Waar is al die groot ryke van die verlede? Waar is die Assiriese Ryk, die Babiloniese Ryk en die Romeinse Ryk? ’n Mens kan dít wat van hulle oorgebly het in museums, ruïnes en ’n paar klipgeboue vind, wat slegs deur moderne toeriste besoek word. Magtige nasies kom aan bewind en tot ’n val! Is dit moontlik dat die Verenigde State van Amerika tot niet kan gaan, soos so baie magtige nasies tevore?

Ons kan nie anders as om beïndruk te wees deur die groot ryke van die verlede nie. Die Babiloniese Ryk het die Midde-Ooste regeer en die leërs van Nebukadneser was onstuitbaar. Die magtige Romeinse Ryk het 500 jaar geduur voor dit deur die Vandale en die Heruli oorwin is. Die Tweede Wêreldoorlog het die blitzkrieg uitbreiding van die Derde Reich oor Europa en Noord-Afrika meegebring. Hitler se ambisies het die oorwinning van die Sowjet-Unie ingesluit, maar hy het misluk en die geallieërde magte het die magtige Duitsland tot in ’n puinhoop laat tuimel. Kan enige volk of ryk lank bly bestaan? Kan Amerika veel langer as supermoondheid staande bly? Wat sê die Bybel van die toekoms van koninkryke, ryke en nasies? Het God ’n sê in wat gaan gebeur? Wat is die lesse uit die verlede - en die Bybel - en watter waarskuwings hou daardie lesse vir die Westerse beskawing in?

Die Unie van Sowjet Sosialistiese Republieke het uit vyftien republieke bestaan en een sesde van die wêreld se grondoppervlak beslaan. Dit was twee en ’n half keer die oppervlak van die VSA. Hierdie groot supermoondheid het hom verlustig in sy kommunistiese ideologie; dit het geveg om die harte van nasies rondom die wêreld en verloor. Op 9 November 1989 het die simbool van hul onderwerping van Oos-Europa, die Berlynmuur, neergestort.

Nou is hierdie eens magtige moondheid verdeel in vyftien sukkelende volkstate waarvan twaalf saamgesnoer is in die Gemenebes van Onafhanklike State. Wie sou die val van hierdie groot supermoondheid kon voorspel? ’n Klein groepie Bybelgebaseerde Christene het wél verstaan dat Oos-Europa uiteindelik van die ystergreep van die Sowjet-Unie sou ontsnap. Hoe kon hulle dit weet? Bybelprofesie voorspel dat nog ’n supermoondheid, genaamd die Dier, in die boek Openbaring, aan bewind sal kom. Bykans 50 jaar gelede het Herbert W. Armstrong geskryf dat Oos-Duitsland en Wes-Duitsland sou herenig en dat Rusland “gedwing sou word om haar beheer oor Hongarye, Tjeggo-Slovakye en dele van Oostenryk prys te gee” (Plain Truth, April 1952, bl. 16).

Kort na Rusland se inname van Hongarye in 1956, toe baie kundiges geglo het dat die “Ystergordyn” onvermydelik oor die volke van Oos-Europa neergesak het, skryf mnr. Armstrong: “Die weg word gereed gemaak vir ’n kolossale derde mag in wêreldpolitiek, ’n Europese Federasie van Nasies veel magtiger as Rusland of Amerika! … Ons het jare vooruit aangedui wat met Rusland se gedoemde Ryk in Oos-Europa sou gebeur” (The Plain Truth, Desember 1956, bl. 3).

Uit Bybelprofesie kan u weet wat in die toekoms gaan gebeur. U kan weet wat die breë trekke van wêreldgeskiedenis sal wees en wat in die 21ste eeu met die groot nasies gaan gebeur! Daar is ’n God in die hemel wat ’n groot plan hier op aarde uitwerk. Hy gee aan mense en menslike beskawings sesduisend jaar om met godsdiens, wetenskap, regering, besigheid, opvoeding en maatskaplike instellings te eksperimenteer. God laat mense toe om hul eie voorspelbare, vleeslike gang van selfsug, oorlog en geweld te gaan, maar Hy gryp dikwels in ten einde blywende lesse van lewe en dood te leer.

Koning Nebukadneser het die magtige Babiloniese Ryk regeer, maar sy verwaandheid en verwerping van God se mag het groot oordeel oor hom gebring. Koning Nebukadneser laat roep die profeet Daniël om ’n kwellende droom uit te lê. God openbaar dat die koning van sy troon verdryf sou word om vir sewe jaar saam met die diere van die veld te leef. Wat was die les wat hierdie magtigste koning moes leer? Hy moes leer “dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil en die nederige onder die mense daaroor aanstel” (Daniël 4:17).

