Sal ons gereed wees wanneer die volgende “groot een” toeslaan, twee honderd jaar ná ’n historiese aardbewing die stad van New Madrid getref het?


“So net ná 02h00 op Maandag oggend, 16 Desember 1811, was die meeste van die inwoners van New Madrid, Missouri, aan die slaap toe hulle drome skielik verbreek is deur die kraakgeluide van hul stewige hutte. Die klein dorpie se inwoners is van hul beddens, wat geweldig begin skud het, gegooi. Die vloere het wild begin lig en die mure het gekreun en is van hulle fondamente losgeskeur ... Baie van die hutte het inmekaar getuimel en as hopies rommel op die grond gelê. Sommige hutte het daardie koue nag aan die brand geslaan toe die houtbalke in die mure soos tandestokkies in die kaggels (wat veronderstel was om die inwoners warm te hou) geval het”. Dit is hoe die skrywer William Atkinson, in sy boek The Next New Madrid Earthquake, die kragtigste reeks aardbewings wat die Verenigde State van Amerika nog ooit ervaar het, beskryf (bl. 9). Die trillings het ontstaan in wat nou bekend staan as die New Madrid Seismiese Sone, ’n gebied wat strek van die weste van Memphis, Tennessee tot in die suide van Illinois. Teen die middel van Maart 1812 het drie aardbewings voorgekom, wat na raming ’n omvang van 7 tot 8 op die Richterskaal gemeet het, asook honderde naskokke. Die skudding kon waargeneem word vanaf die Rocky Mountains in die weste van Amerika tot die hoofstad in Washington DC, en van Kanada tot by die Golf van Mexiko. Skrywer James Penick wys daarop dat die gebied waarin matige trillings gevoel kon word, oor ’n skokkende een miljoen vierkante myl gestrek het (The New Madrid Earthquakes, bl. 6).

Alhoewel die aardbewings hewig was, was ongevalle laag, omdat die gebied op daardie stadium slegs yl bevolk was. Daardie aardbewings van twee eeue gelede het hul merk op die landskap van die Midweste gelaat. “Die aardbewings het veroorsaak dat die grond opgelig en ingeval het – bome is gebuig totdat hul takke ineen verweef was en diep skeure het in die grond ontstaan. Diepgesetelde grondverskuiwings het langs die steiler rotswande en heuwels voorgekom; groot gedeeltes van die grond is permanent omgedolwe en nog groter dele het ingesink en is oordek met water wat deur splete of klein kratertjies uitgebreek het ... Hoë banke het meegegee en in die rivier gestort; sandbanke en hoogtes van eilande het meegegee; hele eilande het verdwyn” (“Pentagon Nightmare: Fukushima on the Mississippi”, WIRED.com, 24 Augustus 2011). Groot golwe het baie bote gesink en ander hoog op teen die oewers van die Mississippi-rivier laat beland. Dit het gelyk of die groot rivier se vloei vir ’n tyd omgekeer was as gevolg van hierdie geweldige skuddings.

Hoe sal mense dit kan hanteer as ’n ander monster-aardbewing die sentrale deel van Amerika vandag tref? Kan dit regtig gebeur? Sal dit gebeur?

Wat as ...

Die Amerikaanse Federale Administrasie vir Noodbestuur (FEMA) het oefenlopies gehou om te bepaal hoe mense sal reageer in die geval van nog ’n ander groot aardbewing in die New Madrid gebied. Op 16 Mei 2011 het meer as 10,000 reddingspersoneel op 135 plekke regoor die streek byeengekom om die reaksie te bepaal op die nabootsing van ’n aardbewing met ’n omvang van 7.7 in die New Madrid Seismiese Sone. Dit is gekombineer met ’n sekondêre 6.0 skudding in die Wabash Vallei Seismiese Sone, met middelpunt Mt. Carmel, Illinois (“National Level Exercise 2011 Quick Look Report”, Federal Emergency Management Administration, 14 Junie 2011).

Die uitslae was skrikwekkend. Amptenare beraam ’n dodetal van 100,000 uit 15 miljoen mense wat in die aardbewing-gebied woon. Meer as sewe miljoen sou ontwortel gewees het, met twee miljoen wat noodskuiling nodig sou hê. Direkte finansiële verliese sou ’n totaal van $300 miljard bedra, met indirekte koste wat tot twee keer soveel kan styg. Bo en behalwe dit, met 15 kernkragsentrales in die streek, sou die VSA sy eie “Fukushima op die Mississippi”, kon hê, met ’n ramp wat vinnig buite beheer sou raak.

