Is daar ’n verlore dimensie in ons lewens? Waarom reik so baie na dwelms vir ’n antwoord? Wat behoort u te doen?

Die wêreld is oorspoel deur chemiese middels wat genot belowe – maar gevaar kan meebring. Miljoene mense dien hierdie potensieel dodelike middels self toe, ten spyte daarvan dat die risiko’s goed gepubliseer en die noodlottige gevalle gedokumenteer is.

Waarom waag mense van alle ouderdomme sulke kanse? Waarom wil enigiemand vrywilliglik moeilikheid soek? U mag verras wees om te leer dat die beslissende sleutels om dwelmverslawing te verstaan en dit te bekamp, nie te vinde is in kliniese programme of mediese handboeke nie, maar in die Bybel! Die bewyse is ontnugterend – asook bemoedigend!

Die Chemiese mynveld

Indien iets ingesluk, ingespuit, ingeasem of deur die menslike liggaam geabsorbeer kan word, kan dit misbruik word! Slegs in die Verenigde State alleen, misbruik bykans ’n derde van die bevolking óf self dwelms óf ken iemand wat afhanklik is van chemiese middels! Ander lande sit met ’n soortgelyke probleem.

Alkohol het ’n genotvolle uitwerking omdat dit die spiere verslap en die brein verdoof sodat bekommernisse tydelik verdwyn. Indien dit matig gebruik word, kan alkohol ’n heilsame uitwerking op die menslike liggaam hê. Die voortdurende misbruik daarvan teen ’n bedwelmde vlak, benewel die oordeelsvermoë, vertraag reflekse, veroorsaak geheueverlies, beskadig die hart en lewer, verswak die immuunstelsel en veroorsaak geboorte-defekte. Dronkenskap word direk verbind met ongelukke, verlies aan werk, gewelddadige misdaad en selfmoord. Kortliks – misbruik van alkohol dood en vermink. Dit ontwrig en vernietig die hele wese van die menslike samelewing.

Die gebruik van tabak is die “ernstigste en mees wydverspreide verslawende gewoonte in die wêreld en die grootste oorsaak van voorkombare sterfgevalle in ons samelewing” (An Invitation to Health, Hales, bl. 399). Rook word direk verbind met hartkwale, beroertes, long-, bors- en blaaskanker sowel as lugweg-siektes soos emfiseem, miskrame en – in die kinders van rokers – lae geboortegewig, geboorte defekte en verstandelike gestremdheid (ibid., bl. 403-408). Die verhouding van rokers se voortydige sterftesyfer is driemaal hoër as dié van nie-rokers en hul ervaar tot vyf keer meer hartaanvalle.

Miljoene mense gebruik wat hul beskou as “ontspanningsdwelms” – chemiese stowwe wat gebruik word vir genot en plesier. Onder hulle is LSD en PCP hallusinogene wat verstandelike persepsie verander en ’n gevoel van bomenslike krag meebring, nogtans kan hierdie dwelms gewelddadige gedrag ontketen, asook psigosomatiese aanvalle tot gevolg hê. Kokaïne en amfetamines veroorsaak ’n tydelike gevoel van verhoogde energie en selfvertroue, maar beskadig die hart en brein. Ontwerpersdwelms soos ecstasy – ’n algemene gesig by “deurnag” danse, die sogenaamde “raves” – bring gevoelens van toegeneentheid en openlikheid mee, maar kan nogtans permanente skade aan breinselle aanrig en kan selfs die gebruiker dood (sien Time, 5 Junie 2000, bl. 62-73).

Bykans die helfte van die verdowingsmiddels wat in die VSA misbruik word, behels die misbruik van voorgeskrewe medikasie. Dit het nie net betrekking op opsetlike misbruik soos vervalste voorskrifte, mediesefonds-bedrog en swartmark verkope nie, maar ook op foute van geneeshere self en toevallige misbruik van voorgeskrewe medikasie, veral deur bejaardes (sien Perscription Drug Abuse: The Hidden Epidemic, Colvin). Baie waarnemers het bekommerd geraak oor die verbasende toename in die gebruik van Ritalin, ’n medikasie wat slegs op voorskrif verkry kan word en wat algemeen deur geneeshere voorgeskryf word vir kinders wat gediagnoseer is met AAS (Aandag-afleibare Sindroom).

Kafeïen – die aktiewe bestanddeel in koffie, tee en ’n verskeidenheid koeldranke – is heel moontlik die “verdowingsmiddel wat die meeste in die wêreld gebruik word” (Hales, bl. 345). Die inname van groot hoeveelhede kafeïen word tentatief verbind met hartprobleme, knoppe in die bors en blaaskanker. Die inname van groot hoeveelhede kafeïen kan prikkelbaarheid, senuweeagtigheid, slaaploosheid en versteuring van die spysverteringstelsel veroorsaak. Voortdurende gebruik van dranke wat kafeïen bevat, kan tot psigologiese en fisiese afhanklikheid lei (sien Drugs, Society and Human Behavior, Ray & Ksir, bl. 230-232).

