Vraag: Waarom fokus die Wêreld van Môre meer op eindtyd-gebeure as op die evangelie? Is u apokaliptiese fokus nie ongesond vir 'n Christen in die hedendaagse wêreld nie?

Antwoord: 
Die Wêreld van Môre fokus wel op die evangelie wat Jesus Christus verkondig het—die evangelie van die Koninkryk van God. Daardie evangelie is 'n boodskap van hoop, wat vertel van 'n tyd wanneer die mensdom in vrede en harmonie sal leef en deur Jesus Christus regeer sal word. Baie mense wat hulself Christene noem, verkondig slegs een gedeelte van Sy boodskap—'n boodskap oor Christus as persoon, eerder as oor wat Hy gepreek het. In teenstelling daarmee, streef die Wêreld van Môre daarna om die “hele raad [plan]” van God te preek.

In vandag se geweldgeteisterde wêreld, het “apokalipties” 'n nuwe betekenis van onheil en voorspelling aangeneem. Die Griekse woord apokalupsis beteken egter bloot “openbaring”— en dit is die titel van die laaste boek in u Bybel! Christus se volgelinge is vredemakers (Mattheus 5:9). Christus se woorde in die vier Evangelieverhale—en die “apokaliptiese “ boek Openbaring—maak dit duidelik dat ware Christene nooit wapens sal opneem teenoor ander mense nie. Christene verdedig hulself nie met instrumente van geweld nie, maar eerder met die geestelike wapenrusting van God (Efesiërs 6:11-18), selfs terwyl traumatiese gebeure aan die einde van die tyd al nader kom.

Christus se dissipels het Hom gevra hoe hulle die einde van die tyd kon uitken. Hy antwoord: “Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is 'n begin van die smarte. Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheus 24:5-14).

Geen ware Christen kan ontken dat Jesus 'n tyd van groot moeilikheid vir die wêreld voorspel het nie, maar Hy het dit egter met 'n positiewe doel gedoen, om ons in te lig dat Sy tweede koms totale uitwissing sal voorkom (Mattheus 24:22) en 'n tydperk van duisend jaar se gelukkige en vredevolle lewe onder Sy heerskappy op aarde sal inlei, waarna God almal wat nooit vantevore Sy Waarheid gehoor het nie, sal opwek sodat hulle hul eerste kans tot saligmaking kan hê (Openbaring 20:5-6). Dit is 'n boodskap van uiterste vrede en hoop!

Daar is selfs 'n meer verbasende aspek tot Jesus se boodskap van hoop. Diegene wat Sy offer aanvaar en Hom toelaat om Sy lewe binne-in hulle te leef, sal Hom bystaan as konings en priesters om die mensdom gedurende die millennium van diens te wees (Openbaring 5:10). Wat beteken dit om Christus binne-in ons te laat leef? Soos die apostel Paulus skryf: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20). Christene wat vandag leef deur die geloof van Christus, beleef 'n voorsmaak van hoe die lewe onder Jesus Christus se heerskappy in die millennium sal wees. Dit is die boodskap van hoop en dit is die ware evangelie—die evangelie van die Koninkryk van God—wat Jesus Christus verkondig het. Dit is die fokus van die Wêreld van Môre.