So ’n aardbewing sal werklik rampspoedige gevolge vir die Midweste inhou. “Indien die nagmerrie scenario sou kom, is staatsamptenare bekommerd dat die staats- en federale owerhede nie in staat sal wees om die ‘toenemende rampe’ wat sal volg, te hanteer nie”, volgens Paul Stockland, senior sekuriteitsamptenaar vir binnelandse veiligheid van die Amerikaanse Departement van Verdediging, tydens ’n onlangse vergadering van die Aspen Sekuriteitsforum. “’n Paar dinge hou my snags wakker”, het hy gesê en verduidelik dat nog ’n New Madrid-aardbewing een van hulle is. “[Dit is] soveel groter as enigiets waarmee ons al te doen gehad het – soveel erger as die orkaan Katrina” (“Pentagon Quake NightmareFukushima on the Mississippi”, WIRED.com, 24 Augustus 2011).

Kenners stem saam dat die “ergste geval scenario” rampspoedig kan wees, maar hulle verskil ten opsigte van die waarskynlikheid van so ’n ramp. Sommige mense sê dat ’n herhaling van die 1811-1812 skuddings lankal reeds agterweë is. Andere sê weer die kanse is skraal. Die Amerikaanse Geologiese Opname skat dat daar ’n 25-50% kans is dat ’n aardbewing met ’n omvang van 6 of hoër die New Madrid Seismiese Sone binne die volgende paar dekades kan tref, en dat daar ’n 10% kans is van ’n aardbewing met ’n omvang van 7 of hoër (“New Madrid Earthquake Bicentennial Remains Central Topic at Memphis Conference”, USGS.gov, 15 April 2011).

Behoort ons bekommerd te wees? Die meeste kenners sê dit is onmoontlik om ’n aardbewing te voorspel. In die plek daarvan handel hulle met waarskynlikhede – ’n bietjie beter as raaiwerk, omrede aardbewings enige plek, enige tyd kan voorkom. Die 5.8 omvang aardbewing wat verlede Augustus op die 23ste naby Richmond, Virginia voorgekom het – waar daar geen bekende verskuiwingslyn is nie – is ’n herinnering hiervan. Elke gesin behoort voorbereid te wees om te weet wat om te doen in die geval van ’n aardbewing of ander noodgeval.

Bo en behalwe dit is daar egter nog ’n faktor wat nie geïgnoreer kan word nie. Daar is ’n God van die hemel en aarde wat alle dinge geskape het, wat fisiese kragte gebruik om Sy goddelike wil te volbring. Terwyl die sondige mensdom buite beheer begin raak, waarsku die Bybel dat daar meer – en kragtiger – aardbewings sal wees om ons wakker teskud! Gedagtig aan hierdie duidelike waarskuwing uit die Skrif, behoort ons almal bekommerd te wees.

Hoogs waarskynlik

Noukeurige lesers van die Bybel verstaan ​​dat God weersomstandighede gebruik om ons te verootmoedig, om ons lesse te leer deur swaarkry en om ons aan te moedig om nader aan Hom te beweeg. Toe Jesus Christus Sy dissipels op die Olyfberg toegespreek het, het Hy hulle gewaarsku oor wat sal gebeur in die dae net voor Sy wederkoms en gesê: “En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte” (Mattheüs 24:6-8).

God het ’n plan vir die menslike geskiedenis (lees “Is dít ‘die einde van geskiedenis?’” elders in hierdie uitgawe). Die eerste 6,000 jaar van daardie plan – die mensdom se tyd om sy eie pad te volg en die pyn en gevolge daarvan te dra – sal binnekort tot ’n einde kom. Die Skrif waarsku dat net voor hierdie tydperk eindig, ons ’n tyd van onheil sal ingaan soos daar nog nooit voorheen was nie. Soos Christus gesê het, hierdie dinge is maar net “’n begin van die smarte”.

God sal aardbewings kragtig gebruik wanneer Hy dramaties ingryp op die aarde: “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:12-17).

