Die mens is geneig om die massas te volg sonder om in ag te neem waarheen dit lei. Waarheen het moderne neigings ons gelei?

Leuens het ons samelewing van vaste beginsels beroof en ons gaan nie hou van waarheen ons op pad is nie.

U het waarskynlik die aanhaling gehoor: “Indien ’n leuen vertel word én dit herhaal, sal mense dit uiteindelik begin glo”. Dit word gewoonlik toegeskryf aan Joseph Goebbels, minister van propaganda in Nazi-Duitsland. Goebbels het, ironies genoeg, iets soortgelyks gesê, as ’n beskuldiging teen sy Britse vyande - hy het nie erken dat dit op hom of sy eie nasie van toepassing was nie. Dit was ook die Britse eerste minister Winston Churchill, wat die volgende beroemde stelling gemaak het: “Gedurende tye van oorloë is die waarheid so kosbaar dat dit altyd deur ’n lyfwag van leuens begelei behoort te word”.

Is ’n leuen aanvaarbaar wanneer ’n “goeie persoon” dit vertel? Is die waarheid “so kosbaar” dat ons ’n leuen behoort te verkies? Ons wêreld is beslis verward met betrekking tot die waarheid en valsheid, eerlikheid en leuens. Absolute waarheid word inderdaad aangeval – ons het dus,  “U waarheid is nie mý waarheid nie.” Ons is egter dankbaar dat diegene wat die vliegtuie ontwerp wat ons van Londen na New York vervoer, in die werklike wêreld van absolute aërodinamiese wette leef. Ingenieurs werk met wette wat onveranderlik is. Enige opregte en regdenkende mens verstaan dit. Dit is slegs op die gebied van menslike gedrag dat waarheid as buigbaar beskou word en absolute wet verwerp word.

Die impak van ’n leuen is natuurlik afhanklik van die mate waarin dit versprei kan word. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog moes daar staat gemaak word op mondelingse kommunikasie, telegram-oordrag, radio-uitsendings en ander metodes wat ons as verouderd beskou. Hulle toerusting was beperk, hoewel effektief. Stel u egter voor: Indien hulle vandag geleef het, hoe Nazi-propagandiste se monde sou water om vandag se toerusting te gebruik om leuens te versprei deur middel van Internet en sosiale media. Nog nooit in die geskiedenis van die mensdom was daar meer toerusting beskikbaar om valshede op te tower, samesweringsteorieë te versprei en politieke agendas te bevorder nie.

Om die impak van misleiding tot die maksimum te benut, moet ’n mens ’n stap verder gaan. Alle beskikbare pogings moet aangewend word om enige meningsverskil met betrekking tot die leuen uit te kanselleer en te onderdruk. Terwyl Hitler se propaganda die mag van die staat gebruik het om sy agenda met die Duitse volk te bevorder, het die Nazi-regime ook meningsverskille onderdruk. Teenstand is nie geduld nie. “Kanselleer-kultuur” is dikwels wreed deur die Nazi-staat toegepas.

Gevolge van verlies aan vertroue

Die gevaar wat ons vandag in die gesig staar, is baie groter, aangesien die bronne van valshede en sameswerings veel verder as die staat strek, maar duidelik die staat nie uitsluit nie. Oor die afgelope twee jaar het ons ’n verlies aan vertroue in die akademie, media en die regering gesien. Dit is nie dat ons instellings nie reeds kwessies met betrekking tot geloofwaardigheid gehad het nie, maar was daardie vertroue al ooit op so ’n laagtepunt soos nou? Soos Wallace Smith in die Tomorrow’s World van Februarie 2022 se artikel “The Credibility Crisis” berig het, is die publiek sonder twyfel by talle geleenthede, deur voorheen gerespekteerde instellings en individue, mislei.

’n Mens kan redelikerwys bevraagteken waarom The New York Times deur baie mense gewantrou word en wanneer daardie wantroue begin het, maar let op hierdie hoofopskrif van MSN.com: “New York Times Issues Messy Correction for Error-Riddled Covid Story.”

“’n Vorige weergawe van hierdie artikel het die optredes van mense in beheer in Swede en Denemarke geneem is, verkeerd beskryf,” het Donderdag ’n regstelling aangeteken. “Hulle het die gebruik van die Moderna-entstof by kinders gestaak; hulle het nie begin om enkeldosisse aan te bied nie. Die artikel het ook die aantal Covid-hospitaalopnames by Amerikaanse kinders verkeerd weergegee. Dit is meer as 63,000 vanaf Augustus 2020 tot Oktober 2021, nié 900,000 sedert die aanvang van die pandemie nie” (8 Oktober 2021).

