In een van die mees brutale godsdiensmisleidings van moderne tye, probeer Tim LaHaye in sy Die wat agtergelaat word-novelle die “wegrapingsteorie” gewild maak. Ek sê “teorie”, omdat hierdie hutspot van misplaaste en wanaangewende teksverse steeds deur die oorgrote meerderheid van belydende Christene verwerp word. Belangriker nog, dit is geheel en al onbewysbaar - omdat dit in regstreekse teenstelling is met die Bybel se duidelike leringe oor Christus se Wederkoms.

Dan beeld hierdie lawwe teorie ook ’n God uit wat roekeloos die doellose dood van ongekende duisende mense meebring! Daar is selfs bufferplakkers wat verklaar: “In geval van wegraping, sal hierdie voertuig sonder bestuurder wees!” Die Die wat agtergelaat word-novelle beskryf hoe Christene wat vliegtuigloodse of motorbestuurders is skielik deur God “weggeraap” word - wat lei tot die dood van onskuldige passasiers en omstanders oor die wêreld heen.

Watter soort God is dit?

In sy onlangse boek, Revelation Unveiled, poog Tim LaHaye om te bewys dat die Bybel die “wegraping” onderrig. LaHaye begin sy “bewyse” deur Openbaring 4:1-2 aan te haal, maar dan erken hy vinnig: “Die wegraping van die kerk word nie uitdruklik in Openbaring 4 geleer nie” (bl. 100). Amen!

Kan ons in daardie Skrifdeel enige aanduiding van ’n “wegraping” vind? Nee! Lees dit self: “Ná hierdie dinge het ek gesien - kyk, ’n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ’n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur. En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ’n troon in die hemel en Een sit op die troon” (Openbaring 4:1-2).

Dit beskryf duidelik hoe die apostel Johannes “in die gees” weggevoer word - moontlik in ’n kragtige visioen - na God se eie troon in die derde hemel. LaHaye probeer op ’n manier redeneer dat die apostel Johannes die Kerk verteenwoordig - hoewel die Bybel nooit enigsins op enige sodanige verteenwoordiging sinspeel nie. Die Bybel stel egter altyd die Kerk as ’n vrou voor - die verloofde bruid van Christus (2 Korintiërs 11:1-2; Efesiërs 5:22-24).

LaHaye bied nog ’n argument vir die wegrapingsteorie aan: “Die afwesigheid van enige melding van die Kerk in die res van Openbaring dui daarop dat dit nie op die aarde is gedurende die Verdrukking nie. Daar is sestien verwysings na die Kerk in Openbaring 1-3, terwyl hoofstukke 6-18, wat oor die Verdrukking handel, nie een keer van die Kerk melding maak nie (Revelation Unveiled, bl. 100). Dit is inderdaad ’n brutale uitspraak, want die ganse hoofstuk 12 praat van die Kerk - Openbaring 19:7-9 bespreek duidelik die Kerk se komende bruilof met Jesus Christus, soos ons later sal bespreek.

LaHaye kom gou by die primêre Bybelverse waarop alle voorstanders van die wegrapingsteorie staatmaak. Hy skryf: “Die apostel Paulus was die spesiale skrywer wat God gekies het om die wonderlike besonderhede van die wegraping te onthul, wanneer alle Christene, beide die dooies en die lewendes, na die hemel “opgeruk” of “weggeraap” sal word om saam met Christus te wees (1 Thessalonicense 4:16-17)” (bl. 101; beklemtoning deur ons).

Watter “wonderlike besonderhede” word in hierdie twee verse gegee wat die wegrapingsteorie moet bewys? Laat ons die hele samehang van hierdie skrifdeel bestudeer: “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thessalonicense 4:13-18).

Wat het Paulus REGTIG gesê?

