Presies wat is die “teken van Jona”? Wat het dit met u en u toekoms te doen?


“Wys aan ons ’n teken – dan sal ons glo dat u die Messias is!” Dit was die uitdaging wat die godsdienstige leiers van Sy dag aan Jesus gerig het. Hulle het gewonder of hierdie man die Messias is, soos sommiges beweer het – en hulle het daarop aangedring dat Hy dit moes bewys!

 Wat het Hy gedoen? Hy het aan hulle ’n teken gegee, deur aan hulle te sê: “’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie,behalwe die teken van Jona, die profeet” (Mattheüs 16:4). ’n Ander weergawe van die evangelie gee die woorde van Jesus só aan: “Hierdie geslag is boos; dit soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona ’n teken was vir die Nineviete, so sal die Seun van die mens ook wees vir hierdie geslag” (Lukas 11:29-30).

Daardie teken, indien ons dit kan identifiseer, sal die Redder van die wêreld openbaar. Christus se wonderwerke was wonderlike tekens van God se mag en bediening. Sy werke getuig van Hom (Johannes 14:11). Aan die dissipels van Johannes die Doper het Jesus die tekens van genesing van blindes en reiniging van die melaatses gewys – tekens wat die Messias geprofeteer was om te doen (Jesaja 61:1). Nogtans het Jesus gesê dat die belangrikste teken wat Hom as die Messias sou identifiseer, “die teken van Jona” sou wees. 
Wat was die teken van Jona – en wat het dit vandag met ons te doen?

’n Oproep tot bekering?

Sommige mense glo dat die “teken van Jona” net maar Jesus se oproep aan Sy toehoorders was om hulle te bekeer – ongeveer soos wat Jona ook ’n oproep tot bekering gepreek het. Let wel: “En die woord van die Here het gekom tot Jona, die seun van Amíttai, en gesê: Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé en preek daarteen, want hulle boosheid het opgestyg voor my aangesig” (Jona 1:1-2).

Later in die verhaal vind ons wat Jona verkondig het: “En Jona het begin met een dagreis ver die stad in te gaan en het gepreek en gesê: Nog veertig dae, dan word Ninevé verwoes. En die manne van Ninevé het God geglo en ’n vasdag uitgeroep, en groot en klein het hulle met rougewaad beklee” (Jona 3:4-5).

Die inwoners van Ninevé het reageer op Jona se aangrypende oproep tot bekering. Van die belangrikste tot die onbenulligste het hulle weggedraai van hul sondige lewenswyse. “En God het hulle werke gesien dat hulle hul bekeer het van hulle verkeerde weg; toe het God berou gehad oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy hulle sou aandoen, en Hy het dit nie gedoen nie” (vers 10).

Ja, beide Jona en Jesus het oor bekering gepreek. Was dit egter die teken waarvan Jesus gepraat het, of was daar iets anders?

’n Simboliese Opstanding?

Sommige mense sê dat die teken van Jona, sy simboliese opstanding uit die dood was, wat Christus se opstanding versinnebeeld. Na alles, toe Jona in ’n skip gevlug het, oorboord gegooi en heelhuids deur ’n seedier ingesluk was, was hy so goed as dood! Ons het selfs ’n rekord van sy gebed – van binne uit die maag van die vis! “En Jona het tot die Here sy God gebid uit die ingewande van die vis en gesê: Uit my benoudheid het ek die Here aangeroep, en Hy het my verhoor; uit die binneste van die doderyk het ek geroep om hulp – U het my stem gehoor” (Jona 2:1-2). Die Hebreeuse woord sheol kan ook vertaal word as “die graf”. Jona het geweet dat sy lewe verby sal wees sonder God se dramatiese ingryping!

God het Jona nogtans uit sy gruwelike onderwaterse kerker bevry! God het Jona spreekwoordelik teruggebring na die lewe! Jona beskryf dit só: “U tog het my in die diepte gewerp, in die hart van die see, sodat ’n stroom my omring het; al u bare en u golwe het oor my heengegaan ... Waters het my omring tot aan die siel toe, die vloed was rondom my; seegras was om my hoof gedraai. Ek het afgedaal tot by die grondslae van die berge, die grendels van die aarde het my vir altyd ingesluit; maar U het my lewe uit die kuil opgetrek, Here my God!” (Jona 2:3, 5-6).

Jona was figuurlik opgewek uit die dood, net soos Jesus Christus letterlik uit die graf opgewek was. Is dít die teken waarvan Jesus gepraat het? Of is dit iets anders?

