Moderne onderwys in die Westerse beskawing word hoofsaaklik as ’n wêreldse beroep beskou. Dit het egter nie so begin nie. Hoe het dit verander?

Die Westerse lande is oorweldig deur ’n stygende gety van sosiale patologieë – geweldsmisdaad, toenemende onbeskoftheid, politieke korrupsie, nié volhoubare skuldlas, wydverspreide dwelmmisbruik, depressie en selfdood. Mense ervaar ’n gevoel van verlies aan ’n lewensdoel en van godsdienstige geloof omdat die samelewing rondom hulle ’n toenemende vyandigheid toon teenoor dít wat deur die Westerse beskawing tot stand gebring is.

Die Weste wat voorheen deur miljoene mense wêreldwyd as ’n baken van beskawing en welvaart beskou is, word nou algemeen gesien as ’n kultuur wat besig is om agteruit te gaan en ’n samelewing wat verrot het. Selfs miljoene bederfde Westerlinge begin nou om hulle eie kulturele erfenis te verag en te verwerp.

Waarom gebeur dit vandag? Waarheen lei hierdie ontstellende neigings?

Baie geleerdes wys op angswekkende ooreenkomste tussen die agteruitgang van antieke beskawings en dít wat besig is om in ons moderne Westerse wêreld plaas te vind. Die sosiale kritikus, Russell Kirk, het opgemerk dat “die ooreenkoms tussen die agteruitgang van die antieke beskawings en die agteruitgang van ons eie kultuur, opvallend en ’n ontstellende werklikheid is” (When Nations Die: America on the Brink, bl. xi). Die skrywer en navorser, Jim Nelson Black, illustreer hierdie kommerwekkende vergelyking en gee ’n lys van tien waarskuwingstekens van ’n kultuur in krisis met inbegrip van toenemende wetteloosheid, verlies aan ekonomiese dissipline, verswakking van tradisies en kulturele fondamente, toenemende onsedelikheid, verval van godsdienstige geloof, agteruitgang in die kwaliteit van onderwys en die geringskatting van menslike lewe (bl. ix).

Alhoewel baie mense die simptome van kulturele agteruitgang kan raaksien, verstaan min van hulle vandag die geskiedkundige magte wat bygedra het tot ons moderne sosiale dilemmas en waarheen hierdie kommerwekkende neigings lei. Nog minder mense besef dat Bybelprofesieë al lankal voorspel het dat hierdie gebeure op ’n sekere tydstip in die nasies van die Weste sou losbars as gevolg van spesifieke redes. Die Bybel openbaar nie net die profetiese belangrikheid van hierdie stygende gety van sosiale patologieë en waarheen dit lei nie, maar openbaar ook die komende oplossings vir hierdie onstuimige tydperk – oplossings wat hoop sal bring vir die wêreld.

Soos ons sal sien, het onderwys en opvoeders ’n belangrike rol gespeel in die vorming en hervorming van die waardes en perspektiewe van volke in die Weste om die opkoms van hierdie waardes aan te moedig, maar nou besig is om die vuur van agteruitgang aan te blaas. Ons sal sien dat vreemde, doelgerig gedrewe vernuwings, die rigting van die Westerse beskawing heeltemal verander het. Dit is nodig dat u verstaan wat besig is om te gebeur in die wêreld waarin u leef en hoe hierdie probleme u toekoms dramaties sal beïnvloed.

Die lewensbelangrike rol van onderwys

Waarom is dit nodig om op onderwys te fokus? Het onderwysers meer invloed as magtige politici, welsprekende predikers, Hollywood-persoonlikhede of ambisieuse militêre leiers? Trouens, onderwysers en onderwys het ’n uiters noodsaaklike en wyd-erkende rol gespeel in die oordrag van kennis en die bepaling van die karakter van individue, sowel as die kultuur van beskawings.