Dit is nie verbasend dat dit maklik is om die oorspronklike “foutiewe” artikel te vind nie maar u sal gelukkig wees om die Times se regstelling te vind. Was dit ’n geval van slordige beriggewing deur Apoorva Mandavilli of was dit ’n blatante poging om die beriggewing te beheer ten gunste van vooroordeel? ’n Mens sou nie sulke slordigheid verwag van ’n verslaggewer wat so onlangs as 2019 met ’n Victor Cohn-toekenning vir uitnemendheid in die verslaggewing van mediese wetenskap vereer is nie.

Dit alles laat die groter vraag ontstaan oor wát in ons wêreld aangaan. Die Westerse kultuur is besig om ’n gedaanteverwisseling deur leuens reg voor ons oë te ondergaan. Wat skuil agter hierdie oorgang? Wat het van die waarheid geword? Gewone mense is verstom oor wat hulle waarneem as oënskynlik waansinnige besluite deur hulle leiers. Ons hoor dikwels: “Niemand kan só dom wees nie”, wat aandui dat mense vermoed dat daar ’n verskuilde agenda aan die gang is. Wie skuil daaragter? Wat sal die uiteinde wees?

Sommige mense neem die globaliste soos George Soros, Bill Gates, Mark Zuckerberg, Klaus Schwab en enigiemand wat met die Wêreld Ekonomiese Forum geassosieer word, kwalik. Anthony Fauci en groot farmaseutiese maatskappye word deur talle teoretici van sameswerings beskuldig, soos diegene agter die Internetplasing van 27 Junie 2022 waar ons ingelig word – of altans verkeerdelik ingelig word – dat “Die Globaliste beplan om 90% van die mensdom dood te maak”. Hierdie Wêreld van Môre-artikel is nie bedoel om so ’n verstommende bewering te bevestig of te ontken nie, hoewel dit moeilik is om te glo. Inteendeel, ons is hier om aan te dui wat min mense verstaan: Al hierdie individue – maak nie saak hoe boos, arrogant, gierig, nederig of welmenend nie – is blote pionne.

Wat duidelik is, is dat daar name – bekend en onbekend, beroemd en onbekend – is wat agter ’n radikale transformasie van die Westerse kultuur skuil en daar bestaan min twyfel dat hulle uiteindelike doelwit is om tradisionele waardes te vernietig, waarvan baie waardes gebaseer is op Bybelse beginsels. Dit verklaar waarom daar ’n oorlog is teen tradisionele rolle binne die gesin en teen enige rasionele begrip van wat dit beteken om manlik of vroulik te wees.

Die oorlog teen God

Die verwarring wat ons vandag sien, het nie tydens enigeen van ons se lewens begin nie. Hoogaangeskrewe filosowe soos Jean-Jacques Rousseau en Karl Marx was deur en deur anti-God rebelle. Charles Darwin het vorendag gekom met ’n teorie om die skepping sónder ’n Skepper te verduidelik, hoewel dit in werklikheid nié so is nié. Die bewyse van God word oral om ons gevind indien ons net ons oë sal oopmaak en die intelligensie wat aan ons gegee is, sal gebruik. Die feite ondersteun nié makro-evolusie nie. Ten spyte van bewerings dat geologiese optekenings evolusie bewys, dui daardie optekenings net mooi die teenoorgestelde aan en geoloë weet dit. Darwin self het dit ook as ’n probleem erken. Die grootste struikelblok vir evolusie is egter hoe nie-lewende materiaal lewend geword het. Hoe kon die onmoontlike gebeur – hoe kon die eerste sel homself voed en voortplant? Moenie dat enigiemand u mislei nie. Daar is nie iets soos ’n “eenvoudige” sel nie. Selfs bakteriële selle is alles behalwe eenvoudig.

Slegs gedurende die afgelope dekades het ons geleer hoe ingewikkeld lewe is. Iemand wat ’n mate van begrip oor dié onderwerp het, is die skrywer en selferkende evolusionis, Bill Bryson. Hoe is dit dat hy, en hy is glad nie al een nie, kan bly glo in ’n teorie wat niemand kan bewys nie? Hoe is dit dat hy en ander mense glo dat blinde toeval en ’n fratsongeluk kan doen wat geen menslike intelligensie kan naboots nie? Let op hierdie verstommende stelling deur Bryson in sy boek van 2019-boek, The Body:

Dit maak nie saak hoeveel u betaal of met hoeveel sorg u die materiaal versamel nie, u gaan nie ’n menslike wese skep nié. U kan al die intelligentste mense wat nou leef of nog ooit geleef het, bymekaar bring en hulle toerus met die totale som van menslike kennis en hulle sou tussen hulle nie ’n enkele lewende sel kon maak nie, wat nog te sê van ’n menslike wese.