Glo ons God wanneer Hy sê dat dit sal gebeur? Dat Hy letterlik die aarde sal skud om Sy kinders wat op die verkeerde pad is, wakker te skud? God is nie tevrede met diemorele agteruitgang van Amerika en ander nasies wat bely dat hulle “Christene” is, terwyl hulle die wêreld voorgaan in gedrag wat Hy sê, Hy “haat”, nie (Maleagi 2:16)! Die Westerse nasies maak ongebore babas dood en noem dit “gesinsbeplanning” en ’n kwessie van “keuse”. ’n Meerderheid Amerikaners sê nou dat hulle ten gunste is van dieselfde-geslag “huwelike” (“Connubial bliss in America”, Economist, 30 Julie 2011, bl. 30). Die hele Bybel – beide die Ou Testament en Nuwe Testament – veroordeel homoseksuele gedrag as ’n onnatuurlike sonde en ’n gruwel (Levitikus 18:22; Romeine 1:27)!

Intussen het jong mense onbeheerbaar in Londen se strate oproer gemaak en rampokkers regoor Amerika het kleinhandelaars beroof in ’n ontstellende nuwe misdaadtendens. Sowat 40 miljoen Amerikaners is gereeld betrokke by internet pornografie, vernietig hul eie karakter en skeur die struktuur van hul huwelike en gesinne uitmekaar. Soos die American Psychological Society berig: “Om pornografie op die Internet te vind, is so maklik soos om die woord ‘seks’ te Google, soos die 40 miljoen Amerikaners wat elke jaar porno webtuistes besoek, kan getuig” (APA Monitor, November 2007, bl. 50). Amerikaners is nie meer finansieel gedissiplineerd nie, terwyl hul nasie steier onder skerp stygende skuld en die ekonomie stagneer. Baie van hulle kan aanvoel dat iets verskriklik verkeerd gegaan het!

Hoe lank sal dit duur voordat God Sy seën sal wegneem? Hoe lank voordat Hy toelaat dat Amerika en ander moderne afstammelinge van antieke Israel ’n “Haïti”-grootte aardbewing beleef, of ’n “Fukushima”-tipe ramp beleef? God waarsku ons teen die dwaasheid om nie Sy sagmoedige teregwysing aan te neem nie, sodat Hy nie meer ernstige metodes moet gebruik om ons aandag te kry nie: “Wend julle tot my teregwysing, dan laat ek my gees vir julle uitstroom, wil ek my woorde aan julle bekend maak. Omdat ek geroep en julle geweier het, ek my hand uitgestrek en niemand geluister het nie ... Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie ... Want hulle eie afkerigheid maak die eenvoudiges dood, en hulle eie sorgeloosheid rig die dwase te gronde” (Spreuke 1:23-24, 28, 32).

Die einde van hierdie era kom vinnig nader. Is ons gewillig om die God van die hemel en aarde te dien, of probeer ons net om onsself te dien? Jesus Christus beveel ons om ons te bekeer! Ongelukkig sal die meeste mense nie ag slaan op daardie waarskuwing nie. Christus het gesê: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Mattheüs 24:12-13).

Die wêreld se mees gevaarlikste verskuiwingslyn

Waar is die mees gevaarlikste verskuiwingslyn vandag? Verskuiwingslyne is frakture in die aarde se kors. Wanneer daar vinnige beweging kom in ’n verskuiwingsgebied, word energie vrygestel en aardbewings is die gevolg. Dus, watter skeure hou die grootste bedreiging in vir Amerika? Watter hou die grootste bedreiging in vir die Verenigde Koninkryk, Kanada en die ander moderne afstammelinge van antieke Israel?

Nee, nie die New Madrid Seismiese Sone nie. Nie die San Andreas-verskuiwingslyn in Kalifornië, of die Aleutian Megathrust verskuiwingslyn in Alaska nie. Nie die verskuiwingslyn wat die aardbewing van Christchurch in Nieu-Seeland tot gevolg gehad het nie.

Die grootste gevaar waarmee ons te kampe het kom nie van ’n fraktuur in die aarde se kors nie – dit kom van ’n fraktuur in ons verhouding met God. God het die profeet Jesaja geïnspireer om te skryf: “KYK, die hand van die Here is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ’nskeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie” (Jesaja 59:1-2). Die mees gevaarlikste “verskuiwingslyn” is voorwaar in die mens se hart en verstand. Die heel gevaarlikste toestand is om in opstand te wees teen God!

