Waarvoor berei u geloof u voor?


Het u al ooit vir ’n oomblik stilgestaan, u lewe in oënskou geneem en uself gevra: “Wat is ek besig om met my lewe te doen? Sal dit waarmee ek nou besig is werklik saak maak wanneer ek weg is?”

Is daar ’n groter doel met die lewe? Pas u lewe in ’n groter beeld?

Wat beteken u godsdiens vir u? Vir baie mense in die wêreld beteken godsdiens weinig meer as om goed te wees, vriendelik te wees met vriende en bure en te hoop om “hemel toe te gaan” wanneer hulle sterf. Hulle gaan kerk toe wanneer die “gees hulle beweeg” of wanneer hulle ’n behoefte het om “meer geestelik” te wees. Hulle sluit dikwels by ’n kerk aan om aan ’n groep te behoort of saam met vriende te wees. Mense bid wanneer tye swaar is, of wanneer hulle in die moeilikheid beland. Hulle mag praat van “God liefhê,” maar in die praktyk blyk dit dat hulle meer bekommerd is oor werk, familie of om plesier na te jaag, maar wat die groter beeld betref, kom die sorge van hierdie lewe as groot genoeg vir baie mense voor!

Daar steek egter meer in die lewe as om ’n werk te kry, kinders groot te maak en om persoonlike plesier na te jaag. Ware Bybelse godsdiens behels meer as bloot “u hart aan die Here gee”, kerk toe gaan en die verwerwing van persoonlike verlossing. Daar is meer om oor te bid as ons eie probleme. Ongelukkig het die groter beeld die aandag van die meeste mense in die wêreld ontwyk. Daardie geheelbeeld is in die skadu gestel deur die idees wat afkomstig is van die hoofgodsdienste van die wêreld – insluitend wat baie mense die “Christendom” noem. Ons moet twee beslissende vrae vra: “Verstaan ons wat die ware Bybelse godsdiens behels?” en “Sien ons die geheelbeeld?”

Die verhaal begin

Die bladsye van die Bybel openbaar die geheelbeeld waaroor die lewe gaan en hierdie tema – wat regdeur die Skrif gaan – is die kern van ware Bybelse godsdiens. Toe God ons eerste ouers geskape het, het Hy verduidelik dat mense gemaak is “volgens Sy beeld” en dat hulle bestem is om “te heers” oor die aarde (Genesis 1:26-28). God het ons geskape om te leer om onsself en uiteindelik ook hierdie aarde te beheer en te regeer. Hy het niks gesê van hemel toe gaan nie. Toe God met Abraham en sy vrou Sara begin werk het, het Hy gesê dat hul afstammelinge ’n groot nasie sou word, ’n seën vir die mense van die wêreld en voorvaders van konings (Genesis 12:1-3; 17:15-16). God sê aan Abraham ten einde daardie doel te bereik: “Lewe naby My en wees opreg!” (Genesis 17:1, NV). Om opreg [perfek, onberispelik, sonder vlek] te word, sou beteken dat hy moes leer om ’n leefwyse te volg wat gehoorsaamheid aan God se gebooie, insettinge en verordeninge insluit (Genesis 26:5). God het ook aan Abraham opdrag gegee om hierdie leefwyse aan sy familie en afstammelinge te onderrig (Genesis 18:17-19). Dit is hoe Abraham se nageslag ’n groot nasie sou word en waarom hulle ’n seën vir die mensdom sou wees. Dit is die geheelbeeld wat God aan Abraham en sy nageslag openbaar het.

Toe God die Israeliete uit Egipteland gelei het, het Hy dieselfde geheelbeeld aan hulle verduidelik. By Sinai het God gesê: “As júlle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En julle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees” (Eksodus 19:5-6). Eksodus 20-23 gee die wette weer waaraan hulle gehoorsaam moes wees. Moses verduidelik later aan die Israeliete dat indien hulle “die gebooie van die HERE julle God ... onderhou”, hulle in die wêreld sal uitstaan as ’n “groot nasie” en ’n “wyse en verstandige volk” (Deuteronomium 4:1-10). God het beplan om die Israelitiese nasie te gebruik om te wys dat voordele voortspruit deur hierdie leefwyse – ware godsdiens – na te volg. Die Israeliete het ook opdrag gekry om hierdie leefwyse aan hul nageslag te onderrig. Moses het ook die kinders van Israel vermaan om opreg [onberispelik, perfek] te wees, wat beteken het dat hulle moes wegdraai van die weë van hierdie wêreld en moes leer om ontsag vir God te hê, in Sy weë te wandel en Sy gebooie en insettinge te onderhou (Deuteronomium 18:9-13; 10:12-13). Dit is die geheelbeeld wat God aan die nasie van Israel geopenbaar het.

Die verhaal gaan voort

Teenstrydig met wat baie vandag glo en onderrig, het Jesus Christus nie die “geheelbeeld” verander toe Hy na hierdie aarde gekom het nie. Hy het dieselfde algehele fokus gehandhaaf. Jesus sê aan Sy dissipels: “Kom agter My aan” (Mattheus 4:19) en Hy leer ons dat ons moet leef “van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (vers 4). Jesus het reguit gesê dat Hy nie gekom het om die wet te ontbind nie, maar om dit te vervul [te versterk, te vergroot] (Mattheus 5:17; Jesaja 42:21). Hy het voorbeelde gegee om te wys dat ons nie net die letter van die Wet moet gehoorsaam nie, maar ook die gees van die Wet gehoorsaam moet wees (Mattheus 5:21-30).

Jesus sê aan Sy dissipels: “Wees julle dan volmaak” [onberispelik, opreg, volgroei, geestelik volwasse] (Mattheus 5:48), net soos God aan Abraham en Moses aan die Israeliete gesê het. Jesus se boodskap was van die toekomstige Koninkryk van God (Markus 1:14-15). Hy het aan Sy dissipels gesê dat, indien hulle hul bekeer en leer om God se Wet gehoorsaam te wees, hulle nie net die ewige lewe sal beërwe nie, maar dat hulle ook gesagsposisies sal kry in die Koninkryk van God (Mattheus 19:16-30). Dit is die geheelbeeld wat Jesus herhaaldelik beklemtoon het.

Die Apostels wat deur Jesus opgelei is, het dieselfde boodskap verkondig. Johannes boekstaaf Christus se stelling: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Johannes 14:15). Die apostel Paulus vermeld dat, indien ons onsself bekeer, verander en groei in die kennis van God se leefwyse, ons “kinders van God”, “erfgename van God en mede-erfgename van Christus” kan word. Ons erf dus wat Jesus erf (Romeine 8:14-17). Johannes openbaar later dat Christus as heerser sal terugkeer en die heiliges sal beloon met posisies as konings en priesters op hierdie aarde (Openbaring 11:17-18; 5:10).

Dit is die geheelbeeld wat die Nuwe Testament aan Christene verduidelik. Dit is dieselfde beeld wat herhaaldelik in die Ou Testament beskryf word. Hierdie “geheelbeeld” tema wat regdeur die Skrif gaan – om te leer om volgens God se Wette te leef en voor te berei om te heers op hierdie aarde in die komende Koninkryk van God – is noodsaaklik vir ware Bybelse godsdiens.

Belangrike besonderhede

Baie mense aanvaar dat die doel van Bybelse godsdiens en die Kerk is om die wêreld in hierdie era te bekeer – tog was dit egter nooit deel van die “geheelbeeld” nie. Die Bybel toon dat God besig is om ’n plan uit te werk. Na die Vloed het God met een persoon – Abraham – en sy onmiddellike nageslag begin werk. Hy het met daardie afstammelinge bly werk terwyl hulle tot die nasie van Israel gegroei het. Selfs in die nasie van Israel het God verkies om te konsentreer op die nageslag van Josef – Efraim en Manasse – van wie die huidige Amerikaners, Britte en Suid-Afrikaners afstammelinge is (Genesis 48:14-22). Dit is nie bloot ’n brokkie onbenullige Bybelkennis nie; dit is ’n basiese aspek van ware Bybelse godsdiens en het oorwegend voorgekom in Jesus se opdrag aan Sy dissipels om die evangelie aan “die verlore skape van die huis van Israel” te verkondig (Mattheus 10:6-7).