Na sewe jaar herstel God die koninkryk tot Nebukadneser. Die koning het sy les geleer. Die Bybel haal die koning se berouvolle denke aan: “Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel” (Daniël 4:37).

Net soos Nebukadneser s’n, het ander groot ryke tot ’n val gekom. Die skrywer Jim Nelson Black vertel in sy boek When Nations Die wat die lot van verskeie moderne ryke was. Hy skryf: “Die ineenstorting van die Sowjet-Unie wat sedert die herfs van 1989 geduring in die nuus was, is duidelik die mees onlangse voorbeeld van die lot van nasies, maar dit is nie die enigste een nie. Net in hierdie eeu alleen [20ste eeu] het ons die val gesien van die Duitse Reich, die Oostenryks-Hongaarse Ryk, die Italiaanse Ryk van Bennito Mussolini, die Japanese Ryk van Hirohito en laaste maar nie die minste nie, die Britse Ryk” (bl. xvii).

Waarom kwyn nasies en kom hulle tot ’n val? Die geskiedenis bewys keer op keer dat ’n nasie se morele toestand en karakter belangrik is vir sy voortbestaan. God se morele wette is op beide nasies en individue van toepassing. Die apostel Paulus skryf: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Galasiërs 6:7). Individue en nasies wat morele verval, geweld en onderdrukking saai, sal nie lank bly voortbestaan nie.

In sy navorsing van verval in die moderne samelewing, lys Jim Nelson Black sodanige tekens van verval as “luuksheid, skeptisisme, waaksaamheid, bygelowigheid … ’n besorgdheid vir die self … bevordering van verkeerde mense, drang om te oorbestee en ’n toename van “liberale sienings” - dit is die gewildheid van gesindhede en beleid wat deur sentiment, eerder as gesonde morele oordeel beheer word” (Black, bl. xvii).

Tog sal God ’n nasie red wat op Sy waarskuwings ag slaan. Toe die koninkryk van Juda aanvalle deur die leërmagte van Moab en Ammon in die gesig staar, het hulle hulself verootmoedig en God gesoek. U kan die volle inspirerende verhaal in 2 Kronieke 20 lees. Koning Jehosafat vermaan die mense om op God te vertrou vir hul oorwinning. “Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Glo in die HERE julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees” (2 Kronieke 20:20). Hulle het, en God het aan Juda die oorwinning gegee! Daardie noodsaaklike beginsel is vandag van toepassing! Sal ons ag slaan op die waarskuwings van God - selfs hierdie einste oomblik? Of sal ons nasionaal en individueel verder verval?

Let op hierdie ontnugterende woorde van die voormalige VSA sekretaris van onderwys William Bennet: “Nasionale voorspoed is grootliks afhanklik van goeie private karakter. Indien leuens, manipulasie, luiheid, swak dissipline en persoonlike onverantwoordelikheid algemeen raak, verweer die nasionale ekonomie. ’n Samelewing wat straatrowers en wit-boordjie kriminele voortbring, moet vir gevangenisse betaal. ’n Samelewing waarin dwelmmisbruik seëvier, moet vir dwelmrehabilitasiesentrums betaal. Die opbreek van die gesin bring veel meer pleegtuistes en laer hoërskool slaagsyfers mee. ’n Samelewing wat suinig is met persoonlike liefdadigheid (in terme van tyd en geld) sal meer regeringswelsynshulp benodig. Net soos daar enorme finansiële voordele aan morele gesondheid gekoppel is, is daar ook enorme finansiële kostes aan morele verval verbonde” (The Death of Outrage, bl. 35-36).

Beskryf Bennet se woorde die hedendaagse Amerikaanse kultuur? Ongelukkig is die antwoord “ja”. Mnr. Black deel ’n soortgelyke siening. Hy skryf: “Is dit moontlik dat ons eie kultuur in die laaste stadiums van verval is? Is dit moontlik dat Amerika - eens alombekend as die mees vooraanstaande ekonomiese en militêre mag in die wêreld - moontlik binnekort dieselfde weg as Griekeland en Rome sal volg?” (Black, bl. xvii-xviii). Kan dieselfde van Suid-Afrika gesê word?

