Die lewe van vandag kan ongelooflik stresvol wees. Beskerming, rus en gerusstelling blyk ons te ontwyk waar ons ookal soek. Ons almal smag na ’n gelukkige, tevrede gemoedstoestand, maar so baie van ons vind dat dit voortdurend buite ons bereik is. Is daar daadwerklike stappe wat ons kan neem om geluk te vind in ’n toenemend ongelukkige era?

Wanneer ons na die wêreld rondom ons kyk, is dit duidelik dat iets verkeerd is. Dink aan die Verenigde State. Indien die burgers van so ’n welvarende nasie nie gelukkig kan wees nie, wie kan dan wees? In baie opsigte word die V.S. deur die wêreld beny – finansieel welvarend met rykdom waarvan baie ander nasies net kan droom – selfs hul armstes is onder die meer gegoede mense op ons planeet. Wat veiligheid betref, word dit deur twee groot oseane beskerm, om nie eers daarvan te praat dat dit op militêre gebied die magtigste land in die wêreld is nie. Nege-en-negentig persent van die nasie is geletterd, voedsel is volop en werksgeleenthede is byna op ’n rekord hoogtepunt. Tog ondervind die V.S. tans ’n selfmoord-epidemie.

Die Amerikaanse Sielkundige Vereniging sê: “Die selfmoordsyfer het vanaf 1999 tot 2017 met 33% gestyg van 10,5 tot 14 selfmoorde per 100,000 mense ... Hierdie syfer het veral sedert 2006 skerp gestyg. Selfmoord is die vierde grootste oorsaak van dood van mense tussen 35 en 54 jaar en die tweede grootste oorsaak van dood van 10-jariges tot 34-jariges. Dit bly oor die algemeen die tiende grootste oorsaak van dood” (“Worrying trends in U.S. suicide rates,” Monitor on Psychology, Maart 2019).

’n Enkele politieke party of presidensiële administrasie kan nie geblameer word vir hierdie dekade-lange tendens nie. Dit kan nie aan enige enkele gebeurtenis of omstandigheid toegeskryf word nie. Dit dui op iets dieperliggend. Dit lyk asof jongmense die meeste geraak word. Soos die U.S. News and World Report berig: “Adolessente depressie is aan die toeneem. Die Nasionale Instituut van Geestesgesondheid berig dat ongeveer 3,2 miljoen 12-jariges tot 17-jariges in 2020 minstens een ernstige episode van depressie gehad het. Tieners wat depressief is, sukkel ook dikwels met angs en dwelmmisbruik en dit is waarom die vroeë opsporing van gemoedsversteuring moeilik kan wees”. ’n Studie wat in die Journal of Abnormal Psychology gepubliseer is merk op dat “oor die afgelope dekade die aantal jong mense met gemoedsversteurings, meer as verdubbel het”. (“What’s Driving the Rise in Teen Depression?,” U.S. News and World Report, 22 April 2019).

Dit gaan nie oor die geld nie

Hoe kan ’n volk wat geseënd is met soveel oorvloed en vooruitsigte, gebuk gaan onder soveel depressie en hopeloosheid? Hoe kan soveel gegoede en genoeglike mense nie vreugde vind nie? Dit is duidelik dat die V.S. ’n lewende bewys is dat vreugde nie gevind word in die versameling van ’n oorvloed fisiese dinge nie.

Dit is egter goeie nuus! Waarom? Omdat dit daarop dui dat vreugde veel eerder ons eie besluit is, dit wil sê baie meer binne ons eie beheer is as wat die meeste mense besef. Of ons ryk of arm, gesond of siek, jonk of oud, ekstrovert of introvert is, ons kan stappe neem om die tevredenheid, vrede en vreugde wat ons begeer, te bereik.

In die res van hierdie artikel bespreek ons sewe stappe wat ons kan neem om meer vreugde in die lewe te vind. Sommige daarvan lyk amper te maklik om waar te wees. Ander kan stappe wees wat u alreeds weet u behoort te neem, maar wat u steeds uitstel. Ander stappe sal u miskien verras en dit sal selfs aanvanklik moeilik lyk om te glo. Al die stappe behels egter optrede waarmee ons vandag kan begin. Laat ons kyk na die volgende stappe wat ons kan neem om meer blywende vreugde in ons lewens te bring.

Stap een: Kry koers na die park

Dalk is u nie ’n “buitelug” mens nie. Ek is eerlikwaar nie een nie – ek geniet my lugversorging en my gemakstoel! Dit is egter ’n soort verjongingskuur om gereeld tyd af te staan om ’n deel van God se skepping te ervaar. Bestee dus tyd daaraan om die natuur te geniet.

