Straatbetogings raak gewelddadig. Moordsyfers styg. Blokke in stede word deur anargiste oorgeneem. Historiese monumente word geskend en afgebreek deur die gepeupel. Inwoners sonder beskerming van die polisie wat hul toevlug neem na gewere om hulle lewens en huise te verdedig. Wat is besig om met die mooie Amerika, die land van die vryes en die tuiste van die dapperes te gebeur?

Natuurlik is Amerikaners nie sonder hulle foute nie – nie méér as die burgers van ander lande nie. Tog is die Verenigde State vandag steeds die enigste ware supermoondheid – hoewel vir redes baie anders as wat die meeste mense verstaan. Antieke ryke het gekom en gegaan: Babilonië, Persië, Griekeland, Rome. Al hierdie ryke het hulle glorieryke dae gehad, maar toe ineengestort, baie dikwels verswak deur magte van binne, voordat hulle omvergewerp is deur magte van buite. Selfs die Britse Ryk, die grootste [ryk] van almal, wat oor byna ’n kwart van die aarde regeer het, is nouliks nog ’n “ryk”.

Hoe lank sal dit duur voordat Amerika val?

’n Waardebepaling vanuit die buiteland

Met alles wat nou in hulle eie land gebeur, kan Amerikaners vergewe word omdat hulle nie weet wat die jongste nuus oor die klein, verafgeleë staatjie Israel is nie. Wat egter daar gebeur, sê baie oor hoe die wêreld die verflenterde “Stars and Stripes” sien. Israel se Eerste Minister Benjamin Netanyahu is besig met ’n plan om gedeeltes van die Wesoewer te annekseer – in werklikheid ’n grondgryp. Die idee is ongewild buite Israel (onder diegene wat enigsins daarvan weet), maar dit is ook ongewild binne Israel self. Die vrae is dus: Waarom en waarom nou?

Die antwoord word grotendeels gevind in Israel se waarneming van wat besig is om in Amerika, Israel se belangrikste bondgenoot, te gebeur. Oorlog-moeë Israeli’s staar hulle nie nou blind teen die straatbetogings oor George Floyd se dood nie. Inteendeel, wat hulle sien, lê baie dieper. Hulle kyk na die politieke verdeeldheid in die V.S. en sien swakheid. Hulle sien anargiste en ruggraatlose burgemeesters en goewerneurs wat swig voor die plunderaars en oproermakers. Hulle sien dat Amerika se fundamentele beginsels aangeval word, wanneer standbeelde van nasionale helde – nie net dié wat met die Konfederasie verbind word nie, maar monumente van die nasie se stigtersvaders self en selfs van die voorstanders vir die afskaffing van slawerny. (Dit sluit ook ’n monument in van een man wat letterlik sy lewe gegee het om slawerny te beëindig.) Monumente word met minagting behandel, gevandaliseer en vernietig. Hulle sien die openlike minagting waarmee die beskermers van wet en orde in die samelewing behandel word. Israel se leiers gee erkenning aan die verskil tussen verstaanbare woede oor ’n onreg wat gepleeg is en die aftakeling van die fondamente en instellings wat Amerika definieer.

The Times of Israel het op 5 Julie ’n artikel gepubliseer met die titel: “Hoe vrees vir ’n V.S. onttrekking uit die Midde-Ooste, Netanyahu dryf in die rigting van anneksasie”. Onder die subopskrif “Verbrokkeling voor ons oë”, word in die artikel verduidelik dat:

Wanneer Israel se verdedigingsbeplanners wie ’n anneksasieplan ondersteun, praat van ’n “geleentheid sien” in Washington, bedoel hulle iets groter as die verwagte einde van die Trump-presidentskap. Die vrees bestaan dat Amerika besig is om te onttrek, en daarmee saam ’n wêreldwye orde, waarop voorheen staatgemaak kon word om ’n mate van stabiliteit en veiligheid vir ’n klein landjie soos Israel te verseker. “Amerikaanse heerskappy is besig om voor ons oë te verbrokkel”, sê dr. Eran Lerman, ’n prominente konserwatiewe verdedigingsdenker wie die anneksasieplan ondersteun.