Die antwoord is dat ons in ons morele verval en vernietiging sal voortgaan, tensy ons ons nasionaal en as individue bekeer. Die Almagtige God wat die optrede en karakter van volke oordeel, sal die Groot Verdrukking op ons bring. Geen nasie of ryk kan lank voortbestaan sonder morele karakter en God se seën nie. Koning Nebukadneser van ouds het dit op die harde manier geleer. Hy het die waarskuwing van God se profeet geïgnoreer en moes vir sewe jaar saam met die diere van die veld leef. Ons sien, deur koning Jehosafat se voorbeeld, dat God ’n volk wat hulself verootmoedig, na God soek en op die waarskuwings en opdragte van Sy profete en leraars ag slaan, sal seën!

God stuur ook die profeet Jona om die Assiriese koninkryk te waarsku. Jona reis na die Assiriese hoofstad, Nineve, aan die Tigrisrivier. Sy boodskap word in die boek Jona opgeteken. “En Jona het begin met een dagreis ver die stad in te gaan en het gepreek en gesê: Nog veertig dae, dan word Ninevé verwoes” (Jona 3:4). Hoe het die Nineviete reageer? “En die manne van Ninevé het God geglo en ’n vasdag uitgeroep, en groot en klein het hulle met rougewaad beklee. En toe die berig die koning van Ninevé bereik, het hy opgestaan van sy troon en sy mantel afgehaal en in rougewaad gehuld in die as gaan sit” (Jona 3:5-6).

Die Assiriërs slaan ag op die profeet se waarskuwing. Hulle bekeer hulle van hul bose weë en God het hulle gespaar. Dit het in die agtste eeu voor Christus plaasgevind. God het hulle gespaar totdat hulle na hul vleeslike weë teruggekeer het. In 612 v.C. is Nineve deur die Babiloniërs, Skitiërs en Mede vernietig. God het Assirië vroeër gebruik om antieke Israel te straf en Israel het in ballingskap na die Assiriërs gegaan. Die koninkryk van Israel het in die geskiedenis verlore geraak en staan bekend as die “verlore tien stamme”.

God stuur ook Sy profete om Israel te waarsku om hulle te bekeer maar hulle weier. Daarom oorwin die koninkryk van Assirië die noordelike koninkryk, die tienstam Huis van Israel en verskuif die gevangenes ver na die ooste van Assirië. Die laaste ballingskap vind in 712 v.C. plaas.

Toe stuur God ook die profete om die suidelike koninkryk van Juda, wat ook met hul sondes voortgegaan het, te waarsku. God gebruik die koninkryk van Babilonië onder koning Nebukadneser om die huis van Juda te straf. Die meerderheid Jode is oor ’n tydperk van twee dekades na Babilon weggevoer, wat ten einde loop met die vernietiging van Jerusalem in 586 v.C. ’n Jong Daniël en drie van sy vriende word gevange geneem en opgelei in die Babiloniese kultuur en literatuur. Hierdie jong manne volhard egter in die goddelike waardes wat hulle van kleins af geleer is en God gebruik Daniël om Nebukadneser se droom uit te lê.

“En in die tweede jaar van die regering van Nebukadnésar, het Nebukadnésar ’n droom gehad, sodat sy gees onrustig geword het en dit met sy slaap gedaan was. Toe het die koning bevel gegee om die geleerdes en die besweerders en die towenaars en die Chaldeërs te roep, om vir die koning sy droom uit te lê. Toe hulle kom en voor die koning gaan staan, sê die koning vir hulle: Ek het ’n droom gehad, en my gees is onrustig om die droom te verstaan” (Daniël 2:1-3).

Die raadgewers vra die koning om aan hulle die droom te vertel, sodat hulle dit kon uitlê. Die koning dreig hulle egter met die dood as hulle hom nie kon vertel waaroor die droom gegaan het nie. Die koning was in effek besig om die astroloë en towenaars se aansprake op goddelike openbaring te toets. Daniël vra sy vriende om te bid dat God die droom sou openbaar en gedurende die nag maak God die droom aan Daniël bekend, wat op sy beurt al die eer daarvoor aan God gee. “Daniël het in teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: Die geheim waarna die koning vra, kan die wyse manne, die besweerders, die geleerdes, die waarsêers nie aan die koning te kenne gee nie. Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnésar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. U droom en die gesigte van u hoof op u bed was dit ...” (Daniël 2:27-28).Toe beskryf Daniël hierdie groot beeld in die koning se droom.

Daniël vertel die koning nie net wat sy droom was nie, maar gee ook die uitleg daarvan: “U, o koning, het ’n gesig gehad - kyk, daar was ’n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei” (Daniël 2:31-33).

Daniël vertel die koning die droom se betekenis: “Dit is die droom; sy uitlegging sal ons nou voor die koning sê: U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het, en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het - ú is die hoof van goud” (Daniël 2:36-38).

