Miljoene mense neem hul “bekering” tot Christenskap as vanselfsprekend aan. Doen u dieselfde?

Jesus Christus kom binnekort as Koning van konings (Openbaring 11:15). Terwyl die gebeure na 11 September 2001 steeds deur die wêreld weergalm, moet ons almal die feit dat ons werklik in die “laaste dae” leef, verstandig in oënskou neem. Ons moet dit verstandig oorweeg of ons ware diensknegte van die lewende Christus is. Jesus sê: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Openbaring 2:26). Is u besig om te “oorwin” en u lewe te verander, maand na maand, jaar na jaar - deur Christus wat Sy lewe binne u leef? “Oorwin” u werklik?

U het persoonlik net een lewe. U moet dus alle ydelheid en verdedigingsmeganismes opsy sit en heeltemal eerlik met uself wees oor u geestelike toestand.

Die apostel Paulus skryf aan die Korintiërs: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie - as julle ten minste nie verwerplik is nie” (2 Korintiërs 13:5). Leef die Christus van die Bybel werklik Sy lewe binne u, deur die Heilige Gees? Of het u (soos ek) “grootgeword” in ’n kerk en al die leerstellings en gebruike van daardie kerk as vanselfsprekend aangeneem?

Die Almagtige God het Amerika, die volke van Britse afkoms en Suid-Afrikaners meer as ander volke geseën. Ons is ook geestelik geseën deur vrye toegang tot die Bybel en letterlik honderde Bybelstudiehulpmiddels te hê, sowel as grootskaalse godsdiensvryheid wat ons gegun word. Deur materiële seëninge het ons ook meer tyd tot ons beskikking gehad om geestelike dinge na te jaag, om God se waarheid te vind en om daarvolgens te leef, maar ons het misluk!

’n Dooie godsdiens

Hoewel ons gewilde menings en mensgemaakte tradisies koester en hoewel ons nie daarvan hou om vertel te word dat ons verkeerd is nie, is ons “moderne godsdiens” dood.

Sommige van ons besef dit, maar die meeste mense hou nie daarvan om dit te erken nie. Dit is pynlik om te erken dat hulle verkeerd is, maar die einde van hierdie samelewing is naby! God sê dat Hy ons volke gaan straf vir ons nasionale en individuele sondes. “Daarom sal Ek só met jou handel, o Israel; omdat Ek só met jou sal handel - maak jou klaar om jou God te ontmoet, o Israel!” (Amos 4:12).

Is u voorbereid? God vertel ons om onsself gereed te maak! Die tyd is nou! Die meeste van u, wat die Wêreld van Môre-tydskrif gereeld lees, besef dat u in die verlede en vir baie jare iets kortgekom het. Nou het u tot die kennis van ’n groot hoeveelheid nuwe waarhede gekom. ’n Nuwe lewenswyse is besig om vir u duideliker te raak.

U begin nou Bybelprofesie en die groot doel wat hier uitgewerk word, werklik verstaan. Waarom was u al die jare tevore feitlik in totale onkunde oor die ware betekenis van Bybelprofesie en wêreldgebeure?

Indien u werklik ’n Christen was - ’n verwekte kind van God - waarom het u nog nooit tevore hierdie dinge verstaan nie? Waarom het God minder werklik voorgekom? Waarom het u nog nooit werklik die Bybel al hierdie jare bestudeer en verstaan nie.

As u leraar ’n ware prediker van God is, waarom het hy nog nooit die Bybel en profesieë daarin werklik verstaan en gepreek nie? Waarom sal hy amper nooit erken dat hy verkeerd was oor sommige punte nie? Waarom neem hy nie voortdurend toe in genade en kennis nie?

Wat van u? As u werklik al hierdie jare ’n Christen en ’n kind van God was - waarom het u nie hierdie dinge gedoen nie? Ons moet die feite verstaan! Om vir onsself verskonings uit te dink sal niks beteken wanneer ons voor die regterstoel van God staan nie!

Is dit van toepassing op iemand anders?

Die woordjie “my” is vir die meeste mense baie belangrik. Hulle praat liefderyk van my mening, my werk, my huis, my land, my godsdiens en my God.

Ons verag dit dat mense ons vertel dat ons mening, ons geloof of ons godsdiens verkeerd is. Ons wil graag glo dat dit waaraan ons gewoond was, die waarheid is. Almal haat dit om te erken dat hulle verkeerd was.

