Bevat die Bybel belangrike sleutels om die wêreldwye uitdaging van aansteeklike siektes die hoof te bied? Kan godsdiens ’n rol speel in die bevordering van gesondheid en die voorkoming van siektes? U sal die antwoorde vind in hierdie uittreksel van Hoofstuk 4 van ons nuutste boekie, Biblical Principles of Health (Die Afrikaanse weergawe sal binnekort beskikbaar wees).

Opmerksame wêreldleiers in die regering asook op die gebied van medisyne begin besef dat meer geld, medisyne, navorsing en wetgewing nié die stryd teen siektes sal wen nie. In baie lande is gesondheidstelsels besig om agteruit te gaan as gevolg van die druk van toenemende bevolkingsgetalle en beperkte finansiële hulpbronne. Nuwe uitbrekings, soos die COVID-19-pandemie, plaas groot druk op stelsels in verband met gesondheidsorg soos wat lande sukkel om daarop te reageer. Dr. Gro Harlem Brundtland, ’n voormalige direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie, het jare gelede erken dat die doelwit van “gesondheid vir almal ... ontwykend bly” – ’n illusie wat aanhou om oor die horison te verdwyn.

Miskien is dit tyd om te vra: Waarom sukkel ons steeds in die 21ste eeu om die stryd teen siektes te wen? Is effektiewe oplossings geïgnoreer? Is ons nie besig om nié die kragtige werktuie wat deur God voorsien is raak te sien nie? Dit wat geweldige deurbrake sou kon maak in die stryd teen die plaag van aansteeklike siektes wat miljoene mense regoor die wêreld teister en afmaai?

’n Wêreldwye vloek

In die vroeë 1900’s was aansteeklike siektes die grootste oorsaak van lyding en dood in Amerika en Europa. Verbeterde sanitasie, asook ander mediese ontwikkelings, het hierdie plae op daardie vastelande aansienlik verminder.

Buite die ontwikkelde wêreld sien ons egter steeds ’n verbysterende en kommerwekkende prentjie, soos wat aansteeklike siektes deur armoede aangehelp word en ’n verstommende aantal menselewens verwoes. Voorkombare en geneesbare siektes soos malaria, diarree, tuberkulose en asemhalingsiektes veroorsaak elke jaar die dood van meer as tien miljoen mense in minder ontwikkelde lande – met kinders wat buite verhouding geaffekteer word. Die aantal mense wat met hierdie siektes saamleef en daaraan ly, is verstommend.

Meer as 200 miljoen mense doen jaarliks malaria op, wat lei tot meer as 400,000 sterftes – dit sluit die sterftes van 300,000 kinders in onder die ouderdom van vyf jaar – meestal in Afrika, suid van die Sahara. Daar word beraam dat 3,2 miljard mense – ongeveer 40% van die wêreldbevolking – die risiko loop om malaria op te doen en daaraan te sterf. In ontwikkelende lande is diarree-verwante siektes, wat net so voorkombaar en behandelbaar as malaria is, ’n ander grootskaalse oorsaak van dood en gestremdheid by kinders. Tuberkulose (TB) is “een van die top 10 oorsake van sterftes wêreldwyd”, met meer as 10 miljoen mense wat die siekte jaarliks opdoen en bykans 2 miljoen mense wat daaraan sterf. Tuberkulose is die hoofoorsaak van sterftes onder diegene wie se immuunstelsels deur die menslike immuniteitsgebrekvirus (MIV) verswak is en “ongeveer een-derde van die wêreld se bevolking het latente TB” wat beteken dat hulle met die bakterieë besmet is, maar nie siek is nie.

In tropiese en subtropiese dele van die wêreld loop ongeveer 2,5 miljard mense die risiko van dengue-koors wat deur muskiete oorgedra word. Meer as 50 miljoen dengue-verwante gevalle en 25,000 sterftes as gevolg daarvan kom jaarliks voor – hierdie uitbrekings is besig om buite die trope te versprei. MIV/VIGS is vinnig besig om die grootste bedreiging vir gesondheid, ekonomiese ontwikkeling en nasionale stabiliteit in baie lande in Afrika en Asië te word. Sedert dit sy verskyning gemaak het, het dit meer as 35 miljoen lewens geëis. Vandag is bykans 37 miljoen mense MIV-positief en daar word jaarliks ongeveer twee miljoen nuwe gevalle aangemeld. In ontwikkelende lande affekteer slakkoors (schistosomiasis) ongeveer 207 miljoen mense en eis jaarliks meer as 200,000 lewens terwyl ingewandswurm-ontsteking byna 2 miljard mense teister. Meer as 190 miljoen mense in arm landelike gebiede loop die risiko om bakteriële tragoom op te doen, wat die grootste oorsaak van gesigsgestremdheid en blindheid is en wat 2 miljoen mense aantas. Meer as 120 miljoen mense loop die risiko om onchocerciasis (rivierblindheid) op te doen en 18 miljoen mense word jaarliks daarmee besmet. Melaatsheid vermink steeds tussen een- en tweemiljoen mense, met ongeveer 200,000 nuwe infeksies elke jaar.

Dit is waarlik astronomiese getalle mense wat ly as gevolg van die vloek van aansteeklike siektes. Om sake te vererger, is dié swaar las van siektes in ontwikkelende lande die afgelope paar jaar vererger deur ’n kommerwekkende ontwikkeling. Namate die inwoners van hierdie lande toenemend die gedrag en dieetpraktyke van meer ontwikkelde lande aanneem, kan ’n toename in hartsiektes, kanker en ander patologieë gesien word wat algemeen in groot dele van die ontwikkelde wêreld voorkom.

Dit is tragies dat die swaarste las van aansteeklike en kroniese siektes “die onderste biljoen” mense tref wat “in wese op geen geld leef nie” en vasgevang is in ’n eindelose siklus van armoede. Baie lande in hierdie armste en minste ontwikkelde streke gaan gebuk onder die drukkende las van skuld, verbrokkelde infrastruktuur en toenemende korrupsie en is eenvoudig nie in staat om sulke oorweldigende probleme te hanteer nie – daarom ly hulle mense buite verhouding onder die wêreldwye vloek van siekte. ’n Britse koloniale geneesheer het eenmaal geskryf dat “die groot massas van Afrika ... ’n ernstiger las van siektes dra as enige ander wêreldstreek ... die huidige inwoners van tropiese Afrika huisves ’n groter verskeidenheid menslike parasiete as enige ander nasie.” In sommige streke van tropiese Afrika is 60-90% van die bevolking besmet met veelvuldige parasiete.

Om hierdie folterende las van siekte te verminder en uit te skakel, moet ons die ware oorsake van die probleem verstaan en aanspreek.

Verbreek ’n bose kringloop

Vir baie gesondheidskundiges is die enigste oplossing vir die probleem van aansteeklike siektes om meer geld in die ontwikkeling van medisyne in te pomp en om klinieke te vestig om behandelingsdienste te voorsien. Dit is ’n poging om lyding te verlig deur simptome te behandel, maar spreek nie die onderliggende oorsake aan nie. Die meeste aansteeklike siektes wat ontwikkelende lande teister, word geassosieer met armoede – oorbevolking, onhigiëniese lewensomstandighede, gebrek aan skoon water, om die menslike afval en vullis behoorlik te verwyder asook ’n gebrek aan beskerming teen siekte-draende insekte (gaasvensters, muskietnette, insekwerende middels en insekdoders). Mense wat in armoede leef, het eenvoudig nie toegang tot hierdie hulpbronne en toerusting wat gesondheid bevorder nie en die verarmde regerings kan dit nie voorsien nie. Dikwels dra korrupte leiers selfs by tot die probleem deur internasionale hulpfondse te verduister om hulleself te verryk.

