Blink nuwe speelgoed ... gekleurde liggies ... feestelike versierings ... ’n middernagtelike besoek van “vrolike ou Kersvader” ... gesinslede en vriende saam vergader vir ’n genoeglike ete. Wat kan tog meer gesinsvriendelik wees as ’n Kersfeesviering?


Vir honderde miljoene mense reg deur die Westerse wêreld vandag is Kerstyd gesinstyd. Dit is spesiaal ’n tyd van pret vir kinders! Kersspele en Kersliedere – en natuurlik die opgewonde wakker word op Kersoggend omdat Kersgeskenke onder die Kersboom verwag word – is herinneringe van kinderdae wat lewenslank deur miljoene mense vertroetel word. Met sy koekies en lekkers, kleure en ligte, liedjies en stories – en natuurlik die geskenke – is vandag se Kerstradisie ontwerp om sterk herinneringe te skep waarna kinders liefderyk terugdink vir die res van hul lewens.

Waarom sou enige ouer dan kies om hul kinders van hierdie herinneringe te ontneem? Vra uself af: Indien u weet dat Kersfees eintlik skadelik vir u kinders is – selfs gevaarlik vir hul geestelike lewe – sal u voortgaan om dit te vier?

Wat kan tog moontlik verkeerd wees as kinders die feesseisoen geniet? Niks nie – indien daardie vakansiedag God se Wet en Sy waardes hooghou. Dit is nie net ons moderne wêreld wat hul by tye na heidense seremonies wend wat God se opdragte bespot of verwerp nie. Lank gelede het die profeet Jeremia geskryf: “Die sonde van Juda is geskrywe met ’n ystergriffel, met ’n diamantpunt; dit is gegrif op die tafel van hulle hart en op die horings van julle altare – telkens as hulle kinders aan hulle altare dink en aan hulle heilige boomstamme by die groen bome, op die hoë heuwels” (Jeremia 17:1-2). Ja, meer as 2,000 jaar gelede is die kinders van Juda op ’n dwaalweg gelei deur valse aanbidding wat gedenkwaardig gemaak was deur die groen bome en ’n pragtige agtergrond. Is ons enigsins anders vandag?

Dit is geen geheim dat baie Kersfeesgewoontes ’n anti-Christelike erfenis en kern het nie. Soos die outeur Desmond Morris skryf: “Alhoewel mense neig om te aanvaar dat die eintlike wortels van Kersfees in Christendom lê, het omtrent niks wat ons gedurende die Kersseisoen doen, hoegenaamd enigiets met die aankoms van die baba Jesus te doen nie” (Christmas Watching, bl. 2). Nogtans gaan miljarde mense voort om Kersfees te vier, selfs al hou dit geen verband met die gebeurtenis wat dit veronderstel is om te gedenk nie.

Is daar dan iets daarmee verkeerd – veral vir die kinders? Kan dit moontlik verkeerd wees om kinders te leer om ’n Kersdag te onderhou wat lyk of dit gesinswaardes, liefde en aanbidding van Jesus Christus insluit?

Leer selfsugtigheid

Elke jaar hoor ons welmenende “godsdienstige” mense kla dat Kersfees “heeltemal te gekommersialiseerd” is. Was daar egter al ooit ’n nie-gekommersialiseerde Kersfees, ten minste in die Verenigde State? “Daar was nog nooit ’n tyd dat Kersfees bestaan het as ’n onbesoedelde idille, immuun teen die besmetting van kommersialisme nie” skryf Stephen Nissenbaum, ’n professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Massachusetts. Vanaf die begin, sê hy, was Kersfees volgens Amerikaanse styl, “kommersieel tot in sy kern” (The Battle for Christmas, bl. 318).

Volgens die firma BIGresearch wat verbruikersopnames doen, het die gemiddelde Amerikaner in 2006 $794 (ongeveer R6 000) aan Kersinkope spandeer, wat ’n rekord spandering van $154 miljard (ongeveer R1 160 miljard) bedra het. Skrywers Jo Robinson en Jean Staeheli wys daarop dat die advertensiemagte wat Kersfees aandryf, te gelyker tyd hewig en verleidelik is. “Die Kersfeesmasjien beoefen sy mag oor ons omdat hy weet hoe om ons te flikflooi ... As dit na ’n monster lyk, sou ons in opstand kom en dit stopsit, maar die gekommersialiseerde Kersboodskappe klink na beloftes wat trane in ons oë bring” (Unplug the Christmas Machine, bl. 10).

Kerstyd, ’n veronderstelde geleentheid vir vreugde en feesviering, laat baie mense elke jaar met gevoelens van depressie en leegheid. Die fokus op buitensporige spandering tydens die Kerstyd veroorsaak dat sommiges moedeloos raak, veral wanneer hulle voel dat hulle dit nie kan bekostig om vol te hou met die pas wat deur die adverteerders en handelaars, wat munt slaan uit die vakansietyd, aangegee word nie.

Tog het Jesus Christus – wat veronderstel is om die middelpunt van die Kerstyd te wees – in teenstelling met die kwellende materialisme wat deur Kersfees aangemoedig word, ons geleer: “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie” (Lukas 12:15).

Leer u u kinders om Jesus Christus se opdrag te gehoorsaam? Of voer u slegs maar die “Kersfeesmasjien”?

Leuens aan kinders

’n Paar jaar gelede het die oggend platejoggie by Babylon, New York se WBAB-FM, aan sy jong luisteraars vertel dat daar geen Kersvader is nie. Verwoede moeders en vaders het by die stasie kapsie gemaak en die platejoggie, John Parise, was verplig om verskoning te maak. Wat ’n teenstrydigheid! Ouers wil graag hê dat hul kinders moet leer om die waarheid te praat. Hulle stel egter ’n voorbeeld aan hulle kinders deur oor Kersvader te lieg – en is selfs ontsteld as die leuen oopgevlek word!

Verslaggewer Denise Flaim het met ’n professor in psigologie by Ithaca Kollege, wat kinders se gesindheid ten opsigte van Kersvader bestudeer, gesels. Professor Cyndy Scheibe stel dit so: “Wie vertel ons Kersvader bestaan nie regtig nie? Dit is gewoonlik iemand wat jy nie ken nie of wat nie baie geloofwaardig is nie, soos jou irriterende ouer broer ... En wie vertel jou hy bestaan werklik? Mense wat jy kan vertrou” (Newsday, 23 Desember 2004). Hoeveel ouers faal om die geleentheid aan te gryp om aan hulle kinders te toon – deur hulle voorbeeld – dat hulle op hul ouers kan vertrou? Wat van uself? Vertel u aan u kinders leuens?

Is Kersvader meer werklik as God?

Baie kinders in Westerse lande het baie min of geen konsep van God nie, maar hulle het ’n baie duidelike konsep van Kersvader. Kersvader “sien alles en weet alles”. Hy oordeel “of kinders soet of stout was”. Hy beloon goeie gedrag met seëninge – geskenke. Interessant genoeg, is dit gewoonlik die eienskappe wat normaalweg aan God toegesê word (Hebreërs 4:13; 1 Petrus 4:5; Jakobus 1:17)! Kersvader kom selfs van die Noordpool af, terwyl die Bybel beskryf dat God se troon in die Noorde is (Psalm 75:6; Jesaja 14:13).

Dit is dus geen verrassing dat Kersvader vir baie kinders meer werklik is as God nie – hulle sien dan selfs elke jaar vir Kersvader by die inkopie-sentrum! Die briewe wat hulle aan Kersvader skryf, word ook wonderbaarlik elke jaar beantwoord deur die geskenke wat hulle op Kersoggend ontvang! Selfs in baie gesinne waar Kersvader nie die plek van God inneem nie, word hy dikwels gesien as “God se handlanger”.

Newsday se verslaggewer, Flaim, het gesels met Professor Cindy Clark wat menslike ontwikkeling bestudeer aan die Staatsuniversiteit van Pennsylvaniё. Sy het onderhoude gevoer met jong kinders wat nog steeds aan Kersvader glo en bevind dat die kinders “verskillende maniere het om Kersvader en God te verbind. Dinge soos: ‘God het aan Kersvader sy werk gegee’ of ‘Die manier waarop Kersvader te wete kom of jy soet of stout was, is omdat God dit aan hom sê’”.

Leer u u kinders om op die werklike God te fokus en op Sy ware hoedanighede? Of, verminder u Sy rol ten gunste van ’n versinde volksheld? God – nie Kersvader nie – is die beloner van almal wat getrou na Hom soek (Hebreërs 11:6). God is die Een wat ons kinders beskerm en ons vertroue waardig is (Psalm 36:7). God – nie Kersvader nie – is die Een wat ons moet nader wanneer ons behoeftes het (Mattheüs 7:7).

Verkondig vals leerstellings

Sommige lande gedenk Kersfees met baie min of geen klem op die “Kersvader” tradisie nie. In die plek daarvan fokus hulle op die storie van die tradisionele “Kersspel”. Is dit ’n beter of meer skriftuurlike manier om Kersfees te vier? Of is Kersfees op sigself fundamenteel verkeerd?

Die vroeëre Kerk het groot moeite gedoen om hulle leerstellings suiwer te hou. Judas het die Christene “vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3). Paulus skryf: “ ... ek [het] aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het” (1 Korinthiërs 15:3). Paulus vermaan die jong evangelis, Timotheüs, “wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer” (2 Timotheüs 2:2). Om vas te kleef aan akkurate, bybelsgebaseerde leerstellings was van die uiterste belang vir die vroeëre Christene (2 Thessalonicense 2:15; 1 Korinthiërs 11:2).

Waarlik, die vroeëre Christene het nie Kersfees gevier nie – ’n feit wat bevestig word selfs deur kerke wat nou Kersfees met groot ywer vier. Neem kennis: “Kersfees was nie een van die vroegste feeste van die Kerk nie. Ireneaus en Tertullian het dit uit hulle lys van feeste gelaat; Origen ... beweer ... in die Skrif is dit slegs sondaars, nie heiliges nie, wat hul verjaarsdae vier ...” (“Christmas” in The Catholic Encyclopedia, bl. 724, Vol. III, 1908). In die artikel “Christmas”, brei die Encyclopædia Britannica (14de uitgawe) verder daarop uit: “So laat as 245 het Origen die idee verwerp om Christus se geboortedag te vier, ‘asof hy ’n koning Farao was’” (Vol. 5, bl. 642).

Voordat Pous Julius in 350 n.C. 25 Desember as die datum van Christus se geboorte verklaar het, was omtrent elke maand van die jaar deur die een of ander leermeester voorgestel as die maand van Christus se geboorte (The Pageantry of Christmas, red. Stanley Fillmore, bl. 10). Kan ons egter die 25 Desember datum vertrou?

Tydsberekening gegrond op bewyse in die Bybel, soos die skaapwagters en hul kuddes wat nog in die veld was, weerlê die veronderstelling dat Christus in die hartjie van die winter gebore is (Clarke’s Commentary, Adam Clarke, Vol. V, bl. 370). Die “Kersfees storie” wat algemeen vertel word, wyk ook in ander deurslaggewende opsigte af van die Bybel se verhaal. Die wyse manne uit die Ooste het byvoorbeeld nie Jesus as ’n baba in die krip besoek nie. Lukas 2 beskryf ’n engel wat aan skaapwagters vertel van die pasgebore Messias: “En dit is vir julle die teken: julle sal ’n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê” (Lukas 2:12). Teen die tyd wat die wyse manne egter daar aangekom het opsoek na die “Koning van die Jode” (Mattheüs 2:2), was Jesus alreeds ’n jong kindjie en het toe in ’n huis gewoon (verse 9, 11). Ten tye van die wyse manne se besoek, kon Jesus al amper twee jaar oud gewees het (vers 16). Die besoekers, wat Jesus as ’n Koning erken het, het aan Hom geskenke gegee – nie aan mekaar nie (vers 11)!

Jammer, baie belydende Christenleraars was baie nalatig met die feite – nie alleen oor Christus se lewe nie, maar ook oor sy leerstellings en die gebruike wat Hy Sy volgelinge beveel het. Latere geleerdes bevestig hoe die vroeëre Kerkvaders, toe hulle die bygelowige en emosionele gehegtheid van die mense aan hul heidense seremonies besef het, probeer het om daaraan ’n Christelike betekenis te gee. “Die meeste Christelike sendelinge wat Sentraal en Westelike Europa inbeweeg het toe die Romeinse Ryk in duie gestort het, het die advies van Gregory die Grote gevolg. Hy het in 597 geskryf dat hulle nie die heidense gebruike ‘skielik tot niet moet maak nie’, maar dat hulle dit moet aanpas tot ‘die verheerliking van God’” (Fillmore, bl. 10).

Wat van u? Wie wil u navolg? Wil u die tradisies van die mense volg, of die oorspronklike Christelikheid van Christus? Indien u kinders het, wat gaan u hulle leer?

Saturnalia se donker weerklank

Skrywer Hugo Slim herinner ons daaraan dat Kersfees “seker die beste voorbeeld is van die vroeëre Kerk se verchristeliking van tradisionele nie-Christelike feeste van jaargetye – in hierdie geval die feeste van die terugkerende lig rondom die wintersonstilstand” (A Feast of Festivals, bl. 36-37). Die Romeine het die tydperk van die sonstilstand gevier as die “Saturnalia, ter ere van Saturnus, die god van landbou” (Fillmore , bl. 10).

Hierdie verbinding met Suturnalia openbaar ’n nog donkerder kant van die Kersfeestradisies en toon duidelik waarom Kersfees nie ’n kindervriendelike fees is nie! DieEncyclopædia Britannica verduidelik dat by die fees van Saturnalia, “het alle klasse geskenke uitgeruil, die algemeenste was waskerse en kleipoppe. Hierdie poppe was spesiaal aan kinders gegee ...” (artikel: “Saturnalia,” 11de uitgawe). Wat was die doel van hierdie geskenke? “Varro reken hierdie poppe verteenwoordig die oorspronklike menslike offers wat aan die verfoeilike god gebring was. Daar was, soos ons gesien het, ’n tradisie dat menslike offers eens aan Saturnus geoffer was en die Grieke en Romeine het die name Cronus en Saturnus aan die wrede Fenisiese [god] Baal gegee aan wie, onder andere, kinders geoffer was in Carthago” (ibid.).

Kinderslagoffers en kannibalisme?

Saturnalia – die fees wat deur Kersfees geabsorbeer is – dra selfs weerklank van antieke kinderslagoffers! Dit klink afgryslik dat poppe aan kinders gegee moet word as simbole of plaasvervangers van kinders wat verbrand is vir heidense gode. Nogtans word hierdie gebruik nageaap deur die moderne tradisie om engeltjies of klein menslike beeldjies aan kersbome te hang! Die antieke Grieke het klein maskertjies, genaamd oscilla, aan takke gehang, waar dit vryelik kon ronddraai in die wind. Encyclopædia Britannicaverduidelik dat oscilla klein beeldjies was, gewoonlik maskertjies of gesiggies, wat opgehang was as “offers aan verskillende afgode ... Die gewoonte om hierdie oscilla op te hang, verteenwoordig ’n ouer gebruik van boetedoening vir menslike slagoffers” (ibid.).

Antieke aanbidding van Saturnus en vuuraanbidding het nie slegs kinderslagoffers behels nie, maar dit het ook kannibalisme ingesluit. Skrywer John Garnier merk op: “Dit lyk asof kannibalisme ingestel was deur Cronus of te wel Saturnus ... want ons word deur Sanchoniathon vertel dat Cronus die insteller van menslike slagoffers was ... Saturnus word afgebeeld, besig om sy eie kinders te verslind” (The Worship of the Dead, bl. 34-35).

Toe “Christen” sendelinge hulle blind gehou het vir die simbole van die antieke heidense feeste wat deur hulle bekeerlinge onderhou was, het hulle in hul eie aanbidding en gebruike ’n aantal antieke seremonies geabsorbeer wat kinderslagoffers en kannibalisme weerspieël het. Die simbole van hierdie afstootlike gebruike is vandag nog steeds teenwoordig as grimmige aandenkings van die “donker kant van Kersfees!”

