Die meeste van ons dink aan sponse as alledaagse huishoudelike items. Hulle sagtheid en absorpsievermoë maak dit veelsydige werktuie om ons liggame, vloere en skottelgoed mee te was en ons mure te verf. Alhoewel die hedendaagse sponse wat ons gebruik, waarskynlik uit sintetiese materiale vervaardig is, het ons gedurende die grootste deel van ons geskiedenis ons sponse – die gedroogde liggame van ongewerwelde waterdiere – uit die oseane geoes.

Sponse kan wêreldwyd in mariene omgewings gevind word, van mere en riviere tot uitgestrekte oseane en van warm tropiese klimate tot ysige poolstreke. Dit kom voor in verskeie vorms en groottes, met verbasende helder kleure en ’n ingewikkelde strukturele argitektuur. Hulle is die onderwater-ekwivalent van blomme en hulle skoonheid is waarlik asemrowend. Alhoewel hulle dalk soos plante mag lyk, is sponse lede van die diere-spesie filum Porifera (“gaatjie-draende”). Omdat sponse tot die eenvoudigste van meersellige diere behoort, word hulle deur die wetenskap wat op evolusie gebaseer is na die laagste tak van die diere-“stamboom” geskuif. Tog is hierdie eenvoudige diertjies nie so eenvoudig nie. Sponse is ’n merkwaardige voorbeeld van God se briljante skeppingsvermoë.

Merkwaardige struktuur

Anders as by die meeste diere, het sponse geen eksterne of interne organe of spiere nie. Hulle het nie bloedsomloop-, senuwee- en spysverteringstelsels nie. Sponse gebruik sellulêre spesialisering om lewensfunksies te verrig.

Sommige sponse is sag en veselagtig. Ander het ’n fermer, dog uiters soepel skeletraam wat weerstand kan bied teen kragtige seestrome. Selle wat sklerosiete genoem word, skei kalsiet- of silika-stringe van verskillende lengtes af om hierdie oënskynlik delikate argitektoniese wonders te vorm. Navorsers bestudeer nog die konstruksie-tegnieke van sponse om maniere te vind om menslike ingenieurs te help om “hoër, sterker en buigsamer geboue op te rig” (“Secrets of Our Ocean Planet: Sponges as Civil Engineers and Pharmacists,” blog.NationalGeographic.org, 24 April 2018).

Die liggaam van ’n spons is ’n hol, oop kamer, met ’n jellie-agtige stof wat mesofil genoem word, tussen die binne- en buitenste lae van die selle. Die buitenste laag vorm ’n dun vel van plaatagtige selle, wat pinacosietes genoem word. Selle wat bekend staan as choanosietes, vorm die binneste laag. Choanosietes het ’n tregteragtige kraag wat bedek is met klewerige haartjies rondom ’n sentrale flagel.

Die buitenste laag van ’n spons bevat baie klein porieë wat met die binneste laag verbind is om ’n komplekse netwerk van kanaaltjies deur die mesofil te vorm. Choanosiete bedek die wande van hierdie kanaaltjies. Die flagel van die choanosietes beweeg saam heen en weer en lei die vloei van water deur die netwerk van kanale. Die klewerige haartjies van die choanosiete vang deeltjies organiese materiaal op wat in die water is en beweeglike amebosiet-selle sluk hierdie vasgevangde stukkies en vervoer dit na ander selle binne-in die spons.

Ongelooflike skoonmaakvermoë

Die filtreer-voeding van sponse het ’n positiewe invloed op die watergehalte van mariene-ekosisteme. Terwyl hulle vreet, maak sponse die water skoon deur skadelike bakterieë, plaagdoders en in sommige gevalle selfs swaarmetale soos tin en lood te verwyder.

Hulle doen dit uiters doeltreffend en effektief. Dit is bekend dat seesponse meer as 90 persent van die bakterieë en organiese stowwe uit die water verwyder wat hulle verwerk (“Denizens of the Deep: How Sponges Create Important Habitats,” Marine Conservation Institute, 22 Januarie 2019). Soos wat die Horizon: The EU Research and Innovation Magazine berig: “’n Seespons kan elke dag tussen twee en 20 kubieke meter water per kilogram van sy liggaamsgewig filtreer en navorsers bestudeer die moontlikheid om dit op industriële skaal te gebruik in ’n proses bekend as bioremediëring – waar organismes gebruik word om besoedelende stowwe te verwyder” (“The cleaning power of sea sponges,” 6 Januarie 2016).