Tog moet iemand in hierdie doolhof van godsdienstige Babilon verkeerd wees! Is u gewillig om te erken dat dit u kan wees? Mag God u help om dit te kan doen. Indien ons ons Bybels glo, sal ons vind dat die meeste van die mense op hierdie aarde in godsdiensdwalings versonke is en selfs die meeste belydende Christene is mislei!

Een van die beginsels in die Bybel wat die minste verstaan word, is dat God hierdie wêreld doelgerig verblind het (Romeine 11:8) en toelaat om sy eie weg te gaan en om, gedurende hierdie eerste 6 000 jaar van menslike geskiedenis, lesse te leer. Terselfdertyd laat God Satan toe om die mensdom te beïnvloed; die Bybel beskryf Satan duidelik as “die groot draak [wat] neergewerp [is], die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei [of mislei]” (Openbaring 12:9).

Vind u dit moeilik om te glo? Dit is waar. Op baie plekke dui u Bybel aan dat hierdie hele wêreld geheel en al in geestelike dinge mislei is. Onthou dat ’n persoon wat mislei is nie wéét dat hy mislei word nie. Hy is opreg, maar opreg verkeerd!

Die groot vals godsdienstelsel wat ons Westerse wêreld vandag domineer, word in Openbaring 17 uitgebeeld. God beskryf hierdie afvallige kerk as ’n gevalle vrou - ’n groot hoer “met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery” (vers 2).

As gevolg van vals leringe en vals konsepte wat sedert kinderdae aanvaar word, is die meeste mense geestelik dronk - met ’n verwronge uitkyk sodat hulle nie in staat is om geestelike waarhede raak te sien nie. Soos dronkaards, is hulle dwaaslik tevrede met die mistieke, wasige, deurmekaar geestelike toestand waarin hulle hul bevind.

Hulle dink dat hulle, oppervlakkig beskou, doodreg is, maar diep binne hulle spook die besef dat daar iets kortkom - hul godsdiens blyk leeg te wees. God kom onwerklik voor, asof hy baie, baie ver weg is.

’n Vals Christenskap

Die groot godsdiensmisleiding wat hierdie wêreld in sy greep het, is die gevolg van Satan, die duiwel, wat deur vals predikante werk en wat ’n vals Christenskap verkondig. ’n Bedrieër is op stuk van sake ’n vervalser en Satan is die oppervervalser van alle tye! Daarom het sy predikante ’n leerstelling wat soos die waarheid voorkom.

Die apostel Paulus beskryf hierdie vals Christen leraars - wat in sy dag alreeds voorgekom het: “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy [die duiwel se] dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Korintiërs 11:13-15).

Ja, Satan die duiwel hét predikante! Hulle blyk leraars van Christus te wees, maar eintlik verkondig hulle ’n leerstelling van “geen werke” - geen gehoorsaamheid aan God se wet! Daarom sal hulle self geoordeel word volgens hul bose werke!

God waarsku ons om elke gees of geestelike leerstelling wat deur mense voorgestel word, te “toets” of beproef. “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Johannes 4:1).

Onwetend en in die meeste gevalle opreg, is die meeste van u in die verlede mislei - deur vals leringe waarvan die oorsprong van Satan, die duiwel deur sy demone is; wat die godsdiensstelsel en vals predikante van ons tyd inspireer en beïnvloed! Dit is tyd om wakker te skrik!

In hierdie laaste dae voor die tweede koms van Jesus Christus, moet u weet of u gereed is om u God te ontmoet, al dan nie! U moet met ’n oop gemoed gewillig wees om te bewys of u al ooit werklik bekeer is.

U misplaaste vertroue in ’n vals bekering is ’n groot en dodelike misleiding wat baie maklik kan veroorsaak dat u die ewige lewe verbeur! Dit is so ’n gevaarlike misleiding omdat u eie persoonlike ydelheid u in baie gevalle daarvan kan weerhou om te erken dat u nooit bekeer is nie!

Is u gewillig om hierdie moontlikheid in die gesig te staar? Is u gewillig om te verander as God deur Sy Woord aan u wys dat u nooit werklik tevore bekeer is nie?

Wat bekering werklik is

God se Woord sê: “Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie” (Romeine 8:9). Eenvoudig gestel beteken dit dat u Christus se Gees in u moet hê, anders is u nie ’n Christen nie en was u nooit bekeer nie.

’n Werklik bekeerde persoon word gevul en gelei deur die Heilige Gees van God. God plaas en leef Sy eie lewe binne ons deur Sy Heilige Gees. Hierdeur word ons deur Hom verwek as kinders en kan ons dus deel hê aan Sy eie natuur! “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God” (Romeine 8:14).

In die verlede het die meeste van u op stuk van sake nie eens geweet wat die Heilige Gees is, wat dit veronderstel is om in u lewe te doen en wat die ware gevolg van u leiding deur die Heilige Gees, sou wees nie.

In Romeine 5:5 vertel God ons dat: “die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is”. Deur Sy Gees gee God ons Sy liefde. Ons het dus dan deel aan Sy aard - Sy karakter. God se karakter word uitgedruk in die geestelike beginsels wat in die Tien Gebooie vervat is - gehoorsaamheid aan God se wet. “Want dit is die liefde tot God dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3).

God se Gees lei ons om Hom as ons Skepper en Heerser te gehoorsaam. Die apostel Paulus is geïnspireer om te skryf “die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is” (Handelinge 5:32).

Ware bekering behels dus ’n werklike oorgawe om God en Sy wette te gehoorsaam. In Handelinge 2:38 is Petrus geïnspireer om te vertel hoe om bekeer te raak. Hy sê: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang”.

Die mens moet hom van sonde bekeer. Wat is die Bybel se definisie van sonde? “Sonde is wetteloosheid” (1 Johannes 3:4). Dit is die Bybel se definisie van sonde - die verbreking van God se wet! Om dus werklik bekeer te word, moet u u bekeer van die verbreking van God se Wet. Onthou dat Jesus Christus in die Nuwe Testament hierdie Wet vergroot het - veral in Mattheus 5 en die hele Bergpredikasie. Ons moet nie net die letter van die wet in elke aspek van ons lewens nakom nie, maar ook die gees of bedoeling van God se Wet.

Jesus sê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). U moet u bekeer van ongehoorsaamheid aan God se Wet - Sy Woord - Sy beheer oor u lewe. Dan moet u gedoop word as ’n sigbare teken van u gewilligheid om u ou self heeltemal te begrawe - en u eie lewe letterlik aan God en Jesus Christus as u persoonlike Verlosser, Hoëpriester en Meester te gee.

In Romeine 6:1-4 beskryf die apostel Paulus die doop as ’n teraardebestelling van die ou self. Dit moet die algehele onderdompeling van die liggaam onder die water wees, as ’n voorbeeld van die begrafnis van die ou selfsugtige self in die graf.

Valse bekering is baie algemeen

Trouens, die meeste mense wat die kerke van hierdie wêreld bywoon het, hoewel hulle “gedoop” is deur hulle, het nog nooit werklik geweet waarvan om hulle te bekeer nie! Hulle het nie geweet wat sonde werklik is nie.

Tydens hul doop, het die meeste mense werklik bedoel om “beter te doen” of “om vrede met God te maak”, maar omdat hulle nie geleer was wat sonde werklik is nie, kon hulle glad nie besef hoe verrot en sondig hulle werklik was nie!

Hulle het hulle nooit werklik bekeer nie! Hulle is nie “gebroke” deur die ellendige toestand van hul lewens en hul eie menslike ydelheid en selfsugtigheid, wat so gereeld by ons almal kop uitsteek nie.

Sulke mense begin nie om die Bybel dadelik te bestudeer en te verstaan nie. Hulle gaan net voort met die gebruike, maniere en tradisies van hierdie wêreld. Hulle lewens het nie werklik verander nie en hulle leer God nie persoonlik ken nie!

Met bekeerde mense in gedagte, sê Jesus: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig” (Johannes 16:13). ’n Werklik bekeerde persoon sal dus deur God se Gees in nuwe waarheid gelei word. Hy sal ook Bybelprofesie begin verstaan en begryp - of belangrike dinge wat gaan gebeur!

Ware bekering bring ’n algehele ommekeer in ’n mens se lewe! Dis ’n hernuwing van sy verstand - sy gesindheid - sy karakter!

Hy leer God werklik ken - om gedurig meer en meer van God se Woord te bestudeer en te verstaan. Hy is in staat om op ’n persoonlike manier tot God te bid en met Hom te praat. Hy ontvang voortdurend antwoorde - hy word geseën - en word meer soos Christus met verloop van elke maand en jaar van sy lewe!

Die hartseer waarheid is dat die meeste belydende Christene nog nooit begin het om hierdie pad na dié soort Christenlewe aan te pak nie!

Is u gewillig om hierdie feit te erken en daarop te reageer?