Byna 3,000 jaar gelede het koning Salomo geskryf: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spreuke 22:6). Baie waarnemers wat nie spesifiek die Bybel onderskryf nie, stem saam. Ongeveer in 400 v.C. het die Griekse filosoof, Plato, opgemerk: “Die rigting waarin onderwys ’n man se lewe begin, sal sy toekomstige lewe bepaal”. Die Renaissance-filosoof, Erasmus, verklaar: “Die grootste hoop van ’n volk lê in die behoorlike opvoeding van sy jeug”. Selfs die rolprentvervaardiger, George Lucas, het gesê: “Onderwysers is die magtigste individue in ons samelewing”.

Die stigtervaders van die Amerikaanse nasie het – soos soveel ander mense, wat ’n groot bydrae gelewer het tot die Westerse beskawing – die belangrikheid van onderwys in die bepaling van die karaktereienskappe en waardes van ’n kultuur verstaan. Die vyande van die Westerse beskawing het dit egter óók verstaan en wil gebruik maak van onderwysers en onderwys as wapens, om die fokus en rigting van daardie kultuur radikaal te verander. Om die betekenis te begryp van wat tans gebeur, is dit belangrik om die geskiedenis en die invloed van onderwys in Amerika en die Weste te verstaan.

Vroeë onderwys in die Weste en Amerika

Onderwys in antieke Griekeland en Rome was in wese in die hande van heidense filosowe en het op welsprekendheid en letterkunde gefokus – hoofsaaklik vir uitgesoekte jong manne van bevoorregte klasse. Gratis en verpligte, belasting-gesteunde, openbare onderwys vir alle kinders – meisies asook seuns – het met die Protestantse Hervormers in Europa begin en is later in die kolonies in Nieu-Engeland oorgeneem. Baie laat in die 1700’s het pogings begin toeneem om arm kinders te leer (wat gewoonlik twaalf ure per dag en ses dae per week in myne, fabrieke en op plase gewerk het) – met die doel om hulle te leer lees en skryf sodat hulle die Bybel kon lees en hulle lewens kon verbeter. Skole vir dowes en blindes, hospitale en institusionele versorging vir die armes, was Westerse ontwikkelings wat die leerstellings van Jesus in die Nuwe Testament weerspieël het naamlik: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matthéüs 22:36-40).

Die geskiedenis toon dat die leiers van vroeë Westerse onderwysinstellings, “vurige aanhangers” van baie Bybelse waardes was en dat hierdie waardes by “studente ingeskerp was”, as ’n fundamentele deel van hulle opleiding (Alvin J. Schmidt, How Christianity Changed the World, bl. 181). Met hierdie waardes as beginpunt, weerspieël die vooruitgang van onderwys in Amerika, die wyse waarin opvoedkundige filosofieë deur die eeue heen in die Westerse wêreld verander het.

Die Bybel en Judeo-Christelike waardes het ’n groot rol gespeel in die ontwikkeling van onderwysinstellings in die vroeë Amerikaanse kolonies. Dit is veral duidelik onder die Puriteine wat hulle in Nieu-Engeland gevestig het en die vryheid wou uitleef om hulle geloof te beoefen. Hulle het ’n sterk toewyding aan onderwys met hulle saamgebring en ook ’n Engelse vertaling van die Bybel wat hulle tot ’n groot mate gebruik het. Binne ’n dekade nadat hulle in die Noord-Amerikaanse wildernis aangekom het, het hulle Harvard College in 1636 gestig. Aan elke student aan Harvard is gesê dat

die hoofdoel van sy lewe en studies is om God en Jesus Christus wat die ewige lewe is te ken (Johannes 17:3) en daarom Christus as die enigste beginsel van alle suiwer kennis en opleiding te hê. Aangesien die Here net wysheid gee, laat elkeen homself ernstig, in afsondering, deur gebed tot God wend om insig van Hom te soek en te vra (Spreuke 2:3). (“Shield and ‘Veritas’ History,” HCS.Harvard.edu).

Dit is geensins verbasend nie, aangesien minstens 130 individue van die eerste generasie Massachusettsbaai-koloniste, universiteitsopleiding gekry het en 35 van hulle gegradueer het aan ’n kollege in Cambridge Engeland, wat toegewy was om Protestantse predikante op te lei (Arthur M. Cohen, The Shaping of American Higher Education, bl. 17).