In Jesus se eie woorde

Indien ons noukeurig let op Jesus se eie woorde, kan ons die sleutel agter die teken van Jona insien. “Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Mattheüs 12:39-40).

Drie dae en drie nagte – dit is die teken van Sy Messiasskap wat Jesus gegee het. Ons Verlosser het Sy ware identiteit op die spel geplaas wat sommige mense opsy mag skuif as ’n oënskynlike onbelangrike bysaak!

Onthou egter: Ons Skepper is ’n God van volmaakte tydsberekening. Hy het presiese opdragte gegee van wanneer om die Pasga op tyd te onderhou (Eksodus 12:12, 22). Hy het aan die mensdom presiese opdragte gegee om ’n spesifieke dag van rus en aanbidding te onderhou (Eksodus 20:8). Hy gee ons opdrag om spesifieke jaarlikse Heilige Dae deur die jaar te onderhou (Levitikus 23). Wanneer dit by profesieë kom, is Sy tydsberekening ook volmaak, Hy “wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:10). Inderdaad, die profeet Daniël het die tydsberekening van Christus se eerste koms honderde jare vooruit voorspel (Daniël 9:24-26). Ons kan derhalwe verstaan dat die dood en opstanding van die Verlosser van die wêreld ook volgens volmaakte tydsberekening sou geskied.

Het die Fariseërs verstaan wat Jesus gesê het oor die tyd wat Hy in die graf sou wees? Natuurlik! Na Sy dood het hulle na Pilatus gegaan met ’n ongewone versoek: “Die volgende dag – dit is die dag ná die voorbereiding – kom die owerpriesters en die Fariseërs by Pilatus saam en sê: My heer, ons herinner ons dat dié verleier, toe hy in die lewe was, gesê het: Oor drie dae staan Ek op” (Mattheüs 27:62-63).

Die hoofpriesters en Fariseërs was bevrees dat Christus se dissipels sou probeer om Sy opstanding te vervals deur presies die tydsberekening wat Hy gegee het, te volg, om sodoende Sy invloed te laat voortduur selfs na Sy dood. Pilatus het bykomende veiligheidsmaatreëls gemagtig om seker te maak dat daar nie met die graf gepeuter sou kon word nie (verse 65-66).

Christus se toehoorders het die teken verstaan. Die meeste mense wou dit egter nie glo toe Jesus opgewek was nie, en hulle het Hom nie as die Messias aanvaar nie.

Slegs “gedeeltes” van dae?

Was Jesus werklik drie dae en drie nagte in die graf? Waarom behoort ons om te gee? Watter verskil kan dit tog vir ons maak? Slegs dat dit die einste teken van Sy Messiasskap is! Om dit te verwerp is om Hom te verwerp.

Daar is egter honderde miljoene welmenende mense wat vandag “Goeie Vrydag” onderhou as die veronderstelde dag van Jesus se dood, gevolg deur “Paassondag” as die veronderstelde dag van Sy opstanding. Vanaf daglig Vrydag tot daglig Sondag, is slegs twee nagte en net dele van drie dae! Daar is geen akkurate manier om daardie tyd as die “drie dae en drie nagte” te interpreteer as die teken wat Jesus gegee het nie!

Sommige geleerdes beweer dat Christus se “drie dae en drie nagte” slegs maar ’n taalkundige uitdrukking is eerder as ’n spesifieke uitdrukking van tyd. Hulle beweer dat “drie dae en drie nagte” kan verwys na enige dele van drie dae en drie nagte. Byvoorbeeld, kommentator Adam Clarke hou vol: “Drie dae en drie nagte, volgens hierdie Joodse metode van berekening, sluit enige deel van die eerste dag; die hele volgende nag; die volgende dag en nag; en enige deel van die opvolgende of derde dag in” (Clarke’s Commentary, Vol. V, bl. 140).

Ja, daar is een Joodse tradisie waar dele van ’n dag as ’n geheel getel word. Clarke verduidelik ook: “Die tradisie is dat R. Eliazar ben Azariah gesê het: ‘’n Dag en ’n nag maak ’n onah: En ’n deel van ’n onah is soos die geheel”’ (ibid.).

