Sal ons ooit ’n oplossing vind vir die afvalprobleem?


Dit was nie werklik ’n botsing nie – meer soos ’n gestamp. Ek het die lig aangeskakel en die trappe afgehaas om ondersoek in te stel. Ek het die voordeur oopgemaak, die portaallig aangeskakel en rondgekyk in die voortuin. Niks nie. Uiteindelik gaan ek terug en klim weer in die bed.

Die daglig onthul die storie. Rommel was orals op die gras voor ons huis, wat naby die hoofpad is, gestrooi. Glymerke het gewys waar die onverskillige jaagduiwel van die pad af gegly het, my buurman se posbus skrams geraak het, myne vernietig het, toe in my vol vullisdrom vasgery het en so die vullis orals verstrooi het. Hy het ’n gebreekte hooflig as aandenking agtergelaat.

Ons vullisdrom – dit was ’n vullisdrom voordat dit verander is in onherkenbare stukke – was die vorige nag tjok-en-blok vol uitgestoot in afwagting op die stadsraad se weeklikse vullisverwydering. Nou het gebreekte stukke van die drom orals gelê – my vullis, stinkend en slymerig! Ek het vir ’n lang tyd in ongeloof na die smerige gemors gestaar. Uiteindelik het ek maar begin om die vullis weer bymekaar te maak in sakke. Hierdie keer het hulle dit veilig gemaak tot op die vullishoop.

In ons moderne, na-geïndustrialiseerde wêreld, is rommel selde ’n kwessie, tensy dit, om dit so te stel, op ons voorstoep beland – of versprei oor ons grasperk lê en ons sintuie aanval. Nogtans genereer ons ’n enorme hoeveelheid daarvan, veral in Amerika. Ekologie-skryfster Heather Rogers merk op: “In 2003 het Amerikaners byna 500 miljard pond papier, glas, plastiek, hout, kos, metaal, klere, uitgediende elektronika en ander rommel weggegooi” (Gone Tomorrow: The Hidden Life of Garbage, bl. 2). Terwyl welvarende stede regoor Westelike Europa en Noord Amerika groot hoeveelhede vullis oplewer, is Amerika die voorloper. Die Universiteit van Michigan se professor van ekonomie, Richard Porter, het bevind dat die oplewering van munisipale soliede huishoudelike rommel per capita gegroei het van 2.7 pond per persoon per dag in 1960, tot 4.3 pond per persoon per dag in 1996 (The Economics of Waste, bl. 1). Statistiek van die Omgewingsbeskermings-agentskap bevestig dat dit rofweg is wat ons nog tans daagliks produseer.

Vullis kan gou groei van ’n geringe ergernis tot ’n ernstige gesondheidsgevaar. Omtrent 2,300 stortingsterreine is oor die Amerikaanse landskap besaai, met inbegrip van een –Fresh Kills Stortingsterrein in New York City – wat so enorm groot is dat dit selfs uit die ruimte gesien kan word (Rogers, bl.1)! Nuwer stortingsterreine het keervoerings geïnstalleer om te verhoed dat gevaarlike chemikalieë die grondwater bereik, maar selfs die beste fisiese versperrings sal uiteindelik tot niet gaan as gevolg van natuurlike verwering.

Selfs wanneer rommel verbrand word, bly dit nog ’n gevaarlike gesondheidsrisiko. “Volgens die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram, is munisipale rommelverbranders sedert die jaar 2000, verantwoordelik vir die vorming van 69% van wêreldwye dioksien uitlatings” (Rogers, bl. 5). Dioksiene is uiters gevaarlike chemikalië wat in die lug ontsnap, of agterbly op die as wanneer papier en plastiek saam verbrand word.

Die gevolge van rommel kan verwoestend wees. In Bangladesh, byvoorbeeld, “het plastiese sakke dreineringstelsels verstop en vernietig, en sulke groot oorstromings veroorsaak dat die regering die vervaardiging van weggooibare plastiese drasakkies in 2002 verban het” (Rogers, bl. 8). Die Universiteit van Noordelike Arizona se professor Jacqueline Vaughn wys uit dat, in sommige gevalle, ’n nie-amptelike “aas-industrie” rondom stortingsterreine ontwikkel het. Rommelrapers is blootgestel aan die gevare van beserings terwyl hulle daar aas, of aan die “rommel-mafia” wat hul gebied met geweld en intimidasie regeer (Waste Management, bl. 111).

Dit is verrassend dat die uitvoer van rommel ontwikkel het in groot besigheid. In 2002 is meer as $1 miljard Amerikaanse rommel na ander lande gestuur vir “prosessering”. Wat gebeur daarmee? ’n Beraamde 80% e-rommel (hoogstegnologiese oorskot soos rekenaars en selfone) eindig in arm gebiede van Asië en Afrika. Guiyu in China wat beskou word as die “sentrum vir herwinning, weggooi en verbranding van e-rommel, het veroorsaak dat die plaaslike water nie meer geskik is vir menslike gebruik nie en die rivier daar bevat 200 keer meer as die aanvaarbare vlakke suur en 2,400 keer meer as die aanvaarbare loodvlak” (Vaughn, bl. 109).