Daar was van studente op Harvard verwag om in afsondering te bid, die Skrif twee keer per dag te lees, ywerig te studeer en om ouers, magistrate en onderwysers te respekteer. Hulle is geleer om goddeloosheid, leuens en dwase gedrag te vermy. Die College of William and Mary in Virginia (gestig in 1693) en Yale (gestig in 1701) het ook daarna gestreef om opgeleide dienaars van die Woord vir die kolonies beskikbaar te stel en het soortgelyke riglyne gegee dat studente “Godsdienstige, godvrugtige en onberispelike lewens behoort te leef volgens die reëls van die Woord van God, deur ywerig die heilige Skrifte as die Bron van lig en waarheid, te lees” (Edwin S. Gaustad en Mark A. Noll, A Documentary History of Religion in America to 1877, bl. 176-181).

Al het die invloed van die sekulêre Verligting begin om teen die middel van die 1700’s al minder klem te lê op die Bybel as ’n Bron van Goddelike openbaring (The Shaping of American Higher Education, bl. 12), het hierdie oorspronklike sentimente rakende God se Woord en baie van die beginsels daarin, steeds op baie maniere die denke van vroeë leiers van die jong Verenigde State van Amerika gevorm en gelei.

Die Puriteinse verbintenis tot onderwys was gebaseer op ’n begeerte dat elke kind die Bybel sal kan lees en die inhoud daarvan kan begryp. In die kolonie van Massachusettsbaai moes daar dus in elke gemeenskap, wat ten minste 50 gesinne gehad het, ’n onderwyser in diens geneem word en elke gemeenskap van 100 of meer gesinne moes ’n grammatika-skool stig. Die belangrikste fokus “in koloniale lees- en skryfonderrig was Godsdiens en sedelikheid” en dit was gebaseer op die oortuiging dat ’n “goeie samelewing slegs bereik kon word deur gehoorsaamheid aan die Woord van God” (Joel H. Spring, The American School, 1642-1993, bll. 8, 10). Wat die Amerikaanse hoër onderwys betref, was bykans elke universiteit wat voor die Revolusionêre Oorlog gestig is, deur ’n Protestantse denominasie gestig en kerke het meer as 90% van alle kolleges en universiteite in Amerika tot stand gebring, tot en met die Amerikaanse Burgeroorlog. Party mense het opgemerk: “Amerikaanse Christelike opvoeding het die basis gevorm van die geweldige groei, vooruitgang en sukses van ons land” (Stephen McDowell en Mark Beliles, Liberating the Nations, bl. 100).

Dit was ’n Presbiteriaanse predikant wat die invloedrykste reeks handboeke geskep het wat die agtergrond gevorm het van Amerika se openbare skoolstelsel in die negentiende eeu. William McGuffey (1800–1873) het die McGuffey-leesboeke geskep, wat persoonlikhede, verhale en konsepte uit die Bybel opgeneem het om spelling, woordeskat, lees en openbare redenaarskuns aan te leer terwyl dit Bybelse morele waardes by die jonger geslag ingeskerp het. McGuffey het geglo dat godsdiens en moraliteit onskeibaar van mekaar is en dat openbare skole “die regte plek vir godsdienstige en morele onderrig is” (John Westerhoff, McGuffey and His Readers, bll. 24, 51). Die meer as 120 miljoen eksemplare van die McGuffey-leesboeke wat tussen 1836 en 1960 verkoop is, het ’n verenigende verwysings- en waardestelsel vir verskeie generasies Amerikaanse kinders verskaf. Naas die Bybel verteenwoordig McGuffey se leesboeke die “belangrikste dryfkrag ... in die vorming van ons nasionale sedes en voorkeure” (bl. 15) en dit word vandag nog steeds gebruik. Ongelukkig het die latere uitgawes van die McGuffey-leesboeke meer sekulêr geword om die veranderende voorkeure in Amerika te akkommodeer.

