Baie mense is van mening dat die Westerse beskawing, wat meer as 2,000 jaar gelede dateer, op die Romeinse reg en Griekse idees van demokrasie gebou is. Min mense besef vandag dat baie van die kultuur en beskawing van die Westerse wêreld op die fondament van vyf boeke rus wat 3,500 jaar gelede deur ’n man met die naam van Moses geskryf is. Hoewel skeptici daarop aanspraak maak dat Moses ’n fiktiewe karakter is en beweer dat om sy geskrifte letterlik op te neem, tot nadeel van die mensdom was, ignoreer sulke bewerings die merkwaardige inhoud en onmiskenbare impak wat die boeke van Moses op die verloop van die wêreldgeskiedenis gehad het.

Die vyf boeke van Moses wat ook bekend staan as die Pentateug – Genesis, Exodus, Levitikus, Númeri en Deuteronómium – is deel van die Hebreeuse Geskrifte (die Ou Testament) en maak daarop aanspraak om die geïnspireerde woorde van God te wees (Exodus 3:4-6; 2 Timóteüs 3:16). In skrille kontras met ander “heilige” boeke, bevat die Bybel – met inbegrip van hierdie vyf mees antieke boeke – unieke, interne selfgewaarmerkte bewyse, in die vorm van byna tweeduisend profesieë wat sy goddelike inspirasie bevestig. Geen ander vertolking behalwe die Bybel – nie die Koran nie, nie die Upanishads nie, nie die Tao Te Ching nie – kan met reg daarop aanspraak maak om sulke spesifieke profesieë te bevat wat toekomstige gebeure korrek voorspel nie.

Het Moses geleen?

Sommige kritici sê dat die Wet van Moses gekopieer of geleen is uit die kode van wette wat deur Hammurabi verklaar is, ’n Babiloniese koning wat verskeie eeue vroeër geleef het. Die wette van Hammurabi was egter hoofsaaklik burgerlike wette om die kommersiële stadstaat van Babilonië te regeer; dit het barbaarse strawwe ingesluit wat deur regters opgelê is, onderworpe aan die koning (sien “8 Things You May Not Know About Hammurabi’s Code”, History.com). In teenstelling hiermee, is die Wet van Moses ’n baie meer omvattende stel burgerlike en godsdienstige voorskrifte wat op elke aspek van die lewe betrekking het. Die boeke van Moses bied ’n teologiese perspektief op die oorsprong van die heelal, die skepping van lewe op die aarde, die oorsprong van die huwelik, die doel van geslag, die oorsprong van taal en die oorsprong van nasies en bevat ook sekere wette wat menslike verhoudings lei.

Die perspektiewe op God, die heelal en die mensdom wat in die heilige boeke van die Hebreeuse volk vervat is, het ’n onberekenbare invloed op die geskiedenis en kultuur van die Westerse wêreld gehad. God het die Wette van Moses op ’n indrukwekkende wyse by die berg Sinai geopenbaar (Exodus 19:16-18) – Wette wat op ’n godsdienstige oriëntasie gebaseer is teenoor die een ware God, nie gehoorsaamheid aan ’n aardse koning nie. Die Wette van God wat aan Moses geopenbaar is, bevat ook konsepte van sonde en vergifnis, wat heeltemal afwesig is in die kode van Hammurabi.

Dit is ook insiggewend om daarop te let dat God die Wet aan Moses gegee het wat op twee kliptafels geskryf was (Exodus 31:18) en dat Moses “al die woorde van die Here” in ’n “boek van die verbond” of die “wetboek” geskryf het en so ’n permanente versameling van goddelike instruksies vir die nasie van Israel nagelaat het (Exodus 24:4-7; Deuteronómium 31:24-26). Geskiedkundiges het opgemerk dat daar ’n “noue verband tussen boeke met ’n paar belangrike oorgange in die geskiedenis” is, omdat boeke idees bewaar wat die gedagtegang van latere geslagte kan beïnvloed en hele beskawings vorm (Eight Decisive Books of Antiquity, F. R. Hoare, bll. 7, 13).