Die meeste van ons in Westerse nasies mag grootliks beskerm wees teen die wêreld se rommelprobleem. Vir die meeste van ons kom ’n vulliswa een maal per week of so, om ons vullis op te laai en dit weg te neem, vir altyd uit ons lewens. Maar, is dit werklik weg? Of is dit slegs uit ons gesigsveld, op iemand anders se voorstoep?

Rommel deur die geskiedenis heen

Vullisbeheer was ’n bekommernis vir duisende jare. In die Indusvallei in Pakistan het argeoloë bewyse gevind van antieke metodes, wat terugdateer na 2500 v.C., vir die verwydering van huishoudelike rommel. “Drinkwater het by die huise ingevloei in ’n trog, vloeibare vullis het in ’n ander trog uitgevloei en vaste rommel was buite die huis op ’n vullishoop gegooi, of in houers op straathoeke, wat dan gereeld uit die stad geneem is deur munisipale werkers” (Porter, bl. 2). Ongeveer 500 v.C. het die eerste stortingsterreine hul verskyning in Griekeland gemaak en “dekrete om rommelstrooiing te verbied, is twee eeue later uitgevaardig” (ibid.).

Moderne herbenuttingsprogramme het ’n mate van sukses behaal en daar bestaan tegnologie om die hoeveelheid rommel in stortingsterreine te verminder, of om dit te verbrand. Een Israelse firma het ’n proses ontwikkel wat die tegnologie van plasma-omskakeling in gas deur smelting te gebruik, waardeur munisipale rommel verander word in “onaktiewe newe-produkte soos glas en skoon energie ... die vaste stof wat deur hierdie proses verkry word kan deur die boubedryf gebruik word vir teëls en blokke” (Vaughn, bl. 99).

Sedert April 2011 is in meer as 500 van die ongeveer 2,300 stortingsterreine in Amerika, metaangas versamel vir latere gebruik as brandstof. Plase oor die wêreld heen gebruik op ’n kleiner skaal anaërobiese biogas verwerkers om metaangas te onttrek uit dieremis, om dit vir kookdoeleindes beskikbaar te stel.

Wat hou die toekoms in? Sal herbenutting, die maak van kompos en selfs hoë tegnologiese oplossings ’n uitweg voorsien vir ons rommelverknorsing? Of, sal die groeiende bevolking en die wêreld se ekonomieë toenemend meer rommel tot gevolg hê, meer as wat ons kan hanteer?

Rentmeesterskap, vanaf die begin

Die Bybel het baie te sê oor die omgewing en hoe ons dit moet behandel; en dit het begin aan die heel begin. Toe God aan die eerste mense ’n gesonde en florerende omgewing om in te leef gegee het, het Hy aan hulle die verantwoordelikheid gegee om dit te versorg: “Toe het die Here God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak” (Genesis 2:15). Die menslike gesin is heerskappy oor die omgewing gegee (Genesis 1:28), maar is ook beveel om dit te onderhou, te beskerm en te bewaak vir toekomstige geslagte. Die mens is die taak van rentmeesterskap opgelê oor die aarde.

Dus, vra uself af: Hoe vorder ons as die rentmeesters van ons tuiste? Versorg ons dit soos God bedoel het? Ware Christene is nie geroepe om “radikale omgewingsbewustes” te wees in die politieke sin, soos dit dikwels vandag vertolk word nie, maar eerder as getroue rentmeesters wat, met Christus se wederkoms, toevertrou kan word met die hele aarde (Openbaring 5:10).

Hoe opreg gee God om vir die omgewing? Let daarop dat Hy aan antieke Israel ’n baie spesifieke opdrag gegee het aangaande higiëne: Begrawe jou afval! “En jy moet by jou gereedskap ’n grafie hê; as jy dan buitekant gaan sit, moet jy daarmee grawe en wat van jou uitgegaan het, weer toemaak. Want die Here jou God wandel midde-in jou laer om jou te red en jou vyande aan jou oor te gee; daarom moet jou laer heilig wees, sodat Hy niks skandeliks by jou mag sien en Hom van jou afwend nie” (Deuteronomium 23:13-14).