Die apostel Paulus vertroos hier die gemeente in Thessalonika oor hul medechristene wat onlangs “ontslaap” het - gesterf het. Hy sê dat God met Hom (Christus) diegene sal bring wat “in Jesus ontslaap het”. Dan sê hy: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan” (vers 16). Openbaring 8 en 9 beskryf duidelik die “basuinplae” van God en die ontsagwekkende vernietiging wat dit oor die ganse aarde sal meebring. Dan vertel Openbaring 11:15 ons: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid”. Christus “sluip” dus nie terug aarde toe om in die geheim Sy heiliges “weg te raap” hemel toe nie. Hy keer eerder terug aan die einde van die mees ontsagwekkende aardskuddende gebeure in die geskiedenis - gebeure wat deur elkeen gevoel en gesien sal word!

Weereens vertel die apostel Paulus ons self aangaande Christus se Wederkoms: “Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Korintiërs 15:51-52). Verstaan asseblief hierdie sleutelfeit baie mooi: die heiliges van God - lewendig of dood - word nie opgewek of verander tot na die kragtige “laaste basuin” geblaas het nie. Hierdie basiese feit alleen vernietig die ganse “wegrapingsteorie” heeltemal!

Jesus Christus beskryf duidelik in Mattheus 24:3-33 die volgorde van gebeure wat Sy Wederkoms voorafgaan. Lees asseblief hierdie verse baie noukeurig! Eerstens beskryf Jesus die vals profete wat sal kom en “baie” sal mislei (vers 5). Dan beskryf Hy oorlog, hongersnood, pessiektes en aardbewings wat sal volg. Vertel Jesus ons dan dat Sy heiliges al hierdie dinge sal ontvlug? Nee! Jesus vertel ons eerder: “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam” (vers 9). Baie ware Christene sal gemartel word voordat Christus terugkom - nie “weggeraap” word hemel toe nie!

Daarna voorspel Jesus die Groot Verdrukking, wat so verskriklik is dat “geen vlees” gered sou word nie, tensy God ingryp (verse 21-22). Dan vertel vers 29 ons: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word”. Die ontsagwekkende “hemeltekens” volg daarop en daarna die glorieryke wederkoms van Jesus Christus met die “harde trompetgeluid” (vers 31), terwyl al die heiliges by Christus versamel word en by Hom aansluit wanneer Hy op die Olyfberg neerdaal. “En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg” (Sagaria 14:3-4). Laastens is Sagaria geïnspireer om aan ons te vertel: “En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die HERE een wees, en sy Naam een” (vers 9).

Deur roekeloos aan te neem dat die apostel Johannes die Kerk verteenwoordig, deur versigtig die duidelike en konsekwente betekenis van die “laaste basuin” ter syde te stel en deur van ander middele gebruik te maak, stel dit LaHaye in staat om ’n platform daar te stel waarvan die “wegrapingsteorie” geloods kan word, maar dit is heeltemal onbybels en onbewysbaar. Waar het hierdie verwarrende teorie ontstaan?

Oorsprong van die wegrapingsteorie

Feitlik alle kenners erken dat die wegrapingsteorie basies onbekend en nie onderrig was nie totdat ’n man met die naam John Nelson Darby op die toneel verskyn het. Darby was die stigter van die Plymouth Brethren Kerk. Hy het ’n stelsel van Bybelvertolking beskryf wat “beskikking” genoem is. Hierdie ongewone teorie bespiegel dat God verskillende reëls vir verskillende groepe op verskeie tye in die menslike geskiedenis het. Darby onderrig dat God ’n “wet” gehad het vir die Jode, maar “genade” vir die Kerk.

Later is Darby se idees verfyn en gewild gemaak deur CI Scofield, skrywer van die Scofield Reference Bible. Vanuit hierdie bron is Protestante Evangeliesgesindes bekoor deur hierdie leringe, ten spyte daarvan dat dit skreiend onbybels is.