Ten spyte van al sy tekortkominge was die V.S. oor die algemeen ’n welwillende moondheid in die wêreld. Nasies wat hulle op militêre gebied aangedurf het, het dit dikwels berou, omdat die krag van Amerika en sy bondgenote diegene verpletter het wat dit uitgedaag het. Ja, daar was nederlae soos in Vietnam en dooiepunte in Suid-Korea en elders, maar Duitsland, Japan en Irak het pynlike lesse geleer. Tog het hierdie selfde Amerika gehelp om Duitsland en Japan weer op te bou tot welvarende en leidende nasies om weereens selfstandig te wees. Amerika se pogings na die Tweede Wêreldoorlog was nie Sowjet-styl besetting soos die waaronder Oos-Europa gely het nie. Terwyl kommunistiese lande mure gebou het om mense binne te hou, moes die V.S. mure bou om mense uit te hou – mense wat bloot iets beter wil hê as wat hulle tans het. Hoe ironies dat skares buitelanders na Amerika wil kom vir die geleenthede wat hulle sien, terwyl sommige van sy eíe burgers dit wil afbreek!

Amerika het ’n nederige begin gehad as ’n kolonie van Groot-Brittanje wat destyds die grootste ryk in die wêreld was. Terwyl hulle te swaar belas is sonder verteenwoordiging en as gevolg van ander griewe, is die ingevoerde tee in die hawe uitgegooi. Dit verduidelik miskien die situasie te eenvoudig, maar dit som redelik op wat baie van ons in die laerskool geleer is.

Ons het grootgeword met die aflê van die “Pledge of Allegiance” [belofte van trou] aan die vlag, ’n simbool van alles waarvoor Amerika gestaan het. Sommige van ons het ook die skooldag begin deur die “Onse Vader” op te sê, maar in 1962 het die V.S. Hooggeregshof beslis dat gebed in openbare skole ongrondwetlik is. Slegs twee jaar later, in 1964, het onrus hoogty gevier oor die hele land: Die V.S. Kongres het die Golf van Tonkin-resolusie aanvaar wat Amerika in die Viëtnam-modderpoel gegooi het en die “Free Speech Movement” het op die kampus van die Universiteit van Kalifornië, Berkeley, begin en uiteindelik het die “Filthy Speech Movement” die volgende lente die lig gesien. In dieselfde jaar het die Beatles-rockgroep in New York aangekom wat “I Want to Hold Your Hand” gesing het – later wou hulle egter ’n dagga-sigaret daarin sit.

Dit is moeilik om die onstuimige dekade van die 60’s in hierdie kort artikel te beskryf en dit is ook nie my doel om dit te doen nie. Dit is voldoende om te sê dat baie faktore gelyktydig ’n rol gespeel het – die Viëtnam-oorlog, kampusbetogings, die “Civil Rights Movement” en die moorde op President John F. Kennedy, dr. Martin Luther King, Jr. en Senator Robert F. Kennedy. Dit was die dekade van die hippies, “vrye seks” en ’n nuwe klank in musiek wat deur die “Britse Inval” ingebring is. Sommige mense verheerlik vandag nog steeds Woodstock, ’n dwelm-besmette musiekfees wat “vrye liefde” en rebellie vier. Dit was egter ook die dekade toe die Amerikaner, Neil Armstrong, sy voete op die maan gesit het en só die doelwit bereik het wat President Kennedy slegs agt jaar tevore gestel het.

Die 1960’s en 1970’s het die weg gebaan vir wat ons tans sien gebeur in die Westerse wêreld, veral in Amerika. Geen land is sonder foute nie en dit is sekerlik waar van die Verenigde State. Hulle barbaarse stelsel van slawerny was ’n euwel wat vroeg begin het en ’n hoë tol is geëis om dit reg te stel. Die Amerikaanse burgeroorlog was die bloedigste oorlog in die geskiedenis van die land en het meer Amerikaanse lewens geëis as al die ander oorloë saam. Dit het die land met die rooi bloed van wit asook swart burgers bevlek. Dit was ’n begin, maar dit het nie die probleme in rasseverhouding beëindig nie en sommige van die probleme duur tot vandag toe voort. Die afbrekende praktyke van verpligte segregasie – met inbegrip van afsonderlike water-spuitfonteintjies, aparte toilette en aparte sitplekke op busse vir verskillende rasse, is egter reeds vir etlike dekades iets van die verlede.