Sien die menslike natuur vir wat dit is

Die Almagtige God, wat ons verstand en menslike natuur geskape het, waarsku ons in die boek Spreuke. Hy vermaan: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 16:25; 14:12).

Dit is slegs menslik om te glo dat u manier reg is, maar God sê dat die weg wat vir ’n mens reg lyk, in die dood eindig! Onthou dat die loon van die sonde, die dood is (Romeine 6:23).

Die grootste struikelblok wat die meeste mense daarvan weerhou om die waarheid te aanvaar en waarlik bekeer te raak, is hul eie ydelheid. Die meeste mense het in ’n kerk van een of ander aard grootgeword of dienste bygewoon en hulle wil glad nie erken dat hulle nog nooit werklik bekeer is nie! Hul menslike natuur wil hulle hul eie geregtigheid laat verkondig.

God het ’n hele boek in Sy Woord geïnspireer om hierdie algemene probleem van die mens aan te raak. Die boek is Job - een van die mees misverstane boeke in die Bybel.

Die primêre les in hierdie hele boek is dat God ons menslike eiegeregtigheid haat! Let op Job se gesindheid: “Dit is ver van my dat ek julle gelyk sou gee; totdat ek die asem uitblaas, sal ek my onskuld nie prysgee nie. Aan my geregtigheid hou ek vas en laat dit nie los nie; my hart veroordeel geeneen van my dae nie” (Job 27:5-6).

Job spreek weer eens sy ware gesindheid uit in Job 31:6: “laat Hy my dan weeg op ’n regte weegskaal, sodat God my onskuld kan weet!” Selfs Job se menslike vriende kon sy eiegeregtigheid en ydelheid aanvoel. “Toe het dié drie manne opgehou om Job te antwoord, omdat hy in sy eie oë regverdig was” (Job 32:1).

Uiteindelik, nadat hy persoonlik met God te doen gehad het en meer oor sy eie onbelangrikheid en absolute swakheid en ellendigheid geleer het, bekeer Job hom. “Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek en het berou in stof en as” (Job 42:5-6).

Die werklike vraag is steeds: Het u geleer om uself te verag? Het u u in “sak en as” bekeer? Het u uself totaal aan God oorgegee en u lewe aan Hom gegee om te gebruik soos Hy goeddink?

God beveel ons om op te hou om onsself te regverdig! “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:7). Dink u miskien dat u nie boos was nie?

Die Almagtige God verklaar: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie” (Romeine 3:10). En weer: “Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (vers 23).

Ja, ons het almal gesondig! Ons het almal God se Wet oortree en die meeste van ons oortree steeds Sy Wet en probeer ons optrede regverdig!

God bulder: “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jesaja 55:8-9).

Ons eie menslike weë en redenasies is altyd verkeerd! Dit geld vir u! Moet dit nie op iemand anders van toepassing maak nie - pas dit toe op uself!

Dit is bykans seker dat die meeste van u wat hierdie artikel lees, steeds oor dít wat die Bybel as ’n “vleeslike” verstand beskryf, beskik. Baie van u dink dat u reeds “gered” is, terwyl die waarheid is dat u nog nooit die punt van totale oorgawe aan God en Sy absolute beheer oor u lewe bereik het nie! Daarom het u nog nooit God se Heilige Gees ontvang nie en is u nie as Sy geestelike seun of dogter verwek nie.

Dit is waarom u nog nooit tevore Bybelprofesie kon verstaan nie! Dit is waarom u nog nooit die groot doel wat hieronder uitgewerk word, kon verstaan nie. Dit is ook waarom God nog altyd so ver voorgekom het - so onwerklik.

Hierdie tekort aan God se Gees is die rede waarom u nie voortdurend in genade en kennis toeneem nie - en waarom u noodsaaklike Bybelwaarhede vir so baie jare kortgekom het.

Dit is nou die tyd om wakker te word! Dit is nou die tyd om u werklik te bekeer!

Wat u moet doen

Eerstens moet u hierdie artikel op uself van toepassing maak en u moet daarna streef om nie geaffronteer te voel, deur die korreksies en vermanings wat hier in opregte liefde gedoen word, nie!

Onthou dat toe Jesus aan Sy dissipels gewys het dat hulle op Hom en Sy boodskap moet “voed”, was sommiges van hulle se gevoelens seergemaak en het hulle hul onttrek. “En baie van sy dissipels het gesê toe hulle dit hoor: Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?” (Johannes 6:60). Maar Jesus vra die twaalf: “Wil julle nie ook weggaan nie?” (vers 67).