Indien ons egter dieper delf, vind ons ook dat daar ander Joodse tradisies is hoe om dae te tel. Sommige rabbis het geleer dat ’n individuele dag of nag – nie ’n gekombineerde dag en nag periode nie – as ’n onah beskou kon word. Weereens, volgens Clarke: “Hoe lank is die tydsduur van ’n onah? R. Jochanan het gesê: ‘Of ’n dag of ’n nag. Ook volgens die Jerusalem Talmud: R. Akiba het ’n dag as ’n onah vasgestel en ook ’n nag as ’n onah’” (ibid.). Volgens hierdie tradisie sou dit net so akkuraat gewees het om Jesus se opmerking te interpreteer as bestaande uit ses onahs – gedeeltes of hele dele van drie daglig periodes en drie nag periodes. Dit sou nogtans duidelik nie ooreenstem met die algemene begrip van ’n Vrydag kruisiging en Sondag opstanding nie.

Wat is die punt? Omdat daar verskillende gebruike van hierdie idioom is, kan ons tot drastiese verskillende gevolgtrekkings kom, afhangende van watter tradisie ons volg. Joodse tradisies is dus nie ’n betroubare bron om die lengte van die tyd wat Jesus in die graf was vas te stel nie.

Waarheen kan ons ons dus wend? Is daar Bybelse bewyse om die tyd wat Christus in die graf was, vas te stel? Ja, daar is!

72 Letterlike ure

Die boek Genesis gee aan ons gedeeltelik die antwoord. Wanneer ons lees van die eerste dag van die skepping, vind ons hoe ’n “dag” en ’n “nag” vasgestel is, “en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag” (Genesis 1:5). Die woord vertaal as “dag” kom van die Hebreeuse woord yowm, wat “om warm te wees” beteken – vir die ure wanneer die son skyn. Die woord vir “nag” – layil – kom van ’n Hebreeuse woord wat “weg van die lig af” beteken, of die ure wanneer die son onder is en dit donker is (verwys na Strong’s Dictionary).

Dit is betekenisvol dat toe Jona se beproewing in die maag van die vis beskryf word, presies dieselfde woorde vir dag en nag gebruik word as dié in Genesis 1:5: “En die Here het ’n groot vis beskik om Jona in te sluk; en Jona was drie dae [yowm] en drie nagte [layil] in die ingewande van die vis” (Jona 1:17).

Ons kan ook ag slaan daarop hoe die Nuwe Testament die woord “dag” gebruik. Let op Jesus se eie woorde toe Hy die vraag gevra het: “Is daar nie twaalf ure in die dag nie?” (Johannes 11:9). Hier, net soos Sy woorde aan die Fariseërs, het Christus ’n “dag” beskou as die tydsduur van ongeveer twaalf ure wanneer die son op is.

Sommige mense was verwar deur die stelling dat Christus “op die derde dag” opgestaan het (Handelinge 10:40), deur te dink dat dit ’n periode van minder as 72 ure kan beteken. Hier moet ons onthou om die ander weergawes van die Evangelies ook in ag te neem. Byvoorbeeld, Jesus het gesê: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig” (Johannes 2:19). Ons vind ook: “Toe het Hy hulle begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly en verwerp word deur die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes en gedood word en ná drie dae opstaan” (Markus 8:31).

Die enigste manier om aan al drie voorwaardes te voldoen – op die derde dag, in drie dae en na drie dae – is om die tyd van Jesus se opstanding presies op die juiste einde van ’n periode van 72 uur vas te stel.

Wanneer het hierdie 72 ure begin? Die Skrif toon dat Jesus gekruisig was op ’n Voorbereidingsdag: “En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee. En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was – want die dag van daardie sabbat was groot – het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word” (Johannes 19:30-31).

Lesers neem soms aan dat hierdie Voorbereidingsdag die Vrydag voor die weeklikse Sabbat moes wees. Die Skrif openbaar egter dat daardie Sabbat “groot” was – dus een van die jaarlikse Heilige Dae van Levitikus 23! Jesus was gekruisig nadat Hy die Pasga genuttig het, as ons Pasga, toe was Sy liggaam na die graf geneem voordat die Heilige Dag, bekend as die Eerste Dag van Ongesuurde Brood, aangebreek het.

Maak dit saak?

Party van u wat hier lees mag geskok wees om te leer van die tydsberekening wat u nooit voorheen verstaan het nie. Ander mag vra: “Maak dit saak? Waarom bekommerd wees oor hierdie tegniese besonderhede wanneer dit verseker genoeg is om net in Christus te glo?”