Onkunde speel ook ’n belangrike rol. Mense wat in arm landelike gebiede regoor die wêreld woon, verstaan dikwels ook nie hoe aansteeklike siektes oorgedra word en hoe maklik dit voorkom kan word nie. In plaas daarvan om die ware oorsake van aansteeklike siektes te erken (bv. bakterieë, virusse, protosoë, vlieë en muskiete), word “bose geeste” soms die skuld daarvoor gegee. Ontelbare miljoene mense besef nie of wil nie erken dat seksuele aktiwiteite en die inspuiting van straatdwelms MIV/VIGS kan oordra nie. Baie mense swem, bad, was klere en drink water uit strome, mere en watergate wat deur mense- en diere-afval besoedel is en wat moontlik die enigste beskikbare water is! Baie mense eet uit onkunde diere en ander organismes wat siektes oordra wat ook ’n faktor in die verspreiding van ernstige siektes is. Om na en van siekte-geteisterde gebiede te reis en in noue kontak te kom met siek mense en hulle persoonlike besittings, bevorder ook die verspreiding van aansteeklike siektes.

Motivering is ’n belangrike faktor met betrekking tot die bevordering van gesondheid en die voorkoming van siektes. Baie mense weet dat hulle hande behoorlik gewas behoort te word na urinering of ontlasting en voordat hulle kos voorberei of eet, maar hulle handel nie volgens daardie kennis nie. Die verandering van individuele gedrag is ’n groot uitdaging in die stryd teen siektes. Hierdie basiese kwessies moet aangespreek word voordat die las van siekte beëindig word en die stryd teen siektes gewen sal word.

’n Nuwe perspektief

Hoe kan ’n mens siekte en die gevolge van armoede uitskakel as daar nie geld is nie? Hoe oorkom ’n mens onkunde? Hoe motiveer ’n mens mense om anders te dink en anders op te tree? Hierdie is gewoonlik nie binne die studieveld van mediese dokters, gesondheidsbeplanners, regeringsamptenare of ekonome nie, maar tog is dit noodsaaklik om antwoorde op hierdie gebiede te kry om die las van siektes te beëindig.

Om hierdie take te kan verrig sonder om bloot net geld te bestee, sal ons ons benadering moet heroorweeg. Opvoeding moet uiteraard ’n belangrike rol speel om die onkunde uit die weg te ruim, maar hoe kan so ’n groot aantal mense gehelp word sonder om meer skole te bou, meer onderwysers in diens te neem of om nog meer regeringsamptenare aan te stel? Wat ’n persoon glo is nóg ’n belangrike faktor om gedragsverandering te motiveer. Ons mag dalk vra: Is daar al iemand wat geskik is om hierdie soort werk te verrig?

Glo dit as u wil, maar godsdiensleiers beklee ’n ideale posisie om onkunde uit die weg te ruim en gedrag te bevorder wat siektes kan oorwin. In baie lande het godsdiensleiers weekliks kontak met ’n groot aantal mense en gewoonlik ook van alle ouderdomsgroepe. Hierdie leiers bevorder waardes wat persoonlike gedrag beïnvloed. Baie van hulle word reeds deur ’n privaat organisasie betaal en baie het onbaatsugtig hulle eie dienste en hulpbronne voorsien om hulp, soos muskietnette en geld vir waterputte te verleen.

Die vernaamste probleem is dat die meeste godsdiensleiers nie die kragtige potensiaal van hulle posisie ten volle besef nie en was ook nie ten volle daarop voorbereid om te funksioneer in hierdie belangrike rol om siektes te voorkom en gesondheid te bevorder nie. Die meeste geestelikes, net soos baie ander mense in regerings en geneeskunde, dink die primêre rol van godsdiens is om die siekes te bemoedig en die bedroefdes te vertroos. Alhoewel dit help, sien hulle nie ’n ander Godgegewe rol vir godsdienstige leiers raak nie – ’n rol wat duidelik in die Bybel uiteengesit word.

