Die apostel Paulus het aan sy gehore in die eerste eeu hulle bestemming beskryf as om “alle dinge” – die heelal – te beërf en wys daarop dat ons nog nie die volheid van daardie erfenis wat onder die beheer van die mens geplaas is, kan insien nie (Hebreërs 2:8).

Die groot, kosmiese wildernis is inderdaad met ’n verstommende verskeidenheid eksotiese “skeppings” in die hemele bo ons bestrooi – skeppings soos verskillende newelvlekke, sterrestelsels, sterre en planete. Elke een daarvan verheerlik die Skepper op sy eie manier. Ons moet nog die meeste van hulle eerstehands ervaar omdat ons nou nog vasgevang is op hierdie klein planeet in ons klein hoekie van die heelal. Dit het ons egter nie verhinder om alles wat ons kan, te ondersoek en na te vors nie, deur die skandering van die hemele, met behulp van optiese en radioteleskope en die stuur van robot-peilers na naburige wêrelde. Deur die wette van fisika te gebruik, soos ons dit tans verstaan, het ons selfs die kosmos deur middel van wiskunde verken en die berekenings gevolg waarheen hulle ons ookal gelei het – na wat ookal hulle ons gelei het – hoe fantasties en vreemd die resultate mag wees.

Binne daardie deel van die diverse versamelings wat ons ondersoek het, is geen voorwerp wat deur wiskundige navorsing ontdek is, meer eksoties as swart gate nie, wat deur Albert Einstein se teorie van algemene relatiwiteit voorspel is, nog voordat dit ontdek is. Dit beskik oor bykans onbegryplike vernietigende krag maar speel moontlik ’n fundamentele rol in die struktuur van die heelal. Hierdie vreemde en intimiderende voorwerpe illustreer die majesteit en krag van ’n Almagtige God wat sulke “monsteragtige verskynsels” deur Sy wil en Woord tot stand kan bring.

Terwyl swart gate nog gehul is in baie geheimenisse, laat ons hulle vir ’n oomblik ondersoek – verseker van ’n veilige afstand af – en probeer om ’n vlugtige blik op hulle Skepper te kry Wie in die krag en wysheid van Sy werke vertoon word.

Gebore in ontsaglike kosmiese omwenteling

Soos ons dit verstaan, is swart gate die onvermydelike gevolg van die dood van sommige sterre.

Sterre, soos ons eie kolossale son, is massiewe balle gas in die ruimte. Hulle massa is sodanig dat swaartekrag die gas so sterk laat saampers dat kernfusie plaasvind, waarin atome saamgepers word om nuwe atome te maak. Hierdie aktiwiteit stel groot hoeveelhede energie vry, wat veroorsaak dat die ster soveel lig en hitte uitstraal dat, selfs al is die son 93 miljoen myl (of 150 miljoen kilometer) ver weg, mense op Aarde sonbeskerming benodig om nie te brand nie!

Die geweldige swaartekrag wat die ster se gasse saamtrek, word teengewerk deur die uitstraling van die gevolglike energie wat uitwaarts vloei. Mettertyd word die brandstof van die ster opgebruik. Wetenskaplikes glo dat sterre soos die son uiteindelik uitswel en dan inkrimp tot ’n baie kleiner grootte en baie koeler temperatuur soos wat hulle brandstof toenemend uitgeput raak. Groter sterre – wat byvoorbeeld agt keer groter as die son of nog selfs groter is – ondervind ’n baie gewelddadiger einde, wat supernovas genoem word, waarin die buitenste lae van die ster in die ruimte ontplof en ’n digte kern agterlaat.

Indien daardie digte oorblyfsel-kern nie meer as drie tot vyf keer die massa van die son is nie, kan dit saamtrek tot wat ’n neutronster genoem word – ’n voorwerp wat so dig is dat ’n stukkie daarvan, wat nie groter as ’n suikerblokkie is nie, 200 miljoen ton kan weeg! Indien die kern egter selfs groter is as dit, bereken Einstein se teorie dat dit tot iets nog baie vreemder as ’n neutronster sal lei.

In so ’n geval is die massa van die oorblyfsel-kern van die oorspronklike ster so groot dat die swaartekrag voortgaan om dit tot ’n enkele, ondenkbare digte puntjie saam te pers – ’n merkwaardigheid wat as ’n swart gat bekend staan.

