Vraag: Die Skrif beskryf dat Jesus Christus deur Pontius Pilatus gegesel was voor Sy kruisiging (Mattheüs 27:26; Markus 15:15; Johannes 19:1). Was daar enige spesiale betekenis verbonde aan hierdie geseling?

Antwoord: Die apostel Petrus beskryf Christus se kruisiging en verduidelik dat die Verlosser “self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is” (1 Petrus 2:24). Petrus se woorde het dié van die profeet Jesaja nageboots, toe hy die komende Messias beskryf het: “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jesaja 53:5).

Wat Christus moes verduur, was nie ’n soort rituele geseling nie. Hoewel geen bene gebreek was nie (Psalm 34:21; Johannes 19:36), het die Skrif voorspel dat, as gevolg van die geweldige geseling, Sy voorkoms misvormd sou wees. Hy was “geen mens meer nie, en sy gestalte was nie soos dié van ’n mensekind nie” (Jesaja 52:14).

Vir watter doel het Jesus Christus hierdie verskriklike geseling verduur? Let op Sy woorde: “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10). Ewige lewe is die geskenk wat God met die opstanding sal gee, maar met hierdie woorde het Christus ’n oorvloed beskryf wat Sy volgelinge in hulle fisiese lewens sou hê.

Natuurlik is daar niks belangriker as die geestelike genesing wat plaasvind wanneer Christene die Heilige Gees ontvang en hul menslike natuur vervang met die geestelike geaardheid van Christus nie. Is dit egter al wat daar aan Christus se opoffering is? Nee! Christus se gestorte bloed betaal die straf vir ons sonde en maak dit moontlik om die geskenk van die ewige lewe te ontvang (Romeine 6:23). Sy gebroke liggaam – “Sy wonde”, soos dit gesimboliseer word deur die brood waaraan Christene deel het tydens die Pasgadiens (1 Korinthiërs 11:23-24) – maak spesifiek ons fisiese genesing moontlik.

Ewige geestelike lewe is ’n gawe wat nie verdien kan word nie, maar diegene wat opsetlik aan God ongehoorsaam is en teen Sy wet in opstand kom, kan daardie gawe verwerp (Hebreërs 6:4-6). Eweneens, indien ons gehoorsaam is aan die fisiese wette wat menslike lewe beheer, kan ons verwag om gesond te wees. Indien ons egter teenstrydig met daardie wette handel, kan ons ongesteldheid verwag. Jesus Christus – die God van die Ou Testament (1 Korinthiërs 10:4) – het aan antieke Israeliete gesê: “As jy getrou na die stem van die Here jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die Here wat jou gesond maak” (Exodus 15:26).

Die Skrif bevestig “almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Ons het almal genesing nodig. Wanneer ons sondig, vra ons God om vergifnis, indien ons werklik opreg is, bekeer ons onsself – dan verander ons ons gedrag. Hierdie beginsel geld ook vir ons fisiese genesing. God kan, byvoorbeeld, die emfiseem van ’n langtermyn tabakroker genees. Indien die een wat genees is nogtans nie ophou rook nie, moet hy nie verwag dat God hom sal seën met verdere genesing nie. Wanneer ons vra vir genesing moet ons ywerige selfondersoek doen om te bepaal of ons nie dalk iets gedoen het wat ’n skending is van die basiese gesondheidswette wat ons dan vatbaar kan maak vir die ongesteldheid waarvoor ons genesing soek nie. Ons behoort bereid te wees om daardie gedrag te verander wat ons gesondheid benadeel, ons behoort ’n poging aan te wend om dit te doen (1 Korinthiërs 11:31-32).

Wat anders behoort ons te doen indien ons Goddelike genesing verlang? Die apostel Jakobus gee eenvoudige opdragte: “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word. Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag” (Jakobus 5:14-16). Jakobus se bemoedigende opdrag herinner ons daaraan dat om met olie gesalf te word deur ’n ware dienaar van God, ’n kragtige werktuig vir ons genesing is. Verder, net soos ons vir ander behoort te bid, moet ons nie nalaat om te vra vir die gebede van ander getroue Christene nie.

Om meer te leer aangaande goddelike genesing en hoe u dit kan bekom, lees ons boekie, Genees God VANDAG? U kan dit op die Internet lees of u gratis eksemplaar bestel op ons webwerf, www.wvm.co.za. Andersins kan u dit skriftelik aanvra van ons Streekskantoor die naaste aan u (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif).