Wat is besig om te gebeur met Amerika en Groot Brittanje? Hierdie twee nasies, saam met hulle Anglo-Saksiese neefs, het die wêreld vir die laaste 200-400 jaar oorheers. Vandag egter degenereer hierdie nasies moreel, hulle is polities verdeeld, godsdienstig verward en finansieel in groot moeilikheid. In die oë van die wêreld word hierdie voorspoedige, eens-dominerende lande gesien as nasies in verval. Min mense verstaan skynbaar wat tot hierdie dramatiese verval gelei het. Antieke Bybelse profesieë wat vandag gestalte aanneem, wys egter ’n belangrike oorsaak uit!

Die impak van leiers

Baie mense besef dat ons wêreld hoofsaaklik is wat ons leiers daarvan gemaak het. In die 1930’s het Nazi-leiers beheer verkry oor Duitsland. Om hulle magsgreep te verstewig, het hulle antieke heidense rituele laat herleef, ’n geslag jongmense geïndoktrineer in ’n kultus van die Führer en ’n moderne geïndustrialiseerde nasie gedryf tot militêre avonture wat geëindig het met Duitsland in puin en Europa verwoes.

’n Dekade of so vroeër het ateïstiese Bolsjewistiese leiers in Rusland die mag oorgeneem. Hulle het godsdiens verwerp, Marxistiese ideologie bevorder en propaganda en brute krag gebruik in hul poging om ’n nasie grondliggend te verander. Hulle ateïstiese kommunistiese eksperiment het miljoene lewens geëis en lyding aan baie geslagte veroorsaak – maar uiteindelik misluk omdat dit op ’n waardesisteem gebaseer was wat vreemd was aan die bevolking van Rusland.

Amerika, Brittanje en die nasies van hulle Anglo-Saksiese neefs was gebou op ’n heeltemal ander fondament as die eksperimente hierbo genoem wat misluk het. Die stigtings-vaders van die Verenigde State van Amerika – net soos die vormende leiers van Brittanje, Holland, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Suid Afrika – was sterk beïnvloed deur beginsels wat afgelei is uit die Bybel, beginsels wat die hoofaspekte van die Westerse beskawing gevorm het. Hoewel hulle toepassing daarvan soms redelik ver verwyder was van wat die Bybel werklik voorskryf, het dit hul nasies ’n fondament gegee wat baie verskil van wat ons sien in die baie nasies wat nie eers ’n poging aangewend het om “Christelike” beginsels aan te neem nie. Hierdie nasies se leiers erken openlik hulle skuld aan, en selfs hulle vertroue op die God van die Bybel, en gee Hom die eer vir die sukses en voorrang van hulle nasies.

Dit is te betreur dat hedendaagse leiers van hierdie selfde nasies wat gegrond was op Christelike beginsels, grootliks wegbeweeg het van daardie oorspronklike beginsel, selfs terwyl hulle nasies struikel. Nogtans is daar min mense wat gewillig is om die “kolletjies met mekaar te verbind”. Die meeste versuim om ’n verband te sien tussen hierdie dramatiese verskuiwing – van ’n godsdienstige na sekulêre wêreldbeskouing, van Christelikheid na ’n verbruikersmentaliteit, van Bybelse sedelikheid na “enigiets is goed genoeg” – in die huidige toestand van verval; nogtans is die duidelike ooreenkomste daar!

Vertrek en verval

Wat vandag algemeen geignoreer word, is die profetiese waarskuwings wat Bybelse profete gerig het aan die voorvaders van die hedendaagse Anglo-Saksiese volkere. Jesaja het die welvarende nasie van Israel gewaarsku, “o My volk, jou leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot ’n dwaalweg gemaak” (Jesaja 3:12), “en die leiers van hierdie volk het verleiers geword, en dié van hulle wat gelei word, is op ’n dwaalweg gebring” (Jesaja 9:15). Jesaja waarsku ook: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg” (Jesaja 5:20). Jeremia waarsku die welvarende nasie van Juda: “Baie herders het my wingerd verniel” (Jeremia 12:10). Hy waarsku ook in Jeremia 22:13: “Wee hom wat sy huis bou met ongeregtigheid” [die wette van God minag – Psalm 119:172]. Jeremia bulder teen die misleide leiers van Israel en Juda: “... hulle [is] daarop bedag om my volk my Naam te laat vergeet ... [hulle wat] my volk verlei met hulle leuens en hulle grootpratery” (Jeremia 23:13, 25-27, 32).

Ongelukkig het dit ook oor die laaste vyftig jaar gebeur in Amerika, Brittanje en ander Anglo-Saksiese nasies – tydens dieselfde jare wat getuig van die dramatiese verval van hierdie eens bewonderde nasies. Akademiese instellings wat toekomstige leiers oplewer, is geleidelik oorgeneem deur wêreldse aktiviste wat anti-Amerikaanse idees bevorder, alles wat die Westerse beskawing tot stand gebring het, die Bybelse sedelike waardes wat eens hulle nasies onderskei het van die wêreld, word ondermyn en geminag. Die kollege radikale van die 1960’s het nie verdwyn nie, baie van hulle is nou administrateurs van universiteite en permanente professore wat hulle radikale Marxisties-geïnspireerde idees bevorder onder nuwe geslagte, regoor die Westerse wêreld. Hierdie verskynsel is erken deur beide Amerikaanse en Britse skrywers; sien Peter Hitchens seThe Abolition of Britain vir ’n volledige verslag. Dit is geen wonder dat jong mense wat geprogrammeer is om pornografie te duld asook om homoseksualiteit en dieselfde-geslag huwelike as normale, gesonde, alternatiewe leefwyses te aanvaar, ook politieke kandidate sal ondersteun wat dieselfde boodskappe uitdra – ten spyte van die feit dat hierdie onbybelse gedrag verseker nie gesond of bevorderlik is vir ’n gesonde samelewing nie (sien “Homosexuality: Some Neglected Concerns”, Journal of American Physicians & Surgeons, Herfs 2005, bl. 80-82).

Dit is jammer, maar baie liberale teoloë het ook hierdie selfde misleide idees aanvaar. Dit was hoofsaaklik die leiers van liberale kerke wat voorstanders was van die aanvaarding van homoseksualiteit, die inseëning van vroue en homoseksuele mans, asook die viering van dieselfde-geslag huwelike. Die gevolge van die bevordering en aanneming van hierdie moderne “progressiewe” veranderings was dikwels bitsige onenigheid in kerklike gemeentes en redes vir ’n dramatiese afname in lidmaatskap in eens prominente hoofstroom denominasies. Die voorbeeld van politieke leiers wat een ding sê en iets anders doen, asook godsdiensleiers wat idees bevorder wat teenstrydig is met die Skrif, wat veronderstel is om die basis te vorm van hulle geloofsbelydenis, het tot ’n afname van respek vir politieke en godsdienstige leiers regoor die Westerse wêreld gelei.

Leiers maak ’n verskil

Die Bybel boekstaaf die kragtige invloed van leiers – goed en sleg – op hulle nasies. Jerobeam, die eerste koning van die noordelike nasie van Israel het ’n kragtige invloed op die nasie en op elke koning wat na hom gekom het uitgeoefen. Hy het hom gedistansieer van God, heidense weë aangeneem en die nasie gelei om sy voorbeeld permanent te volg! Die Bybel boekstaaf “die sondes van Jerobeam wat hy gedoen het en waarmee hy Israel laat sondig het” (1 Konings 12:28-33, 14:16; 2 Konings 17:20-21). Misleide konings van Juda het ook daardie nasie van God laat afdwaal. Ten spyte van pogings tot hervorming deur konings soos Asa, Hiskia en Josia, het beide nasies uiteindelik in ballingskap gegaan omdat hulle leiers gevolg het wat van God en Sy weë weggedraai het.

Hierdie Ou-Testamentiese verhale is nie antieke geskiedenis wat ons maar kan bekostig om te vergeet nie; dit is lesse uit die geskiedenis wat opgeteken is om ons vandag te vermaan (1 Korinthiërs 10:11). Moses het aan die Israeliete gesê toe hulle uit Egipte gekom het dat indien hulle aan God gehoorsaam sou wees, hulle geseën sou word: “Maar as julle nie na My luister ... as julle siel van my verordeninge ’n afsku het ... [sal] Ek ... julle trotse mag verbreek” (Levitikus 26:14-19). Jeremia het die Israeliete gewaarsku: “Jou eie boosheid sal jou tugtig, en jou afkerighede sal jou straf; weet dan en sien dat dit verkeerd en bitter is dat jy die Here jou God verlaat het” (Jeremia 2:19-20), weereens, “Omdat hulle my wet wat Ek hulle voorgehou het, verlaat het ... Ek verstrooi hulle onder die nasies” (Jeremia 9:13-16). Hosea boekstaaf aangaande Israel: “Omdat Israel sy Maker vergeet” en God se wette “word as iets vreemds geag” sal “hulle [wind] saai ..., maar hulle sal storm maai” en in ballingskap weggevoer word tussen die heidense nasies (Hosea 8:7-14). Hierdie traumatiese gebeure het oor die antieke nasies van Israel en Juda gekom omdat hulle hul misleide leiers gevolg het wie hulle “op ’n dwaalweg gebring” en hulle hul gedistansieer het van God en Sy weë. Dit is tragies dat die Anglo-Saksiese volkere, onbewus van die lesse uit hulle eie geskiedenis, vandag dieselfde dinge doen. Tensy hulle hul bekeer en hul na God wend, wag hierdie selfde lot in die nabye toekoms op hierdie hedendaagse Israeliete!