’n Radikale ommeswaai in ’n nuwe rigting

Met elke nuwe golf van immigrasie na die Verenigde State, vanaf verskillende lande en met verskillende godsdienstige agtergronde, was daar druk ervaar om die leerstellige inhoud van leerplanne vir openbare skole te “versag”. Tog was daar steeds ’n aanvraag daarna om die klem te plaas op basiese “Christelike” waardes van eerlikheid, vriendelikheid, spaarsamigheid, arbeidsaamheid en respek vir gesag – waardes wat die basis vorm van wat bekend geword het as Amerika se “burgerlike godsdiens”.

In die 1850’s het daar egter verskeie kragtige faktore te voorskyn begin kom wat die rol van Bybelgesentreerde onderwys in Amerika en die Westerse wêreld uitgedaag het. Charles Darwin se On the Origin of Species, gepubliseer in 1859, het twyfel gesaai met betrekking tot die geloofwaardigheid van die Bybel, die geldigheid van die Judeo-Christelike morele beginsels en die rol van God as die Skepper – grondbeginsels wat toe reeds lank in die Europese en Amerikaanse skole onderrig was. Namate die invloed van die Verligting van die 1700’s begin toeneem het en uitgebrei het, het al hoe meer progressiewe opvoeders ook begin glo dat die menslike rede en die ontdekkings van die wetenskap, bevry van godsdienstige “bygeloof”, die samelewing baie meer sou baat as Bybelse waarhede en waardes.

’n Ander faktor wat die rigting van Amerikaanse onderwys verander het, was die invloed van John Dewey, wat algemeen beskou word as die “vader” van progressiewe onderwys. Dewey wat om en by die draai van die twintigste eeu werksaam was, het die Calvinistiese geloof van sy kinderjare verwerp en sy hoop gevestig op wetenskap, evolusie, sielkunde en utopiese sosialistiese fantasieë wat wyd in omloop was onder intellektueles van sy tyd. Dewey het sy opvoedkundige filosofie ontwikkel rondom die idee dat die menslike rede en gedragsielkunde, studente kan vorm wat in harmonie met mekaar kan saamleef as goeie sosialiste wat volgens hom ’n “moreel verhewe” lewenswyse is. Sy “siening was dat die belangrikste taak van hoër onderwys nie is om studente in die strewe na waarheid, wat hy beskou het as ’n veranderende konsep, te lei nie ... maar na ‘sosialisering’ sodat hulle vir die intellektuele beweging gewerf sou kon word om ‘die wêreld te verander’” (George Roche, The Fall of the Ivory Tower, bl. 188). As ’n wêreldse humanis het Dewey die idee verwerp van ’n Bybelse God en universele onveranderlike morele waardes van reg en verkeerd. Hy het op gevoelens en ervaring gefokus en die belangrikheid van lees, skryf en die feite van die geskiedenis as van minder belang afgemaak.

Gevul met ’n “visie” vir die beskawing, het John Dewey en sy sosialistiese kollegas ’n langtermynplan ontwikkel om “Amerika radikaal te verander, deur hulle utopiese visie van ’n kollektivistiese samelewing af te dwing”. Die plan was om studente te gebruik as die middel tot hulle idealistiese doel (Samuel Blumenfeld, Crimes of the Educators, bl. 1). Die nuwe en verbeeldingryke idees van Dewey en sy volgelinge het die afgelope 150 jaar, progressiewe Amerikaanse en Westerse opvoedkundiges beïnvloed en díe invloed duur tot vandag toe voort.

’n Derde faktor wat opvoedkundiges beïnvloed het, het gepaardgegaan met ’n duidelike anti-Amerikaanse en anti-Westerse element. In die 1930’s het ’n groep Duitse Marxistiese geleerdes van die Frankfort Instituut vir Maatskaplike Navorsing, uit Duitsland gevlug toe die Nazi’s aan bewind gekom het. Hierdie teoretici, wie se idees bekend geraak het as die “Frankfortskool”, het hulle tuiste in liberale Amerikaanse universiteite gevind, waar hulle uitgedink het, wat sommige mense nou “kulturele Marxisme” noem. Dit is ’n strategie om ’n kulturele rewolusie te skep om die Westerse kapitalisme te ondermyn, Bybelse waardes as “verouderd” te verklaar en ’n utopiese, sosialistiese samelewing tot stand te bring. Hierdie teoretici het geglo (en glo nog steeds) dat Karl Marx se verwagte proletariese rewolusie in die Weste misluk het as gevolg van verskanste Christelike waardes van die gesin en sedes, individuele vryhede en private grondbesit.