Jesus sê “hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom”, maar die wêreld sal dit nie verstaan of bekeerd raak nie (Mattheus 24:14, 36-42). Jesus het dit herhaaldelik gestel dat Hy gekom het om ’n paar te roep (Mattheus 13:10-17; Johannes 6:44, 60-66) en dat die res verblind is (Mattheus 15:14) omdat God toegelaat het dat Satan die hele wêreld vir ’n tyd mislei (Openbaring 12:9). Die bekering van die wêreld sal in die toekoms plaasvind – in die Koninkryk van God.

Hoewel Jesus gekom het om Sy lewe te gee as offergawe vir sondaars (Johannes 3:16) sal slegs diegene wat God nou roep die geleentheid kry om die waarheid te verstaan, hulle te bekeer en te groei in hierdie era. Dit is met hierdie groep indiwidue [geroep om eerstelinge te wees] waarmee God nou werk terwyl Hy voorberei vir Sy komende Koninkryk. Ware Bybelse godsdiens lê klem daarop om te lewe volgens die Wette van God omdat diegene wat nou geroep en opgelei word, wat oorkóm en kwalifiseer, die leiers en leermeesters sal wees in die Koninkryk wat Jesus hier op die aarde gaan vestig met Sy Wederkoms (Jesaja 30:20-21). Om doeltreffende leiers en leermeesters te wees sal vereis dat ons leer hoe om die vrugte van die Heilige Gees te beoefen: liefde, vreugde, geduld en selfbeheersing (Galasiërs 5:22-23). Die indiwidue wat saam met Jesus Christus regeer sal die wêreld leer hoe om die ware God te aanbid (Sagaria 14:16-20). Hulle sal die mense van die wêreld die weg na vrede leer en hoe om te leef (Jesaja 2:2-4; 9:6-7). Hulle sal help om die omgewing te herstel en die heropbou van stede beheer. Hulle sal ook programme begin om siektes uit die weg te ruim en om gesondheid op ’n wêreldskaal te bevorder (Jesaja 35:1-7; 61:4). Dit is waaroor ware Bybelse godsdiens gaan en hierdie is van die opwindende besonderhede waaruit die “geheelbeeld” bestaan.

Verstaan die geheelbeeld

Presies hoe word hierdie begrip van onderrig en heerskappy in die Koninkryk van God in verband gebring met Christene vandag? Vir baie mense blyk dit onwerklik te wees totdat hulle die geheelbeeld verstaan! Die Bybel verskaf baie inligting wat help om die beeld in fokus te bring. Jesus beveel Sy dissipels om “mekaar lief te hê” en om gewillig te wees om “sy lewe vir sy vriende te gee” (Johannes 15:12-13). Liefde is ’n onbaatsugtige, spontane besorgdheid vir ander mense. Dit behels medelye, besorgdheid en ’n gewilligheid om tyd en moeite te bestee om ander mense hul probleme te help oplos. Jesus sê ook aan Sy dissipels dat Hy dienende leiers soek wat kan lei deur ander te dien (Mattheus 20:25-28). God wil leiers hê wat innige meegevoel met mense ontwikkel het en omstandighede wil verander wat ander mense seermaak. Sulke indiwidue sal begin om probleme raak te sien wat die samelewing teister en hulself voorberei vir die dag wanneer hulle kan help om die probleme op te los. Die apostel Paulus vermaan Christene om die Woord van God te bestudeer (2 Timotheus 2:15) omdat die ware oplossings vir baie van die wêreld se grootste probleme in die Bybel gevind kan word. Een van die redes waarom ons kerk toe gaan, is om te leer hoe om Bybelse beginsels toe te pas in werklike lewensomstandighede. Is dit waarom u kerk toe gaan?