Koning Dawid van Israel het die natuur dikwels met positiewe emosies geassosieer. Wanneer hy nagedink het oor die wyse waarop die Messias se komende regering die wêreld sal verander, is hy so ontroer dat hy digterlik gepeins het oor die reaksie van die natuur: “Laat die hemele bly wees en die aarde juig; laat die see en sy volheid bruis. Laat die veld juig en al wat daarin is; dan sal al die bome van die bos jubel voor die aangesig van die HERE” (Psalm 96:11-13).

In ons wêreld van staal en beton, kunsmatige lig, plastiese toerusting en gereedskap, asook konstante aandag-afleibare dinge, kan dit ’n uitdaging wees om van tyd tot tyd tot stilstand te kom en in die natuurlike omgewing in te gaan om in aanraking te kom met die natuur en die Skepper daarvan. Studies toon nogtans dat sulke pogings ons tyd werd is. Navorsers van die Universiteit van Harvard het die verband tussen vreugde en die natuurlike omgewing erken: “Dit is nie duidelik presies waarom buitelug-uitstappies so ’n positiewe geestelike effek het nie. In ’n 2015-studie het navorsers gesonde mense se breinaktiwiteit vergelyk nadat hulle 90 minute lank in die natuur óf in ’n stedelike omgewing gaan stap het. Hulle het bevind dat diegene wat ’n wandeling in die natuur onderneem het, laer aktiwiteit in die prefrontale korteks getoon het. Hierdie is ’n breinstreek wat aktief is wanneer ’n mens broei oor iets wat omskryf word as herhalende kommergedagtes wat op negatiewe emosies fokus” (“Sour mood getting you down? Get back to nature,” Harvard Men’s Health Watch, Julie 2018).

God het aan ons ’n wonderlike natuurwêreld gegee wat Sy teenwoordigheid aantoon, alhoewel ons hard gewerk het om baie daarvan met beton en asfalt te bedek! Indien ons ’n stap wil neem in die rigting van toenemende vreugde in ons lewens, behoort ons gereeld tyd te spandeer om die natuur te geniet.

Stap twee: Verminder tyd op sosiale media

Om die eerste stap te volg sal ons meer dikwels wegkry van ons skootrekenaars en slimfone, wat verband hou met ’n tweede stap om meer vreugde te vind: Skakel sosiale media af.

Hoeveel van ons is nie aan Facebook, Instagram, Twitter of Snapchat verslaaf nie? Indien u dink dat u nie verslaaf is nie, probeer dan ’n week daarsonder klaarkom; u mag dalk verbaas wees! Ironies genoeg, alhoewel sosiale media aangeprys word as ’n manier om ons almal nader aan mekaar te bring, het studies getoon dat dit mense se eensaamheid en ongelukkigheid dikwels verhoog.

In 2018 het dr. Melissa Hunt van die Universiteit van Pennsilvanië, die resultate van haar navorsing oor die gevolge van sosiale media gepubliseer. Sy het spesifiek die effek van verminderde gebruik van Facebook, Instagram en Snapchat ondersoek. Sy het opgemerk dat: “Deur sosiale media minder te gebruik as wat u normaalweg sou, tot ’n aansienlike afname in depressie en eensaamheid lei. Hierdie gevolge is veral meer beduidend by mense wat meer depressief was toe hulle in die studie ingekom het” (“Social media use increases depression and loneliness, study findsScienceDaily.com, 8 November 2018).

Omdat dr. Hunt bewus was van die feit dat haar bevindings baie mense sou verras, het sy gesê: “Dit is ietwat ironies dat om u gebruik van sosiale media te verminder, u in werklikheid minder eensaam sal voel ... Sommige van die bestaande literatuur met betrekking tot sosiale media, dui daarop dat daar ’n geweldige mate van sosiale vergelyking plaasvind. Wanneer u na ander mense se lewens kyk, veral op Instagram, is dit maklik om die afleiding te maak dat hulle lewens interessanter of beter as u eie is”. (Ibid.)

Nie dr. Hunt óf ons by die Wêreld van Môre, stel voor dat ons alle sosiale media moet laat vaar nie. Nietemin toon studies onteenseglik daarop dat om minder tyd op media te bestee, ons dikwels gelukkiger word. Gerald Weston, die Hoofredakteur van hierdie tydskrif, bespreek hierdie onderwerp breedvoerig in die Maart-April 2019 Wêreld van Môre-artikel: “Tem die sosiale media monster”, wat u ook op wvm.co.za kan vind.