Die meeste belydende Christene aanvaar dat Jesus Christus opgewek was op Sondagoggend. Waarom? Omdat hulle van kindsbeen af die “Paasfees storie” geleer was. Wat sê die Bybel egter? “En op die eerste dag van die week kom Maria Magdalena vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was. Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en by die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie” (Johannes 20:1-2).

Op die eerste dag van die week, toe dit nog donker was, het Maria Magdalena by die graf gekom, en toe het Christus alreeds opgestaan! Jesus Christus het nie met sonop opgestaan nie. Hy het een of ander tyd voor of gedurende Saterdagnag opgestaan.

Nee, daar was geen “Paassondag sonsopkoms eredienste” in die vroeëre Kerk nie – selfs volgens die Encyclopaedia Britannica: “Die naam “Easter” [Paasfees] ... is afgelei uit Eostre of Ostara, die Anglo-Saksiese godin van Lente … Daar is geen aanduiding dat Paasfees [Easter] in die Nuwe Testament onderhou was nie” (1911 uitgawe, bl. 828).

Dus, waar kom die idee van ’n “sonsopkoms diens” dan vandaan? Verbasend genoeg, maak die Ou Testament melding van God se mense wat so ’n “sonsopkoms diens” gehou het tydens ’n tyd van nasionale geloofsversaking en opstand teen Hom! Kyk wat die profeet Esegiël geïnspireer was om te skryf: “En Hy sê vir my: Het jy dit gesien, mensekind? Jy sal nog ander gruwels, groter as hierdie, sien. Toe bring Hy my na die binneste voorhof van die huis van die Here; en kyk, by die ingang van die tempel van die Here, tussen die voorportaal en die altaar, was omtrent vyf-en-twintig man, met hulle rug na die tempel van die Here en hulle gesig na die ooste, en hulle het hul voor die son neergebuig na die ooste” (Esegiël 8:15-16).

Wat was Israel se afvallige priesters besig om te doen? Hulle het die son, na die ooste toe, aanbid, in navolging van heidense rituele! Nie dit alleen nie, maar die vrouens het Tammus betreur: “En Hy sê vir my: Jy sal nog ander groot gruwels sien wat hulle doen. Hy het my toe gebring na die noordelike ingang van die poort by die huis van die Here, en kyk, daar het die vroue gesit wat Tammus beween” (Esegiël 8:13-14). Tammus was die Mesopotamiese god van vrugbaarheid wie se storie van sy geboorte, dood en opstanding elke lente veronderstel was om die mag van die natuur se vernuwing te simboliseer. Die “Paashasie” en die gewoonte om “Paaseiers” te kleur, is moderne toevoegings tot die antieke vrugbaarheidsrituele en gaan alles om heidense aanbidding en het niks in gemeen met die aanbidding wat God in die Bybel gebied nie! Paasfeesviering is niks anders as ’n vervalsing wat gladnie die ware Christus vereer nie (Mattheüs 24:24)! Indien u meer inligting verlang, vra asseblief u gratis kopie van ons boekie, Satan se vervalste Christendom, aan.

Om dit eenvoudig te stel, die Vrydag-Sondag storie verberg en skram weg van die ware Heilige Dae van God, verwerp die teken wat Jesus Self gegee het en berei die weg voor vir die inleiding van heidense rituele in plaas van dit wat God ingestel het. In teenstelling daarmee vervul die Bybel se duidelike Woensdag-Saterdag weergawe, met Christus wat vir die volle 72 ure soos Hy geprofeteer het, in die graf was, die teken wat Hy gegee het; dit erken die ware Heilige Dae van God en openbaar dat die Paasfees [Easter] storie onmoontlik en onbybels is!

Wat van u? Aanbid u die God van die Bybel? Of volg u maar net mensgemaakte tradisies na, soos Paasfees – selfs wanneer dit die Bybel weerspreek? Is u gewillig om dit waarin u glo, te betwis wanneer die Bybel dit verkeerd bewys? Ons moet nie wees soos hierdie ydel aanbidders wat Jesus beskryf nie: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Mattheus 15:8-9).

God gee wel om hoe ons Hom vereer (Deuteronomium 12:29-31). Indien ons die teken van Jona verstaan – wat Jesus gesê het die enigste teken is wat gegee is dat Hy die Messias is – dan kan ons begin om die ware Jesus Christus van die Bybel te verstaan. Toe Jesus uit die dood opgestaan het na 72 uur in die graf, het Hy daardie teken vervul. Aanvaar u Sy woorde dat dit die teken was van die ware Messias – wat Hy gegee het om te bewys dat Hy die Verlosser van die wêreld is?