Om en by hierdie tyd van die jaar kom daar verskeie Heilige Dae voor wat onbekend is aan die meeste nie-Jode. Die eerste is Roosj Hasjana – die Fees van Trompette. Tien dae later is Joom Kippoer – die Versoendag. Vyf dae daarna is dit die sewe dae van die Huttefees wat onmiddellik gevolg word deur die Laaste Groot Dag.

Tussen die Christene wat hierdie dae onderhou, is die lede van die Lewende Kerk van God, die borg van die Wêreld van Môre. Sommige mense sal dalk wonder waarom nie-Jode hierdie dae onderhou – waarom hulle nie tradisionele vakansiedae soos Kersfees, Paasfees, Driekoningedag, St. Valentynsdag en Halloween [Allerheilige-aand] onderhou nie?

Die antwoord is eenvoudig vir enigiemand met ’n ontvanklike gemoed. Jesus sê: “... daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:23-24). Goeie bedoelings is nie goed genoeg nie – volgens Jesus moet ons ook in waarheid aanbid. Die waarheid is dat God vir ons spesiale dae gegee het om ons te leer aangaande Sy plan van verlossing, terwyl die heidense wêreld ons nie-Bybelse tradisies gegee het en waaraan hulle nou Christus se Naam koppel. Watter onderhouding is korrek? Maak dit werklik saak?

’n Paar jaar gelede het jongmense armbandjies gedra met die letters WSJD, wat staan vir “Wat Sou Jesus Doen?” Dit is ’n billike vraag en word die beste deur Jesus Self beantwoord. Wat sou Jesus gedoen het indien Hy vandag op die aarde was?

Die belangrikste voetstappe om te volg

Die antwoord is voor die hand liggend: Hy sal presies doen wat Hy gedoen het toe Hy 2,000 jaar gelede op die aarde was. (Hebreërs 13:8). Wat hét Hy gedoen? Hy het die Pasga en die Fees van Ongesuurde Brode onderhou (Lukas 2:41-43; Matthéüs 26:17-20). Hy het die Huttefees en die Laaste Groot Dag onderhou, selfs ten spyte van die dreigement van die dood (Johannes 7:1-2, 10, 37).

Elkeen van die Apostels, met inbegrip van Paulus, het óók hierdie dae onderhou (Handelinge 2:1; 20:16; 1 Korinthiërs 5:7-8; 16:8). Hierdie is slegs ’n paar van die verwysings wat ons kan aanhaal. Terwyl die Bybel Jesus se geboorte beskryf, vind ons nêrens in die Skrif ’n jaarlikse viering daarvan nie – ook nie van Paasfees of enige van die ander gewilde “Christelike” vakansiedae se vierings nie.

Maak dit egter saak?

Besef u dat dit onmoontlik is om Sy plan vir die mensdom ten volle te verstaan sónder om God se Heilige Dae te onderhou en dit te verstaan? Indien u nog nooit ons bron, Die Heilige Dae – God se meesterplan, gelees het nie, maak seker dat u ’n gratis eksemplaar bestel by u naaste streekkantoor (lys verskyn op bladsy 2 van hierdie tydskrif) of lees dit aanlyn by www.wvm.co.za. U sal antwoorde ontdek op vrae waaroor u moontlik u hele lewe lank al wonder. Wat gebeur met babas wat net ’n paar dae oud is wanneer hulle sterf of met diegene wat lank leef, maar nooit gehoor het van Christus nie? Waarom dan, indien God Almagtig is, word so min mense oënskynlik vandag gered? Sal die bron van die kwaad altyd by ons wees? Het ons deel aan verlossing of is dit “alles vir ons gedoen”? Hoe gaan die wêreld eindig? Wat is die beloning van dié wat “gered” word? Al hierdie vrae en meer word beantwoord deur die Bybelse Heilige Dae en Feeste.

Lesers van die Wêreld van Môre (of diegene wat na ons TV-uitsending Tomorrow’s World kyk) kritiseer ons soms omdat ons sê dat Christus nié vanaand sal kom nie; ander mense het weer ’n probleem daarmee wanneer ons sê dat die tyd van Sy koms naby is. Hulle maak beswaar omdat hulle nie God se plan vir die mensdom, soos geopenbaar in Sy Heilige Dae, verstaan nie en hulle bly in gebreke om die konteks van Matthéüs 24:36 te verstaan wat vir ons sê dat niemand “dié dag en dié uur” van Sy Wederkoms weet nie.

Die konteks van hierdie gedeelte begin met ’n vraag van Jesus se dissipels: “... wat is die teken van U koms en van die voleinding van die wêreld?” (Matthéüs 24:3). Jesus beskryf dan verskillende tekens waarna hulle moet oplet, met inbegrip van die gruwel van verwoesting (vers 15). Hy waarsku ook dat ’n groot verdrukking en hemelse tekens voor Sy Wederkoms sal plaasvind (verse 29-30). Christus sal dan terugkeer met die blaas van ’n basuin: En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan” (vers 31).