Koste verbonde aan misbruik

Baie van die chemiese stowwe wat algemeen gebruik word beskadig die brein, hart en longe van die gebruiker, asook die liggame van die gebruiker se ongebore kinders. Die gebruik van dwelms dra by tot die hoofoorsake van sterftes in die wêreld – hartsiektes, beroerte en verskillende soorte kankers. Dwelmmisbruik plaas ook ’n geweldige finansiële las op die gemeenskap. Die totale beraamde koste verbonde aan dwelmmisbruik in Amerika, bedra meer as $240 miljard per jaar (Colvin, bl. 100). Ook word in die VSA “een uit elke vyf hospitaalbeddens beset deur iemand waar dwelmmisbruik ’n bydraende faktor is” en bykans “50 persent van alle voorkombare sterftes hou op een of ander wyse verband met dwelmmisbruik” (ibid.). ’n Studie uitgevoer deur die Wêreldbank toon aan dat “die gebruik van tabak ’n wêreldwye jaarlikse netto verlies van $200 miljard veroorsaak” (World Health, bl. 23). Dwelmmisbruik en die gevolge daarvan is ’n groot mediese en sosiale probleem.

Waarom gebruik en misbruik jonk en oud reg oor die wêreld egter gevaarlike chemiese stowwe wat onteenseglik die kapasiteit besit om ons breins, liggame, gesinne en uiteindelik ons hele samelewing te beskadig en te vernietig?

Onderliggende oorsake

Geleerdes en joernaliste beweer dat dwelmmisbruik veroorsaak word deur armoede, ’n lae selfbeeld en geneties van aard kan wees. Daar word beweer dat dwelmgebruikersslagoffers van hul omgewing en van oorerwing is. Waarnemers verklein of ignoreer dikwels belangrike bewyse wat duidelik in ’n ander rigting dui. Terwyl sommige mense wel ’n biologiese sensitiwiteit vir alkohol en ander chemiese stowwe mag hê, is daar ook ’n duidelik herkenbare psigologiese aspek verbonde aan dwelmmisbruik – dit behels die keuses wat elke individue self moet maak.

Talle studies wys daarop dat die meeste mense uit nuuskierigheid dwelms begin gebruik het. Baie word gelok deur die illusie dat die wonderlike stof ’n mens gelukkig, uitgaande en selfversekerd sal maak en ook betekenis aan ’n andersins doellose lewe sal gee. Andere soek weer na ’n manier om depressie te hanteer, of na ’n uitweg uit die sorge van die lewe of die eentonigheid van die daaglikse roetine (Hales, bl. 318). Baie mense begin om dwelms te gebruik en te misbruik vir sosiale redes – om in te pas of aanvaar te word, om ’n lae selfbeeld op te kikker, om ’n indruk op ander te maak en om raakgesien te word. Advertensies bevorder die verkeerde idee dat mens dwelms moet gebruik om genot uit die lewe te kan put. Miljoene ontvanklike mense sien die misbruik van dwelms uitgebeeld in rolprente en op televisie. Kultuur speel ook ’n belangrike rol in dwelmmisbruik. Die Russe word byvoorbeeld beskou “as die wêreld se strafste drinkers” – soos die direkteur van ’n kliniek in Moskou beweer, “as jy nie in Rusland drink nie, is daar iets met jou verkeerd” (World Press, November 1997, bl. 44). Baie ander kulture deel hierdie sienswyse!

Die insiggewendste inligting wat tans beskikbaar is kom moontlik uit uitgebreide navorsing onder jong mense. Hulle risiko faktore is hoofsaaklik sosiaal en psigologies van aard – en behels die invloed van ouers en maats, wat die waardesisteem en gedrag van jong mense vorm. Diegene onderworpe aan meer risiko faktore sal meer geneig wees om dwelms te misbruik. Anders gestel, dwelmmisbruik neem toe wanneer individue gebrek het aan positiewe leiding en goeie rolmodelle, nie gesonde waardes handhaaf nie en ’n sterker verwantskap het met negatiewe maats as met ondersteunende ouers.

Navorsing toon aan dat jong mense wat assosieer met nie-aanpasbare maats wat betrokke is in ’n afwykende subkultuur, ’n groter geneigdheid sal openbaar om dwelms te misbruik as jong mense met persoonlikheidsprobleme of wat sosio-ekonomiese probleme ondervind (Ray & Ksir, bl. 13). Terwyl oorerwing ’n faktor mag wees in sommige mense wat ’n afhanklikheid aan dwelms mag ontwikkel, wil dit voorkom asof die vormende invloed van omgewingsfaktore ’n baie groter deurslaggewende rol speel.