Dit was God se bedoeling om by Sy mense te woon en het ’n rommelbesaaide omgewing nie geskik vir hulle beskou nie. Net soos Sy mense geestelik en verstandelik rein moes wees, was dit ook Sy bedoeling dat hulle hul omgewing fisies skoon moes hou. God het aan die Israeliete selfs in tye van oorlog gesê om die omgewing te onthou: “As jy ’n stad baie lank beleër deur oorlog daarteen te voer om dit te verower, moet jy sy bome nie verwoes deur die byl daarteen te swaai nie; maar jy mag daarvan eet en mag dit nie afkap nie; want is die bome van die veld dan mense, dat hulle deur jou in beleëring moet kom?” (Deuteronomium 20:19). God wou nie hê dat die Israeliete ’n “verskroeide aarde” beleid moes toepas nie. Selfs ten tye van oorlogvoering, wou Hy hê dat hulle aan die toekoms moes dink en aan die bome van die veld wat voedsel en lewensonderhoud voorsien.

Waarom bekommer God Hom oor die klein, fisiese detail? Gehoorsaamheid aan Sy wette en instellings bring die seëninge van lang en siektevrye lewe. God omskryf ’n lewensweg wat volhoubare gebruik van die grond bevorder, sodat dit geniet en gebruik kan word deur opeenvolgende geslagte.

In teenstelling hiermee, in ons verbruikersmal kultuur, jaag ons soms ons begeertes na in roekelose onverskilligheid en neem nie die gevolge van ons keuses op ongebore geslagte in ag nie. Watter soort wêreld sal die volgende duisend jaar meebring? Meer vullis wat ons land besoedel, ons waters vergiftig en in ons oseane ronddryf? Of is daar ’n oplossing vir ons rommelwanorde?

’n Duisend jaar van rommel?

Jesus Christus gaan spoedig terugkeer na hierdie aarde, om Sy regering te vestig, wat oor alle nasies sal regeer (Openbaring 2:27). Hoe sal die wêreld wees onder die regverdige regering van Christus? Jesus Christus sal sekerlik nie ’n onbetrokke benadering teenoor vullisbestuur in Sy Koninkryk handhaaf nie. God wil hê dat die hele wêreld weer soos die Tuin van Eden moet wees (Jesaja 51:3). Indien die mense sou wegdraai van hul ou sondige weë, belowe God dat bekeerde sondaars se sondes vergewe sal word en dat hulle land heelgemaak sal word (2 Kronieke 7:14). Hy sal die waters gesond maak sodat vis weer sal floreer (Sagaria 14:8; Esegiël 47:8-9).

Hoe kan ons weet dat God nie Sy Koninkryk besaai wil hê van verrottende vullis nie? Een paragraaf in die boek Esegiël beskryf ’n geprofeteerde gebeurtenis, waaruit ons ’n belangrike beginsel kan aflei. Gedurende die Duisendjarige Vrederyk sal die nasies van Gog en Magog ’n poging in opstand teen God lei, maar hulle sal terdeë verslaan word. Kyk nou hoe beskryf die Skrif die nadraai van daardie opstand: “En die huis van Israel sal hulle begrawe [die lyke van diegene wat gedood is in die oorlog], om die land te reinig, sewe maande lank. En al die mense van die land sal begrawe, en dit sal hulle roem wees, die dag as Ek My verheerlik, spreek die Here Here. Ook sal hulle vaste manne afsonder wat die land deurgaan en die trekkers begrawe wat bo-op die grond oorgebly het, om dit te reinig” (Esegiël 39:12-14).

God wil hê dat die land skoon moet wees! Hy wil nie hê dat verrottende vullis die landskap moet skend en die mensdom se voedsel- en waterbronne moet besoedel nie. In Sy Koninkryk sal die hele wêreld inderdaad gereinig wees van verval en korrupsie wat so algemeen is in ons huidige tydperk. Soos die apostel Paulus skryf: “Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God” (Romeine 8:19). Hoe spoedig moet daardie dag tog nie kom nie!

Ware rommelbestuur

Hoe sal rommelbeheer dan in God se Koninkryk gedoen word? Dit is interessant dat Esegiël 39 aan ons perspektief bied. Bewaring sal ’n bysaak word. Let daarop, dat die nasie van Israel vir sewe jaar ná die mislukte opstand wat in Esegiël 39 beskryf word, nie nodig sal hê om ’n boom uit die bos af te kap nie – hulle sal materiaal wat op die gevegsfront agtergelaat is, as brandstof gebruik (Esegiël 39:9-10). God mors niks nie en hy sal mense leer om dieselfde te doen.

Baie mense is vertroud met Jesaja se profetiese beskrywing, waarin mense “... van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse” (Jesaja 2:4). Dit is sekerlik ’n uitbeelding van vrede – die einde van oorlog. Het u al ooit gewonder wat die res van hierdie profesie aan ons leer? Onder Christus se leiding sal mense materiaal gebruik – en weer gebruik – eerder as om dit eenvoudig weg te gooi wanneer dit breek of nie meer benodig word nie. Wapens van metaal sal omskep word in plaasgereedskap!