Jesus beveel aan dat ons ’n les uit die gelykenis van die vyeboom sal leer: “Wanneer sy tak al sag word en blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur” (Matthéüs 24:32-33).

Dit is duidelik dat sekere gebeure éérs moet plaasvind en so kan ons onderskei tussen sekere tekens wat die algemene tydraamwerk aandui. Christus sê aan ons dat om die presiese dag en uur van Sy Wederkoms te weet, ’n ander saak is (vers 36), maar Hy volg dit op met nog ’n teken om na op te let (verse 37-38).

Die Feeste en Heilige Dae van God lê stap vir stap, God se plan van verlossing uit. Die eerste deel van die plan wat ons dikwels die “Herfsfeeste” noem (Jerusalem is in die noordelike halfrond) is die Fees van Trompette. Hierdie Fees toon duidelik vir ons aan dat Jesus nié vanaand sal terugkeer nie. Jesus het gesê dat “Hy sal Sy engele uitstuur met harde trompetgeluid” (vers 31) en die Fees van Basuine beeld die blaas van sewe basuine uit – wat elkeen tot ’n gebeurtenis lei wat hierdie aarde sal skud. Het enige van die ses trompette se geskal – met hulle rampspoedige gebeure – soos geopenbaar in Openbaring 8-9, reeds plaasgevind? Het iemand al ’n leër bestaande uit 200-miljoen soldate wat weswaarts vanaf Asië op pad is gesien? Indien nie, kan Christus nie vanaand kom nie. Dit is slegs wanneer die sewende basuin geblaas word dat Christus se Wederkoms sal plaasvind (Openbaring 11:15).

Kan “die wegraping” dan nie enige tyd plaasvind, soos so baie mense geleer is nie? Dit is ’n ope vraag wat baie opregte mense vra. Dit verteenwoordig egter ’n valse konsep en indien u graag agter die waarheid wil kom met betrekking tot hierdie misleidende leerstelling, laat weet ons en ons stuur graag aan u ons gratis DVD, Is the Rapture Your Incredible Future? of ons gratis artikel “Die geheime wegraping – Valse hoop vir eindtydse Christene!”

God se beloofde pad na hoop

Wat ons bespreek het, is net een klein deeltjie van die geheelbeeld – daar is soveel meer wat duidelik gemaak word deur die onderhouding van die Heilige Dae wat God ingestel het. ’n Groot groep wat die Sabbat onderhou, onderrig dat ná Christus se Wederkoms, die aarde ’n woesteny sal wees met geen oorlewendes nie. Die onderhouding van die Huttefees openbaar egter net die teenoorgestelde! Wanneer Jesus as Koning van die konings terugkeer, sal een van Sy eerste opdragte wees dat alle nasies verteenwoordigers na Jerusalem moet stuur om hierdie Fees [Huttefees] te onderhou (Sagaría 14:16). Stel u voor: Christus regeer as Koning oor die hele aarde (vers 9) en wanneer Sy bevel gegee word is daar egter geen lewende wese om die bevel uit te voer nie. Belaglik.

Soos duidelik in die Skrif openbaar word is hierdie verteenwoordigers nié geestelike wesens nie:

Wie van die geslagte van die aarde ook al nie na Jerusalem optrek om die Koning, die HERE, te aanbid nie van leërskare, op hulle sal daar geen reën val nie. As die geslag van Egipte nie optrek en ingaan nie, hulle sal geen reën hê nie; hulle sal die plaag ontvang waarmee die HERE die nasies tref wat dit nie doen nie kom op om die Huttefees te vier. Dit sal die straf wees van Egipte en die straf van al die nasies wat nie opkom om die Huttefees te vier nie (v.17-19).

Elke jaar kom lede van die Lewende Kerk van God bymekaar om herinner te word aan wat hierdie groot Fees beteken – die tyd wanneer Jesus Christus vir ’n duisend jaar lank vrede na hierdie geteisterde planeet sal bring. Daar sal natuurlik nie vrede wees terwyl die mensdom se groot teëstander, Satan die duiwel, nog teenwoordig is nie. Die Dag van Verootmoediging spreek egter daardie probleem aan en verwys na die dag wanneer Satan verwyder sal word en nie meer in staat sal wees om die mensdom te beïnvloed nie.

Dit is bloot ’n voorsmakie van wat God in gedagte het vir diegene wat die uitdaging aanvaar om die Heilige Dae wat deur Hom ontwerp is te onderhou om Sy wonderlike plan van verlossing te verduidelik. Laat weet ons wanneer u gereed is om daardie uitdaging te aanvaar en te leer van die opwindendste waarhede wat ooit aan die mensdom gegee is!