Leersame beginsels uit die Bybel

In ’n vorige hoofstuk het ons die positiewe impak op menslike gesondheid nagegaan wat ons sou sien indien almal die opdragte van God met betrekking tot rein en onrein diere gehoorsaam. Die keuse om nie diere te eet wat nie vir menslike inname bedoel is nie, sal op sigself ’n beduidende bydrae lewer om die skade te verminder wat deur aansteeklike siektes aangerig word! Die Bybel se leiding hou egter nie daar op nie.

Bybelse vermanings wys ons ook daarop om kontak met diere wat doodgegaan het te vermy asook alles wat daarmee in aanraking was (sien Levítikus 11:32-40). Poreuse erdepotte wat moontlik besmet kon geraak het, moes vernietig word om te voorkom dat siektes versprei. Hierdie Bybelse voorskrifte stem ooreen met gesonde mikrobiologiese tegnieke en is belangrike prosedures om aansteeklike siektes te beveg. Dit was die priesters se taak om hierdie beginsels aan die mense te leer en te verduidelik. Priesters moes diegene met aansteeklike siektes soos melaatsheid, masels, pokke en skarlakenkoors, wat deur veluitslag gekenmerk word, as onrein verklaar. Sulke individue moes van ander mense afgesonder word om die verspreiding van siektes te voorkom (sien Levítikus 13). Hierdie Bybelse riglyne is die basis van betroubare mediese kwarantynprosedures wat al eeue lank gebruik word. Daar is ’n goeie rede waarom “sosiale distansiëring” en kwarantyn vroegtydige, kragtige instrumente was om die pandemie van die koronavirus van 2020 aan te spreek, want die Bybelse gesondheidsbeginsels om gesonde mense en siek mense van mekaar te skei, is doeltreffend.

Die Bybel se riglyne sluit die vermyding van kontak met die persoonlike items van siek mense in omdat dit kieme kan oordra (Levítikus 13:47-59). Besmette items is gewas of verbrand (wat mikro-organismes vernietig). Bybelse gesondheidsvoorskrifte was selfs op wonings van toepassing: ’n Huis met skimmel- of swamgroei is in kwarantyn geplaas totdat die aangetaste materiale afgeskraap, vervang en met nuwe pleister bedek is en indien ’n huis nie skoongemaak kon word nie, moes dit gesloop word (Levítikus 14:33-48).

Hierdie opdrag sou baie help om die lewens van 25 miljoen mense in Latyns-Amerika te verbeter wat die risiko van Chagas se siekte [slaapsiekte] loop, wat jaarliks 8 miljoen mense besmet en die dood van 10,000 mense veroorsaak. Die siekte word veroorsaak deur die byt van ’n vampier-insek [kissing bug] wat in krake en gleuwe van armoedige wonings voorkom. Een van die pligte van ’n Levitiese priester was om gesondheid te bevorder en siektes te voorkom deur as ’n bouinspekteur en ’n opvoedkundige vir openbare gesondheid op te tree.

Die Bybel erken dat liggaamsvloeistowwe siektes kan oordra (Levítikus 15). Kontak met menslike afvalstowwe, neusafskeidings, trane, speeksel of vuil handdoeke kan aansteeklike siektes versprei. Tragoma wat die resultaat van ’n bakteriese infeksie en die hoofoorsaak van voorkombare blindheid is, word versprei deur kontak met vuil handdoeke en met vlieë wat hulle eiers rondom die oë of op die afval van mense en diere lê. Mense wat met ’n siek persoon se vloeistowwe in aanraking gekom het, moes hulle hande en klere in water was, bad en tot die aand afgesonder bly van ander mense as voorsorgmaatreël teen die verspreiding van siektes (Levítikus 15:11). Dit was nie bloot seremoniële wette nie. Die doel van hierdie sanitêre wette was om gesondheid te bevorder en siektes te voorkom.

