In ’n tydelike wêreld vol skeptici, is God enigsins nog ter sake? Is Hy ’n uitgediende idee of ’n lewende Skepper met wie u ’n ware verhouding kan hê? Die goeie nuus is dat God nie net ’n werklikheid is nie, Hy leef en Hy wag dat u met Hom kontak maak!

Baie van ons wat ouer is, mag dalk met heimwee terugdink daaraan dat ons in Engels- en Afrikaanssprekende lande grootgeword het wat hulle bestaan as “Christelike nasies” as vanselfsprekend aanvaar het. Ons het geweet dat ons ons morele waardes en regstelsels baie aan die Bybel te danke het en die geloofstaal was oral om ons, in die openbaar en in privaatheid. Gedurende die afgelope dekades het dit egter verander.

Die Gallup-organisasie het onlangs berig dat, afhangende van hoe die meningspeilers hulle vrae stel, slegs 64% van die Amerikaners vol vertroue is dat God bestaan (“How Many Americans Believe in God?,Gallup.com, 8 November 2019). Terselfdertyd sien ons ’n toename in die aantal mense wat hoegenaamd geen godsdienstige verbintenis het nie. ’n Gerespekteerde meningsopname-organisasie het nie lank gelede bevind dat “die godsdienstig-ongebonde deel van die bevolking in die Verenigde State, wat uit mense bestaan wat hulle godsdienstige identiteit as ateïsties, agnosties of niks in die besonder’ beskryf, ’n styging van 17% in 2009” na 26% in 2019 toon (“In U.S., Decline of Christianity Continues at Rapid Pace,” PewForum.org, 17 Oktober 2019).

Wat beteken dit vir die samelewing? Alhoewel die hoofstroom Protestantse denominasies voorheen die toon aangegee het vir die V.S., het die opkoms van die nie-godsdienstiges dit verander. In werklikheid,

Is die persentasie Amerikaners wat nie ’n spesifieke godsdienstige verbintenis het nie, nou ongeveer dieselfde as diegene wat hulle as Evangelies of as Katolieke identifiseer ... Amerikaners wat verklaar dat hulle “geen godsdiens” aanhang nie en wat soms “nones” [geen-gelowiges] genoem word omdat hulle die vraag, “wat is jou godsdienstige tradisie”, so beantwoord, verteenwoordig nou ongeveer 23,1% van die bevolking, ’n toename van 21,6% in 2016. Daarteenoor verteenwoordig mense wat beweer dat hulle Evangeliesgesind is, nou net 22,5% van die Amerikaanse bevolking ... Dit maak dat die twee groepe ‘statisties gelyk is met die Katolieke (23%) (“‘Nones’ now as big as evangelicals, Catholics in the US,” Religion News Service, 21 Maart 2019).

Verstommend! “Geen geloof” is nou een van die grootste geloofsgroepe in Amerika!

Dood of lewendig?

Sedert die tydskrif Time hulle beroemde voorblad van April 1966 gepubliseer het met die vraag: “Is God dood?”, was hulle nouliks die eerste wat die vraag gestel of ’n antwoord voorgestel het. Die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche, het meer as 80 jaar tevore met oortuiging aangevoer: “God is dood, maar gegewe die weg van mense, kan daar nog vir duisende jare lank grotte wees waarin sy skaduwee vertoon sal word. En ons – ons moet nog steeds ook sy skaduwee oorwin” (The Gay Science, New York: Random House, 1974, bl. 167).

Nietzsche is nou dood, maar sy filosofie leef voort in die denke van miljoene mense wat nie net nié in God glo nie, maar wat ook die idee haat dat God bestaan! In die twintigste eeu het miljoene mense geleef en gesterf onder die totalitêre staatsbeheer wat amptelik ateïsme verkondig het en hard daaraan gewerk het om burgers daarvan te weerhou om in ’n Allerhoogste Wese te glo. Selfs in ons Westerse wêreld het ateïsme in die twintigste eeu toenemend mode geword, omdat mense begin glo het dat die wetenskap en nie God nie, hulle ware verlossing sou bied.

In die afgelope dekades het die wetenskap egter self verstommende nuwe vordering gemaak wat betref die begrip van ons wêreld en baie van die nuwe begrippe ondersteun of selfs vereis dat die bestaan van ’n Intelligente Ontwerper en ’n menslike gees iets meer is as ’n produk van biologiese en chemiese prosesse.

Skepping sonder God?

Vir ’n honderd jaar nadat die bioloog Charles Darwin in 1859 sy On the Origin of Species gepubliseer het, is die wetenskaplike gemeenskap toenemend beïnvloed deur sy teorie van natuurlike seleksie. Darwin het self erken dat sy teorie nie ’n verklaring het vir sommige natuurverskynsels wat te kompleks gelyk het om te kon ontstaan deur die opeenvolgende mutasies en keuses wat ’n vereiste was vir sy teorie nie. Hy was egter vol vertroue dat hierdie kompleksiteite uiteindelik verklaar sou kon word. Sedertdien het wetenskaplikes wat Darwin se teorie probeer bevestig het, evolusionêre verduidelikings vir baie komplekse strukture voorgestel. Hulle verduidelikings, soos soveel van die evolusieteorie, bly egter vassteek op die gebied van teorie, met ander woorde nie bevestigbaar of vals en dus meer verwant is aan filosofie as werklike wetenskap.

Hoeveel mense besef vandag dat daar selfs in Darwin se tyd ander maniere was om die gegewens wat hy bekendgemaak het, te interpreteer? Hoeveel wetenskaplikes onthou vandag selfs die naam van Alfred Russel Wallace, ’n tydgenoot van Darwin, wat op ’n stadium wyd en syd erken was as ’n “mede-ontdekker” van evolusie? Waar Darwin veral bekend is vir sy reis na die Galapagos-eilande, het Wallace agt jaar in ’n land deurgebring wat nou as Indonesië bekend staan, waar hy die fauna en flora fyn dopgehou het. In 1855 het hy sy eie teorie oor natuurlike seleksie geformuleer en ’n kort artikel aan Darwin gestuur. “Darwin het jare tevore tot dieselfde gevolgtrekking gekom en Wallace se brief het hom aangespoor om tot aksie oor te gaan. Die twee manne het in 1858 gesamentlik ’n artikel gepubliseer waarin hulle die teorie van evolusie en natuurlike seleksie beredeneer het” (“He Helped Discover Evolution, and Then Became Extinct,” NPR.org, 30 April 2013).

Wallace het egter, toe hy na dieselfde biologiese vrae kyk as wat Darwin oorweeg het, tot ’n ander gevolgtrekking gekom. Hy het verklaar dat in die bestudering van die natuurwêreld “om enige rasionele verklaring van die verskynsels daarvan te kan gee, behoort ons die voortdurende handeling en leiding van hoër intelligensies te veronderstel; en ook, dat hierdie aksies waarskynlik saamgewerk het in die rigting na ’n enkele doel, naamlik die ontwikkeling van intellektuele, morele en geestelike wesens” (The World of Life, 1916, bl. 340-341).

Om sy perspektief te illustreer, het Wallace gevra dat ons ’n super-intelligente wese visualiseer wat na die konstruksie van ’n herehuis, brug of treinspoor kyk, maar slegs die beweging van materiale sien en nie die bouers nie. Hy stel homself voor dat so ’n waarnemer sal sê: “Ons ken die fisiese en chemiese kragte wat werksaam is in hierdie vreemde wêreld en as ons dit lank genoeg bestudeer, sal ons vind dat bekende kragte dit alles sal verklaar” (Wallace, bl. 320).

Indien ons mense sien wat besig is om dinge te maak, maar die intelligente werk van die mense ontken en slegs die dinge bestudeer, sou ander mense ons as dwaas beskou. Tog is dit in wese die perspektief wat Darwin en ’n groot deel van die moderne wetenskap vir meer as honderd jaar gehad het, totdat navorsers begin het om vordering te maak om die lewe op molekulêre vlak te verstaan. Die biochemikus Michael Behe, het opgemerk dat

die wetenskap in Darwin se tyd geen begrip gehad het van die molekulêre basis van lewe nie. Slegs nou, in die afgelope twintig jaar, het die wetenskap voldoende gevorder om lewe in molekulêre besonderhede te bestudeer wat nodig is om die idees van Darwin noukeurig te toets, veral ... die aannames dat algehele toeval onderliggend aan lewe is en dat herhaalde rondtes ’n oneindige kringloop van toevallige mutasie en natuurlike seleksie, samehangend met biologiese stelsels kan bou (Darwin Devolves, 2019, bl. 256).