Bryson gaan dan voort om van die “wonder van lewe” te praat, maar kan dit nie verduidelik nie. Wie is dit dus nóú wat op geloof en wonderwerke vertrou? Wetenskaplikes vererg hulle oor die karakterisering van hulle geloof in “blinde toeval”, maar die uitgesproke Richard Dawkins weerspreek dit deur in een van sy boeke, The Blind Watchman, dit te noem ter ondersteuning van hierdie verouderde teorie. Die begeerte om te leef sonder ’n hoër mag wat waarheid en standaarde vir reg en verkeerd verklaar, dryf mense om die onmoontlike te vertrou.

Elkeen van ons moet een van slegs twee verklarings vir die oorsprong van lewe kies: Dat dit die werk van ’n hoër intelligensie is of dat dit die gevolg van blinde toeval is. Ongelukkig het baie van die selfverklaarde geleerdes van die wêreld, laasgenoemde gekies. Sodra ’n mens God uit die prentjie laat, word elke mens aan homself oorgelaat om te besluit wat is reg en wat is verkeerd, wat is die beste roete om te volg en wat nie. Hierdie oorlog teen God is die gevolg van die mensdom se ingebore vyandigheid teenoor Goddelike waardes. “... omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderworpe hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Romeine 8:7).

Kan ons nie die verband sien tussen die Westerse wêreld se toenemende verwerping van God en die toenemende verwarring en een ramp na die ander nie? Kan ons nie besef dat die man wat vir niks staan, vir enigiets sal val nie? Wanneer geslag na geslag volwassenes ’n dieet van leuens van ’n toevallige bestaan gevoer word en daar geen absolute morele waarhede is waarvolgens ons behoort te leef nie nie, waarom is ons verbaas deur ’n generasie van rigtinglose kinders?

Die Sodom-afvalligheid

Dink aan hoe ver ons wêreld van Bybelse waarhede afgedwaal het. Let op hierdie Februarie 2021-opskrif van CBS News: “1 uit 6 generasie Z-volwassenes identifiseer hulleself as iets anders as heteroseksueel”. In die verslag word verder verduidelik: “Byna 16% van generasie Z-volwassenes, wat in 2020 tussen die ouderdomme van 18 en 23 was, identifiseer as LGBTQ, volgens die meningsopname”.

Dink aan hoe vinnig die waardestelsel verander. Slegs ’n jaar later, in Februarie 2022, het Axios.com hierdie opskrif oor die jongste meningsopname gepubliseer: “Die aantal LGBTQ-identifiserende volwassenes skiet die hoogte in”. Die artikel het voortgegaan: “Een uit vyf Gen Z-volwassenes identifiseer as LGBTQ en daardie getal sal na verwagting net styg, volgens ’n Gallup-meningsopname wat Donderdag vrygestel is” (19 Februarie 2022).

Baie mense is verstom oor hoe Duitsers in die 1930’s so maklik mislei kon word om by ’n oorlog betrokke te raak wat verwoesting veroorsaak het vir ’n groot deel van die wêreld, met inbegrip van hulle eie geliefde land. Enige persoon wat daaroor nadink, behoort egter dieselfde vraag te vra wat betref ons agteruitgang van Sodom in die een-en-twintigste eeu. Hitler se propagandiste sou trots wees op die doeltreffendheid van vandag se media, al het hulle nie dieselfde agenda gehad nie. Destyds het hulle net radio, die gedrukte woord en opvoedkundige instellings gehad – vandag het ons al drie, plus die Internet, sosiale media en televisie om elke soort valsheid te versprei.

Die Internet is ’n bron van leuens. Sosiale media bevorder nie slegs die anti-God-agenda onder die misleidende dekmantel van insluiting en verdraagsaamheid nie, maar dit bevorder ook elke sameswering waaraan ’n mens kan dink. Nog erger, algoritmes lei mense verder en verder op hulle eie gekose pad van misleiding, aangesien elke persoon dink hy of sy volg die regte rigting.

Soos ’n skaap om geslag te word

Mense is geneig om die massas te volg, maak nie saak waarheen dit lei of wie leiding neem nie. Wanneer ’n bekende persoon ’n mohawk haarstyl dra, sal sy volgelinge dit ook naboots. Steek ’n ring deur jou tong en ander mense sal dieselfde doen, hoewel hierdie belaglike gier gelukkig afgeneem het. Dit geld egter nie waar dit by tatoeëermerke kom nie. Voorheen was dit die gebruik van dronk matrose op landverlof, maar vandag sien ons mans en vrouens op alle vlakke van die samelewing wat daarmee spog. Waarom nie, indien ’n mens geen oppergesag in jou lewe het nie? Indien ’n mens wel respek het vir die Een wat aan ons lewe gegee het, sal dit ’n goeie idee wees vir u om te lees wat Hy oor die onderwerp sê (Levítikus 19:28).

Sonder ’n opperste God om hulle te lei, wend mense hulle tot ‘bloggers’, ‘podcasters’ en sosiale media in die algemeen vir inligting en bevestiging. Hoe maklik word ons gemanipuleer indien daar geen morele anker in ons lewe is nie.