Een van die mees praktiese en kragtigste Bybelse vermanings sê dat menslike afval weg van die woongebiede begrawe behoort te word (Deuteronómium 23:12-14). Dit verhoed dat afvalstowwe in kontak kom met mense, vlieë en ander organismes wat siektes oordra en dit bewaar die suiwerheid van watervoorraad. Ander belangrike voorkomingsmaatreëls is om skoene te dra en om nie menslike afval as bemesting te gebruik nie. Baie siektes soos diarree, ingewandsontsteking, haakwurm, rondewurm, cholera, hepatitis, tragoom en tifus spruit voort uit kontak met menslike afval.

Sanitêre verwydering van menslike afval en toegang tot skoon water is twee van die belangrikste maniere om siektes te voorkom. Sommige mense beweer dat indien hierdie twee doelwitte bereik kon word, byna 75% van Afrika se siektes sou verdwyn! God het Israel se godsdiensleiers beveel om hierdie opdragte te bevorder, wat die gesondheid van die bevolking sou beskerm. Ongelukkig begryp hedendaagse godsdienstige leiers nie die belangrikheid van die geleentheid wat hulle het om Bybelse opdragte te voorsien wat gedrag kan aanmoedig om siektes te oorwin nie.

Verwarring oor besnydenis

Eeue gelede het God aan Abraham en sy nageslag, die Israeliete, opdrag gegee om hulle babaseuntjies op die agtste dag na geboorte te besny (Génesis 17:12-14; Levítikus 12:3). Dit is interessant dat hierdie instruksie ooreenstem met wetenskaplike studies wat toon dat die bloedstollingsmeganisme van ’n baba moontlik eers op die agtste dag ten volle ontwikkel is, wat dit onverstandig sou maak om ’n chirurgiese prosedure vroeër uit te voer weens die gevaar van [moontlike] oormatige bloeding. Alhoewel sommige welmenende mense manlike besnydenis as barbaars beskou, toon die mediese wetenskap dat daar meer voordele as risiko’s aan verbonde is. Seuns wat besny is, het ’n laer risiko vir urienweg-infeksies, manne wat besny is, doen minder prostaatkanker en kanker van die penis op. Vroue wat met mans getroud is wat besny is, het minder kans om servikale kanker te kry. Studies het getoon dat manne wat besny is, minder geneig is om MIV/VIGS en ander seksueel oordraagbare siektes op te doen of te versprei, omdat die verwydering van die voorhuid ’n omgewing uitskakel waarin die virus mag skuil. Terwyl Handelinge 15 dit duidelik maak dat besnydenis nie meer ’n geestelike vereiste is nie, ondersteun mediese bewyse beslis die idee dat die besnydenis, soos dit in die Bybel voorgeskryf is, siektes kan voorkom en gesondheid kan bevorder.

Die praktyk van vroulike “besnydenis” is ’n heeltemal ander saak. Hierdie gruwelike praktyk is nie Bybels nie en moet nie verwar word met die Bybelse besnydenis van mans nie, waar slegs die voorhuid verwyder word. In teenstelling hiermee is vroulike “besnydenis” glad nie besnydenis nie, maar ’n afskuwelike daad van liggaamlike skending waartydens ’n deel van die geslagsdele van ’n vrou grusaam verwyder word en nie net oortollige velweefsel nie. Vroulike “besnydenis” is waarlik ’n barbaarse verminking en het niks met Bybelse besnydenis te doen nie.

Liggaamlike insnydings en tatoeëermerke ook?