Wat wys die molekulêre detail vir ons? Die ontslape sterrekundige Fred Hoyle, is bekend vir een illustrasie van die onwaarskynlikheid van natuurlike seleksie sonder intelligente ontwerp. Hy het opgemerk dat ’n gis-sel en ’n jumbo-straler ongeveer dieselfde aantal onderdele het. Niemand sou nogtans ernstig voorstel dat ’n jumbo-straler spontaan uit sy onderdele kon ontwikkel nie. Hoyle het geskryf dat die waarskynlikheid dat 2,000 proteïene, elk met 200 aminosure, kon ontstaan, ongeveer dieselfde is as die waarskynlikheid dat ’n tornado wat deur ’n skrootwerf trek, ’n Boeing 747 kan aanmekaarsit (The Intelligent Universe, 1983, bl. 17).

Enigiets om God te vermy?

Is dit toevallig noudat die wetenskap self begin aanvaar het, met soveel bewyse van intelligente ontwerp wat beskikbaar is, dat die menslike vindingrykheid nog steeds worstel om maniere te vind om God buite rekening te laat? Sommige wetenskaplikes stel ’n “veelal” voor waarin ons heelal saam met tallose ander heelalle bestaan, waarvan die meeste van hulle nie lewe ondersteun soos ons heelal nie. In hierdie teorie is die kans dat ’n lewensondersteunende heelal een van baie triljoene is, maar ons heelal net toevallig daardie een is!

’n Ander vindingryke benadering het aandag gekry toe die filosoof Nick Bostrom, in 2003 die volgende artikel gepubliseer het, “Are You Living in a Computer Simulation?” (Philosophical Quarterly, vol. 53, nr. 211, bll. 243-255). Die meeste mense het dit as ’n vergesogte idee of miskien ’n interessante intellektuele oefening beskou, maar beslis nie as ’n ernstige alternatiewe wêreldbeskouing nie. Kortliks gestel, Bostrom het voorgestel dat, tensy meeste menslike beskawings op die menslike vlak uitsterf voordat hulle gevorderd genoeg is om rekenaarsimulasies van persone te skep of as hulle gevorderd is, maar nie belangstel om sulke simulasies uit te voer nie, die oorgrote meerderheid van diegene wat persoonlike menswees ervaar, dit sal doen as deel van ’n rekenaarsimulasie.

Sien u wat Bostrom gedoen het? Volgens sy logika moet die oorgrote meerderheid van mense die resultaat van intelligente ontwerp wees – tog konfronteer Bostrom nie die idee van ’n goddelike Skepper nie! Ewe min skakel hy die noodsaak van so ’n Skepper uit; hy stoot dit bloot op die agtergrond. Hoe het sy nabootsers ontstaan? Uiteindelik, wanneer Bostrom nie meer nabootsers het wat self naboots nie, bly die vraag: Hoe het sy veronderstelde nabootsers as intelligente wesens ontstaan wat die nabootsings kon uitvoer? Bostrom se argument beklemtoon slegs die noodsaaklikheid van ’n Skepper wat vêr verhewe bo Sy skepping bestaan!

Lewe spruit voort as gevolg van lewe!

Nabootsings ter syde gestel, die beginsel van biogenese, wat deur alle eksperimente en ervaring bevestig is gedurende die geskiedenis van die mensdom, verklaar dat lewe slegs uit lewe kan ontstaan. Wetenskaplikes het inderdaad probeer om lewe uit nie-lewe te skep en het heeltemal misluk! Omdat selfs die eenvoudigste sel verbasend kompleks is, is dit logies om te glo dat lewe uit nie-lewe kan ontstaan?

Kan wet voortspruit uit wetteloosheid en toevalligheid? Wetenskaplikes weet dat daar ingewikkelde wiskundige wette is wat die beweging en uitsetting van die heelal bepaal. Wat is verantwoordelik vir die wette en hulle betekenis in ons heelal? Die wetenskaplike, Patrick Glynn, skryf dat alles van die begin af “‘presies reg’ moes wees – álles, van die waardes van fundamentele kragte soos elektromagnetisme en swaartekrag, tot die relatiewe massas van die verskillende sub-atomiese deeltjies, tot dinge soos die aantal neutrino-soorte teen tyd 1 sekonde, wat die heelal reeds moes ‘weet’ teen 10-43 sekonde. Die geringste gepeuter met een enkele van die hope basiese waardes en verhoudings in die natuur sou ’n heelal tot gevolg hê wat totaal anders is as die een wat ons bewoon – stel u voor, een met geen sterre soos ons son of net geen sterre nie” (Patrick Glynn, God: The Evidence, 1999, bll. 7-8).

Ja, die wette van fisika het van die begin van die heelal af bestaan. Wetenskaplikes erken dat dit so moes gewees het. Daardie wette is fyn ingestel om dit moontlik te maak dat ons heelal bestaan soos dit vandag is – met ons daarin! Wiskundig is dit totaal onwaarskynlik dat so ’n heelal toevallig kon ontstaan, met die regte eienskappe om menslike bestaan moontlik te maak.

Baie wetenskaplikes wat vasgevang is in die filosofie van materialisme en vasbeslote is om met verduidelikings vorendag te kom wat goddelike skepping uitsluit, het wonderlike teorieë uitgedink om die kompleksiteit rondom ons te verklaar. Tog vereis baie van hierdie teorieë groot oorbruggings van “logika” of aannames dat ’n wiskundig onwaarskynlike gebeurtenis “net sommer” kon plaasvind. In teenstelling daarmee wys wetenskaplikes wat die teorie van intelligente ontwerp voorstaan op die “onherleibare kompleksiteit” van baie lewende strukture en prosesse as bewys dat hulle nie net sommer kon plaasvind deur ewekansige mutasie en natuurlike seleksie nie.

Evolusioniste het teenargumente aangevoer oor aansprake wat gemaak is met betrekking tot die l onherleibare kompleksiteit in die natuur, maar selfs die kreatiefste bioloog kan nie die werklikheid van wiskunde vermy nie. Baie wetenskaplikes se argumente teen intelligente ontwerp, berus op buitengewoon onwaarskynlike reekse van gebeure en stel in sommige gevalle mutasies voor wat triljoene jare sou neem in ’n heelal wat na raming slegs 14 miljard jaar oud is!

Evolusioniste beskuldig aanhangers van die skepping soms daarvan dat hulle ’n “God van gapings”-uitleg aanbied – wat enige verskynsels aan ’n almagtige God toeskryf wat nog nie deur die wetenskap verstaan word nie. Selfs die National Geographic Society, wat ’n gesaghebbende, hoofstroomorganisasie is, kon dit nie vermy om ’n verrassende erkenning te maak in ’n omvattende bespreking van die evolusieteorie nie, naamlik dat “die fossielrekord soos ’n evolusierolprent is waaruit 999 van elke 1000 rame in die redigeringsproses verlore geraak het” (“Was Darwin Wrong?,” National Geographic, November 2004, bl. 25) Ja, evolusie – en nié intelligente ontwerp nie, is die teorie wat staatmaak op gapings!!

Die geheimenis van bewustheid

Materialistiese evolusioniste wat gekonfronteer word met die verskynsel van menslike bewustheid, vind dat baie van hulle aannames in twyfel getrek word. Die skrywer en filosoof John Searle, het met betrekking tot die nimmereindigende raaisel rondom menslike self-kennis opgemerk: “Ons weet nie hoe om dit te verduidelik nie. Vergelyk bewussyn met fisika. Ons vorder heel goed in fisika, hoewel ons ’n paar gebiede het wat ons dronkslaan, soos kwantummeganika. Ons het egter nie ’n voldoende teorie oor hoe die brein bewuste toestande veroorsaak nie en ons het ook nie ’n voldoende teorie oor hoe bewustheid in die heelal inpas nie” (Robert L. Kuhn, Closer to Truth: Challenging Current Belief, 2000, bl. 5).