Die spons stoor binne-in homself enigiets wat hy uit die water verwyder en wat nie as voedsel gebruik kan word nie. Die jellie-agtige mesohiel van ’n spons huisves ’n magdom lewende bakterieë, virusse en gifstowwe, wat die diertjie van groot belang maak vir mediese navorsers vir die farmakologiese potensiaal wat dit het.

Wonderbaarlike vernuwing

Laboratoriums regoor die wêreld het ’n baie interessante eksperiment met sponse onderneem: Wanneer hulle die individuele selle van ’n lewendige spons skei, vind hulle dat die selle weer versamel om een of meer kleiner sponse te vorm. ’n Spons waarvan die selle losgegaan het, kan die hele liggaam byeenbring en rekonstrueer. Sponsselle het nie ’n monteer-volgorde nodig nie, sodat ’n spons vinnig kan herstel indien dit met geweld geskei word. Wanneer twee verskillende spesies spons saam deur ’n sif gedruk word, sal die los selle hulleself uitsorteer en slegs met ander selle van dieselfde spesie verbind.

In ’n voedselryke omgewing, sal individuele sponsselle oorleef deur eenvoudig na ’n amoeba-agtige toestand terug te keer. Dit is egter nie wat hulle doen nie. Hulle restoureer. Terwyl hulle die oorspronklike diertjie herbou, vertoon die eenvoudige diertjies se selle kennis, doelgerigtheid en die vermoë om ander selle as deel van die oorspronklike groter spons te identifiseer. Verbasend genoeg doen sponse dit oënskynlik sonder ’n wyse van kommunikasie en ten spyte daarvan dat hulle nie ’n brein of sentrale senuweestelsel het nie. Wetenskaplikes verstaan nie heeltemal die meganisme waardeur sponse dit alles doen nie. Op een of ander manier is die nodige bloudrukke en aanwysings, met inbegrip van kennis van al die gespesialiseerde selle en sellulêre funksies wat nodig is vir lewe, in elke sel van hierdie “geringgeskatte” wesentjie reeds teenwoordig om met ander selle saam te werk en ’n ander volledige spons te vorm.

Verstommend genoeg, steek daar nog meer in die spons se ongelooflike vermoë om te herleef. Sponsselle — sklerosiete, pinacosiete, choanosiete, amebosiete en ander sponsselle — is almal totipotent. Dit wil sê, elke sponssel is soortgelyk aan ’n stamsel, wat ’n ander soort sel kan word. Daarom kan sponse die funksie van elke sel in hulle liggaam verander indien nodig (“Secrets of Our Ocean Planet: The Not-So-Simple Sea Sponge,” blog.NationalGeographic.org, 23 April 2018). Wanneer sterk strome dit beskadig of ’n honger vis dit byt of ’n deel daarvan geoes word vir ’n badspons, kan die spons homself genees omdat enige sel naby die beskadigde area die sellulêre spesialisasie van die beseerde of ontbrekende selle kan aanneem.

Volmaak geskep

Alhoewel hulle wetenskaplik geklassifiseer word as eenvoudige meersellige diere, besef ons dat sponse nie so eenvoudig is nie! Hulle vorm en struktuur, hulle vermoë om hulle ekosisteem te suiwer en hulle wonderbaarlike vermoë om te herstel, getuig van ’n kompleksiteit wat die mens se verstand te bowe gaan. Hierdie fantastiese wesentjies is ideaal ontwerp vir hulle omgewing en hulle rol. Die vindingryke volmaaktheid wat in die seespons vertoon word, kan nie die resultaat van blote toeval wees nie. Dit is ’n bewys van ’n Skepper wat alles beplan, ontwerp en gebou het om lewe op hierdie planeet in stand te hou.

Geen wonder dat koning Dawid geïnspireer was om te skryf: “Hoe talryk is u werke, o Here! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele! Daar is die see, groot en alkante toe wyd – daar is ’n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes” (Psalm 104:24-25).