Verskillende heidense kulture het deur die geskiedenis heen die menslike liggaam “versier” met tatoeëring, insnydings, opsetlike littekens en ornamente wat ingesit is om lippe en oorlelle uit te rek. Hierdie liggaamsveranderings en misvormings-praktyke het egter die afgelope dekades ’n modegier in Westerse lande geword. Hoewel baie mense hierdie praktyke “liggaamskuns” noem, word die ernstige risiko’s en gevolge van tatoeëring en eksotiese insnydings selde genoem of oorweeg.

God het ons vel ontwerp om as ’n beskerming teen siekte-veroorsakende organismes te dien. Wanneer ons daardie versperring beskadig, skep ons die geleentheid vir bakterieë en virusse om toegang tot die weefsels onder die vel te verkry. Verskeie verslae waarsku dat tatoeëring en insnydings die risiko verhoog vir bakteriese velinfeksies, granulomas en siektes wat deur die bloedstroom versprei word soos klem-in-die-kaak, stafilokokke, hepatitis en MIV, asook allergiese reaksies as gevolg van die stowwe en instrumente self. Baie mense het veral gewaarsku om nie tatoeëring of insnydings tydens swangerskap te laat doen nie, weens die risiko van infeksie en die oordrag van giftige elemente in tatoeëerpigmente na die fetus. Alhoewel tatoeëring en insnyding relatief goedkoop is om te laat doen, kan dit pynlik en duur wees om te verwyder, dit wil sê indien dit enigsins verwyder kan word. Selfs die “tydelike tatoeëermerke” wat met henna gedoen word, kan probleme veroorsaak en word nie deur die V.S. Voedsel- en Medisyne-administrasie goedgekeur nie.

God het Moses geïnspireer om aan die kinders van Israel, ’n volk wat God bestem het om ’n lig en voorbeeld vir die wêreld te wees, hierdie opdragte gegee: “Julle mag ook ter wille van ’n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die Here” (Levítikus 19:28). Tatoeëring en insnydings in die vlees is ongesond en hou die risiko van aansteeklike siektes in, omdat dit die beskermende versperring verbreek wat die vel bied. God het die menslike liggaam “na sy beeld” gemaak (Génesis 1:27) en hierdie heidense godsdienstige gebruike, wat die liggaam mismaak het, veroordeel.

Daar is ’n rede waarom geneeskundiges, pasiënte teen tatoeëring en eksotiese liggaam-insnydings waarsku: Dit kan gevaarlik vir u gesondheid wees!

Morele wette voorkom aansteeklike siektes

Die Bybel definieer die huwelik as ’n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou (Matthéüs 19:4-6) en neem sterk standpunt in teen seksuele aktiwiteite buite die grense van die Bybelse huwelik, soos byvoorbeeld owerspel, hoerery en homoseksualiteit (Levítikus 18). In skrille kontras met die moderne opvatting dat onbeperkte seksuele aktiwiteite bevrydend is, sê die Bybel ondubbelsinnig: “Hy wat owerspel pleeg, is sonder verstand” (Spreuke 6:32) en dat seksueel promiskue mense teen hulle eie liggame sondig (1 Korinthiërs 6:9, 16-18; Romeine 1:22-27). In die verlede het openbare beleid teen sulke gedrag moontlik moraliteit in gedagte gehad, maar die uitwerking daarvan was om die verspreiding van seksueel oordraagbare siektes te voorkom – met inbegrip van MIV/VIGS, wat die “plaag van die een-en-twintigste eeu” genoem word. Hedendaagse pogings om enige morele oorweging uit die openbare beleid te verwyder en om promiskuïteit as aanvaarbaar te normaliseer, help bloot om epidemiese siektes te bevorder. Die outydse raad, “voorkoming is beter as genesing” is grootliks vergete, maar dit is steeds goeie raad en is baie goedkoper in rande en lewens. Om seksuele aktiwiteit te beperk tot ’n man en sy vrou binne ’n getroue monogame huwelik, is verreweg die beste manier om seksueel oordraagbare siektes te voorkom. Dit is die Bybelse boodskap wat God wil hê dat godsdiensleiers moet oordra – maar dit is ’n boodskap wat deesdae dikwels geïgnoreer word.

