Is gesondheid ’n middel tot ’n doel, of is dit ’n doel opsigself? Hoe kan ons gesondheid vind en behou in ons moderne wêreld?


Vir baie eeue was die strewe om gesond te bly, ’n middel tot ’n doel – om te kan oorleef, om ’n verdienste te kan hê, om ’n gesin te kan grootmaak, of om een of ander edel doel te kan bereik. Vandag het die strewe om gesond te bly, ’n doel opsigself geword – vind die ideale dieet, of die doeltreffendste oefening om ’n volmaakte liggaam te ontwikkel. Vir baie vandag het gesondheid en liggaam ons moderne gode geword.

In die nastrewing van liggaamlike volmaaktheid, soek miljoene mense eindeloos na die nuutste gesondheidsgeheime. Mense spandeer enorme hoeveelhede geld aan regstellings, inspuitings, voorskrifte en prosedures – selfs aan persoonlike afrigters! Ander luister weer na ghoeroes. Andere weer is op die uitkyk vir spesiale voedingstowwe of die wondergeneesmiddel! In die loop van een jaar sal Amerikaners meer as ’n biljoen dollars spandeer aan gesondheidsorg en meer as ’n miljard aan aanvullings en alternatiewe mediese behandelings – nogtans is hulle by verre nie die gesondste mense in die wêreld nie!

Meer as 60% Amerikaners is oorgewig en meer as 30% is vet. Miljoene ly aan hartkwale, kanker, beroerte, suikersiekte en ander kwale. Miljoene mense neem verdowingsmiddels vir geestesongesteldhede. In ander ontwikkelde lande is die storie soortgelyk. Vir baie mense is die moderne, allesverterende najaging van gesondheid ’n duur en nimmereindigende soektog na ’n “heilige graal”, wat dikwels faal om die gesondheid en gemoedsrus te bring wat mense so naarstiglik begeer.

Ons behoort te vra “waarom?” Is daar deesdae ’n verlore dimensie in ons lewens soverre dit ons najaging van gesondheid aangaan? Die Westerse wêreld het ’n verdraaide perspektief ten opsigte van gesondheid ontwikkel omdat ons die rigsnoer wat ontwerp is om aan ons balans in hierdie wesenlike gebied te gee, verloor het. Ons word meegesleur van een uiterste na die ander – van medikasie na kruie, van chirurgie na “masserende energiestrome” – want ons het die spoor bystergeraak van die basiese riglyne wat deur ons Skepper voorsien is in Sy bedryfshandleiding vir mense – die Bybel. Omdat die vals god van gesondheid die God van die Bybel vervang het, besef die meeste mense vandag nie dat die ware God – die Skepper van die heelal en Ontwerper van die menslike liggaam – baie gemoeid is met menslike gesondheid nie. Dosyne verse in die Bybel is gewy aan hierdie onderwerp. Alhoewel sommige mense fanatici geword het in ’n misleide poging om ’n godsdiens van gesondheid te maak, is dit waar dat die Bybelse beginsels van gesondheid belangrik, redelik – en besonder prakties is!

Die Bybel is nie ’n handboek oor gesondheid en voeding nie. Nogtans voorsien God in die Skrif die basiese beginsels om aan ons persoonlike voorkeure leiding te gee op maniere wat gesondheid sal bevorder en siektes sal voorkom. In antieke Israel was dit die werk van die priesters en die Leviete – nie dokters, gesondheidskundiges of wetgewers nie – om die basiese voorskrifte te gee en die rigting van die nasionale gesondheidsbeleid te bepaal. Terwyl ons ’n aantal Bybelse gesondheidsbeginsels ondersoek, sal ons vasstel hoe eenvoudig en nogtans byderwets hierdie inligting is – selfs al was dit duisende jare gelede geboekstaaf! God openbaar fundamentele waarhede in die Bybel wat die mediese wetenskap duisende jare geneem het om te bevestig. Ongelukkig besef baie teoloë nie die waarde van die gesondheidsbeginsels wat in die Bybel opgeteken is nie – gevolglik het hulle in gebreke gebly om ’n belangrike Godgegewe funksie te verrig!