In ’n poging om vroeëre oorsprong van die wegrapingsteorie te vind, noem LaHaye ’n aantal vae verwysings wat ver in tyd teruggaan na lank voor Darby. LaHaye haal byvoorbeeld aan uit die geskrifte van ene Pseudo-Ephrem, maar erken tog dat dit moeilik is om te weet wie hierdie man werklik was of gedurende watter tydperk hy geskryf het. Hier volg die aanhaling van “Pseudo-Ephrem” wat in LaHaye se boek, Revelation Unveiled gebruik word: “Waarom dan verwerp ons nie alle sorge van aardse optrede nie en berei onsself voor vir die ontmoeting met die Here Christus, sodat hy ons vanuit die verwarring kan bring, wat die ganse wêreld oorweldig? .... Al die heiliges en uitverkorenes van God word versamel voor die verdrukking, wat op pad is en word na die Here geneem, sodat hulle nie meer te eniger tyd die verwarring kan sien wat die wêreld oorweldig as gevolg van ons sondes nie” (bl. 110; beklemtoning deur ons).

Let asseblief daarop dat hierdie beweerde antieke aanhaling geen Bybelse verwysing noem om hierdie idees geldig te maak nie en noem verseker nie die woord “wegraap” nie. Nog ’n vae en selfs vroeëre aanhaling wat LaHaye aanwend (bl. 111) is dié van Victorinius, ’n Rooms-Katolieke biskop van so vroeg as 270 n.C. In ’n kommentaar oor Openbaring het Victorinius bespreek hoe God se mense moontlik gered sou word van die plae wat deur die twee getuies meegebring word, soos beskryf in Openbaring 11. LaHaye skryf: “In sy kommentaar oor Openbaring vergelyk hy die plae van daardie tyd met die plae van Levitikus en sê dan: ‘Hierdie sal in die laaste tye wees, wanneer die gemeente reeds van die midde uitgegaan het.’ Duidelik het biskop Victorinius van Petau, ’n briljante Bybelkenner wat in die derde eeu geleef het, die kerk sien vertrek voor die plae gedurende die tyd van God se toorn, wat uit sy kommentaar, sewe jaar blyk te wees. ‘(Hulle het) reeds van die midde uitgegaan’ was sy manier om die Wegraping van die Kerk te beskryf”.

Wat vertel hierdie aanhaling van ’n antieke skrywer ons van die wegrapingsteorie?

Niks.

Hierdie aanhaling sê absoluut niks van ’n “wegraping” nie. Dit is slegs ’n vermoede dat God se mense - op die een of ander manier - vanuit die “midde” van hierdie gevaarlike situasie weg sou gaan. Deur aan te neem dat hierdie antieke skrywer na die wegraping verwys het, slaag LaHaye daarin om woorde in die mond van biskop Victorinius te plaas!

Is daar egter ’n ware manier van ontsnapping vir God se mense gedurende die komende Groot Verdrukking? Wat onderrig die Bybel self duidelik hieroor?

’n Plek van Veiligheid

Die Bybel onderrig duidelik dat God ’n Plek van Veiligheid sal voorsien - “’n plek wat deur God gereed gemaak is” (Openbaring 12:6) - vir Sy mense gedurende die Groot Verdrukking. Dit sal definitief nie ’n geheime “wegraping” behels nie en die getroue heiliges van God sal nie hemel toe gaan nie. God sal hulle bonatuurlik beskerm in ’n plek hier op hierdie aarde.

Ter beskrywing van die traumatiese gebeure wat net voor die Groot Verdrukking plaasvind, vertel Jesus aan Sy volgelinge: “En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Mattheus 24:20-21). Jesus praat nooit van ’n wegraping nie, maar eerder van die “vlug” van Sy mense. Let daarop dat ons moet bid dat hierdie vlug nie op God se Sabbat moet plaasvind nie, want hierdie komende vlug sal ’n mate van fisiese inspanning en stres behels - net soos die Israeliete van ouds se vlug uit Egipte. Indien ’n bonatuurlike “wegraping” betrokke was, sou daar geen kommer oor die Sabbat of die gevaar van reis gedurende die winter wees nie. Dit moet baie duidelik wees.