Werklike oplossings

Vandag oorheers die mediese model van verslawing die denke van die grootste deel van die Westerse wêreld (sien The Diseasing of America: Addiction Treatment Out of Control, Peele). Hierdie model beweer dat mense wat chemiese middels misbruik, of wat verhoudings-verwante probleme het, slegs die slagoffers is van afwykende gene wat interne chemiese wanbalanse veroorsaak. Hierdie algemeen-aanvaarde teorie bevorder egter die vals idee dat “baie min mense beheer oor hulle lewens het ... Dit verskoon ook wetteloosheid deur die wilde vermenging van morele verantwoordelikhede en siekte diagnose” (Hales, bl. 18). Werklikwaar, baie van die “konvensionele wyshede” oor dwelmmisbruik ondermyn persoonlike verantwoordelikheid. Selfs die meeste programme wat poog om die vermoë in persone te kweek om “nee te sê” vir dwelmmisbruik, is in baie belangrike opsigte onvolledig.

Die bestudering van menslike gedrag het belangrike faktore geïdentifiseer wat verband hou met die voorkoming van dwelmmisbruik. Jong mense wat “godsdienstig is, skool gereeld bywoon, goeie punte behaal, goeie verhoudings met hul ouers handhaaf en wat nie die wet oortree nie, is die studente wat die minste aantoon dat hulle drank en dwelms misbruik” (Ray & Ksir, bl. 13). Sodanige sterk waardes en positiewe gedrag word aanvanklik in die huis aangekweek deur bevoegde en besorgde ouers en ander volwasse lede van die gesin. Die bevordering van positiewe waardes wat persoonlike verantwoordelikhede kweek – deur die regte onderrig, positiewe invloed van maats en deur ’n goeie voorbeeld – is ’n geboekstaafde en bewese metode om dwelmmisbruik te voorkom sowel as om dit te bekamp.

Die storie het egter meer om die lyf! Indien mense “nee moet sê” vir dwelms en ander riskante gedrag, sal hulle baie meer onomstootlike redes moet hê as slegs die begeerte om gesond te bly en om hul selfbeeld te verbeter. In ’n artikel in Unesco Courier, skryf Federico Mayor: “Om die aanvraag na dwelms te beveg, moet ons na die wortel van die probleem gaan en aan die lewe ’n doel gee ... ons moet aan jong mense nie slegs die middele bied om aan die lewe te bly nie, maar ook ’n rede om dit te doen” (Desember 1998, bl. 9). Jonk en oud moet ingelig word oor die persoonlike en sosiale gevolge van dwelmmisbruik en by hulle “weierings-vaardighede” ontwikkel om hul in staat te stel om nee te sê vir aanloklike maar nogtans gevaarlike situasies.

Op ’n meer fundamentele vlak is dit nodig dat ons elkeen die uiteindelike rede verstaan waarom riskante en vernietigende gedrag vermy moet word. Daardie redes word nie in mediese handboeke of in handleidings oor behandeling gevind nie – hulle word in die Bybel geopenbaar.

Die Bybelse dimensie

Deesdae aanvaar mense die algemene filosofie dat, “as dit goed voel, doen dit!” – maar dit is ’n kortsigtige uitgangspunt met gevaarlike gevolge. In ’n betekenislose wêreld het miljoene mense verslaaf geraak aan ’n soeke na nuwe en ander opwindings. Dit is tragies dat ons wêreldse samelewing die geestelike aanwysings weggegooi het wat tot in die fynste besonderhede nie slegs verduidelik hoe ons ons lewens moet leef nie, maar ook die rede waarom ons dit op dié besondere wyse moet leef. Die Bybel toon die weg aan om af te sien van dwelmmisbruik.

