Satan is die grootste bedrieër in die heelal. Die grootste deel van die wêreld is onder sy heerskappy. Hoe kan u sy leuens identifiseer en daarvan ontvlug?

Jesus Christus beskryf die Satan kort en kragtig: “Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan” (Johannes 8:44). Die boek Openbaring vertel aan ons dat die duiwel die hele wêreld mislei!

Watter metodes gebruik Satan om mense in sy web van leuens en misleiding in te lok? Hoe kan ons weet of ons mislei is? Wat kan ons doen om onsself te beskerm teen die veragtelikhede van hierdie meesterverleier? Lees verder vir die antwoorde!

Die Illinois State Capitol-gebou bied al vir etlike jare elke Desember drie vakansie-uitstallings aan: ’n Feestelik versierde boom wat ’n kerkgroep verskaf, ’n menorah [sewearmkandelaar] wat deur Joodse burgers verskaf word asook ’n plakkaat met ’n sonstilstand-tema, verskaf deur ’n anti-godsdiensgroep. In Desember 2018 was daar egter by hierdie drie uitstallings nog ’n vierde gevoeg. The New York Times berig:

Tussen die vonkelende ligte en flikkerende kerse ... sal u ’n eerbetoon aan die prins van duisternis vind wat voorsien is deur die Chicago-tak van die Satanic Temple – ’n groep met hulle hoofkwartier in Salem, Mass., wat 15 takke landwyd het. Dit lyk ’n bietjie anders as die dennetakke en die mistel wat dikwels met hierdie tyd van die jaar geassosieer word: ’n Vrou se hand wat ’n appel aanbied terwyl ’n slang om haar pols kronkel. ’n Pentagram [vyfhoekige ster] met die woorde “kennis is die grootste geskenk”, is op die voetstuk daaronder geskryf (“Satan Is in the Illinois Capitol. Because It’s the Holidays!,” The New York Times, 6 Desember 2018).

Dit is dieselfde organisasie wat in 2016 toestemming gekry het om ’n jeugprogram, “After School Satan”, na die Parkrose-skooldistrik in Oregon, te neem, waarin laerskoolkinders ’n alternatief gebied word vir “Good news Clubs” wat Protestantisme bevorder. Temple se medestigter Doug Mesner, het aan CBS News gesê dat studente maandeliks ’n uurlange byeenkoms kan bywoon, wat deur plaaslike vrywilligers van sy organisasie aangebied word. Die groep wil ook die programme in Los Angeles, Atlanta en Washington, DC aanbied (“Portland gee toestemming vir ‘After School Satan’ laerskool kinders”, CBSNews.com, 28 September 2016).

Verbasend genoeg maak die Satanic Temple daarop aanspraak dat hulle nie probeer om geloof in ’n persoonlike Satan te bevorder nie. Inteendeel, sy lede verheerlik Satan as “’n simbool van die Ewige Rebel in teenstelling met arbitrêre gesag” (ibid.). Nogtans is hulle gewillig om hulle voorwerp van aanbidding te verpersoonlik wanneer dit hulle pas. In Augustus 2018 het die Satanic Temple ’n standbeeld voor die gebou van die Arkansas-staatswetgewer in Little Rock onthul. Dit was ’n standbeeld van hulle sogenaamde “Baphomet” – ’n gedierte met die horings en kop van ’n bok, met ’n jong seun en meisie – wie in aanbidding na hom staar – in sy arms onder sy vlerke. Die Temple se mede-stigter, Lucien Greaves, beskryf dat die onthulling die “viering van pluralisme” verteenwoordig, maar dit was ook die groep se reaksie op ’n vroeëre oprigting van ’n monument van die Tien Gebooie (“Satanic Temple statue unveiled at the Arkansas State CapitolKATV.com, 16 Augustus 2018).

Sommige mense sal die Satanic Temple as ’n media-kundige groep afmaak wat Satan vir sy eie doeleindes gebruik. Is die ondersteuners van die Satanic Temple egter besig om met gevaarlike magte wat hulle nie verstaan nie, te speel? Is hulle nie besig om buiten pluralisme, rebellie en die strewe na kennis te bevorder nie, maar ook die onderwerping aan ’n bose gees nie? Is dit inderdaad korrek om Satan gelyk te stel met “kennis”? U Bybel gee hierdie baie duidelike antwoord: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei [mislei]; hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9). Ja, die duiwel is ’n bedrieër! Sou sy grootste misleiding nie juis wees om mense te oortuig dat hy nie bestaan nie en niks anders is as die verbeeldingryke skepping van kunstenaars, beeldhouers en skrywers van fiksie nie?