Om hulle kulturele rewolusie ten uitvoer te bring, sou dit nodig wees dat hierdie “kulturele Marxiste” begin met ’n “geleidelike insypeling in die instellings”; volgens die woorde van een aktivis, om beheer oor die kultuur te verkry deur middel van die onderwys, media, howe en uiteindelik die politieke stelsel. In die denke van baie lede van hierdie beweging, sou dit nodig wees om die invloed van die Bybel en die Christendom te ondermyn en uit te skakel, die gesin op te breek, die tradisionele geslagsrolle vir mans en vrouens te ontwrig en die fundamentele aspekte van die Westerse geskiedenis en beskawing in onguns te bring in die naam van multikulturalisme – die idee dat alle kulture gelykwaardig is en dat geen kultuur verhewe is bo ’n ander nie (die heel minste van almal, die Westerse kultuur). Nuwe waardes van verdraagsaamheid en diversiteit sou ingestel word. Daar sou ook daarop aangedring word dat seksuele gedrag wat jare lank tradisioneel veroordeel is as normaal en selfs wenslik aanvaar word.

Om in hierdie nuwe wêreld enigiets negatief oor ’n ander kultuur te sê, sal sterk ontmoedig word as “onsensitief” of “bevooroordeeld” – met die uitsondering van Judeo-Christelike kulturele konsepte, wat vrylik gekritiseer kan word (Alvin Schmidt, The Menace of Multiculturalism, bl. 3). Hierdie bedrieglike idees het opvoedkundige instellings in Amerika en die Weste deurtrek nadat dit deur studente-radikales van die 1960’s aanvaar is – radikales wat vandag onderwysers, administrateurs, regters, joernaliste, akteurs, rolprentvervaardigers en politici is.

Die dodelike vrugte van hierdie “progressiewe” benadering tot onderwys is vandag oral in Amerika en in ander Westerse lande sigbaar. Vryheid van spraak – selfs vryheid van denke – het plek gemaak vir voortdurende polisiëring van openbare akademiese uitsprake om “aanhitsende woorde” en “mikro-aggressies” uit te roei sonder om die waarheid van wat gesê word in ag te neem. Idees wat nie die anti-Westerse kulturele agenda bevorder nie, word bespotlik gemaak en selfs onderdruk.

Die resultate is vreesaanjaend. “Westerse universiteite het plekke geword van persoonlike vrees en intellektuele terreur”, sê die Europese waarnemer Giulio Meotti. “Wanneer ’n mens van mening verskil, sal opvoedkundiges, politieke leiers, die media en die menigte probeer om mens te vernietig” (“Europe’s New Academic Fascism,” GatestoneInstitute.org, 23 Februarie 2020). Dit gebeur tans in Amerika en in ander Westerse nasies wat voorheen respek vir gesag en die waarde van vryheid van spraak geleer het.

Benewens die direkte aanval op die Judeo-Christelike moraliteit, word byna enige verwysing na die belangrikheid van die Amerikaanse geskiedenis of die voordele van die Westerse beskawing in die klaskamers en deur die media met krete van bespotting begroet. Radikale aktivistiese professore behaal sukses deur verdraaide geskiedkundige gebeure weer te gee, wat die prestasies van Westerse kulture ignoreer. Hulle fokus buite verhouding op verhale van onderdrukking, uitbuiting en uitwissing. Sommige van hierdie boeke word wyd versprei in skole en het miljoene jongmense verbitterd gemaak teenoor hulle eie kulturele erfenis. Die verstommende ironie van ons tyd, is dat terwyl radikale progressiewe opvoedkundiges besig is om die prestasies en voordele van die Westerse beskawing en die Bybelse elemente in hulle grondslag as boos voor te hou, is daar baie nie-Westerlinge wat die Weste se bydraes tot die verbetering van die mensdom aanprys (sien byvoorbeeld The Book that Made Your World: How the Bible Created the Soul of Western Civilization, deur die Indiese geleerde Vishal Mangalwadi).