Filosowe het die vraag gevra: ‘Hoe kan ons bewys dat daar enigiets bestaan buiten my eie verstand?' Die filosofie wat “solipsisme” genoem word, stel voor dat die enigste realiteit in ’n mens se gedagtes is omdat niks anders regtig bestaan nie. Hoe kan ons seker wees dat daar intelligensie buite ons eie verstand is? Wetenskaplikes soos Wallace en Behe het voorgestel dat dit een manier is om vir tekens te kyk dat ’n ander verstand opgetree het. Hoe kan ons egter na fisiese dinge rondom ons kyk en tot die gevolgtrekking kom dat ’n ander verstand opgetree het? Dit is nie die dinge rondom ons wat ons van ander mense se intelligensie oortuig nie, maar die doelgerigte orde van dinge. Geluide wat doelgerig gerangskik is, kan spraak wees wat idees oordra. Klip en metaal en hout, wat doelgerig gerangskik is, kan ’n gebou wees. Indien u bewyse vind van doelgerigte rangskikking wat u nie ten volle verstaan nie, kan u verstand nie die enigste een in die heelal wees nie, want u het ’n intelligensie ontdek wat verhewe bo u eie is!

Die idee dat die wêreld rondom ons bewys lewer van intelligente ontwerp, het nie by wetenskaplikes soos Wallace en Behe ontstaan nie. Byna 2,000 jaar gelede het die apostel Paulus aan Christene in Rome gesê: “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie” (Romeine 1:20). Ja, deur die doelgerigte re-organisering van die wêreld rondom ons, kan ons tot ’n intelligente gevolgtrekking kom en uiteindelik die Goddelike intelligensie van ons Skepper begryp!

Onbekende afmetings?

Materialistiese wetenskaplikes mag dalk dink dat hulle gedagtes denkbeeldig is, bloot neweprodukte van die “vlees” waarvan hulle liggame vervaardig is. Hulle ontken geheel en al die bestaan van ’n dimensie van verstand of van gees. Dit is ’n ou probleem en die Bybel gee baie aandag daaraan. Die apostel Paulus bespreek die verhouding van die gees tot mense en vra: “Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is?” (1 Korinthiërs 2:11). Paulus bespreek nie ’n onsterflike siel nie, maar die menslike gees. Die menslike gees stel die mens in staat om “die dinge van ’n mens” te ken. Diere kan nie “die dinge van ’n mens” ken nie. Alhoewel die diere se instink ’n wonderlike meganisme is wat diere baie verstommende dinge kan laat doen, kan hulle nie op ’n menslike vlak dink nie. Die verskil in kwaliteit tussen die menslike verstand en ’n dier se brein is enorm. Die instink van diere is dikwels merkwaardig, maar slegs die mens kan homself veelvuldige fisieke dimensies buite die sigbare voorstel. Indien wetenskaplikes oor tien (of meer) onsigbare fisiese dimensies kan teoretiseer, hoe moeilik kan dit dan vir ’n objektiewe waarnemer wees om die geestelike dimensie in ag te neem?

Fisici gebruik massiewe instrumente soos die Groot Hadron Deeltjieversneller om fisiese dimensies wat vir ons onsigbaar is, te verstaan. Wat het ons nodig om die geestelike dimensie te verstaan? Ons het die Gees van God nodig! Slegs dan kan ons “die verborge dinge van God” (1 Korinthiërs 2:11 NV) waarlik en in diepte begryp (1 Korinthiërs 2:11). Hoe ontvang ons die Gees van God? Op Pinksterdag aan die begin van die Nuwe-Testamentiese Kerk, het die apostel Petrus vir duisende mense gepreek en aan sy gehoor gesê: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” -(Handelinge 2:38).