Baie van die akademiese instellings is oorgeneem deur propagandiste wat die verwerping van alle selfbeheersing bevorder, net soos dit voorspel is: “Hulle sweer en lieg en moor en steel en pleeg owerspel; hulle breek in, sodat bloedbad aan bloedbad raak” (Hoséa 4:2). Hierdie goddelose opvoeders het by die universiteite begin, oorgeskakel na die hoërskole en teiken nou diegene van so jonk as vyf jaar oud, indoktrineer en verwar hulle of hulle seuns, meisies of iets heeltemal anders is. Enigiemand wat nie daarby inval nie, word “gekanselleer”.

Waarom, indien dit alles oor verdraagsaamheid en insluiting gaan, word Bybelse waardes nie geduld en daarby ingesluit nie? Wie dit ook al gesê het, het hy of sy dit kort en bondig gestel: “Dit word dus uiters belangrik vir die staat om met alle mag andersdenkendes te onderdruk”.

Die grootword-proses was nog altyd ’n uitdaging. Dit is ’n tydperk wanneer individue op soek is na waar hulle inpas in die groter prentjie. Vandag is dit egter erger, aangesien daar baie portuurgroepe en beginsellose kansvatters is om vir hulle die pad aan te dui en hulle aan te moedig met ’n sosiale media “like” en “mooi só”, om die nuutste neiging te volg, maak nie saak hoe vernietigend dit is nie. Hoe anders kan ons die toename van diegene wat identifiseer met LGBTQIA+-bewegings verduidelik?

Die Waarheid maak u vry

Die profeet Jesaja het geweet dat waarheid, geregtigheid en regverdigheid in hierdie huidige Godverwerpende wêreld sou ontbreek en het oor die stand van sy volk geskryf:

“Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie; hulle maak hul paaie krom, niemand wat daarop loop, ken die vrede nie. Daarom is die reg ver van ons en bereik die geregtigheid ons nie; ons wag op lig, maar kyk, daar is duisternis; op ’n helder skynsel, maar ons wandel in dikke donkerheid. Ons tas rond langs die muur soos blindes, en soos die wat geen oë het nie, tas ons rond; ons struikel op die middag soos in die skemeraand; ons is onder die gesondes soos dooie mense. Ons brom almal soos bere, en soos duiwe kir ons aanhoudend; ons wag op reg, maar dit is nie daar nie; op heil – dit bly ver van ons ... die afval en verloëning van die Here en afwyking van agter onse God; die uitspreek van verdrukking en oortreding, die opneem en uitstoot van leuentaal uit die hart. So word dan die reg teruggedring en die geregtigheid bly staan van ver; want die waarheid struikel op die mark, en wat reg is, kan nie binnekom nie” (Jesaja 59:8-11, 13-14).

Daar is nogtans hoop. Jesus het gesê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31-32). Die waarheid is die vyand van leuenagtige propaganda, “die doodsvyand van die leuen en dus by uitbreiding, die waarheid is die grootste vyand van die staat”.

Jesus het van dié wat Hom volg, gesê: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Johannes 17:16-17). Ja, die waarheid sonder ons af van die weg van hierdie wêreld. Terwyl akademici, die media, korporasies, regerings en selfs geestelike leiers, gedrag aanmoedig wat vir God onaanvaarbaar is, word diegene wat verstaan dat daar absolute morele waarhede bestaan, diegene wie ’n morele anker het en daarna streef om volgens daardie weg van waarheid te leef, word weerhou van gedrag wat verwarring, lyding, depressie en wanhoop meebring.

Dit beteken nie dat dit altyd maklik is om in hierdie wêreld te leef nie. Dit is beslis nié maklik nie. Jesaja het gesê: “Ja, die waarheid word vermis; en wie afwyk van die kwaad, word geplunder” (Jesaja 59:15). Kanselleerkultuur kan pynlik wees, maar om daarteen op te staan het uiteindelik ’n beloning tot gevolg. Die waarheid sal op die ou einde seëvier. Soos ons aangehaal het: “Die leuen kan slegs gehandhaaf word vir solank as wat die staat die mense kan beskerm teen die politieke, ekonomiese en/of militêre gevolge van die leuen”. In die huidige konteks kan die leuen slegs gehandhaaf word vir solank as wat die moderne propagandiste die mense kan ”verblind” vir die morele, ekonomiese en kulturele gevolge van die leuen.

Daar sál gevolge wees – trouens, vir diegene wat oplettend is, dit is reeds waarneembaar. Die belonings sal so kom – beide nou én in die toekoms, maar diegene wat daardie belonings sal ontvang, het insig  en moed nodig. Ware Christenskap is nie vir die swakkes nie, maar vir die dapperes!