Hoe kan Bybelse beginsels aangewend word om groot menslike probleme op te los? Vandag kwel geweld, onenigheid en oorlog samelewings regoor die wêreld, ten spyte van die universele begeerte en byna eindelose soeke na vrede. God het lank gelede reeds gesê dat die mens eenvoudig nie die weg na vrede ken nie (Jesaja 59:8). Tog openbaar die Bybel die weg na vrede. Dawid skryf: “Die wat u wet liefhet, het groot vrede” (Psalm 119:165). Wanneer mense geleer word om God se Wette te gehoorsaam – nie dood te maak nie, te vergewe, geduldig te wees, nie wellustig te wees of te begeer nie en om ander te behandel soos hulle self behandel wil word – sal oorlog en wedywering tot ’n einde kom. Dit sal gebeur in die Wêreld van Môre, en dit sal teweeggebring word deur diegene wat in God se regering op hierdie aarde dien en heers.

Siektes en kwale het deur die eeue ongehoorde lyding veroorsaak. Tog is baie kwale voorkombaar indien basiese gesondheidsbeginsels toegepas word. God het die fundamentele gesondheidswette geïnspireer en in die Bybel laat skryf. Tog is daar vandag uitgebreide onkunde oor hierdie wette en mense ly en sterf in groot getalle regoor die wêreld as gevolg daarvan. Die EARS (Ernstige Akute Respiratoriese Sindroom) epidemie word in verband gebring met die eet van diere wat die Bybel as onrein bestempel en wat God sê nie geëet moet word nie (sien Levitikus 11; Deuteronomium 14). Die VIGS epidemie het versprei deur losbandige en perverse seksuele gedrag wat die Bybel as goddeloos en sondig bestempel. Deur seks tot ’n getroue huwelik te beperk, sal die verspreiding van hierdie tragiese siekte tot ’n einde kom. Hartkwale, wat een van die hoofoorsake vir sterftes is, word gekoppel aan te min oefening en ’n hoë-vet dieet, wat die Bybel ontmoedig (Levitikus 3:17; 7:23-26). Die Bybel toon reeds 2,000 jaar gelede dat daar voordele verbonde is aan fisiese aktiwiteite (1 Timotheus 4:8). Siektes en plae sal uitgeskakel word as mense geleer word om volgens God se Wette te lewe.

Ontrouheid en die verbrokkeling van huwelike dien pynlike gevolge toe aan volwassenes sowel as kinders en verskeur samelewings. Hierdie probleme volg wanneer die fundamentele morele riglyne van die Skrif geïgnoreer en geskend word wat wellus, selfsug, ontug en owerspel verdoem. Kindermisdaad en kindermishandeling is deesdae aan die orde van die dag afgesien daarvan dat die Bybel kinders leer om hul ouers te gehoorsaam en ouers adviseer om hul kinders lief te hê en “[nie] julle kinders [te] vertoorn nie” (Efesiërs 6:1-4). Maleagi 4:6 beskryf ’n voorsmaak van wat die hele wêreld sal ondervind wanneer die harte van die ouers en kinders weer na mekaar teruggebring en die gesin herstel sal word in die Koninkryk van God.

Hierdie is slegs enkele van die groot veranderings wat sal plaasvind wanneer die Wette van God op ’n wêreldgrondslag geleer en toegepas gaan word deur diegene wat hulle nou voorberei en kwalifiseer om in God se regering te dien. Dit is waaroor die “tye van die wederoprigting van alle dinge” gaan waarvan die Apostels praat (Handelinge 3:19-21). As ons na die probleme van die mensdom kyk en die oplossings wat geïgnoreer of nie toegepas word nie, kan ons begin verstaan waarom Jesus sê dat ons moet bid: “Laat u koninkryk kom” (Mattheus 6:10). Soos ons begin om die omvang van die probleme te besef en ons begin om ernstig te bid en voor te berei vir die komende Koninkryk van God, sal ons die geheelbeeld duideliker sien – en sal dit vir ons baie meer realisties word. Dit is waarom die Kerk van God opdrag kry “om vir die Here ’n toegeruste volk te berei” (Lukas 1:17), sodat hulle doeltreffende leiers kan wees in die Wêreld van Môre.

