Jesus was dikwels met deernis gevul teenoor diegene in nood. Sal u deur Sy voorbeeld leer?

Tydens Sy lewe as mens was Jesus Christus dikwels diep geraak met medelye vir mense wat siek, blind, kreupel of honger was of wat as gevolg van ander probleme gely het, soos die duiwelbesetenheid of deur droefheid oor die dood van ’n geliefde. Hy was opreg besorg oor die lyding van ander. Ons vind baie voorbeelde van Jesus se medelye in die Bybel, waaronder gevalle waar Hy selfs tot trane beweeg was. Jesus se deernis met mense en hulle lyding was een van Sy vele volmaakte karaktereienskappe.

Om medelye soos Christus s’n na te streef en daarin te groei, is veral belangrik tydens die COVID-19-pandemie. Baie mense het hulle werk verloor en sukkel om kos te koop. Ander mense het vriende of familielede verloor of selfs hulle eie lewens. Nou is dit ’n goeie tyd om met ander mense medelye te hê soos wat Jesus gehad het.

Geraak om ’n verskil te maak

Een van my gunsteling voorbeelde van Jesus wat medelye betoon het, is in Matthéüs 20:29-34 opgeteken. Hierdie gedeelte beskryf die tyd toe Jesus Jérigo verlaat het terwyl ’n groot skare Hom gevolg het. Terwyl Jesus en die mense aangestap het, het hulle verby twee blinde mans geloop wat langs die pad gesit het. Die twee mans besef toe dat Jesus in die groep was wat daar verbygeloop het. Hulle het na Hom uitgeroep om hulle genadig te wees en hulle te genees (blykbaar het hulle al van Jesus en Sy krag om te genees gehoor). Sommige mense in die skare het hulle gemaan om stil te bly, maar hulle het nog harder geroep. Hulle het desperaat gesmeek om genees te word, omdat hulle geglo het dat Jesus hulle van hulle blindheid sou kon verlos. Verse 32-34 beskryf ’n baie spesiale oomblik: “Toe gaan Jesus staan en roep hulle en sê: Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen? Hulle antwoord Hom: Here, dat ons oë geopen mag word. En Jesus het innig jammer vir hulle gevoel en hulle oë aangeraak, en dadelik het hulle oë gesien, en hulle het Hom gevolg.”

Die mans het verlang daarna dat hulle oë geopen sal word en om verligting te kry van hulle lyding. Nadat Jesus hulle geroep om hulp gehoor het, was Hy met deernis gevul en Hy het op daardie deernis gereageer. Vir die res van hulle lewens het die twee mans waarskynlik hierdie verhaal honderde kere vertel.

Die Bybel bevat baie ander voorbeelde van Jesus wat medelye gehad het met siekes, blindes, kreupeles en met lyding. Lukas 7:11-15 vertel byvoorbeeld van hoe Hy die stad Nain binnegegaan en op ’n begrafnisstoet afgekom het. Die treurende vrou in die groep het voorheen haar man verloor en het nou haar enigste seun verloor en dit was sy begrafnis. Aangespoor deur Sy deernis met die eensame weduwee (vers 13), het Christus die oop kis aangeraak en die dooie jong man beveel om op te staan. Die jong man het dit onmiddellik gedoen deur regop te sit en te praat. Daarna het Jesus die jong man wat hy opgewek het aan sy moeder, wat dalk self gevoel het asof die lewe aan haar teruggegee is, terugbesorg. Dit is natuurlik net een voorbeeld van baie.

Christus het die “hart en siel” van die Weg van God onderrig en dit Self uitgeleef. Dit was om te help en ander mense te versorg, veral diegene wat die grootste behoefte daaraan gehad het (Matthéüs 25:31-46; Jakobus 1:27).

’n Voorbeeld om na te streef

Jesus is nie ’n afsydige en afgetrokke Verlosser nie. Hy het groot empatie gehad – die vermoë om die gevoelens van ander mense werklik te verstaan en te deel. Jesus het vooraf geweet dat Hy Lasarus uit die graf sou opwek en steeds het hy geween toe Maria voor Hom getreur het (Johannes 11:28-44). Hy het intens medelye gehad met mense, hoe hulle gely het en vir die omstandighede van hulle lewens. Hy doen dit nog steeds (Hebreërs 4:15).

Die corona-virus het baie siekte en lyding veroorsaak. Jesus se voorbeeld behoort ons eie medelye aan te wakker en ons te motiveer om hulp, ondersteuning, aanmoediging en gebede aan te bied vir diegene in nood. Dit sal ons help om ’n bietjie nader te kom en die doelwit te bereik om die mooi en deernisvolle gesindheid van Jesus Christus in ons te ontwikkel (Filippense 2:5).