Rein en onrein vleis

Moontlik die bekendste Bybelse gesondheidswette, wat die minste verstaan word, wentel om rein en onrein vleis (Levitikus 11, Deuteronomium 14). Mense verwys dikwels hierna as “Joodse” voedselwette, omdat dit nog steeds nagevolg word deur Ortodokse Jode – alhoewel Moslems en ander volke dieselfde voedselbeperkings volg. Baie teoloë beweer dat hierdie Bybelse riglyne nie gegee was om gesondheidsredes nie, maar dat dit slegs kultiese gebruike was wat ontwerp was om die antieke Israeliete af te sonder van ander volke. Ander verkondig weer dat hierdie opdragte gegee was aan mense wat geleef het onder die Ou Verbond en dat dit Christene, wat onder die Nuwe Verbond leef, vry is om te eet wat hul wil. Ander redeneer weer dat Bybelse voedselbeperkings verspot en oudmodies is en dat dit slegs ontwerp is om die menslike vryheid en genot in te perk!

Hierdie algemeen aanvaarde idees is gegrond op onkunde. Die meeste teoloë het geen of baie min opleiding in biologie, ekologie, mikrobiologie, parasitologie, epidemiologie of openbare gesondheid, nogtans openbaar kennis in hierdie velde die wysheid agter die wette rakende rein en onrein voedselsoorte. Baie onrein diere is aasvreters (soos bv. slakke, krappe, krewe en seemeeue); hul ekologiese rol is om dooie plante en diere te verorber. Ander onrein diere verkry hul voeding deur filtrering (bv. weekdiere soos mossels en oesters); hul ekologiese rol is om water in mere, strome en riviermondings te reinig. Nog ander onrein diere is roofdiere (soos leeus, slange en krokodille); hul ekologiese rol is om die getalle en gesondheid van ander dierbevolkings te beheer. Daar is baie belangrike ekologiese redes waarom die onrein diere wat deur God geskape is, nie as voedsel vir mense moet dien nie. God het hulle vir ’n ander doel geskep!

Daar is ook nog baie ander belangrike gesondheidsredes vir hierdie beperkings. Baie onrein diere is draers van parasiete wat ernstige gesondheidsrisiko’s vir mense inhou. Varke, bere, eekhorinkies en wasbere is draers van triginose en ander siektes. Aasvreters soos krappe en krewe kan long- en lewerslakke oordra. Menslike bevolkings wat gereeld hierdie diere verorber, het dikwels ’n baie hoë graad van parasitiese besmetting. Weekdiere wat hul voedsel deur filtrering verkry, soos mossels en oesters, kan hoë konsentrasies toksiese swaarmetale, patogeniese bakterieë en virusse bevat, wat hulle as voedsel vir menslike gebruik gevaarlik maak. Wanneer u hierdie diertjies eet, eet u in werklikheid die organismes wat God ontwerp het om die natuur se “skoonmakers” te wees. Sou u graag die inhoud van u stofsuiersak of u vullisblik wou eet? Tog seker nie! Nogtans word baie “fynproewerdisse” van hierdie diere gemaak, in salige onkunde van die risiko’s wat daaraan verbonde is.

Ver daarvan om verouderde regulasies van die Ou Verbond te wees, is die Bybelse wette rakende rein en onrein vleis geïnspireer deur ’n God wat alle dinge vir ’n doel geskape het – ’n God wat besorg is oor bevordering van gesondheid en voorkoming van siektes! Die vermyding van onrein vleis is ’n basiese stap in die voorkoming van ernstige parasitiese ongesteldhede wat honderde miljoene mense oor die aarde heen teister. Wanneer ons eet wat God ons verbied om te eet, doen ons dit tot ons eie nadeel! Tog so jammer dat moderne teoloë nie die waarde van hierdie kragtige openbare gesondheidsbeginsels verstaan nie – nog minder verstaan baie belydende Christene dit. Vir meer inligting oor hierdie onderwerp, vra asseblief om ’n gratis kopie van ons herdrukte artikel, Wil u dit werklik graag eet?

Bybelse dieetwette

Die Bybel bevat ander belangrike opdragte wat die mediese wetenskap eers onlangs begin verstaan het. Moses was geïnspireer om te skryf dat bloed en vet – selfs van rein diere – nie gebruik mag word as menslike voedsel nie (Levitikus 3:17; 7:23-26; Genesis 9:4), nogtans is in sommige kulture die eet van bloedwors, “fatback” en ’n mengsel van bloed en melk, algemene gebruike. Die bloed van diere mag bakterieë en virusse bevat wat siektes kan oordra. Hierdie belangrike Bybelse beperking was ontwerp om die verspreiding van siektes te voorkom.