Later inspireer Christus die apostel Johannes om in besonderhede te skryf hoe die ware Kerk na ’n Plek van Veiligheid geneem word op hierdie aarde. Bestudeer asseblief Openbaring 12 noukeurig sodat niemand u oor hierdie kwessie kan verwar nie! In Openbaring 12 onthul Jesus aan Johannes ’n visioen oor ’n “vrou” - Israel - wat die Messias voortbring (verse 1-2). Dan verskyn Satan as ’n draak gereed om “haar kind [te] verslind sodra sy gebaar het” (vers 4). Christus, die “manlike kind ... wat al die nasies met ’n ystersepter sou regeer” (vers 5) word dan na God se troon weggeruk in hierdie kragtige visioen.

Vervolgens (vers 6), moet die “vrou” - nou duidelik die Nuwe-Testamentiese Kerk van God - na die “woestyn [vlug] waar sy ’n plek het wat deur God gereed gemaak is”. U kan maklik vir uself bewys dat die hemel nooit ’n “woestyn” genoem word nie! Hierdie skrifdeel beskryf eerder die vlug van God se ware Kerk vanuit die sentrale areas van die Romeinse Ryk - en van die vervolging van die groot vals kerk - na die “woestynarea” van die Italiaanse en Switserse Alpe van 554 tot 1814 n.C.! In die “dag vir ’n jaar” beginsel van Bybelprofesie (sien Esegiël 4:6 en Numeri 14:34) sal dit ’n 1,260 jaar tydperk behels wat strek van die opkoms van die Romeinse keiser Justinianus in 554 na die verwydering van die laaste Heilige Romeinse keiser, Napoleon, in 1814. Dit was gedurende hierdie 1,260 jaar tydperk wat die ware Christene wat in die Bybel geglo het, in die grootste fisiese gevaar was van hierdie bose stelsel wat God noem “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Openbaring 17:5).

Die Groot Verdrukking begin

Tydens hierdie einste tyd van die einde, breek ’n geestelike oorlog uit tussen Satan en sy duiwels en die engele van God. Hierdie ontsagwekkende geestelike oorlog sal moontlik plaasvind binne die volgende paar jaar! Satan word oorwin en “is neergewerp op die aarde ... met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Op. 12:9-12).

Skielik, onverklaarbaar, sal ’n bose gees op die area van die Diermag in Europa neersak en op die leiers van die valse kerk. Kort daarna sal hulle in alle ywer begin beplan om die vernietiging van die VSA, Kanada en Brittanje mee te bring! Hulle sal ook gou begin om toe te slaan op enigeen wat die egte Waarheid van die Bybel durf verkondig. Dit sal die begin van die Groot Verdrukking wees.

Op hierdie stadium, skryf Johannes, sal Satan die “vrou vervolg” - nou duidelik die getroue Nuwe-Testamentiese Kerk van God (verse 13-16). Net soos in die tipiese vervulling wat in vers 6 beskryf is, gaan die Kerk weereens deur God gelei word om te vlug na ’n Plek van Veiligheid hier op aarde, want, “die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk, wat die draak [Satan, vers 9] uit sy bek uitgegooi het” (vers 16).

Wanneer hy sien hoe die waarlik ywerige Christene na ’n Plek van Veiligheid geneem word waar hy hulle nie meer kan bykom nie, is Satan “vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (vers 17). Dan word daardie swak, louwarm Christene wat op hierdie stadium “agtergelaat” word, verskriklik deur Satan die duiwel en sy volgelinge vervolg.