Dit is maklik om elke betoging as ’n geïsoleerde geval te beskou, maar dit het deur die jare duidelik geword dat daar mense is wat vir skynbaar enige denkbare saak betoog. Ons kan hulle “professionele betogers” noem. Mens kan jouself afvra waar hulle die geld kry om van een plek na die ander te reis om massas mense tot geweld op te sweep. Waarom haat hulle hulle geboorteland en die land wat hulle die vryheid gee om te betoog?

Oorlewering van haat

Die betogers en oproermakers van die 1960’s en vroeë 1970’s het nuwe betekenis gegee aan “Julle moet julle vyande liefhê” (Matthéüs 5:44). Een beroemde persoon wat hierdie nuwe liefde vir die vyand verpersoonlik het, was Jane Fonda, wat nog steeds by baie mense bekend staan as “Hanoi Jane”. Sy het daardie bynaam verdien deur na Noord-Viëtnam te reis, ’n land waarmee Amerika in oorlog gewikkel was. Van die vyandelike bodem af is tien radio-uitsendings gedoen waarin sy Amerika se betrokkenheid by die oorlog veroordeel het. Sy word egter meestal onthou vir ’n foto van haarself waar sy op die sitplek van ’n lugafweerkanon sit wat gebruik is om op Amerikaanse lugmaglede te skiet. Hoewel sy sedertdien haar innige spyt uitgespreek het oor haar keuse om by daardie kanon te sit, het al haar aksies in Hanoi groot veragting vir Amerika getoon. Tog het sy teruggekom om die voorregte te geniet wat haar land aan haar bied.

Fonda is in 1973 met die aktivis Tom Hayden getroud. Hayden was deel van die radikale linkses, wat as die Chicago Seven bekend geword het. Saam met Abbie Hoffman en vyf ander mense was hy ook aangekla vir aanhitsing van gewelddadige betogings tydens die Demokratiese Nasionale Konvensie van 1968 in Chicago. Hayden sou later tot die politiek in Kalifornië toetree, waar hy sy radikalisme verder kon versprei. Abbie Hoffman was ’n regte opsweper en is beskryf as ’n oproermaker, ’n sosialis en ’n anargis en sy 1968-boek Revolution for the Hell of It, som sy lewe goed op. Hierdie en ander mense soos hulle, was nie armoedige kinders nie, maar hulle het Amerika gehaat en hulle haat na die volgende geslag oorgedra.

Die meeste van die onstuimigheid van hierdie twee dekades het op universiteitskampusse ontstaan – veral die Universiteit van Kalifornië in Berkeley en die San Francisco Staats-Universiteit, maar hulle het die ondersteuning geniet van akademici regoor die land. Die Viëtnam-oorlog was ongewild in die V.S. en ’n handige saak [om oor te betoog] vir Amerikaanse sosialiste en Marxiste. Dit was vanuit Hollywood en die universiteite waar die saad van haat vir Amerika en ’n liefde vir sosialisme gesaai is. Die vrugte wat ons tans onder soveel jong studente sien, getuig van die sukses van die akademiese wêreld van radikale linkse professore.

Ons is naïef as ons dink dat die V.S. en die Sowjet-Unie nie betrokke was in pogings om mekaar se regerings omver te werp nie. Sulke aktiwiteite duur al millennia lank tussen nasies en wat ons in vandag se Amerika sien, is deel van daardie speletjie. Om egter ten volle te begryp waarom ons vandag is waar ons is, moet ons verder teruggaan as die middel van die twintigste eeu.

Vanaf Marx tot Cullors

Baie van die probleme waarmee ons vandag te kampe het, het veel vroeër ontstaan – al die pad terug na die begin van die mensdom – maar vir ons bespreking sal ons in die negentiende eeu begin. Charles Darwin het die geloof in God met sy evolusieteorie ondermyn – ’n poging om die skepping sonder ’n Skepper te verklaar. Die konsep van godlose evolusie wat ’n groot deel van die akademiese denke van vandag uitmaak, is om verstaanbare redes gewild onder ’n jonger geslag en ander mense wat alle beperkings wil verwerp.

Karl Marx was ook ’n produk van die negentiende eeu. Die meeste mense ken sy naam en weet dat hy aan Kommunisme verbonde was, maar hoeveel weet hulle van die soort man wat hy was? Die aard van sy temperament word verweef in sy duiwelse filosofie wat die afgelope eeu vir miljoene mense pyn en lyding veroorsaak het.