Die bedrieglike duiwel

Wat sê sommige geleerdes in verband met die duiwel? “Volgens Henry Ansgar Kelly, ’n navorsingsprofessor aan die Universiteit van Kalifornië, Los Angeles, is daar in werklikheid ‘geen bewyse’ wat daarop dui dat die duiwel as boos uitgebeeld behoort te word nie ... Professor Kelly is van mening dat Christene verkeerd is en dat Satan in werklikheid probeer om goed te doen en aan God se kant is, maar ‘oorboord’ gegaan het met sy oordele. ’n Noukeurige bestudering van die Bybel toon dat Satan minder soos Darth Vader lyk [’n karakter in “Star Wars”] en al hoe meer na ’n alte ywerige aanklaer”. (“SHOCK CLAIM: Christians were WRONG to brand Satan evil,” Daily Express, 22 Julie 2017).

Is professor Kelly reg? Is Satan eintlik aan die kant van die goeie? Ons lees in die Skrif dat Satan die duiwel homself as ’n “engel van die lig” voordoen (2 Korinthiërs 11:14). Sal u nie outomaties aanvaar dat ’n engel van die lig ’n krag ten goede is nie? Geagte lesers, dit is nodig dat u op u hoede sal wees. As die duiwel die “hele wêreld” kan mislei, kan hy u ook mislei indien u nie ná aan u Verlosser en Sy Woord, die Bybel, bly nie!

Ja, Satan kan die onskuldige, liggelowiges en eiesinnige mense mislei om valshede te glo wat heeltemal in stryd is met die Bybel! Hierdie leuens sluit onder andere ook valse visioene en drome in. By verskeie geleenthede oor die jare heen, het mense my van drome of visioene vertel wat ek sonder twyfel verstaan het Satan-geïnspireerd was. Byvoorbeeld, sommige mense dink hulle het Jesus gesien, maar wanneer hulle ’n Jesus met lang golwende hare beskryf, kon ek onmiddellik weet dat hulle visioen klaarblyklik vals was. Onthou, die apostel Paulus skryf: “Of leer ook die natuur self julle nie dat as ’n man lang hare dra, dit vir hom ’n oneer is nie” (1 Korinthiërs 11:14). Jesus het verskeie kere die skare ontglip omdat hy soos die gemiddelde Joodse man van Sy tyd gelyk het.

Soms sal iemand my van ’n droom of profesie vertel wat op die oppervlak interessant klink, maar by nadere ondersoek is daar ’n rebelsheid teen die leerstellings van Christus. Selfs wanneer so ’n profesie bewaarheid word, wees versigtig! Die Skrif vermaan ons: “As ’n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ’n teken of wonder aankondig, en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop – wat jy nie geken het nie – en hulle dien, dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die Here julle God beproef julle om te weet of julle werklik die Here, julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel” (Deuteronómium 13:1-3).

Die apostel Johannes bekragtig hierdie onderrig en beveel ons om nie elke skynbaar aanloklike boodskap te aanvaar wat op ons pad kom nie. Hy skryf: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef, of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Johannes 4:1). U Bybel openbaar dat Satan bedrieglik is, nie dom nie. Hy en sy demone is nie ateïste nie; hulle weet baie goed dat God bestaan. Ons lees: “... die duiwels glo dit ook, en hulle sidder” (Jakobus 2:19). Die duiwel ken selfs die Skrif en probeer om dit teen Christene wat nie daarop voorberei is nie, te gebruik. Onthou dat toe Satan vir Jesus Christus uitgedaag het om Sy Goddelike krag te toon deur van die tempel af te spring, het hy Psalm 91:11-12 aangehaal. Jesus het natuurlik beter geweet en geantwoord deur Deuteronómium 6:16 aan te haal, soos in Matthéüs 4:5-7 aangetoon word.

Bedrieglike onderwysers

Is u al ooit mislei? Rondom ons is talle swendelaars wat daarop uit is om te bedrieg en te steel. Wettoepassings-agentskappe waarsku ons voortdurend teen skelmstreke en bedrieglike praktyke wat niksvermoedende slagoffers beroof. Is u egter op u hoede vir misleidings wat selfs in die naam van Christelikheid voorkom? Ons het vroeër gelees dat Satan homself in ’n engel van die lig voordoen om die onskuldiges en onverstandiges te mislei. Satan het ook sy eie predikante. Ons lees: “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders, wat hulleself verander in apostels van Christus” (2 Korinthiërs 11:13). Net omdat iemand homself ’n predikant of selfs ’n apostel noem, beteken dit nie dat sy boodskap van Christus is nie. Sulke valse onderwysers sal as gevolg van die straf vir hulle valse leer ly: “Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Korinthiërs 11:15).