Ontsagwekkende vernietigende krag

Swart gate troon uit as van die kragtigste voorwerpe in die heelal. Hulle ongelooflike massa – saamgepers tot ’n oneindige puntjie in die ruimte – veroorsaak ’n gravitasieveld wat so sterk is dat selfs lig nie vinnig genoeg is om uit sy ontsaglike greep te ontsnap nie.

Terwyl die mensdom geleer het om van sy eie planeet se aantrekkingskrag te ontsnap en voorwerpe die ruimte in te stuur deur gebruik te maak van kragtige vuurpyle, is daar geen vuurpyl vinnig genoeg om ’n swart gat te ontwyk nie! Alhoewel fotone van lig die vinnigste sub-atomiese deeltjies in die heelal is, sal selfs ’n ligstraal wat binne ’n sekere afstand van ’n swart gat beweeg – ’n afstand wat bekend staan as die Schwartzchild-radius – ingetrek word. Dit is hierdie eienskap, wat so kragtig is dat selfs lig nie kan ontsnap nie, wat swart gate hulle naam gegee het: Hulle is donker voorwerpe waarin materie en energie “inval” en nie kan ontsnap nie, wat alles vernietig wat te naby kom – selfs sterre!

Omdat selfs lig vasgevang word, kan swart gate nie deur gewone teleskope gesien word nie. Ons het egter die gevolgtekens van swartgataktiwiteite ontdek. Voorwerpe wat byvoorbeeld in swart gate val en deur die geweldige swaartekrag verpletter word, straal dikwels kragtige storms energie uit terwyl dit in die swart gat rondwentel voordat dit uiteindelik ingesluk word. Wetenskaplikes deursoek die hemele vir sodanige tekens in hulle pogings om hierdie kosmiese monsters op te spoor.

Soos wat meer omringende materie in ’n swart gat ingetrek word, neem dit toe in massa, grootte en trefwydte totdat daar geen nabygeleë materiaal meer is om in te sluk nie. Trouens, wetenskaplikes het baie verskynsels in die ruimte geïdentifiseer wat die beste verklaar kan word deur die teenwoordigheid van swart gate wat na raming meer as tien miljard keer so massief as die Son is.

Van gulsige vreter tot oorsprong

Swart gate kan ook die teenstrydigheid in Simson se raaisel weerspieël, soos aangeteken in Rigters 14:14, “Spys het uit die eter uitgegaan” wat verwys na die heuning wat hy in die karkas van ’n leeu gevind het.

Ten spyte van al die krag om te verslind en te vernietig, vervul swart gate blykbaar ook ’n fundamenteel belangrike rol in die ondersteunende struktuur van ons heelal, waarsonder daar geen lewe in die kosmos sou kon wees nie.

Wanneer astrofisici hulle aandag vestig op die sterrestelsels wat ons heelal bevolk en op plekke groepeer waar sterre en planete moontlik kan vorm, vind hulle dikwels super massiewe swart gate in die middelpunt van die sterrestelsels! Volgens verskeie beramings lê daar in die middel van ons eie Melkweg-sterrestelsel ’n swart gat so massief soos vier miljoen sonne.

Daar word geglo dat hierdie kragtige, kolossale voorwerpe dien as oorsprong vir die vorming van sterrestelsels en ankers wat aan sterrestelsels samebinding, struktuur en vorm gee. Studies dui daarop dat die groottes van sterrestelsels en die spoed waarteen hulle sterre rondom die sterrestelsel se middelpunt beweeg, gekoppel kan word aan die massa van die swart gat by elke sterrestelsel se kern.

Dit is moontlik dat hierdie vreemde en fassinerende voorwerpe – wat kan lyk na ’n soort donker interstellêre engele van die dood – eintlik deur God ontwerp is om lewegewende rolle te vervul as kritiese en onontbeerlike boublokke vir die sterrestelselsstrukture wat sterre en planete soos ons s’n, in staat stel om in die heelal te floreer.

In Psalm 104 loof koning Dawid God vir Sy skepping en beskryf die see “groot en alkante toe wyd” waarin talle wesens, soos die vreesagtige en geheimsinnige Leviatan, vry was om rond te beweeg en te speel (verse 25-26). Dalk kan swart gate, hierdie leviatans van die kosmiese ruimte, gesien word as dat hulle soortgelyke eer en glorie aan hulle Skepper gee.