Stap drie: Versorg u liggaam goed

Indien u ’n derde stap na toenemende vreugde wil neem, neem verantwoordelikheid vir u gesondheid. Ons leef in ’n tyd waarin die wetenskap en medisyne ongelooflike kennis oor die menslike liggaam aan ons beskikbaar stel en hoe ons kan bydra om op sy beste te presteer, maar tog leef ons skynbaar teenstrydig in ’n tyd waarin min mense na hulle gesondheid omsien!

Dink byvoorbeeld aan die seën van ’n goeie nagrus! Antieke koning Dawid het van slaap gepraat as ’n Godgegewe seën (Psalm 127:2). Tog sien ons mense rondom ons wat hulle slaap opoffer vir hulle werk, vir kortstondige plesier en selfs vir slimfone. Ongereelde slaappatrone benadeel ons gesondheid sowel as ons vreugde.

In Junie 2017 het ScienceDaily oor ’n studie berig wat daarop dui dat daar ’n direkte verband bestaan tussen gereelde slaapgewoontes en vreugde, selfs wanneer die hoeveelheid slaap nie voldoende is nie. “Die resultate toon dat vaste slaappatrone duidelik verband hou met ’n hoër staat van vreugde in die oggend en aand, asook met goeie gesondheid en kalmte gedurende die week. Om te verander van ’n ongereelde weeklikse slaappatroon na ’n vaste patroon was ook geassosieer met verbeterde welstand gedurende die week van gereelde slaap, asook die dag daarna”, (“Sleep regularity is important for the happiness and well-being of college students,” ScienceDaily.com, 5 Junie 2017).

Navorsers het bevind dat selfs wanneer die slaaptyd nie verleng kan word deur elke dag dieselfde tyd bed toe te gaan en op ongeveer dieselfde tye elke dag op te staan nie, kan mense se gevoel van vreugde, gesondheid en rustigheid verbeter. Ons is fisiese wesens en wanneer ons aandag aan ons fisiese behoeftes gee, sal dit ons meer geleenthede gee om vreugde te vind!

Swak gesondheid is ons grootste bron van spanning en ongelukkigheid en dit is natuurlik so dat baie van ons aan siektetoestande ly wat buite ons beheer is. Indien ons nogtans probeer om alles te doen wat ons kan, sal ons die voordele daarvan in ons gemoedstoestand opmerk. Wanneer ons ons liggame goed versorg, kan ons baie meer vreugde vind as wat sommige mense sou verwag, selfs te midde van andersins moeilike gesondheidsuitdagings.

Ons volgende stap mag u dalk verras, maar dit is baie belangrik – veral vir diegene wat swaarkry en in die versoeking kom om tou op te gooi as gevolg van gevoelens van wanhoop en neerslagtigheid.

Stap vier: Wees onophoudelik dankbaar

Ons kan soms in die versoeking kom om stil te staan by die probleme in ons lewens. Niemand se lewe is volmaak nie en dit is maklik om depressief te raak wanneer ons ons lewens met ander mense s’n vergelyk. Ons het vroeër opgemerk dat dit een van die gevare van oormatige gebruik van sosiale media is. So moeilik as wat dit vir sommige mense mag lyk, veral te midde van moeilike omstandighede, is daar tog ’n belangrike stap wat ons almal kan neem om meer tevredenheid met die lewe en ons vreugde te ervaar: Beoefen aktiewe dankbaarheid te alle tye.

Dit is maklik genoeg om dankbaar te wees wanneer ons gelukkig en suksesvol is. Waarvan ek egter praat, is die stap van aktiewe beoefening en groei van ’n ingesteldheid waarin ons te alle tye dankbaar is – selfs tydens ons beproewings asook om van dankbaarheid gebruik te maak as ’n instrument om ons vreugde te laat toeneem!

Die apostel Paulus was geïnspireer om die Christene aan te moedig wat in Thessaloníka gewoon het: “Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle” (1 Thessalonicense 5:16-18). Studies het getoon dat wanneer ons hierdie opdrag gehoorsaam en in alle omstandighede dankbaar is, dit ’n kragtige manier is om vreugde en welstand te bevorder!

In sy boek Thanks! How Practicing Gratitude Can Help Make You Happier, skryf die sielkundige, Robert Emmons, oor die voordeel daarvan om doelgerig en doelbewus dankbaarheid aan te kweek. Emmons merk op dat “alhoewel die emosie selfs vir my eenvoudig gelyk het toe ek met my navorsing begin het, het ek gou ontdek dat dankbaarheid ’n dieper, meer ingewikkelde verskynsel is wat ’n kritieke rol in menslike vreugde speel. Dankbaarheid is letterlik een van die min dinge wat mense se lewens opvallend kan verander” (bl. 2).