Paul Johnson is ’n briljante en produktiewe Britse skrywer. In sy boek Intellectuals van 1988 word Marx se temperament in detail beskryf, maar die beste opsomming is die titel van die derde hoofstuk: “Karl Marx: ‘Howling Gigantic Curses’” (bl. 52). Johnson skilder ook ’n fassinerende prentjie van Marx se invloed op ons wêreld. Let op hierdie uitspraak:

Die idee dat Marxisme ’n wetenskap is, op ’n manier wat geen ander filosofie ooit was of kon wees nie, is geïmplementeer in die openbare leerstelling van die state wat deur sy volgelinge gestig is, sodat dit die onderrig van alle vakke in hulle skole en universiteite van kleur verander. Dit het oorgespoel na die nie-Marxistiese wêreld want intellektualiste, veral akademici, is gefassineer deur mag en die identifisering van Marxisme met ’n massiewe fisiese gesag, het baie onderwysers in die versoeking gestel om die Marxistiese “wetenskap” toe te laat tot hulle eie dissiplines, veral sulke onjuiste of sogenaamd-korrekte vakke soos ekonomie, sosiologie, geskiedenis en aardrykskunde (bll. 52-53).

Johnson merk tereg op dat individue en nasies wat deur Marx beïnvloed is, behep is met mag en dus is dit nie verbasend dat hulle uiteindelik totalitêr word nie. Hy merk ook tereg op dat Marx se filosofieë veral aantreklik vir intellektueles en akademici is – daarom is dit ook nie verbasend dat sy idees ons universiteite infiltreer en wortel geskiet het nie. Dit blyk uit die intense haat wat soveel studente vir hulle eie land het asook hulle wydverspreide oproepe tot sosialistiese idees. Tot watter ander gevolgtrekking kan ’n mens kom wanneer mens sien hoe hulle die vlag verbrand, monumente en standbeelde van die stigters van Amerika afbreek en skend en selfs so ver gaan as om standbeelde van voorstanders vir die afskaffing van slawerny, soos byvoorbeeld Frederick Douglass en Hans Christian Heg af te breek?

Gister se universiteitstudente met ver-linkse ideologieë is nou skoolonderwysers op alle vlakke en pomp die anti-Amerikanisme openlik in hulle studente se verstand in. Enigiets wat wit, Europees, manlik of heteroseksueel is, word as rassisties, vrouehaters, “wit bevoorregting” en fascisties bestempel. Kernwaardes van die Westerse beskawing, soos die kerngesin en patriargie, word aangeval. Die getuienis is daar vir enigiemand wat oë het om te sien.

Baie van die mense wat teen die moord op George Floyd betoog, is opreg en almal is sekerlik nie Marxiste nie. Nie almal haat Amerika nie. Baie betogers het self die geweld wat die beweging voortgebring het, in die openbaar veroordeel. Die indirekte skade weens die invloed van Marxistiese universiteitsprofessore is egter duidelik sigbaar. Hulle studente deel die gewelddadige temperament van hulle mentor, Marx – kwaadgesinde jong snuiters wat spoeg, onwelvoeglike taal gebruik, bakstene gooi en totale minagting vir wetstoepassing toon.

Die politieke organisasie Black Lives Matter of BLM, het skielik oral gewild geword, met skares en sommige politici wat aanspraak maak op hulle vaandel en eis dat die polisie nie meer betaal moet word nie. Wat skuil agter die beweging? Terwyl baie opregte mense die term “Black Lives Matter” gebruik as deel van ’n breër beweging vir sosiale geregtigheid, het baie mense vinnig die BLM-stroom gevolg sonder om na te dink oor die doelstellings en oortuigings van die organisasie wat agter die slagspreuk sit. Ondersteun die mense wat die stroom volg regtig die aftakeling van die kerngesin? Ondersteun hulle die LGBTQIA + -beweging? Ja, die BLM-organisasie ondersteun wel hierdie doelstellings en idees. Al hierdie dinge en nog meer kan ontdek word deur bloot na die webwerf BlackLivesMatter.com te gaan, wat openlik ’n beroep doen vir sulke kulturele en morele veranderings wat ver verwyderd is van die edele doel, naamlik om besorg te wees oor swart lewens. Hoeveel van dié wat die BLM stroom volg weet van die organisasie se verbintenis met verdagte karakters uit die verlede? Om daardie verbintenisse bloot te lê, moet mens ’n bietjie op die saak ingaan.

