Op 11 September 2001 het ’n stomgeslane wêreld toegekyk hoe tragedie die twee torings van die Wêreld Handelssentrum [WHS], die reuse simbool van die Anglo-Amerikaanse oorheersing van die wêreld se geldsake, in New York City, tref. Miljoene mense het na die lewendige televisie-uitsendings gekyk toe ’n gekaapte handelsvliegtuig die WHS tref. Minute voor dit, het ’n ander vliegtuig in die eerste toring vasgevlieg. Kort daarna het ’n derde gekaapte straler die Pentagon, die simbool van die Verenigde State se militêre mag, in Washington DC, getref. ’n Vierde gekaapte straler kon nie sy doel bereik nie en het neergestort in die veld in Pennsilvanië. In die aanvalle is gesamentlik byna 3,000 mense gedood en miljoene toeskouers regoor die wêreld was geskok en met afgryse vervul.
Die afkeur was egter nie universeel nie. In sommige stede oor die hele wêreld was mense verheug en het selfs in die strate gedans. Die Amerikaanse President, George W. Bush, het dadelik oorlog verklaar teen al Qaeda, die skaduagtige organisasie van radikale Islamiete wat verantwoordelikheid aanvaar het vir die aanval. Die eerste Amerikaanse troepe na Afganistan is in Oktober 2001 ontplooi en in Maart 2003 na Irak, maar dit sou byna ’n volle dekade duur voordat Bush se opvolger, President Barack H. Obama, op 2 Mei 2011 bekend gemaak het dat die Amerikaanse Navy Seals al Qaeda se hoof, Osama bin Laden, gedood het in ’n vuurgeveg naby Karachi, Pakistan.
11 September 2011 dui ’n volle dekade aan sedert die “9-11”-aanval. Hoe het Amerika verander sedert daardie waterskeiding gebeurtenis? Hoe het die Moslem-wêreld verander? Wanneer ons na hierdie gebeure kyk deur die oë van die Skrif, wat kan ons verwag in die toekoms?
Die eerste aanval
Die WHS was ’n djihad-teiken lank voor die “9-11”-aanval. Op 26 Februarie 1993, het ’n radikale groep wat bande het met al Qaeda, ’n goed saamgestelde tuisgemaakte bom in die parkade van die WHS laat ontplof. Die gehuurde paneelwa met die bom – ongeveer 1,500 pond van ureum-nitraat plofstof – was langs ’n strukturele element in die parkade geparkeer. Die plan was om die een toring teen die ander een te laat ineenstort, wat dus albei sou vernietig. Hoe naby het die terroriste aan sukses gekom? Die WHS se argitekte het later getuig dat as die paneelwa nader geparkeer was aan die gebou se gegote betonfondasie, die toring ineen sou stort (“An Icon Destroyed”, Newsweek, 11 September 2001).
Sewe mense, met inbegrip van ’n ongebore baba, het in die Februarie 1993-aanval gesterf, ’n verdere duisend was beseer, die meeste as gevolg van die daaropvolgende ontruiming van die gebou. Slagoffers het die New York en New Jersey Port Authority, eienaar van die geboue, gedagvaar. Die hof het bevind dat die Port Authority 68% verantwoordelik was en die terroriste slegs 32%. Die land het teruggekeer na besigheid soos gewoonlik. Die djihadiste het teruggegaan na die beplanning van hul volgende aanval.
Oorlog teen terreur
Nege dae na die “9-11”-aanval, het President Bush ’n gesamentlike sessie van die Amerikaanse Kongres toegespreek, en wat hy genoem het, “Oorlog teen Terreur”, verklaar. Benewens die troepe wat na die buiteland gestuur is, het hierdie oorlog gelei tot ’n reeks nuwe veiligheidsmaatreëls, ongekend in die Amerikaanse geskiedenis. In Oktober 2001 het die Kongres streng nuwe wetgewing, genaamd die “Patriot Act”, goedgekeur, wat aan die regering meer magte as ooit tevore verleen het om beheer uit te oefen oor wetsgehoorsame burgers van Amerika, sowel as verdagte misdadigers. ’n Federale departement van Homeland Security is in November 2002 ingestel.