Evolusie kan nie die bestaan van gees verklaar nie en ontken dit soms – selfs al is die grootste werklikheid nie die fisiese bestaan nie, maar die bestaan van gees. Ons lees, “want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig” (2 Korintiërs 4:18). Die apostel Johannes verkondig ook hierdie waarheid: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:24). Wetenskaplikes maak baie wonderlike ontdekkings, maar hulle instrumente kan ook net sover gaan. Indien God nie hulle verstand oopgemaak het om die dinge van die Gees te verstaan nie, kan hulle nie die volle realiteit van wat Hy hier op aarde doen, geestelik onderskei nie. “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Korinthiërs 2:14).

God se geestelike skepping

Baie mense wat oor die fisiese skepping van die heelal wonder, kyk die verstommende aspek van God se skepping mis. God het nie net die fisiese heelal geskep nie, maar Hy is ook besig met die geestelike meesterstuk van Sy skepping in die mens: Sy eie heilige en regverdige karakter, wat die karakter word van nederige, onderdanige, opregte Christene. God het nie net fyn ingestelde fisiese wette geskep om die heelal te vorm nie, maar Hy het geestelike Wette gegee om die karakter van Christene te vorm. Jesus het die twee groot gebooie in Matthéüs 22:36-39 gegee, wat die Tien Gebooie beklemtoon wat in Exodus 20 en Deuteronómium 5 gegee word. Hierdie geestelike Wette is net so werklik as die fisiese wette wat die heelal regeer.

Filosowe het al beweer dat God dood is. Baie van daardie filosowe is self dood en God leef. Psalm 14:1 gee ons ’n duidelike perspektief op die werklikheid: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie.”

Kan u bewys dat God bestaan? Ja u kan! Nie net kan u weet dat God bestaan nie, maar u kan ook “weet dat u weet” dat Hy leef! Hoe kan u hierdie sekerheid hê? Ja, dit is goed om die logiese en filosofiese punte wat ons kortliks in hierdie artikel in oënskou geneem het te verstaan, want wanneer dit korrek gebruik word, is rede en logika nie die vyande van geloof nie. Tog het ons gesien dat baie van die moderne “wetenskap” hierdie naam kwalik verdien, aangesien dit ons nie ander vergelykbare eksperimente bied, wat teorieë soos evolusie en intelligente ontwerp kan bewys of weerlê nie. U kan egter self een belangrike eksperiment uitvoer en die resultate persoonlik ondersoek. Daardie eksperiment word in u Bybel gevind: “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar” (1 Johannes 2:3). U kan die bestaan van God bewys deur die lewenswyse te leef wat Hy deur die Bybel en deur die Seun van God, Jesus Christus, geopenbaar het. Wanneer u dit doen, sal u self kan weet dat God leef en dat Hy oppermagtig regeer, nie net oor die grootheid van die heelal nie, maar ook oor die kleinste besorgdheid in ons lewens (Matthéüs 10:29-31).

U kan dit egter nie halfhartig doen om vas te stel wat die waarheid van die saak is nie: “Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek” (Deuteronómium 4:29). Soek die lewende God met u hele hart en met u hele siel en u sal Hom vind!

Is daar dus ’n lewende, sorgsame God wat betrokke was by die skepping van die heelal en die lewe daarbinne en Wie vandag in menslike lewens en wêreldgebeure ingryp? Kan u die kritici weerlê wie sê: “God is dood”? Kan u bewys dat God leef? Ja, u kan!

Daardie lewende God wil hê dat ons dink soos Hy dink. Hy wil hê dat ons soos Hy word in ons aard en karakter. Daarom het Hy Sy Seun, Jesus Christus, gestuur om aan ons ’n voorbeeld van ’n Goddelike lewe en karakter te gee en om ons te red van ons sondige natuur. God wil hê dat ons gelykvormig word aan die liefdevolle beeld en aard van Christus (Romeine 8:29).

Darwin se grootste fout was dat hy ontken het dat daar enigsins ’n lewensdoel bestaan. Die waarheid is egter dat ek en u met ’n grootse doel geskape is. Ons Skepper leef nie net nie – Hy wil hê dat ons ’n ewige verhouding met Hom sal hê, as deel van Sy eie gesin! Sal u op Sy uitnodiging reageer?