Sommige leraars poog om vers 17 op die Joodse volk van toepassing te maak, maar hierdie ganse hoofstuk praat duidelik van die “Israel van God” (Galasiërs 6:16) - eers antieke Israel (Openbaring 12:1-4) en dan die getroue Nuwe-Testamentiese Kerk van God - wat gedurende die Middeleeue deur God gelei is om van die Heilige Romeinse Ryk te vlug gedurende baie vervolgings, insluitend die Inkwisisie (vers 6). Geliefd soos hulle is, het die Jode nie die “getuienis” van Jesus Christus gehou nie (vers 17) en sal dit ook nie volg nie. Hierdie laaste “vlug” na veiligheid is absoluut van toepassing op God se ware Kerk!

Naby die einde van Sy bediening, gee Jesus Christus hierdie noodsaaklike opdrag aan Sy mense: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36). Baie min belydende Christene gehoorsaam hierdie opdrag van die Seun van God! Dit is omdat die meeste mense kerke bywoon waar Bybelse profesie selde bespreek en verseker nie verstaan word nie. Hulle weet nie waarvoor om te “waak” nie - en is moontlik glad nie geïnteresseerd daarin nie. Trouens, die meeste kerkgangers vandag weet nie eens hoe om te bid nie, en hulle roep ook nie “dag en nag tot Hom” nie, soos Jesus gesê het Sy “uitverkorenes” sou doen (Lukas 18:7). Die meerderheid van God se eie mense word eerder beïnvloed - in hierdie laaste Laodiciese era van God se Kerk - om louwarm te wees. Die lewende Jesus Christus praat kragtig oor hierdie gesindheid: “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Openbaring 3:15-16). Dit blyk dat louwarm, belydende Christene reg in die midde van die Groot Verdrukking gewerp sal word (verse 17-19)! Hulle is nie gewillig om hul liggame as lewende offers (Romeine 12:1) te gee nie, om ten volle oor te gee en om toe te laat dat Jesus Christus Sy gehoorsame lewe in hulle leef nie, sodat - wanneer die Groot Verdrukking begin - God hulle nie sal beskerm nie en hulle sal uiteindelik gedwing word om te kies tussen volle oorgawe aan God of ewigdurende dood in die Vuurpoel.

Tog sal God se getroue, waarlik gehoorsame kinders bonatuurlik beskerm word in ’n plek hier op aarde. God beskryf die lewenswyse van Sy getroue mense: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Openbaring 14:12). Net soos Sy ware Kerk in Openbaring 12:17 beskryf word as ’n gebodshoudende Kerk, so gehoorsaam God se individuele heiliges die Tien Gebooie as ’n lewenswyse - hulle gee nie toe tot die sirenesang van so baie leraars dat daar met God se geestelike wet “weggedoen” is of dat dit “aan die kruis vasgespyker is” nie. Die Bybel is baie duidelik hieroor!

Indien u dus die goddelike beskerming van die Almagtige God verlang in die traumatiese maande en jare wat voorlê, wees verseker dat dit nie daarin berus om opgewonde te raak daaroor om te eniger tyd skielik “weggeraap” te word hemel toe nie. Ons Skepper sal, soos God se Woord dit duidelik maak, eerder Sy getroue Kerk lei om te weet wanneer en waarheen om te vlug net voor die Groot Verdrukking begin. Hulle sal bonatuurlik beskerm word in ’n plek wat God kies hier op aarde. Dan, na die Groot Verdrukking, sal “die basuin ... weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Korintiërs 15:52; verw. 1 Thessalonicense 4:13-17).

Daar sal geen “geheime wegraping” van die heiliges wees nie. Die kragtige trompetgeskal van God sal die aarde skud voordat die heiliges van God opstaan! Mag God u en u geliefdes help om te verstaan en gewillig te wees om oor te gee aan die lewende Jesus Christus sodat Hy Sy gehoorsame lewe in u kan leef deur die krag van die Heilige Gees. Soos die apostel Paulus geïnspireer is om ons te vertel: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

Deur Christus in u, mag u waarlik leer om met God te wandel en die ware beskerming te geniet wat die Almagtige God aan Sy ware heiliges beloof.