Toe gee Petrus ’n antwoord wat vandag nog dieselfde betekenis het. Hy sê: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe” (vers 68).

Indien God u deur die “vrugte” gewys het dat hierdie die Werk van Sy Kerk is, dan moet u vrees om van die waarheid weg te keer! Waarheen anders sal u gaan?

Duisende van u het al besef dat u die waarheid en boodskap van God deur hierdie Werk - die Wêreld van Môre-tydskrif en -radioprogram - ontvang en u begin verstaan dat hierdie die Werk van die ware Kerk van God is.

Het u dan nog nooit daaraan gedink om iets daaraan te doen nie! Indien ons diensknegte van die Grote God is, dan moet u ons lering en voorbeeld volg, as u sien dat dit volgens die Bybel is. U behoort artikels soos hierdie, letterlik en figuurlik, in u eie lewens toe te pas.

Die apostel Paulus is geïnspireer om te skryf: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Korintiërs 11:1). U moet die voorbeeld van God se ware leraars én Jesus Christus nastreef.

Trouens, die meeste van u het nog nooit een van God se ware leraars geraadpleeg oor werklike bekering en doop nie. Selfs terwyl hierdie artikel geskryf word, bel of skryf talle mense dwarsoor die wêreld aan ons om persoonlike onderhoude met God se ware leraars te versoek.

Hierdie mense begin besef dat hierdie die Werk van God se ware Kerk, vandag op aarde, is. Hulle besef die belangrikheid van persoonlike kontak met die ware leraars van Jesus Christus, wat eintlik Sy Werk doen om die boodskap van die Koninkryk van God, as ’n laaste getuie aan hierdie wêreld te verkondig.

Indien u die noodsaaklike belang van hierdie persoonlike kontak en leiding van die ware diensknegte van Jesus Christus besef, skakel ons gerus of stuur u naam en adres aan die streekskantoor (wat op bladsy 2 gelys is) naaste aan u.

U almal moet die noodsaaklike belang van werklike bekering besef! Moet dit nie te lank uitstel nie! Onthou dat God nie gewoonlik Sy Werk deur misleide leraars laat doen nie! Indien u werklik seker wil maak van u geestelike status, moet u die ware leraars van God raadpleeg, wat as werktuie gebruik word om Sy boodskap aan hierdie sterwende wêreld te verkondig. U moet uself dan verootmoedig om hul advies en instruksies te volg - indien u tevrede is dat hulle werklik God se leraars is.

Wees gewillig om te verander

Moet nooit vergeet dat ware berou, ware bekering voorafgaan nie. U moet uself verootmoedig totdat u u opreg kan bekeer, soos wat Dawid in Psalm 51 gedoen het. “Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my” (verse 4-5).

Let daarop dat Dawid nie probeer het om homself te regverdig nie - hy het sy sondes openlik erken en om vergifnis gevra. Hy gaan voort: “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë” (vers 6). God het nie nodig gehad om met Dawid te stry of te redeneer sodat hy sy skuld kon erken nie! Nes Job, het Dawid homself ook gesien soos hy werklik was en homself verafsku. U is niks beter nie!

Wanneer u uiteindelik gereed is om u te bekeer van die verbreking van God se wette, die navolging van menslike tradisies, die inskiklikheid met hierdie samelewing en sy gebruike, dan is dít wat God van u verwag: “Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Psalm 51:19).

Wanneer daardie tyd aanbreek, sal u ophou argumenteer en redeneer met die leraars, deur wie se vrugte u kan sien dat God met hulle werk. U sal nie meer met wroeging aan ’n vals bekering vasklou nie. U sal vind dat u nie “geaffronteer” voel deur die korreksie en vermaning van God se verkose leraars nie.

In daardie tyd, sal u soos ’n klein kindjie nederig en leerbaar wees - nie aanneem dat u ’n geestelike reus is, nog voordat u die pad van ware bekering aangepak het nie. U sal die groot gevaar besef wat meegebring word - deur geestelike trots en ydelheid - wanneer daar aangeneem word dat ’n vorige vals bekering, die ware Jakob was. U sal weet dat hierdie soort ydelheid u kan weerhou daarvan om ooit werklik bekeer te word - en dit kan u vir ewig van God afsny!

U sal ook weet dat God die regte advies deur dieselfde leraars gee wat Hy gebruik om Sy boodskap aan die wêreld te verkondig. “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor”.