Jesus self het gewaarsku, dan sal “valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matthéüs 24:24). So skokkend as wat dit mag wees, waarsku u Bybel teen godsdienstige predikante wat regverdig lyk, maar dienaars van Satan is. Indien u ’n Bybelstudent is, weet u dat een van Satan se godsdienstige misleidings, valse leerstellings is. Die apostel Paulus het profeteer dat baie godsdienstige mense na leraars sal soek wat preek wat hulle graag wil hoor, eerder as leraars wat die Waarheid van die Bybel verkondig. Die apostel Paulus vermaan die jong evangelis Timótheüs:

“[V]erkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Timótheüs 4:2-4).

Misleidende praktyke

Die meeste van u wat hierdie artikel lees, besef dat die okkulte ’n gevaarlike bron van misleiding is. Baie ander mense dink aan die okkulte as ’n kwessie van vermaak en geniet die topverkoper Harry Potterboeke en rolprente. Ander mense kyk na séances, tarotkaarte, raadpleging van mediums en astrologie vir insig en krag. Miljoene mense hou hulle besig met die okkulte en soek na antwoorde by waarsêers en mistici. Hierdie onheispellende praktyke is bedrieglik. God die Almagtige, veroordeel afgodediens en towery (Galásiërs 5:19-20). Hy klassifiseer diegene, wat deelneem aan praktyke soos heksery, towerkuns, towerspreuke en spiritisme as ’n “gruwel” (Deuteronómium 18:10-12).

Wat van Christelikheid sélf? Neem die meeste mense wat hulleself Christene noem nie deel aan praktyke wat ver verwyder is van die leerstellings van die Bybel nie? Protestantse en Katolieke gelowiges het op Sondag, 21 April 2019, Paasfees gevier en Oos-Ortodokse gelowiges het dit op 28 April gevier – ’n week later. Waar vind u enige verwysing na Paasfees in u Bybel? Lees mnr. Gerald Weston se artikel “Waarom Paasfees vier?” in hierdie uitgawe om meer oor hierdie belangrike onderwerp te wete te kom. Selfs diegene wat Paasfees vier, moet erken dat baie van vandag se mees algemene Paasfees-simbole – paaseiers en hase, om net twee te noem – direk uit nie-Christelike gebruike kom en wat die vrugbaarheid van die aarde vier en nie die opstanding van die Verlosser nie. Trouens, miljarde mense het misleidende leerstellings aanvaar – nie net oor Christus se dood en opstanding nie, maar selfs oor Sy geboorte. Betroubare geleerdes sal erken dat 25 Desember as die geboortedag van Mithras, die songod gevier was. Dit was nooit die datum van Jesus se geboorte nie. Wat dít aanbetref, behoort Christene dan Valentýnsdag te vier? In 496 n.C. het Pous Gelasius I, die Fees van St. Valentyn op 14 Februarie ingestel. Vóór dit, sedert die antieke tydperk van Rome, het jong verliefdes gereeld op 15 Februarie die Lupercalia gevier – die fees van Lupercus, ’n vrugbaarheidsgod. Selfs in antieke Griekeland was die tyd gedurende middel-Februarie met liefde en vrugbaarheid geassosieer. Die Griekse maand Gamelion, wat in die middel van Februarie eindig, was met die huwelik van die gode Zeus en Hera geassosieer.

Waarom maak dit saak? Die geskiedkundige, Will Durant het hierdie oorsig in The Story of Civilization gegee: “Die Christendom het nie die heidendom vernietig nie; dit het dit aangeneem. Die kwynende Griekse denke, het oorgegaan na die godsdiens en gebruike van die kerk. Die Griekse taal wat eeue lank die filosofie oorheers het, het die dryfveer geword van die Christelike literatuur en kerklike instelling. Die Griekse geheimenisse is oorgedra na die indrukwekkende geheimenis van die Mis. Ander heidense kulture het bygedra tot die godsdiensvermenging ... Die Christendom was die laaste skepping van die antieke heidense wêreld”. (Vol. III, bl. 595, klem bygevoeg).

Geagte lesers, het die duiwel u mislei om heidense tradisies in die naam van Christelikheid te beoefen? Hou Jesus se waarskuwing aan die Fariseërs en skrifgeleerdes aangaande sekere godsdienstige gebruike in gedagte: “Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Markus 7:9). Die wêreld is vol valse godsdienste, tradisies en leerstellings. Geagte lesers, wees op u hoede vir hierdie demoniese misleidings!

Eindtydse misleiding

Satan wil u nie net mislei met betrekking tot die leerstellings wat u behoort te glo en beoefen nie; hy wil hê dat u die Bybelprofesie oor u toekoms en die toekoms van ons wêreld verkeerd verstaan. Die Skrif praat van ’n eindtydse supermoondheid wat ’n herlewing van die ou Romeinse Ryk sal wees. Daardie supermoondheid word deur ’n Dier gesimboliseer. “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Openbaring 17:12-14).