Sommige van die mees sigbare veranderings was by lughawens, waar passasiers onderwerp is aan streng regulasies aangaande die vervoer van vloeistowwe en skerp voorwerpe. Skoene, baadjies en rekenaars word noukeurig geïnspekteer, mense wat nie toestem tot “volle liggaamskandering” nie, is nou onderworpe aan “deursoeking”, wat deur baie mense beskou word as ’n skending van privaatheid en waardigheid. Bo en behalwe by lughawens, het veiligheid by ander openbare plekke ook toegeneem, met ’n swetterjoel van metaal-opsporingstoestelle by ingange van geboue.
Binnelandse terrorisme het ’n groot bron van kommer geword, namate Amerikaanse amptenare Islamiete wat plaaslik gebore is teëkom, wat via die Internet beïnvloed word deur radikale Moslem geestelikes. Een so ’n geval was die 5 November 2009 skietvoorval by Fort Hood, Texas, waar Majoor Nidal Hasan – ’n Amerikaanse weermagpsigiater wie sy ontsteltenis uitgespreek het aangaande sy naderende ontplooiing in Afganistan – in hegtenis geneem en aangekla is daarvan dat hy 13 mense doodgeskiet en 29 ander gewond het. Ooggetuies het getuig dat Hasan ’n gebou op die weermagbasis binnegegaan en uitgeroep het: “Allahu Akba!” (“God is groot”), terwyl hy op dosyne mense geskiet het voordat die polisie hom kon bedwing. Volgens getuies was Hasan ’n toegewyde student van Anwar al-Awlaki, ’n radikale Moslemse geestelike, wat dubbele burgerskap van die VSA en Jemen gehad het.
Baie besprekings is al gevoer tussen diegene wat ten gunste is daarvan dat aan die Amerikaanse regering meer magte van waarneming en vervolging van terrorisme verleen word en diegene wat sodanige vermeerdering van magte as verraad teen die nasie se ideale van vryheid beskou en dit verwerp. Sommige mense beweer dat net deur Amerika aan te spoor om toe te slaan op sy burgers se vryheid, die terroriste “gewen” het in hul stryd teen Westerse waardes, sonder om nog ’n skoot te skiet of ’n ander bom te laat ontplof. Ander mense wys weer daarop dat, terwyl die VSA “polities-korrekte” sekuriteitsprosedures geïmplementeer het wat lyk asof dit ’n 25-jarige enkellopende man uit Egipte ewe noukeurig ondersoek as ’n 95-jarige oumagrootjie uit Kanada, het ander nasies openbare “profielsamestellings” van vermeende terroriste geïmplementeer, wat gebaseer is op etniese, nasionale en demografiese karaktertrekke. Kritici sê dat terwyl die Amerikaanse veiligheidsapparaat slegs bomme kan uitsnuffel, kan die Israeli’s (byvoorbeeld) ook terroriste uitsnuffel.
Ten spyte van die voortdurende debat oor veiligheid “op die tuisfront”, kan die Amerikaners na wat lyk na relatiewe sukses in anti-terroristiese pogings verwys. Sedert die “9-11”-aanvalle, het die grootste deel van suksesvolle terroriste-aktiwiteite buite Noord-Amerika voorgekom, terwyl duisende gesterf het in djihadiese aanvalle in Moslem-lande. Nogtans word hulle teenwoordigheid in die Weste gevoel. Radikale Moslems word geblameer vir die 11 Maart 2004 treinbomme in Madrid, Spanje, wat 191 mense gedood en ongeveer 1,800 gewond het. Selfmoord bomdraers in Londen het 52 mense gedood en ongeveer 700 gewond op 7 Julie 2005 toe hulle gekoördineerde aanvalle uitgevoer het op vier teikens van openbare vervoer.
In Amerika het die goed gepubliseerde mislukkings soos die “Shoe Bomber” en die “Underwear Bomber” baie mense laat wonder of daar baie ander aanvalle gekeer is voordat dit kon plaasvind, of dat die nuwe generasie terroriste bloot onbekwaam is. Behalwe vir die toevallige skrikbewind deur “Beltway Snipers” [skerpskutters], of ander kleiner insidente, lyk dit asof anti-terreur pogings merkbare sukses in die bekamping van die grootste bedreigings in die VSA en Europa bereik. Oor die algemeen was die djihadistebaie meer suksesvol in hul aanvalle op Westers-geallieerde Moslem-nasies as teen Westerse nasies self.