Die verbod op die verorbering van sigbare vet is net so belangrik – veral hoe dit ons moderne dieet raak. Een van die belangrikste ontdekkings deur epidemiologiese studies wat uitgevoer is gedurende die laaste 50 jaar, was die skakel tussen hoëvet diëte en hartkwale, beroertes en verskeie soorte kankers. Hierdie is die grootste oorsaak van dood in lande waar groot hoeveelhede vetterige kos – soos hamburgers, aartappelskyfies, driedubbelde melkskommels, roomys en swaar slaaisouse – verorber word. Baie algemene kosse – spek, worsbroodjies, kaas en smere – kan tot 50% vet of meer, bevat. Hoëvet diëte is ook hoë kalorie diëte wat bydra tot gewigsprobleme in ons hedendaagse samelewing. Die mediese wetenskap het uitgevind dat oormatige inname van vet skadelik is, nogtans het God dit reeds duisende jare gelede aan Moses geopenbaar! Dit is ’n tragedie dat hierdie Bybelse inligting al vir so lank geïgnoreer word.

In Genesis lees ons dat God aan die mensdom vrugte, groente en graankosse, tesame met rein vleis, as voedsel gegee het (Genesis 1:29, 2:16; 9:3). Vrugte, groente en heelgraan bevat vesel en ander komplekse koolhidrate. Voedingkundiges het eers gedurende die afgelope dekades die waarde van hierdie stowwe begin besef. Vesel, wat eens as waardeloos beskou was, gee volume aan die inhoud van die ingewande en speel ’n belangrike rol om die liggaam teen kanker van die dikderm en ander kroniese siektes te beskerm. Komplekse koolhidrate is ook ’n belangrike deel van ’n gesonde dieet omdat dit die vlakke van cholestrol verlaag en sodoende help om hartkwale en beroerte te voorkom.

Nog ’n ernstige probleem met die Westerse diëte is die hoë verbruik van geraffineerde of verfynde koolhidrate. Verfynde koekmeel en suiker is gestroop van lewensbelangrike voedingstowwe. Bevolkings wat groot hoeveelhede verfynde koolhidrate verbruik, ondervind ’n hoër voorkoms van suikersiekte en ander verwante probleme. Nogtans waarsku die Bybel teen hierdie soort eetgewoontes. Salomo was selfs geïnspireer om te skryf: “Het jy heuning gevind, eet tot jy genoeg het ... Om baie heuning te eet, is nie goed nie ...” (Spreuke 25:16, 27). Hoewel heuning ’n “natuurlike” stof is, is dit in ’n mate “verfyn” deur die bye wat dit maak. Nektar wat uit baie blomme versamel word, is die begin van die proses om heuning te vervaardig. Die Bybelse beginsel is om verfynde koolhidrate spaarsamig te gebruik. As gevolg van die geweldige hoë verorbering van koeldranke (meer as 189 liters per persoon per jaar in Amerika), soetgebak, lekkers en vooraf-versoete voedsel, verbruik baie mense meer as 45 kg verfynde suiker per jaar – weereens, tot hul nadeel!

Wanneer hierdie Bybelse beginsels objektief beskou word, stem dit ooreen met die voedingsinligting wat gebaseer is op die jongste navorsing: Verminder die inname van vette, vermeerder die inname van komplekse koolhidrate (vrugte, groente en heelgraan), beperk die inname van vleis en verfynde koolhidrate (kyk na die Voedselgids-piramide gepubliseer deur die regeringsagentskappe van die Verenigde State). Dit is geensins verrassend nie, aangesien die waarheid nie verander nie! God het grondliggende waarhede oor menslike voeding duisende jare gelede tot voordeel van die mensdom geopenbaar – en Hy het daardie inligting toevertrou aan godsdiensleiers wat die ander moes leer. Dit is ’n somber gedagte om te besef dat die meeste menslike lyding voorkom kon word indien ons net maar God se voorskrifte gevolg het!