Interessant genoeg, is daar onder die Bybelkommentators wat hierdie Dier as die Romeinse Ryk korrek geïdentifiseer het, ook dié van die New Catholic Edition, wat dikwels die Douay-Rheims genoem word. Dit vertel ons in ’n voetnota, met betrekking tot die Dier van Openbaring 17:11, “Die dier van wie hier gepraat word, lyk of dit die Romeinse Ryk is, soos in hoofstuk 13” (klem bygevoeg). Ja, die Dier van Openbaring 17 asook die Dier van Openbaring 13 verteenwoordig die Romeinse Ryk. Die aantekeninge wat in hierdie Rooms-Katolieke Bybelkommentaar oor Openbaring 13:1 gepubliseer is, lui: “Die voorstelling van die eerste dier is gebaseer op die sewende hoofstuk van Daniël. Hierdie dier is die versinnebeelding van die koninkryke van die wêreld – koninkryke gegrond op passie en egoïsme – wat te alle tye antagonisties teenoor Christus is en probeer om die dienaars van God te onderdruk. Keiserlike Rome verteenwoordig hierdie mag” (klem bygevoeg). Ja, selfs die Douay-Rheims Bybel erken die identiteit van die Dier. Tog wil Satan u met betrekking tot hierdie punt mislei omdat die Dier nie alleen sal werk nie. Openbaring 17:3-4 beskryf ’n hoervrou wat op die Dier ry. In Bybelse simboliek verteenwoordig ’n vrou ’n kerk. In hierdie verse word sy “Verborgenheid, die groot Babilon” genoem, wat ’n valse godsdienstige stelsel verteenwoordig – ’n vervalsing van Christelikheid.

Ja, Satan se bedrog is so vermetel dat dit ’n vervalsing van Christelikheid self insluit! Liewe lesers, sal u deur Satan se valse Christelikheid mislei word? Jesus waarsku ons: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Matthéüs 24:4-5). Die vrou wat op die Dier ry, verteenwoordig ’n groot valse kerk – een wat homself “Christelik” noem, maar hy leer sy lede om in heidense praktyke betrokke te raak. Die apostel Paulus beskryf die valse profeet wat hom by die Dier sal skaar: “[Hy] wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thessalonicense 2:9-12).

Diegene wat deur sy tekens en oënskynlike wonderwerke oortuig word, maar nie hulle oorsprong onderskei soos Deuteronómium ons leer om te doen nie, sal maklik deur die toekomstige valse profeet mislei word, wat selfs wonders van die leuen sal gebruik om volgelinge te kry. Onthou, die toets van ’n profeet is nie net dat sy profesieë bewaarheid word nie – dit is dat daardie profesieë nie van die Woord van God afwyk nie. Soos ons lees: “Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ’n volk wat geen dageraad het nie” (Jesaja 8:20). Ons by die Wêreld van Môre herinner dikwels ons lesers en kykers: “Moet ons nie sommer net glo nie; glo u Bybel”. Satan se misleidende valse profeet sal u vra om hom te glo en u Bybel te verontagsaam.

U kan misleiding vermy!

Die Bybel waarsku ons dat die duiwel ’n werklikheid is en dat hy soveel mense as moontlik wil mislei. U kan egter beskerm word teen sy invloed. Aan diegene wat ná aan Hom is, gee God die belofte dat Hy hulle van die bose sal red. Moontlik volg u die “modelgebed” wat Jesus aan Sy dissipels geleer het? Hy leer ons om te bid, “en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen” (Matthéüs 6:13).

Ja, God sal ons beskerm, maar ons moet ons deel doen. Dink aan die apostel Paulus wat die Christene in Éfese aangemoedig het: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efesiërs 6:10-12).

God sal Sy getroue diensknegte geestelike beskerming gee. Geagte lesers, ek en u het daardie beskerming en krag van God nodig! Ons moet egter ons deel doen! Wat is daardie deel? “Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God” (Efesiërs 6:14-17).

Ja, u kan die goddelose een oorwin deur die Woord van God te ken en daarvolgens te leef. Die apostel Jakobus gee aan ons hierdie bemoedigende belofte: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” (Jakobus 4:7-8).

U kan die versoekings, uitdagings en misleidings van die okkulte en valse godsdiens oorwin. Die apostel Paulus moedig ons aan: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13). Mag God u in staat stel om in geloof vorentoe te gaan. Mag u leef, nie deur die donker misleidings van hierdie wêreld nie, maar deur die lig van die Waarheid, God se Woord!

Laat ons almal uitsien na hierdie toekomstige aankondiging: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15). Ons sien uit na die dag wanneer die duiwel verslaan sal wees en vir eens en vir altyd na die Poel van Vuur gewerp sal wees (Openbaring 20:10). Maar die heel meeste sien ons uit na die koms van die Koning van die konings, Jesus Christus, wat weer na hierdie aarde sal kom om blywende vrede, voorspoed en ware lig in ’n donker wêreld te bring.