’n Toestand van morele agteruitgang lank gelede voorspel

Dit is tragies dat baie studente en baie volwassenes van vandag, wat produkte van hierdie misleide onderwysstelsel is, nie kan insien hoe hulle gekondisioneer is om die een Bron te verag en te ignoreer wat gewaarsku het teen wat in die moderne Westerse wêreld aan die gang is nie. Daardie selfde Bron openbaar ook waarheen hierdie dramatiese veranderings besig is om te lei en wat anderkant hierdie onstuimige tydperk lê. Daardie unieke Bron is die Bybel.

Meer as 3,000 jaar gelede het God vir Moses geïnspireer om die Israeliete te waarsku dat hulle geseën sou word vir gehoorsaamheid aan God se Wette, maar dat hulle ernstige gevolge sou ly – met in begrip van nasionale ballingskap – indien hulle ongehoorsaam is en Hom verwerp (Levítikus 26; Deuteronómium 4 en 28). Moses het selfs gesê: “Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die Here om Hom deur die werk van julle hande te terg” (Deuteronómium 31:29). Ten spyte van die voortgesette waarskuwings deur Bybelse profete, het die Israeliete in die daaropvolgende eeue hulleself van God en Sy weë gedistansieer. In die geskiedenis is opgeteken dat hulle presiés daardie gevolge gely het waarteen hulle gewaarsku is.

Baie Bybelgeleerdes erken dat hierdie profesieë betrekking het op tye lank ná die dae van antieke Israel en dat hulle uiteindelike vervulling in die “laaste dae” sal wees. Onder die redes van waarom Israel hulle van God gedistansieer het, was hulle gewilligheid om misleide leiers te volg – konings, priesters en leraars wat leuens en vals idees verkondig het wat die volk gedistansieer het van God en Sy woord. Dit word duidelik gestel in die Skrif, waar God die volk waarsku: “o My volk, jou leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot ’n dwaalweg gemaak” (Jesaja 3:12) en meld dat hulle kultuur so verwronge geraak het dat hulle “sleg goed noem en goed sleg” (Jesaja 5:20). Dit is ’n jammerte, maar ons sien vandag hoe hierdie profesieë in die moderne Israelitiese nasies van die Weste vervul word. (Lees gerus ons boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?, vir meer besonderhede oor die identifisering van hierdie nasies in profesie.)

Die slegte nuus vir die nasies van die Weste is dat hulle toenemende goddelose filosofieë en lewenswyse hulle deur ’n tydperk van ernstige beproewings en tragedies sal neem in die jare wat voorlê. Die goeie nuus – die ware Evangelie wat min mense vandag hoor, verstaan of glo – is egter dat Jesus Christus na hierdie aarde sal terugkeer en nie net die Israelitiese volke sal seën nie (Jesaja 11:11-13), maar Hy sal ook die Koninkryk van God vestig, wat vrede en voorspoed vir die hele mensdom sal bring (Jesaja 9:6-7). Op daardie tydstip sal daar “tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom” (Handelinge 3:19-21) namate die Woord van God vanaf Jerusalem oor die hele wêreld versprei (Jesaja 2:2-4). Hierdie wêreldwye poging van heropvoeding sal onderneem word deur onderwysers wat aan die wêreld sal toon wat die regte manier is om te leef – gebaseer op die Bybelse beginsels in God se geïnspireerde Woord (Jesaja 30:20-21). Die Boek wat ’n groot bydrae tot die grondslag vir die Westerse beskawing gelewer het – hoewel dit vandag deur vooruitstrewende opvoedkundiges bespot en verwerp word (Hoséa 8:12) – sal die grondslag word vir alle samelewings en kulture in die toekomstige Koninkryk van God. Dit is iets waarvoor u kan voorberei en deel daarvan kan wees indien u deur die newel kan sien wat deur vandag se misleide opvoedkundiges geskep word en die waarhede kan onderskei wat hulle probeer om weg te steek.