Dit is interessant om te lees dat Jesaja in dieselfde profesie antieke Israel veroordeel oor hulle kwistige, verbruikersaangedrewe mentaliteit: “En hulle land is vol silwer en goud, en daar is geen end aan hulle skatte nie; en hulle land is vol perde, en daar is geen end aan hulle strydwaens nie” (Jesaja 2:7). Is ons nasies deesdae enigsins anders? Ons “strydwaens” is motors en ons “skatte” is huishoudelike dinge wat ons koop en weer weggooi teen ’n vinniger tempo, omdat ons verlei word deur ’n advertensie-bedryf wat daarop toegespits is om ons immer-groeiende sin van “benodig”, gebruik en weggooi, oor en oor, aan te wakker.

Is u vasgevang in die verbruikers-mallemeule? Of is u besig om te leer om ’n goeie rentmeester te wees oor die seëninge wat God aan u gegee het, terwyl u voorberei vir die Koninkryk van God? Jesus Christus waarsku: “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie” (Lukas 12:15). Wyse Koning Salomo het bevind dat verbruik nie bevredig nie: “Al die dinge is so vermoeiend, geen mens kan dit uitspreek nie; die oog kry nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie” (Prediker 1:8).

Ten spyte van hierdie kennis wat ons al so lankal het, is ons moderne kapitalistiese samelewing grootliks gebou rondom “beplande onbruik deur veroudering” – ’n doelbewuste plan om verbruikers te laat aanhou nuwe dinge koop! ’n Paar jaar gelede het ’n vriend van my sy ondervinding met my gedeel, toe hy vir ’n horlosie-vervaardiger gewerk het. Die firma het elke horlosie ontwerp om uitgedien te raak na ’n vooraf beplande tydperk, kort nadat die waarborg se tydperk verstryk het! Op die koop toe was dit goedkoper om ’n nuwe horlosie te koop as om die oue te herstel.

Wat is verkeerd met hierdie stelsel? Dit teer op meer en meer verbruik en genereer toenemend meer rommel! “Verbruik is die spil waarom die Amerikaanse lewe en gesonde ekonomie draai; en eie aan verbruik is rommel ... Die wêreld van rommel het nie altyd bestaan soos dit vandag is nie. In die negentiende eeu was rommel gesorteer, munisipale rommel was in kompos verander en alle soorte materiaal wat die huis as rommel verlaat het, was omvangryk herbenut. Met industrialisasie en twee groot wêreldoorloë, is die vervaardigingstelsel egter dramaties verander, net soos rommel” (Rogers, bl. 9).

Dink net aan die verandering wat dit sal teweegbring sou huishoudelike goed gemaak word om 20, 30 of selfs 50 jaar te hou! Dink net hoe dit verbruikers se gesindheid teenoor spandering sal verander. Wat daarvan as dit altyd goedkoper sal wees om gebreekte items te laat regmaak eerder as om dit weg te gooi? Net daardie verandering sal die volume rommel dramaties verminder in ons hantering van munisipale rommel. Kyk na hierdie November 2009 data van die Amerikaanse omgewingsbeskermings-agentskap: In 2008 was 31% van munisipale vaste rommel gegenereer in Amerika afkomstig van verpakkingsmateriaal en houers – dit beloop 76,760,000 ton, net omdat konstant nuwe goed gekoop is! (Municipal Solid Waste Generation, Recycling, and Disposal in the United States: Detailed Tables and Figures for 2008).

Die Amerikaanse omgewingsbeskermings-agentskap se verslag onthul ook dat Amerikaners geweldige vermorsers van kos is. In 2008 was 13% van alle vullis wat in die land gegenereer is, in die vorm van oorskietkos. Dit beloop rofweg 31,790,000 ton kos wat in een jaar weggegooi was. ’n Verdere 13% van alle afvalmateriaal in 2008 – omtrent 32,900,000 ton – was in die vorm van tuinvullis (ibid.).

Eerlikwaar, ons moderne samelewing is verlei tot ’n kultuur van vermorsing. Gelukkig sal dit alles verander onder die heerskappy van Jesus Christus gedurende die Millennium.

Wat van u?

Watter rol sal vandag se Christene speel in die Millennium? Terwyl hulle onder Jesus Christus regeer, sal aan hulle die verantwoordelikheid gegee word om die hele mensdom die lewensweg te leer wat wyse rentmeesterskap van natuurlike hulpbronne beklemtoon. “En die Here antwoord: Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, só besig sal vind. Waarlik, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel” (Lukas 12:42-44). Christene wat vandag wyse rentmeesterskap beoefen, hulle wat dit wat God aan hulle gegee het, goed versorg, is besig om voor te berei vir hul toekoms in die Koninkryk van God! Mag God daardie dag bespoedig, wanneer “... hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die Here van die leërskare het dit gespreek” (Miga 4:4).