Let op hoe Jesaja die sondige mensdom beskryf: “Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid; julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg. Daar is niemand wat aanklaag in geregtigheid en niemand wat ’n regstryd voer in waarheid nie; hulle vertrou op nietigheid en spreek valsheid, met moeite gaan hulle swanger en baar onheil ... Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie; hulle maak hul paaie krom, niemand wat daarop loop, ken die vrede nie” (Jesaja 59:3-4, 8).

Hoe sal God daarin slaag om die aandag van so ’n sondige en opstandige volk te kry? Een manier is, Hy sal die aarde kragtig skud! Die apostel Johannes het hierdie gebeurtenis vooruit aangeteken: “En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ’n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie – so ’n geweldige groot aardbewing. En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval. En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn. En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie” (Openbaring 16:18-20).

Dit is ontnugterend om te dink aan ’n aardbewing wat groter as ooit tevore in die geskiedenis sal wees, wat sal veroorsaak dat stede oor die hele wêreld sal val! Selfs ná so ’n goddelike ingryping sal menslike koppigheid so groot wees dat sommige mense steeds nie berou sal hê nie: “... en groot hael, omtrent ’n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was” (vers 21).

Wat dan van u? Indien God u vandag roep, sal u reageer? Is u op soek na Hom met opregte berou? Jesaja dring ook by ons aan: “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:6-7).

God is genadig en vergewensgesind, indien ons bereid is om ons te bekeer en te distansieer van sonde en waarlik ons bes doen om, met Sy hulp, te leef volgens Sy lewensweg. Is u gewillig?

Stewig soos ’n rots

Rampe sal hewiger word namate die einde van hierdie tydperk nader kom. God laat ons egter nie sonder bemoediging of rigtingaanwysing in die komende gevare nie. Tesame met waarskuwings oor die toekoms, stel Jesus Christus ons gerus: “Pas op, moenie verskrik word nie” (Mattheüs 24:6) en “Moenie skrik nie” (Lukas 21:9). Ons hoef nie die toekoms met vrees tegemoet te gaan nie! Ons kan vrede hê, selfs in problematiese tye. God vermaan ons om versigtig en waaksaam te wees en beproewings geduldig te verduur, want: “Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry” (Lukas 21:19). Namate die wêreld begin om te disintegreer en rondom ons verkrummel, dring Jesus Christus by ons aan om nie moedeloos te word, of om daarvan weggelei te word om Hom getrou te dien nie.

Hy beveel ons egter ook om ons paaie reguit te maak en om te leef in waarheid, geregtigheid en gehoorsaamheid. Beteken dit dat ons die saligheid kan verdien? Natuurlik nie! Verlossing is ’n geskenk van God, nie ’n loon wat verdien is en aan ons verskuldig is nie (Romeine 4:4). God maak dit nogtans duidelik dat ons wel ’n loon verdien wanneer ons ongeregtigheid beoefen: Sonde, boosheid en opstand teen God se wet. Daardie loon is pyn, lyding en uiteindelik, die dood! “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus onse Here” (Romeine 6:23).

Christus het Johannes geïnspireer om te skryf dat die “aarde” God se mense wonderbaarlik sal help in die komende rampspoedige dae gedurende die eindtyd. Let op wat skryf Johannes sal gebeur wanneer Sy getroue mense moet vlug na ’n plek van veiligheid om aan die Verdrukking te ontvlug: “... maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ’n tyd en tye en ’n halwe tyd. En die slang het uit sy bek water soos ’n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier. En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het” (Openbaring 12:14-16). God sal ’n groot aardbewing bewerkstellig wat die leërs en magte wat deur die Duiwel gestuur sal word om God se mense te vernietig, in te sluk. Waarlik, God is die grootste beskerming en enigste verdediging in die komende dae!

Hoe kan u seker maak u staan op vaste grond in die komende onstuimige tye? Hoe kan u en u gesin die komende ineenstorting van ons nasies verduur? Bekeer julle en gehoorsaam God van ganser harte! Soos Dawid gesê het: “Werp jou sorg op die Here, en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie” (Psalm 55:23). Jesus Christus het gesê: “Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ’n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots” (Mattheüs 7:24-25).

Moet nie toelaat dat die komende aardbewings en ander natuurrampe u en u gesin onkant betrap nie. Wees gereed vir noodgevalle. Wees voorbereid. Sorg dat u ’n plan het. Die belangrikste van alles is egter om u geestelike huis in orde te kry. God is ons rots, ons skuilplek en ons beskerming. Wanneer die “Groot Een” tref, maak seker dat u op vaste grond staan!