Patrisse Cullors, Alicia Garza en Opal Tometi het Black Lives Matter gestig. Twee van hulle verwys openlik en in die openbaar na hulleself as homoseksueel. Verder maak Patrisse Cullors aanspraak daarop dat sy ’n Marxistiese konneksie het. Hoeveel BLM ondersteuners weet dit? Wat het sy bedoel in ’n onderhoud in 2015 met die titel, “A Short History of Black Lives Matter”, op TheRealNews.com toe sy haarself en Garza as “opgeleide Marxiste” beskryf het? Van wié en wáár het hulle daardie opleiding gekry?

Van Cullors tot Currents

Die gemiddelde persoon het nog nooit van Thousand Currents, ’n finansieringsagentskap vir klaarblyklike welluidende doeleindes oor die hele wêreld gehoor nie. Die webwerf lyk onskadelik genoeg en sal nie wenkbroue laat lig nie: “Thousand Currents befonds gewone lede en -bewegings onder leiding van vroue, jeugdiges en inheemse volke in die Suidelike wêrelddele”. Patrisse Cullors se opmerking naamlik dat sy ’n “opgeleide Marxis is” en as gevolg van die feit dat Black Lives Matter met Thousand Currents saamwerk, is dit nodig om nader ondersoek in te stel na hierdie agentskap. Wanneer ons dit van nader beskou, vind ons die naam Susan Rosenberg. Wie is sy?

Rosenberg is sterk beïnvloed deur die radikale linkses van die 60’s en 70’s. Sy het ’n lid geword of was nou verbonde aan ’n aantal gewelddadige terroriste-organisasies naamlik: The Weather Underground, the May 19 Communist Organization and the Black Liberation Army. Sy was ’n verdagte in ’n pantserwa-rooftog in 1981 en is later aangekla vir haar deel in die bombardering van die V.S. Capitol-gebou in 1983. Rosenberg en Timothy Blunk is in 1984 in Cherry Hill, New Jersey in hegtenis geneem, waar die twee besig was om wapens en ongeveer 335 kg dinamiet in ’n bergingsfasiliteit af te laai. In 1985 is sy verhoor en tot 58 jaar gevangenisstraf gevonnis, maar het slegs 16 jaar uitgedien toe haar vonnis op sy laaste ampsdag deur president Bill Clinton versag is.

Die versagting van Rosenberg se vonnis het ’n seldsame beswaar van twee opponerende politieke partye daarteen tot gevolg gehad:

Senator Chuck Schumer (D-NY) het hom gevoeg by die destydse burgemeester van New York, Rudolph Giuliani, ’n Republikein, met betrekking tot die kritiek wat hy gelewer het op die besluit om Susan Rosenberg vry te laat, wie skuldig bevind was op aanklagte van besit van wapens en plofstof. Sy was ook verbind aan die Weather Underground se roof van ’n pantserwa in Rockland County, New York wat gelei het tot die dood van twee polisiebeamptes en ’n Brinks-Sekuriteitswag (“Obama’s VP Screener Missed Problems with Controversial Clinton Pardons”, ABCNews.Go.com, 20 Junie 2008).

Tydens ’n demokratiese presidensiële debat in April 2008 het kandidaat Barack Obama, President Bill Clinton se besluit gekritiseer om Rosenberg se vonnis te versag. Die lengte van haar vonnis in ag genome en die ongewone luide protes van so ’n diepgesetelde tweeparty, moet Rosenberg en diegene wat met haar verbind word, duidelik as ernstig beskou word.

Talle bronne het al oor die verbintenis tussen BLM en Susan Rosenberg verslag gedoen:

Thousand Currents, wat voorheen bekend was as die International Development Exchange (IDEX), is ’n linksgesinde organisasie wat skenkings maak. Vanaf 16 Junie 2020 beklee Rosenberg die amp van Ondervoorsitter in die Thousand Currents se Raad van Direkteure. Die organisasie het egter intussen die Raad van Direkteure se inligting waarin Rosenberg se biografie genoem was van die webwerf geskrap.