’n “Arabiese lente”?
Outokratiese regerings was tradisioneel die norm in die Midde-Ooste. Die stamme se maatskaplike struktuur van die Arabiese gemeenskap ontleen hulself goed aan sodanige bestuur. Dit het nogtans nie verhoed dat broeiende onrus opbou namate burgers in opstand kom teen die korrupsie, onderdrukking, armoede en ongelyke verspreiding van rykdom wat hulle in hul nasies sien nie.
Die Tunisiërs het hul regering in Desember 2010 omvergewerp en die “Tunisiese wind” het sedertdien deur Egipte, Jemen, Bahrein, Sirië en Libië gewaai. Westerse regerings neem kennis sodra betogers aanspraak maak op demokrasie in hulle nasies; sommiges noem die onrus ’n “Arabiese Lente”, wat hulle hoop, sal lei tot die vorming van Westerse styl liberale demokrasieë regoor die Midde-Ooste.
Die Amerikaanse President Barack Obama is kenmerkend van hierdie hoopvolle verwagting. In ’n persverklaring op 19 Mei, het hy gesê: “Ons staan voor ’n historiese geleentheid ... Daar moet geen twyfel bestaan dat die Verenigde State van Amerika verandering verwelkom wat selfbeskikking en geleentheid sal bevorder nie ... Na dekades van aanvaarding van die wêreld soos dit in daardie streek is, het ons ’n geleentheid om die wêreld na te streef soos dit behoort te wees ... Dus, in die komende maande moet Amerika al ons invloed gebruik om hervorming in die streek aan te moedig ... Laat ek spesifiek wees. Eerstens, sal dit die beleid van die Verenigde State wees om hervorming in die hele streek te bevorder en om oorgang na demokrasie te ondersteun”.
Is die President egter realisties in sy siening? Baie mense regdeur die Midde-Ooste het ’n heel ander siening. In die verlede, toe Moslems die geleentheid gehad het om te stem, het hulle dikwels vir Islamitiese, anti-Israelse kandidate gestem. Toe Israel aan die Palestyne beheer oor die Gaza-strook gegee het, het almal verwag dat hulle vir die Palestynse Owerheid sou stem en sou probeer om vrede met Israel na te streef. In werklikheid het hulle Hamas ondersteun – ’n Islamitiese politieke party wat deur Westerse demokrasieë as ’n terroriste-organisasie beskou word.
Meningspeilings toon dat beduidende meerderhede in baie Arabiese lande ten gunste is van die vestiging van Shariawet, ontleen aan die Koran en eeue van Moslemse regsgeleerdheid. Verskeie nasies, soos Afganistan, Iran, Libië, Saoedi-Arabië, Soedan en Jemen beoefen reeds Shariawet in die een of ander vorm. Ander, soos Egipte, Marokko, Jordanië, Pakistan, Sirië, Katar en die Verenigde Arabiese Emirate, meng Sharia met ander stelsels. Tot groot verbasing van baie Westerse ontleders, het die Universiteit van Maryland se navorsers menings ingewin in Arabiese nasies en bevind dat ’n aansienlike meerderheid in Pakistan, Egipte en Marokko ten gunste is van die vestiging van die Kalifaat – wat outokratiese Islamitiese heerskappy sou beteken!
Ver verwyderd daarvan om te stem vir die instelling van liberale Westerse styl demokrasieë, sal Midde-Oosterse lande – sou hulle die kans kry om te stem – veel eerder Islamitiese regerings kies soos dié in Gasa of Iran. Eerder as om ’n liberale demokrasie te vestig, kan die huidige demokratiese bewegings in Midde-Oosterse Islam veel eerder ’n charismatiese leier oplewer om ’n Kalifaat te vestig en outokraties te regeer.
Wat Westerse politici hoop die “Arabiese Lente” sal wees, mag uitloop op die “Islamitiese Winter”.
Wat is volgende?