Vermy slaggate

Die geheelbeeld is werklik verbasend! Die Bybel openbaar dat God ’n uitverkore groep mense roep en oplei om saam met Jesus Christus te regeer wanneer Hy terugkeer om hierdie aarde te herstel. Hulle sal saam met Hom die menslike beskawing reoriënteer tot die regte weg wat sal lei na ware vrede en ewigdurende geluk. Die Bybel dui egter ook aan dat selfs diegene wat geroep is om eerstelinge te wees hierdie merkwaardige toekoms kan verbeur. Ons word vermaan om gefokus te bly op die geheelbeeld “dat ons nie miskien wegdrywe nie” en “so ’n groot saligheid veronagsaam” nie (Hebreërs 2:1-3). Jesus waarsku dat baie vals leermeesters “onder my Naam [sal] kom en baie mislei” deur mense weg te lei van die waarheid en die geheelbeeld (Mattheus 24:4-5, 11). Paulus sê dat misleidende leermeesters, wat deur ’n ander gees beïnvloed is, ’n ander Jesus en ’n ander evangelie sal verkondig wat ’n ander beeld van die toekoms sal skilder (2 Korintiërs 11:3-4). Ons sien dit vandag in baie sogenaamde Christelike kerke waar mense praat van Jesus liefhê, maar Sy gebooie ignoreer. Hulle praat van hemel toe gaan, maar kyk die feit mis dat Jesus gaan terugkeer en ’n Koninkryk op hierdie aarde gaan vestig waar Hy en die heiliges gaan regeer. Hulle vier vakansiedae wat hul oorsprong in die heidendom het in plaas van die Bybelse Heilige Dae, terwyl die Bybel ons duidelik leer: “Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie” (Sien Jeremia 10:2; Deuteronomium 12:29-32).

Hierdie misleidende praktyke het die tragiese gevolg dat dit die mense weglei van God se waarheid. Dit skep ’n ander beeld en veroorsaak dat mense die regte geheelbeeld uit die oog verloor!

Die grootste waarskuwing behels moontlik diegene wat tot die waarheid van God gekom en werklik die geheelbeeld verstaan het – en dan hulle rug daarop draai. In die gelykenis van die saaier beskryf Jesus verskeie groepe mense: Diegene wie se aandag afgelei word van die geheelbeeld deur Satan se misleidende aktiwiteite, dié wat vasgevang en ontmoedig word deur persoonlike beproewings en vervolging en dié wat vasgevang word in die “sorge van hierdie wêreld” – die verkryging van rykdom en wêreldsgoed en die najaging van plesier, aanvaarding en aansien (Mattheus 13:18-23).

Al hierdie tydelike fisiese en materiële dinge wat kan veroorsaak dat ons die geheelbeeld uit die oog verloor, kan ons beroof van ons beloning en ons in versoeking lei om te vergeet wat ware Bybelse godsdiens behels. Dit is waarom Jesus sê dat ons moet “volhard tot die einde toe” (Mattheus 24:13) as ons aandeel wil hê in die Koninkryk van God en help om die toekomstige herstelling van alle dinge te bewerkstellig.

Namate ons die einde van hierdie era nader, moet ons die geheelbeeld onthou wat God aan Adam en Eva, Abraham en die nasie van Israel geopenbaar het en Jesus Christus aan Sy dissipels oorgedra het. God het ons na Sy beeld geskape om Sy seuns en dogters te word en uiteindelik saam met Jesus Christus te heers op hierdie aarde as lede van God se Gesin. Om daardie doel te bereik moet ons leer om volgens God se Wette te leef sodat ons doeltreffende leermeesters van daardie leefwyse kan word in die komende Koninkryk van God. As ons groei in medelye vir ons medemens en ons ’n grondige kennis van God se Woord en bekwaamheid ontwikkel om Bybelse beginsels toe te pas, sal ons in staat wees om Jesus Christus by te staan om hierdie wêreld te reoriënteer na die waarheid van werklike Bybelse godsdiens. Ons sal die lesse wat ons nou op ’n persoonlike vlak leer, in die toekoms op wêreldskaal toepas, mits ons toegespits bly en misleidings en slaggate vermy. Dit is die geheelbeeld waarop ons as eerstelinge voorberei. Sien u die geheelbeeld?