Dr. Emmons en sy kollega Michael McCullough aan die Universiteit van Miami “het wetenskaplike bewyse gevind dat wanneer mense gereeld besig is om stelselmatig dankbaarheid aan te kweek, hulle ’n verskeidenheid meetbare voordele ervaar: sielkundig, fisies en interpersoonlik ... [In] sommige gevalle het mense gerapporteer dat dankbaarheid tot transformerende lewensveranderings gelei het” (bl. 3). Emmons het gevind dat hierdie lewensveranderings nie net hulle verbeelding was nie, maar dit is bevestig deur die getuienisse van hierdie individue se wederhelftes, vriende en gesinne.

In sy navorsing het Emmons dankbaarheid gedefinieer as erkenning van die goeie in ons lewens en ook om te erken dat die Bron van daardie goedheid buite onsself is – dit wil sê dat dankbaarheid tot iemand anders gerig moet wees. Hy het bevind dat dit veral belangrik is dat ons dankbaarheid moet beoefen vir ons seëninge gedurende beproewings en moeilike tye, wanneer hierdie seëninge juis die moeilikste is om te vind. Soos dr. Emmons skryf: “Om in elke situasie te soek en dankbaar te wees vir wat positief is, is om los te breek van die wurggreep van wanhoop” (bl. 184).

Ja, toe die apostel Paulus gesê het ons behoort in alles dankbaar te wees, het hy geweet waarvan hy praat!

Stap vyf: Laat God weet

Nie een van ons kan voorgee dat ons nie deur moeilike tye gaan nie. Dit is so. Die lewe kan moeilik wees en die redes om bekommerd te wees of angstig te voel, volg dikwels die een na die ander in ’n aanhoudende versameling van bekommernisse. Ons kan dankbaar wees dat God se Woord ons ’n vyfde stap gee om ’n gelukkiger en rustiger gemoedstoestand in die hand te werk: Bid oor u bekommernisse.

In hoofstuk 4 van Filippense, wat een van die bemoedigendste boeke in die Bybel is, lees ons: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (verse 6-7).

Dit behels die danksegging van ons vorige stap, maar ook meer as dit. God sê dat ons ons danksegging en ons versoeke laat “bekend word by God.” Een van ons grootste bronne van vreugde en bemoediging is die wete dat ons Verlosser ons liefhet en vertrou kan word met al ons besorgdhede! Die apostel Petrus moedig ons aan, “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:6-7).

Natuurlik moet ons God se reaksie op ons bekommernisse vertrou, deur te glo dat Hy die wysheid het om te sien wat ons nie sien nie en die krag het om op te tree hoe Hy ookal moet. Let daarop dat ons gebed tot God nie net ’n “uitlaatklep” is nie. Terwyl ons Hom bedank, Hom prys vir wie Hy is en ons sorge aan Hom opdra, is dit nodig dat ons onsself verootmoedig namate Hy ons Sy vrede gee, terwyl ons volle vertroue het dat Hy ons op Sy manier en op Sy tyd sal verlos. Watter groter vreugde kan daar wees as om te weet dat ons ’n Verlosser het wat oppermagtig in ons lewens is, op wie se besluite en liefde ons kan staatmaak?

Stap ses: Glo die beloftes van die Skrif

In ons vorige stap het ons gesien dat dit nodig is om met “smeking” te bid. Ons behoort die Here te vra om in ons behoeftes te voorsien. Hoe weet ons dat Hy dit sal doen? Die Bybel is vol wonderlike beloftes vir diegene wat die Skepper-God en Sy Seun, ons Verlosser, soek en vir wie Sy toekomstige Koninkryk die prioriteit in hulle lewe is. Ons volgende stap is om daardie beloftes te glo en dit op te eis!

God se beloftes kan elke gebied van ons lewens verander. Hierdie beloftes het betrekking op gesondheid en veiligheid vir ons en ons geliefdes, ja, maar nog baie meer. Dit bied ware gemoedsrus en ’n toekoms vêr bo dit wat ons ons selfs kan voorstel! Inderdaad, die Bybel bevat soveel beloftes waarvan ons net ’n breukdeel in die beperkte spasie van hierdie artikel kon noem. U wil dalk Richard F. Ames se inspirerende artikel Oorleef en floreer in tye van spanning, in die September-Oktober 2020 uitgawe van die Wêreld van Môre lees. Dit is ook beskikbaar op wvm.co.za.