Die Bybel behandel ook omstrede gesondheidskwessies. Party mense glo dat dit verkeerd is as mense vleis eet. Heidense Griekse filosowe en baie mense in die Ooste het in antieke tye vegetariese idees bevorder. Sommiges argumenteer weer dat, omdat die Bybel nie spesifiek vermeld dat God aan Adam en Eva vleis gegee het om te eet nie, dit nie geëet behoort te word nie. Dit misken die feit dat God – die Gewer van die wette oor rein en onrein vleis – sê: “Dit is die diere wat julle mag eet ...” (Deuteronomium 14:4). Hulle kyk ook die maaltyd oor die hoof wat Abraham berei en voorgesit het aan twee engele en die Een wat Jesus Christus van die Nuwe Testament geword het (Genesis 18:3). Daardie maaltyd het brood, vleis, melk en botter ingesluit (Genesis 18:3-6). Jesus Christus het vis aan Sy dissipels bedien (Johannes 21:9-13). Paulus waarsku Nuwe Testament Christene daarteen om betrokke te raak met vegetariese idees (Romeine 14:2; 1 Timotheüs 4:3). Die Bybel is geskryf om ons te help om gebalanseerd te bly te midde van idees wat tot uiterstes in die dieet kan lei.

Alkohol en dwelmmisbruik

Alkohol is ’n “rooi vlag” vir baie godsdienstige persone – die duiwel se brousel! Terwyl die Bybel duidelik dronkenskap en misbruik van alkohol veroordeel (Spreuke 20:1; 1 Korinthiërs 5:11), beveel die Skrif die gebruik daarvan aan vir verskeie doeleindes (Deuteronomium 14:26). Jesus het by ’n bruilof water in wyn verander (Johannes 2:1-11). Paulus het die gebruik van alkohol aanbeveel om gesondheid te bevorder. Hy het aan Timotheüs gesê: “Moenie langer water alleen drink nie, maar gebruik ’n bietjie wyn ter wille van jou maag en jou herhaalde ongesteldhede” (1Timotheüs 5:23). Die sleutel is matigheid (Filippense 4:5). Matige hoeveelheid alkohol bevorder ontspanning, verhoog HDL-vlakke (goeie cholestrol), verlaag die risiko van hartvatsiektes en vermeerder maagsure, wat spysvertering by bejaardes bevorder. Die Bybel voorsien belangrike riglyne vir die gebruik van alkohol wat persoonlike besluite noodsaak wat individuele karakter ontwikkel.

Terwyl tabak en ontspanningsdwelms nie in die Bybel vermeld word nie, word beginsels wat die gebruik van sodanige middels beheer, duidelik vermeld. Paulus skryf: “Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?” (1 Korinthiërs 6:19) en “As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle” (1 Korinthiërs 3:17). Die Bybel stel dit duidelik dat ons nie ons liggame mag beskadig nie – wat dwelmmisbruik (of die gebruik daarvan wettig is al dan nie), wel duidelik doen. Hierdie Bybelse beginsels is voorkomend van aard en enigeen met gesonde verstand kan dit insien. Om toe te gee aan die drang na alkohol, tabak of dwelms is ’n vorm van afgodediens en wellus – dit verbreek verskeie van die Tien Gebooie. Bybelse beginsels van gesondheid is nie bedoel om menslike genietinge te kortwiek nie, maar is ontwerp om te verseker dat daardie genietinge positiewe en aangename ondervindings sal wees.

Oefening ook!

Regdeur die geskiedenis is baie mense daartoe gelei om te glo dat Christene ’n rustige, besadigde lewe van gebed, Bybelstudie en meditasie moet leef. Jesus Christus het egter nie as ’n monnik in ’n klooster na hierdie aarde gekom nie, maar as ’n timmerman in ’n era sonder kraggereedskap! Hy het vissers soos Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes gekies, wat nie dieselaangedrewe windasse gehad het om hul nette mee in te trek nie! Jesus het Sy eerste dissipels geroep om Hom te “volg”, (Mattheüs 4:19; Johannes 7:17; 11:54), wat toe honderde kilometers te voet per jaar ingesluit het. Hierdie voorbeelde is belangrik, aangesien hierdie fisiese aktiewe lewenswyse hul gesond gehou het en aan hulle die uithouvermoë voorsien het om hul missie te voltooi.