Terwyl dit in 2016 nog as IDEX bekend was, het Thousand Currents begin met ’n borgskap vir die Black Lives Matter (BLM)-beweging. In 2019 het finansiële dokumente getoon dat die groep meer as $3,3 miljoen se bates gehou het wat vir BLM geoormerk was. Vanaf 24 Junie 2020 is toegang tot finansiële inligting van die organisasie se webwerf geskrap. (“Susan Rosenberg,” InfluenceWatch.org).

Hierdie verwydering van finansiële inligting is nie verbasend nie, inaggenome die miljoene dollars wat skielik vanaf korporatiewe Amerika ingestroom het. Rosenberg het voortgegaan om haar linkse agenda te bevorder in haar 2011 boek An American Radical en is ’n dosent by verskeie universiteite.

Wat is in ’n naam

Kommunistiese front-organisasies is bedrewe daarin om te skuil agter goed klinkende doelstellings. Die BLM-beweging is geen uitsondering nie. Geen ordentlike mens sal nie saamstem dat swart lewens belangrik is nie en nét so belangrik is as nié-swart lewens. Natuurlik stem hulle saam! Waarom word dit dan as rassisties beskou as gesê word dat wit lewens, Asiatiese lewens, Latyns-Amerikaanse lewens sowel as alle ander lewens saak maak – om nie eers te praat van ’n groter siening wat alle mense as gelykes beskou, soos hulle waarlik in die oë van God is nie? Sommige mense beweer dat om op die huidige tyd te beweer dat “alle lewens saak maak” ongevoelig is en nie die seer in ag neem wat swart individue voel, naamlik dat veral húlle lewens as minderwaardig geag word. Dit is tog die moeite werd om respek hieroor te hê. Indien die stelling immers bedoel is om aan te dui dat “swart lewens ook saak maak”, is dit ’n waarheid waarmee ons almal behoort saam te stem. Die dubbelsinnigheid van die BLM-slagspreuk bied ruimte aan baie slegte deelnemers aan albei kante van die bespreking. Ongelukkig vind daar dan geen bespreking plaas nie.

Inteendeel, enige kommentaar oor “alle lewens” lok onmiddellik direkte beskuldigings van rassisme uit. Waarom? Omdat mens as “rassis” geëtiketteer word indien mens dit sou waag om die ideologieë van die radikale linkses te bevraagteken. ’n Woord wat eens gereserveer was vir die sterkste van veroordelings, word heen en weer geslinger so maklik soos om asem te haal, water die term af en bied beskerming vir die waarlik haatlike. Die beskuldigings word al meer. Mens word ook beskou as seksisties, misoginisties [vrouehaters], fascisties en dat mens aan “wit bevoorregting” ly – bloot as gevolg van ’n mens se velkleur of omdat ’n mens weier om te kniel voor die nuutste onsin wat uitgespuug word uit Berkeley, Columbia of enige van die kleiner kolleges wat probeer om tred te hou met die “groot manne”.

Die feit dat alle lewens saak maak, is byna 2,000 jaar gelede al duidelik verklaar, lank voordat Patrisse Cullors of Susan Rosenberg op die toneel verskyn het! Daardie waarheid word vandag op advertensieborde, tuisgemaakte plakkate en gedenkplate voor kerke verklaar, maar dit was heel eerste opgeteken in die belangrikste Boek wat ooit geskryf is: “Want so lief het God die wêreld gehad [dit wil sê: elke man, vrou en kind op die aangesig van die aarde] dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Elke enkele lewe maak wel vir God saak en ons verkondig dit onverskrokke by die Wêreld van Môre!

Die woede wat baie mense voel oor wat hulle as ’n onreg in hulle lande beskou, is nie heeltemal sonder regverdiging nie. In Amerika en elders was slawerny eers wettig en algemeen. Soos ons vroeër opgemerk het, het rassisme voortgegaan, selfs na die bloedigste oorlog in die Amerikaanse geskiedenis, wat deels geveg is om die probleem op te los. Sommige voormalige Konfederale soldate het swart mense tydens die tyd van heropbou geterroriseer en voortgesette rassisme het die herlewing van die Ku Klux Klan aangehits tot diep in die twintigste eeu. Daar is baie ander hedendaagse voorbeelde.