Daniël vertel Nebukadneser dat God hom ’n koning van konings gemaak het, en sê: “U is hierdie kop van goud”. Hier onthul God die krag en mag wat Hy, die Skepper van die heelal, aan Nebukadneser en sy koninkryk gee. Let daarop dat die beeld ook groot ryke van die toekoms simboliseer. Wie was daardie ryke waarvan die Bybelprofesie voorspel het? Hier is Daniël se beskrywing: “En ná u sal daar ’n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna ’n ander, ’n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers; en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis. En dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was - dit sal ’n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het. En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is - ’n gedeelte van die koninkryk sal hard en ’n gedeelte sal bros wees. Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het - hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie” (Daniël 2:39-43).

Wie was hierdie ryke? Weer eens stem alle ernstige Bybelgeleerdes saam oor hul identiteit. Daniël beskryf voorts wat uiteindelik met hierdie groot beeld gebeur. Die kop van goud verteenwoordig die Babiloniese Ryk van 625 tot 539 v.C. Hierdie ryk is deur die ryk van die Mede en Perse van 559 tot 330 v.C. vervang, wat deur die bors en arms van silwer verteenwoordig word. Die maag en lende van brons verteenwoordig die Grieks-Macedoniese Ryk van Alexander die Grote van 333 tot 31 v.C. Die twee bene van yster verteenwoordig die opkoms en val van die Romeinse Ryk, wat eerstens in 31 v.C. opgekom het en mees onlangs aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog geval het met die ineenstorting van die Duits-Italiaanse genootskap. Die tien tone van yster gemeng met klei verteenwoordig een laaste toekomstige herlewing van die Romeinse Ryk.

Let daarop dat die laaste wêreldkoninkryke, verteenwoordig deur die groot beeld wat Nebukadneser in sy droom gesien het, almal tot ’n einde sal kom. Die beeld verteenwoordig vier wêreldregerende ryke en hul voortsetting tot aan die einde van die mensdom se beskawings aan die einde van hierdie tyd. Hulle sal almal vervang word met dít wat die vyfde koninkryk genoem word, die komende Koninkryk van God.

Daniël skryf: “U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ’n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots geword wat die hele aarde gevul het” (Daniël 2:34-35).

Wat ís hierdie rots? Daniël beskryf die betekenis daarvan: “Maar in die dae van dié konings [gesimboliseer deur die 10 tone] sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44).

Die geskiedenis van die wêreld is die verhaal van nasies en ryke wat voorspoedig was en later tot stof verval het. Sal ons die lesse uit die geskiedenis leer? Sommige nasies het stadig tot ’n val gekom voor hul ineenstorting. Ander is skielik vernietig of verower.

Daniël was in die stad Babilon die nag toe die Persiese leër die stad verower het en dit was deur Daniël wat God koning Beltsassar laat weet het wat met hom en sy ryk sou gebeur. Dit is die bekende verhaal van die “skrif aan die muur”. Koning Beltsassar het ’n fees berei, ’n groot party, vir ’n duisend van sy adellikes. Hulle het wyn uit die geplunderde goue bekers van die Tempel in Jerusalem gedrink. “Op dieselfde oomblik het daar vingers van ’n mens se hand te voorskyn gekom en teenoor die kandelaar op die kalk van die muur van die koninklike paleis geskrywe, en die koning het die deel van die hand gesien wat geskrywe het. Toe het die gelaatskleur van die koning verander, en sy gedagtes het hom verskrik, en die gewrigte van sy heupe het losgeraak, en sy knieë het teen mekaar geslaan” (Daniël 5:5-6).

Daniël is geroep om die boodskap wat hierdie geheimsinnige hand op die muur geskryf het, uit te lê: “En dit is die skrif wat geskrywe is: Mené, mené, tekél ufarsín” (Daniël 5:25). Toe vertel Daniël koning Beltsassar: “Dit is die uitleg van die woord: Mené - God het u koningskap getel en daar ’n einde aan gemaak; tekél - u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind; peres - u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee ... In dieselfde nag is Bélsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood. En Daríus, die Meder, was twee-en-sestig jaar oud toe hy die koningskap ontvang het” (Daniël 5:26-28, 30-31; 6:1).

Vandag is die skrif aan die muur vir Amerika en alle nasies van Britse afkoms, insluitend Suid-Afrika. Die waarskuwingstekens is om ons namate ons meer vervalle en immoreel raak. Tog is daar steeds tyd vir ons om ons nasionaal en individueel te bekeer. Sal ons luister na God se waarskuwings? Ons moet ons tot die Verlosser van die wêreld keer! Soos Jesus sê: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36). Ons moet almal reageer, voordat dit te laat is!