Die apostel Paulus beveel aan dat, alhoewel ons primêre fokus op geestelike dinge moet wees, “liggaamlike oefening ... tot weinig nut [is]” (1 Timotheüs 4:8). Dit is presies wat moderne navorsing uitwys. Oefening moet op ’n gereelde basis geskied, want die voordeel daarvan is slegs tydelik! Hierdie voordele is egter noodsaaklik – dit verlaag cholestrolvlakke, hoë bloeddruk en spanning; en voorkom suikersiekte, hartkwale asook ’n magdom ander probleme.

’n Geestelike dimensie

 Een van die mees interessantste ontwikkelings in gesondheidsopvoeding is die erkenning van wat “geestelike gesondheid” genoem word. Hierdie studieveld erken die wesenlike rol wat oortuigings en waardes speel in die beïnvloeding van gedrag en gesondheid. Individue wat in God glo, gereeld kerkdienste bywoon en sterk morele oortuigings het, is minder geneig om te rook, drank te misbruik of betrokke te wees in losbandige seksuele aktiwiteite. Die Bybel brandmerk hierdie soort gedrag as sonde – wat vermy moet word! Net soos Bybelse voedingsriglyne, is die Bybelse verbod op vraatsugtigheid, lamsakkigheid, dronkenskap en seksuele losbandigheid vandag vir ons belangrik – en val binne openbare gesondheidsriglyne vir ’n gesonde lewe. Bybelse beginsels vir gesondheid staan in skrille kontras teenoor die misleide waardes van ons permissiewe “indien dit goed voel, doen dit” samelewing! Wanneer Bybelse waardes deur die gesin onderrig word en deur kerke en skole versterk word, is individue meer geneig om positiewe gedrag te ontwikkel, wat gesondheid bevorder en siekte voorkom.

Ten opsigte van gesondheid is daar baie meer in die Bybel as slegs ’n lys van “moets en moenies”. Terwyl baie mense vandag God se opdragte uit die oog verloor en van gesondheid ’n doel opsigself gemaak het, voorsien die Bybel meer diepliggende redes vir ons keuses in die lewe. Ons leer uit die Skrif dat ons na die beeld van God geskape is (Genesis 1:26), dat ons verantwoordelik gehou sal word vir ons dade. “Verheerlik God dan in julle liggaam” (1 Korinthiërs 6:20). Ons liggame is egter nie gemaak om vir ewig te hou nie (Psalm 39:5; Jakobus 4:14; Hebreërs 9:27). Ons werklike uitdaging is om te leer dink soos God, om ’n karakter soos Syne te ontwikkel (Filippense 2:5) en om liefde aan andere te betoon (Johannes 15:17). Hierdie lewe is slegs maar ’n opleidingsveld vir ’n wonderlike toekoms (1 Korinthiërs 9:24-27). Indien ons leer om God se opdragte te volg en behoorlik om te sien na wat God aan ons geskenk het, sal ons ’n beloning ontvang wat heerskappy saam met Jesus Christus insluit, wanneer Hy weer kom om Sy Koninkryk op hierdie aarde te vestig (Openbaring 5:10). Dit is die Evangelie (Markus 1:14-15)!

Die heiliges wat saam met Christus sal regeer, sal funksioneer as leraars (Jesaja 30:20-21) wat God se wette sal verduidelik – insluitende hierdie belangrike Bybelse gesondheidsbeginsels – aan die hele mensdom (Jesaja 2:2-4). As gevolg van hulle inspanning, sal “die aarde ... vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9), en gesondheidstoestande sal dramaties oor die hele aarde verbeter (verwys na Jesaja 35:5-7; Jeremia 30:17). Daar is grondige redes waarom daar geleer moet word om volgens die Bybelse beginsels te lewe wat deur ons Skepper geïnspireer is. Hy is besig om ons voor te berei om Hom by te staan om die gang van menslike geskiedenis te verander, die plaag van siektes uit te skakel en ’n lewenswyse te bevorder wat nie net tot fisiese, geestes- en geestelike gesondheid lei nie, maar ook tot ewige lewe!

Moet nie mislei word nie! Gesondheidsbeginsels is ’n belangrike deel van Bybelse godsdiens. Hulle is fundamentele sleutels – deur ons Skepper geopenbaar – om gesondheid te bevorder en siektes te voorkom. Wanneer dit reg verstaan, verduidelik en toegepas word, is hierdie beginsels ’n ongelooflike seën vir die hele mensdom. “Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan” (3 Johannes 2).