Daar is egter vordering gemaak. Hierdie is nie die 1960’s nie. “Om die Polisie van fondse te ontneem” en om stede af te brand was nooit die boodskap van dr. Martin Luther King, Jr., John Lewis en vorige moedige betogers nie. Hoe anders was die dapperheid en die welwillendheid van die Freedom Riders en ander groepe wat hulle vir burgerregte beywer het en watter verskil het die vreedsame betogings van vroeër jare nie gemaak nie.

Soos ons reeds opgemerk het, was daar óók geweld deur radikale groepe in daardie era. Ons sien vandag ’n herlewing daarvan, maar – in baie opsigte – op ’n baie meer skrikwekkende skaal. Wat ons nou sien, is in wese ’n nuwe burgeroorlog en dit word op baie fronte uitgevoer: In die akademiese wêreld, in die media, in die politieke arena en in die linksgesinde korporatiewe kultuur. Baie mense is van voorneme om die geskiedenis van die land te herskryf, die grondwetlike gesag af te breek en algemene geweld op straat te veroorsaak. Vandag is die V.S. net ’n treetjie weg van ’n baie gevaarliker wêreld as wat die nasie in die gesig gestaar het gedurende die Eerste burgeroorlog. Baie mense verstaan dit, maar word so afgesit deur die nuus van COVID-19, verbranding van vlae en die politiek, dat hulle nie meer luister nie. Israel se poging om gedeeltes van die Wesoewer op hierdie tydstip te annekseer, is egter ’n duidelike aanduiding van die droewige toekoms wat baie lande vir Amerika in die vooruitsig stel.

Sal daar ’n teenreaksie wees van die “stomme meerderheid” soos daar in die New York Stad se “Hard Hat Riot” in 1970 was? Indien wel, op watter wyse sal dit dan voorkom en in watter vorm? Laat ons hoop en bid dat dit nie in die vorm van verdere geweld sal wees nie.

Waarom gebeur dit? Waarom nou?

Amerika was nog nooit die godvresende nasie soos wat baie mense glo dit is of was nie, maar dit was ook nie die “groot Satan” waarvan ander mense hulle al beskuldig het nie. Amerika het egter hulle rug gedraai op die kerngesin en ander waardes wat diep gewortel is in Bybelse moraliteit. Die agteruitgang het in die afgelope dekade met mening toegeneem en die verval neem al vinniger toe. Morele agteruitgang is natuurlik nie net ’n Amerikaanse verskynsel nie. Dit lyk asof al die nasies van Britse afkoms op dieselfde pad is en die Bybel waarsku oor wat sal gebeur as ons voortgaan om ons van God se Wette te distansieer.

Die profeet Jesaja stel ’n vraag wat baie meer relevant vir die V.S. en ander nasies van Britse afkoms is as wat die meeste mense besef:

“Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan met af te wyk? Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank ... Julle land is ’n wildernis, julle stede is met vuur verbrand, vreemdes verteer julle landerye in jul teenwoordigheid, en dit is ’n wildernis soos by ’n omkering deur vreemdes ... Hoor die woord van die HERE, owerstes van Sodom! Luister na die wet van onse God, volk van Gomorra!” (Jesaja 1: 5, 7, 10).

Hy sê verder:

“En Ek sal seuns hulle vorste maak, en moedswilliges sal oor hulle heers. En die mense sal mekaar verdruk, man teen man, en die een teen die ander; die seun sal die grysaard, die veragtelike sal die agbare stormloop ... Die drywers van my volk is kinders, en vroue heers oor hulle. o My volk, jou leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot ’n dwaalweg gemaak.” (Jesaja 3:4-5, 12).

In werklikheid het die tweede Amerikaanse Burgeroorlog alreeds begin. Hoe lank sal dit duur en hoe gaan dit eindig? Selfs al het God antieke Israel telkens begenadig, het Hy gesê dat Sy geduld uiteindelik sal opraak en dat Sy volk hulleself sal vernietig en in ballingskap weggevoer sal word. Daar is egter goeie nuus vir diegene wat sal luister: “Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God terugkeer en na sy stem luister” (Deuteronómium 4:29-30).

Dat ons nasies na sulke waarskuwings sal luister, is buite ons beheer, maar ons kan kies om self te luister.