik sal, hoop ek dat u sal onthou waar u dit al voorheen gelees het.

Ek wens ek kon vir u sê dat dinge nie erger sal word nie en dat ons kalmer tye tegemoet gaan, maar op die ou einde troos ’n leuen nooit. Daar is egter hoop wanneer die storm verby is, wat onmeetbare vertroosting sal bied vir almal wat daarin glo!