Toe die antieke Israeliete Palestina binnegegaan het, het hulle ’n volk teëgekom wat die god Molog, ’n voorloper van Saturnus en Cronus, aanbid het. Historikus Alexander Hislop merk op: “As die verteenwoordiger van Molog of Baal was suigelinge die mees aanvaarbare offer op [Nimrod se] altaar. Ons het voldoende en tragiese bewyse oor hierdie onderwerp verkry uit rekords van die vroegste tye. ‘Die Fenisiërs’, [Kanaäniete wat in die gebied rondom Libanon gevestig was] sê Eusebius, ‘het elke jaar hulle geliefde en eniggebore kinders aan Cronus of Saturnus geoffer’” (The Two Babylons, bl. 231). Alhoewel God Sy volk verbied het om die Kanaäniete se voorbeeld te volg, het hulle tog in hierdie morbiede gebruik verval: “Bowendien het hulle hul seuns en hul dogters aan die duiwels geoffer en onskuldige bloed vergiet – die bloed van hul seuns en hul dogters wat hulle aan die afgode van Kanaän geoffer het – sodat die land deur bloedskuld ontheilig is” (Psalm 106:37-38).

 Sou God wou hê dat u tradisies moet navolg wat versiersels het wat simbolies is van kinderslagoffers en vuuraanbidding? Sou God wou hê dat u u kinders dinge moet leer wat die ware God verdoesel en in die plek daarvan fokus op mites en fabels? Sou Hy wou hê dat u meedoen aan tradisies wat blatant materialisties is?

Wyse Koning Salomo het gesê: “My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar; want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder” (Spreuke 3:1-2). Dit is die opdragte wat God wil hê ons moet aandag aan skenk – en aan ons kinders moet leer. Die Psalmdigter skryf: “My volk, luister na my onderrig; neig julle oor tot die woorde van my mond ... Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die Here en Sy mag en Sy wonders wat Hy gedoen het” (Psalm 78:1-4).

Deur die profeet Jeremiah het God lank gelede Sy volk gewaarsku om nie die heidense nasies se gewoontes te gebruik om Hom te aanbid nie. “So sê die Here: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie. Want die insettinge van die volke is nietigheid; want ’n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ’n ambagsman met die byl. Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie” (Jeremia 10:2-4). In Jeremia se dae het mense bome afgekap wat hulle dan opgerig het as voorwerpe van aanbidding. In ons dae vergader miljoene mense op 25 Desember om ’n “Kersboom”, heeltemal blind vir die duisende jare van anti-God tradisies wat hul aanbidding onderskryf.

Kersfees oorskadu Jesus Christus se werklike plan van redding en vervang dit met leё mites en fabels. God se Heilige Dae – wat ware hoop bied en wat uiteindelik vrede aan die mensdom sal bring – openbaar Sy ware plan van redding en saligmaking. Indien u graag meer te wete wil kom oor God se werklike Heilige Dae, skryf dan vir u gratis kopie van ons boekie, Die Heilige Dae – God se meesterplan.

In 1934 het die populêre outeur, Dale Carnegie geskryf: “Vir duisende jare het die Romeine hulle versluk aan voedsel en dronk geword van wyn tydens die viering van die fees van Saturnalia in Desember ... hulle het vrolik fees gevier ter ere van [Saturnus], hulle huise met immergroen en steekpalm [holly] versier, poppe aan hulle kinders gegee en geskenke op mekaar laat reën ... Ou Kersvader wat op Oukersaand deur jou skoorsteen klim, was in sy heidense jeug die vuurgod van die antieke volke. Hy het duisende jare gelede geskenke aan die kinders in Rome gebring ... Kersfees kon wel duisende jare gelede ’n heidense orgie gewees het – maar wie gee om?” (Little Known Facts About Well Known People, bl. 145-146).

God gee wel om waar die tradisies van Kersfees vandaan kom. Wat van u?