Doel en omvang van Mosaïese Wette

Die Wette van God wat aan Moses geopenbaar is, is doelbewus beplan om die nasie van Israel uit te sonder, sodat hulle ’n lig en ’n voorbeeld vir die omliggende heidense nasies van die antieke wêreld kon wees (Deuteronómium 4:1-10, 40). Dit was in ooreenstemming met die beloftes wat God aan Abraham gemaak het wie ook gehoorsaam aan die Wette van God was – sien Génesis 26:5), sodat sy afstammelinge ’n seën vir “al die nasies van die aarde” sou wees (Génesis 22:18). Die Wette van Moses is merkwaardig in hulle omvang, veral in vergelyking met die wette van Hammurabi. Die Tien Gebooie definieer die mens se verhouding met God (Gebooie 1 tot 4) en hoe om mens se naaste lief te hê (Gebooie 5 tot 10). Die morele omvang van die Mosaïese Wet omskryf wat reg en verkeerd is vir die ganse mensdom, beskerm die basiese eenheid van die samelewing – die instelling van die huwelik tussen man en vrou. Gebooie teen leuens en diefstal beskerm teen die korrupsie wat die menslike samelewings so deurdring.

Die boeke van Moses sluit bepalings vir weeklikse en jaarlikse Heilige Dae in (Levitikus 23). Die biologiese Wet soos dit opgeteken is in Génesis 1:11, 24-25, bepaal dat elke lewende organisme “volgens sy soort” reproduseer – ’n feit wat met die ontdekkings van die wetenskap ooreenstem, maar deur moderne makro-evolusionêre teorieë weerspreek word. Ander Mosaïese Wette omskryf ’n ekonomiese stelsel wat voorsiening maak vir skuldverligting (Deuteronómium 14:22-29; 15:1-2), gee leiding vir landboupraktyke (Exodus 23:10-11) en stel die bestuur van natuurlewe in (Deuteronómium 22:6-7). Gesondheidswette in die Mosaïese Kode verbied tatoeëring en selfverminking (Levitikus 19:28), omskryf kwarantyn praktyke, identifiseer geskikte bronne van voedsel (Levitikus 11; Deuteronómium 14) en beskryf behoorlike sanitasie asook die voorkoming (wat baie meer ekonomies as basiese behandeling is) van aansteeklike siektes – (sien Levitikus 11-15). Die feit dat Joodse gemeenskappe in die Middeleeue minder onder siekte-epidemies gebuk gegaan het demonstreer die voordele van die onderhouding van die Bybelse gesondheidswette.

Nog ’n interessante feit is dat Bybelskrywers nooit die Mosaïese Wette ’n las noem nie; dit word eerder as ’n bron van vryheid, wysheid, waarheid en geluk geopenbaar (Deuteronómium 4:40; Psalm 119; 1 Johannes 5:2-3), waarvan die waarde veel verder as die antieke volk van Israel strek. Selfs vandag erken regskundige owerhede dat “die Tien Gebooie ’n beduidende impak op die ontwikkeling van sekulêre regskodes van die Westerse wêreld” het (The Ten Commandments & their Influence on American Law, Federer, bl. 14). In Amerika het “Twaalf van die dertien kolonies die hele Dekaloog [Tien Gebooie] in hulle siviele en kriminele wette” opgeneem (ibid.). ’n Amerikaanse regsgeleerde het gesê: “Om die invloed van die Tien Gebooie in die stigting en die vorming van die Amerikaanse wet en regering te ignoreer, sou beduidende historiese hersiening vereis” (ibid., bl. 11). Ter opsomming: “Die direkte en indirekte invloed van die Tien Gebooie op die Amerikaanse wet, gaan in tyd terug na die ontwikkeling van die Engelse Gemene Reg en vóór dit, na die oorsprong van die Westerse beskawing” (ibid., bl. 183).

Die boeke van Moses bevat ’n dimensie van kennis wat ’n groot invloed op die wêreld gehad het, nogtans bestaan dit nie in die geskrifte van ander antieke godsdienste en filosowe nie. Dit gee unieke inligting oor die doel en betekenis van die lewe. Soos die Britse skrywer Paul Johnson met betrekking tot die antieke Israeliete geskryf het: “Geen mense het ooit meer kragtig daarop aangedring ... dat die geskiedenis ’n doel het en die mensdom ’n bestemming het nie”, dat God ’n wonderbaarlike “goddelike plan vir die mensdom” vooropgestel het. (A History of the Jews, bl. 2). Hierdie idees kom uit die boeke van Moses. Die idee dat die mens na die beeld van God geskape is (Génesis 1:26), is dat alle menslike lewe heilig is (Exodus 20:13), dat God ’n groot plan op die aarde uitwerk (Génesis 17:1-7; 22:15-18; 49) en dat Hy aan die mensdom ’n goddelike stel Wette gegee het om daarvolgens te leef, is lank gelede deur Moses in vyf boeke opgeteken wat die loop van die wêreldgeskiedenis verander het.