Namate die Westerse nasies moeg word vir die uitgerekte oorloë in Afganistan en Irak en gereedmaak om hul troepe te onttrek, ontstaan ’n “magsvakuum”. Strydende Moslem-magte wedywer met mekaar om daardie leemte te vul. Iran, met die meerderheid van nie-Arabiese Sjiïtiese Moslems, besef die geleentheid om baie meer invloed in die streek uit te oefen, iets wat baie Arabiese Sunni Moslems ontstel.
Onlangse opstande teen outokratiese Moslem-leiers in Noord-Afrika het sommige hoopvolle Westerse ontleders gelei om ’n “Arabiese lente” in die vooruitsig te stel, wat groter demokrasie na die streek sal bring. Nogtans openbaar ’n noukeuriger ontleding dat die Islamitiese winde wat oor die Midde-Ooste waai, baie sterker is as die “winde van demokrasie”. Wêreldse Westerse denkers faal dikwels om te besef dat die winde van demokrasie en Islam vir ’n tyd saam kan waai, terwyl opportunistiese Islamiete demokrasie gebruik as ’n instrument om die sekulêre opposisie omver te gooi en Shariawet in te stel.
Wat vertel die Skrif aan ons aangaande die tye wat voorlê? Die profeet Daniël het lank gelede reeds die eindtydse gebeure beskryf wat ons vandag begin waarneem: “Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei. Hy sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon. En hy sal sy hand uitsteek teen die lande; ook Egipteland sal nie vrykom nie. En hy sal mag hê oor die skatte van goud en silwer en oor al die kosbaarhede van Egipte, terwyl die Líbiërs en die Kusiete sy voetstappe volg. Maar gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref. En hy sal sy paleistente opslaan tussen die see en die berg van die heilige Prag; maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” Daniël 11:40-45).
Hierdie “koning van die Suide” sal ’n sterk leier wees, waarskynlik die hoof van ’n Moslem-koalisie, wat ’n groot noordelike moondheid in Europa sal aanval of uitdaag. Europeërs is wel deeglik bewus van die bedreiging van Islam. Vir meer as ’n duisend jaar het Moslem-leërs groot gedeeltes van Europese grondgebied beset. In Westelike Europa was Spanje, die suide van Frankryk, Suidelike Italië en Sisilië beset, groot dele van Oos-Europa was ook onder die Kalifaat se beheer.
Vandag se Islamiete reken steeds dat hierdie eens-oorwonne gebiede hulle regmatig toekom. Hassan al-Banna, die stigter van Egipte se Moslem-Broederskap, het geskryf: “Andalusië [die Moslem-naam vir Spanje], Sicilië, die Balkans, Suidelike Italië, en die Romeinse see-eilande was almal Islamitiese lande wat alles terugbesorg moet word aan die tuisland van Islam ... dit is ons reg om die Islamitiese Ryk te herstel tot sy glorie” (“Understanding the Muslim Brotherhood”, Wall Street Journal, 15 Februarie 2011 bl. A13).
Veranderings gaan kom in Europa
Sekularisme is die status quo in Europa. Laïcisme – die gebruik om godsdienstige uitdrukking te verban uit die openbare lewe – is openbare beleid in Frankryk. Nogtans dring baie leiers in die EU aan op ’n amptelike terugkeer na Europa se “Christelike” wortels as ’n grondslag vir Europese eenheid. Die EU benodig groter Europese eenheid – in die vorm van federale beheer van lidlande se fiskale beleid – vir die ekonomiese unie om te floreer en die euro om te oorleef en sterk te wees.
Een invloedryke aansporing in die rigting van eenheid in Europa is die bedreiging van herrysende Islam. Verskeie EU-nasies het reeds te kampe met voortdurende konflik tussen hulle Moslem-bevolkings (grootliks aangevuur deur immigrasie) en historiese kulturele norms. Bybelprofesie dui aan dat, aan die einde van hierdie tydperk, ’n “koning van die Suide” ’n kragtige mag sal vorm om Europa te bedreig. Die vooruitsig van konflik met ’n Moslem-oorheersende “koning van die Suide” sal nie net Europese nasies nader aan mekaar dryf nie, dit sal ook etniese en kulturele spanning tussen Europa se groeiende Moslem-minderheid en die “Christelike” meerderheid verhoog. Dit mag die eendrag van Moslems buite Europa wees wat daarin sal slaag om kontinentale eenheid teweeg te bring, wat die Europeërs nie in staat was om self tot stand te bring nie.