Mediese studies openbaar redes vir die sterk Bybelse waarskuwings teen die seksueel losbandige lewenstyle wat aan die orde van die dag is. Talle verslae toon dat “homoseksuele en biseksuele mans ernstiger deur MIV geraak word as enige ander groep” en dat hulle “ook ’n groter risiko loop om ander seksueel oordraagbare siektes, soos sifilis, gonorree en chlamydia op te doen.” Wanneer die MIV-virus toegang tot die liggaam verkry het, verswak en vernietig dit uiteindelik die liggaam se immuunstelsel, wat tot VIGS lei en maak dat die persoon onderworpe is aan ander toestande en dodelike opportunistiese infeksies: longontsteking, tuberkulose, limfoom, Kaposi se sarkoma (kanker van bloedvatwande), gordelroos, breinvliesontsteking en demensie. Studies toon ook aan dat hoe meer seksmaats iemand het, hoe groter is die kans om MIV op te doen, wat dan weer die risiko’s verhoog om ander aansteeklike siektes op te doen en op ’n jonger ouderdom te sterf. Aangesien daar geen geneesmiddels teen MIV/VIGS is nie, erken mediese bronne die belangrikheid daarvan dat gevaarlike en riskante gedrag uitgeskakel word: Moenie veelvuldige seksmaats hê nie, moenie naalde en spuite deel nie (soos dié wat gebruik word om dwelms in te spuit), moenie seks hê met prostitute nie en wees daarop bedag dat tatoeëernaalde moontlik nie steriel is nie. Hierdie mediese advies getuig van die wysheid van antieke Bybelse voorskrifte wat hoë-risiko-gedrag verbied wat ernstige gevolge het, soos hoerery en owerspel, homoseksualiteit en ander gevaarlike aktiwiteite.

Die duidelike bedoeling van baie Bybelse beginsels is om probleme te voorkom voordat dit opduik. Spreuke 22:3 sê: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf.” Vanuit ’n openbare gesondheidsperspektief kan die meeste siektes voorkom word en lewens en geld bespaar word deur vroegtydig wyse voorsorg te tref.

Die toekomstige herstel

Die Skrif verduidelik dat Satan die hele wêreld verlei/mislei het (Openbaring 12:9) en dat leiers dikwels blind is vir ooglopende oplossings (Jesaja 56:10; Matthéüs 15:14). Die teoloë en pastore van vandag is meestal onbewus van die rol wat hulle sou kon speel deur mense te leer om te onderskei tussen rein en onrein voedsel, met betrekking tot die voorkoming van siektes en die bevordering van gesondheid, asook in mense se gedrag (Eségiël 22:26).

Daar kom egter ’n tyd wanneer die hele wêreld sal leer om volgens die Wette van God te leef en daarby sal baat. Die Bybel openbaar dat alhoewel die “hele skepping tesame sug” (Romeine 8:18-22), ’n “wederoprigting van alle dinge” net om die draai is (Handelinge 3:19-21). Jesus Christus sal na die aarde terugkeer om die Koninkryk van God te vestig en die Wet van God sal vanuit Jerusalem aan die hele wêreld verkondig word (Jesaja 2:2-4; 9:6-7). In hierdie toekomstige Koninkryk sal die Kerk en staat verenig wees (Openbaring 5:10). Jesus Christus en die heiliges sal alle mense leer om die Wette en insettinge van God te gehoorsaam (Jesaja 30:20-21) en die mensdom sal die wonderlike resultate ervaar wanneer hulle hul gedrag verander. Die stryd teen siekte sal gewen word en siektes sal begin verdwyn (Jesaja 35:5-6; Jeremia 30:17). Alhoewel dit ongelooflik klink, is dit deel van die Evangelie – die goeie nuus van wat die toekoms inhou!