Ons weet hoe vertroostend dit is om vertroue in ’n ouer of eggenoot te hê wat wonderlike beloftes maak en dit nakom. Hoeveel te meer behoort ons dankbaar te voel dat die God van die heelal, wat geen menslike swakhede het wat ons kan teleurstel nie, beloftes gemaak het wat Hy verseker gestand sal doen. Namate ons die beloftes van God glo en sien hoe dit in ons lewens vervul word, sal ons uit ’n verstommende Bron van vreugde, vrede en tevredenheid put!

Die sewende stap wat ons kan neem om toenemende vreugde te ervaar, is waarskynlik die kragtigste van al die stappe en tog is dit ook die een wat ons nie sou verwag nie: omdat dit glad nie die soeke na vreugde behels nie!

Stap sewe: Streef na ’n doel groter as uself

In hulle strewe na vreugde ontdek baie mense nooit die lewensbelangrike waarheid dat vreugde op sigself nie ons doelwit kan wees nie. Inderdaad, hoe vuriger ons ware en blywende geluk najaag, hoe meer sal dit ons geheel en al ontwyk! Goedkoop en tydelike vreugde kan maklik in die hande gekry word, maar hoe meer ons direk na diepe vreugde soek, hoe minder kan ons dit vind.

Waarom? Omdat blywende, betekenisvolle en diepgaande vreugde ’n bykomende produk is van wat ons doen, nie ’n doel op sigself nie! Die neweprodukte wat tevredenheid, vrede en vreugde is, word die beste gevind deur af te sien van die soeke daarna en om in plaas daarvan ons sewende stap te neem naamlik om deel te wees van iets groter as onsself.

Die dramaturg, George Bernard Shaw, het uitstekend oor hierdie beginsel geskryf: “Dit is die ware lewensvreugde ... deur self te erken dat ons gebruik word vir ’n doel groter as onsself ... om ’n natuurkrag te wees in plaas van ’n koorsagtige, selfsugtige klein stommerik met kwale en griewe waaroor ons kla en dat die wêreld homself nie daaraan wil wy om hóm gelukkig te maak nie” (Man and Superman, bll. xxxi-xxxii).

Die wyse koning Salomo skryf dat God die ewigheid in ons harte geplaas het (Prediker 3:11). Iets diep binne ons wil weet dat ons aan iets groter as onsself verbonde is. Daar is ’n vreugde in daardie verband wat op geen ander manier vir ons beskikbaar is nie.

Uiteraard is daar geen groter bydrae wat ons tot Jesus Christus se eie bydrae kan lewer as om die Evangelie van die Koninkryk van God aan die wêreld te verkondig nie. Daardie poging het aan die apostel Paulus ’n gevoel van tevredenheid en doelgerigtheid gegee wat hom deur vreeslike tye van lyding en onsekerheid gedra het.

Selfs toe hy in die gevangenis was en gevaar geloop het om sy lewe te verloor, het Paulus so ’n onwrikbare vrede en ’n hartstogtelike vreugde gehad dat hy tydens sy verhoor voor koning Agríppa – in kettings en omring deur aanklaers – verkies het om homself nie te verdedig nie, maar om in plaas daarvan die Evangelie te verkondig. Die koning was geraak deur Paulus se woorde en het gesê dat Paulus hom amper oortuig het om ’n Christen te wees en Paulus het met vrymoedigheid geantwoord: “Ek sou wel God wil bid dat sowel byna as heeltemal nie alleen u nie, maar ook almal wat my vandag aanhoor, so mag word soos ek is, buiten hierdie boeie” (Handelinge 26:29).

Ja, selfs in die gevangenis en in kettings, het Paulus gewens hy kon met Agríppa en almal, die vreugde, vertroue en geluk deel wat hy gevind het deur te weet wat sy doel is en om tot die Werk van God in die wêreld te kon bydra, deur die wonderlike Waarheid van God se komende Koninkryk te deel.

Ons vind betekenis en deur betekenis te vind, vind ons vreugde wanneer ons deel van iets is wat werklik groter as onsself is – ons gesinne, ons geliefdes, ons gemeenskappe en uiteindelik ons God, Sy werk en Sy uiteindelike doel vir ons lewens naamlik om vir altyd deel van Sy gesin in Sy Koninkryk te wees. Wanneer ons onsself daaraan toewy om diensbaar te wees in die strewe na groter doelwitte, kom vreugde natuurlik en baie dieper as wanneer ons dit as ’n doel op sigself soek.

Sal u al sewe van hierdie stappe in u lewe in werking stel? Wanneer u dit doen, sal u op pad wees na vreugde, soos u dit nog nooit vantevore geken het nie – nou en vir ewig.