’n Kwesbare Verenigde State
Tien jaar na die “9-11”-aanvalle bly Amerika kwesbaar. Sy grootste kwesbaarheid is egter nie sy sterk gepolisieerde lughawens nie, maar veel eerder sy finansiële krag. Te danke aan dekades van leningsbesteding op oorloë en maatskaplike programme, het die Amerikaanse soewereine skuld ontplof, en is nou byna gelyk aan die land se Bruto Binnelandse Produk. Alle geloofwaardige ontleders stem saam dat die huidige tendens nie volhoubaar is nie. Selfs die sekerheid van Amerikaanse skatkiswissels, note en skuldbewyse word in twyfel getrek en die ekonomiese sterkte wat lank die dryfkrag van die Amerikaanse mag was, word nou bevraagteken.
Amerika was nog altyd baie trots op sy finansiële sterkte, en in die mag wat daardie sterkte projekteer. Nou hang die land se ekonomiese oorheersing egter toenemend meer af van sy vermoë om massiewe bedrae van buitelandse krediteure te leen, ’n praktyk waarmee hul nie ekonomies of polities kan volhou nie. Terselfdertyd gaan Amerika voort om verder en verder weg te beweeg van die Bybelgebaseerde etiek wat eens ’n sterk fondasie voorsien het vir die nasie se morele sin van reg en verkeerd. As gevolg hiervan sien ons ’n wydverspreide morele agteruitgang, dieselfde tyd as wat ons die begin van ’n algemene afname in die rykdom en krag van die nasie sien.
Min waarnemers erken dat daar ’n verband bestaan tussen die nasie se mag en sy gehoorsaamheid aan God. God sê dat dit Hy is wat aan mense die krag gee om rykdom te verwerf. “Neem jou in ag dat jy die Here jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie ... en jou hart hom dan verhef, dat jy die Here jou God vergeet ... en jy in jou hart dink: My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe. Maar dink aan die Here jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe, dat Hy sy verbond kan bevestig wat Hy aan jou vaders met ’n eed beloof het, soos dit vandag is” (Deuteronomium 8:11-18).
God sê ook van ’n ongehoorsame nasie: “Ek sal julle trotse mag verbreek” (Levitikus 26:19).
Wat gebeur wanneer God Sy seën onttrek van ’n land? Ineenstorting kan skielik plaasvind, of dit ’n maatskappy of ’n land is. Dink aan Lehman Brothers, die groot Wall Streetfirma wat ’n AAA-kredietgradering gehad het tot net voor sy bankrotskap. Kyk ook na die skielike skok vir die Amerikaanse ekonomie in September 2008 toe die “sub-prima huisverband-krisis” ’n kritieke punt bereik het. Nou is dit die hemelhoë Amerikaanse skuldlas wat dreig om te tuimel. Met die verlies van sy onbevlekte AAA-status, hoeveel laer sal die Amerikaanse kredietgradering val?
Wanneer ’n stok gebuig word, buig dit eers. Daarna, as die druk vermeerder word, sal dit skielik breek. Die ekonomieë van Amerika en Engeland is steeds staande – soos die WHS torings kort ná die vliegtuie dit getref het – maar hulle word verswak namate hulle gebuig word. Ernstige probleme lê voor. Indien Amerika en Engeland voortgaan om hulle kredietposisie te verswak, kan hulle ekonomieë ineenstort net soos die WHS torings, en ongekende skade sal onmiddellik daarop volg.
Die gebeure van “9-11” het ’n reeks gebeure aan die gang gesit wat vervulling van eindtydse profetiese gebeure sal bespoedig, en die verhoog sal voorberei vir ’n finale tyd van die groot verdrukking, voor die wederkoms van Jesus Christus. Baie mense sal onverhoeds betrap word, maar u as ’n Wêreld van Môre-leser het vooraf ’n waarskuwing ontvang. Sal u voorbereid wees wanneer daardie tyd aanbreek?