Die Heilige Skrif openbaar die ware doel van die lewe en ook die werklike redes waarom ons lewens op ’n besondere manier geleef moet word – deur te weet wanneer om ja te sê en wanneer om nee te sê. In Genesis leer ons dat die Skepper van die ganse heelal ons na Sy ewebeeld geskape het (Genesis 1:26-27) en dat ons alles wat God geskape het, moet bewerk en versorg (Genesis 2:15). Die Bybel sê ook dat die menslike liggaam “vreeslik wonderbaar” geskape is (Psalm 139:14). Christene besef dat hul liggame die “tempel van God is” en weet dat die Skrif waarsku “as iemand die tempel van God skend, sal God hom skend” (1 Korintiërs 3:16-17). Persoonlike aanspreeklikheid en om diegevolge van ons eie dade te dra, is fundamentele temas regdeur die hele Skrif. God het ons ’n vrye keuse gelaat sodat ons kan leer om wyse besluite te neem (verwys na Deuteronomium 30:15-20). Ouers en leiers moet die jonger geslag leer hoe om ’n ware oorvloedige lewe te lei (Deuteronomium 4:6-10, 6:7; Spreuke 22:6). Jong mense moet geleer word – die regte voorbeeld moet aan hulle gestel word – dat God se Wette prakties is (Spreuke 3:1-2). Ervare volwassenes moet die volgende les oordra: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12). Individue moet aangemoedig word om te “sorg dat jy op die regte koers bly, dan sal jy vastigheid in die lewe hê” (Spreuke 4:26, Lewende Bybel), om doelwitte te stel wat die moeite werd is (Mattheüs 6:33), om altyd hul beste te lewer (Prediker 9:10) en om hul vriende sorgvuldig te kies (Spreuke 1:10-19). Die pad na ware geluk behels die neem van wyse besluite (Spreuke 3:13-15) – nie die futiele gesoek na ’n chemiese stof wat betowerende verligting sal bring nie!

Die Bybel gee ook spesifieke riglyne aangaande die gebruik van gewoontevormende stowwe. Die Skrif waarsku by herhaling teen dronkenskap en die misbruik van alkohol (Spreuke 20:1; Romeine 13:13; 1 Korintiërs 5:11; 6:10; Efesiërs 5:17-18; 1 Petrus 4:1-3). Die Bybel erken egter ook die helende eienskappe van alkohol (1 Timotheüs 5:23) en moedig die verantwoordelike gebruik daarvan op verskeie wyses aan (Deuteronomium 14:26; Prediker 9:7; Mattheüs 26:29). Die Bybel staan matigheid voor (Filippense 4:5). As daardie boodskap ontbreek, veral tuis, ontstaan probleme. Jong mense wat sien hoe die misbruik van alkohol en ander dwelms tuis verdra word, is geneig om maats te soek wat dieselfde dinge doen, wat tot voortgesette misbruik lei. Dit sal baie help om die misbruik van chemikalieë te voorkom deur die riglyne van die Bybel te volg!

Die Bybel gee ons nie net redes en spesifieke opdragte om die misbruik van dwelms te voorkom nie, maar gee ons ook persoonlike gevallestudies wat as waarskuwings dien. God het aan Salomo wysheid gegee (1 Konings 3:9-12), maar hy het klaarblyklik party lesse op die harde manier geleer – deur ondervinding! Salomo beskryf sy nuttelose pogings om geluk te vind deur enige fisiese genot wat sy hart ook al begeer, na te jaag – die spreekwoordelike wyn, (Prediker 2:3) vroue en sang. Sy eksperimente was ’n kolossale mislukking en hy het sy lewe begin haat (vers 17).

Watter les het Salomo uiteindelik geleer? “Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam Sy gebooie. Dit is wat van die mens verwag word. God salrekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad” (Prediker 12:13-14, NV). Salomo het hierdie beslissende rede verstaan om dwelmmisbruik te vermy – dat ons deur ons Skepper verantwoordelik gehou sal word vir al ons dade! Wanneer Jesus Christus terugkeer na hierdie aarde, sal Hy diegene wat geleer het om wyse besluite te neem en wat volgens die wette van God geleef het, beloon, maar Hy sal individue en nasies wat daardie wette verontagsaam het, straf (Mattheüs 25:31-34, Openbaring 11:18).

Dwelmmisbruik het die mensdom deur die eeue heen versondig. Navorsing toon egter dat “dwelmverslawing suksesvol behandel kan word indien die pasiënte gemotiveerd is en voel dat hulle iets het om voor te leef ... Individue moet voel dat daar beter dinge in die lewe is as dwelms” (Hales, bl. 369). Die mediese uitgangspunt – deur dit slegs as ’n siekte te behandel – ignoreer die werklike oorsaak van die misbruik. Deur die misbruiker van ’n skuldgevoel ontslae te laat raak, ruim dit faktore uit die weg wat as sterk motivering kan dien om misbruik te vermy of om vernietigende gedrag te verander.

Die Bybel verduidelik dat God diegene sal beloon wat volgens Sy weë wandel en persoonlike gedragsprobleme oorwin. Ons Skepper onthul nie net die ware doel van menslike lewe nie; Hy omskryf ook die weg wat na ’n gelukkige, gesonde, vervulde lewe lei. Wanneer daardie kennis in mense se lewens ontbreek, is dit geen wonder dat so baie onweerstaanbaar aangetrek word deur die versoeking om beneweld te raak nie! Diegene wat hul egter tot God wend, kan genees word van hul verslawing en ander probleme. Hulle kan deur Sy liefdevolle leiding te gehoorsaam, ’n vreugde in hul lewens vind soos wat geen dwelm dit ooit kan verskaf nie!