Is daar werklik ’n vurige hel waar die siele van die vervloekte manne, vroue en kinders vir ewig ly? Word mense, wat deur God na Sy gelykenis geskape is, tans so gepynig? Tradisionele Christendom het ’n antwoord, maar u sal moontlik verbaas -- en gerusgestel wees -- deur wat die Bybel werklik oor die hel te sê het.

’n Gallup meningspeiling in die vroeë 1990’s het onthul dat ongeveer drie uit elke vyf Amerikaners in die hel glo. Gewilde menings kan ons egter nie vertel of daar werklik ’n helvuur is wat die siele van die bose mense vir ewig pynig nie. Wat sê die Bybel werklik?

Die Bybel noem duidelik die woorde hel en vuur, maar daar is baie wanbegrippe oor die hel. Hierdie wanbegrippe is nie uniek onder Christene nie; die wêreld se godsdienste het inderdaad ’n wye verskeidenheid oortuigings rondom die hel en die laaste oordeel.

Die godsdiens van Islam, beskryf byvoorbeeld die hel as ’n poel vuur. Islam se heilige boek, die Koran, stel hierdie oortuiging aangaande die bose soos volg: “Die vuur van die hel is straf genoeg. Diegene wat Ons onthullings ontken, sal Ons in die vuur brand. So gou soos hul velle deur die vuur verteer is, sal Ons aan hulle ander velle gee, sodat hulle die kastyding werklik mag ervaar” (Sura 4, verse 55-56, vertaling dié van uitgewer).

Sulke idees is algemeen in baie ander gelowe. In ’n artikel getiteld, Other Faiths, Other Hells (U.S. News & World Report, 25 Maart 1991) meld outeur Jeffrey Sheler dat die godsdiens van Djainisme “die heelal beskou as bestaande uit drie ryke, waarvan die laagste 8.4 miljoen helle bevat waar die mensdom vir hul sondes gestraf word. Diegene skuldig aan onvergeeflike sondes, word vir ewig in ’n bodemlose poel aangehou.” Sheler dui ook aan dat daar 21 helle in Hindoeïsme is waar “die siel herwin word tot ’n hoër staat in ’n volgende lewe.”

Vergelyk dít met baie Christene se oortuigings van ’n tydelike vagevuur waar siele gesuiwer word deur folterende kastyding, sowel as hul geloof in ’n soortgelyke maar nimmereindigende hel waarin siele vir ewig gekasty word sonder enige hoop op verlossing.

Dít alles kan heel ontstellend en skrikwekkend wees. Ek onthou hoe ek as seun my pastoor se beskrywing van die vlamme van die hel aangehoor het. Hierdie lewendige en skrikwekkende beelde het my oor die jare bygebly. Het ek egter op daardie tydstip die waarheid geken, sou ek vertroos, eerder as bang gevoel het. Jesus het inderdaad die gerusstellende verklaring gemaak: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak” (Johannes 8:32).

Daardie Bybelse waarheid, sou ek later tot my groot verbasing leer, is dat daar nie op hierdie tydstip enige menslike siel in ’n ewigbrandende vlammehel ly nie. Dis reg! U hoef nie bekommerd te wees dat u familie wat nie tot u geloof bekeer was tans in die vlamme van die hel gekasty word nie!

Stel dit u teleur? Ongelukkig vind sommige mense plesier daarin om te glo dat die onbekeerdes ly onder ewige kastyding. Hulle verwag om die ewigheid in die hemel deur te bring en neer te sien op diegene wat in die hel ly. Kan u die hemel vir ewig geniet, wetende dat u geliefdes en andere folterende lyding ondervind? Baie mense verwag om presies dít te doen. Sulke mense is vreeslik deur Satan om die bos gelei en daar is aan hulle die valse en onbybelse begrip van die Skepper as ’n wrede God gegee, wat Hy nie is nie.

Soos ons sal sien, sal God in die toekoms ’n vuurpoel gebruik met die laaste oordeel. Daardie vuur sal uiteindelik die hele aarde verswelg en suiwer. Dít -- nie ’n ewigbrandende martelput vir mense nie -- is die uiteindelike hel wat in u Bybel onthul word.

Die noodlot van die Bose

In die Wêreld van Môre radio-uitsendings, het u die evangelie van die Koninkryk verkondig gehoor en daarvan gelees in die bladsye van hierdie tydskrif. Daardie evangelie is die goeie nuus van Christus se wederkoms om hierdie aarde as Koning van konings en Heer van here te regeer! Maar het Jesus Self ook van ’n vurige oordeel gepraat? Ja, Hy het!

Wanneer Christus terugkeer, bring hy beide belonings en veroordelings saam. Hy sal Sy getroue dienaars beloon, soos die Bybel beskryf: “Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Mattheus 25:34).

Maar daar is ook straf vir diegene wat hul karakter as bose en euwel rebelle teen God se weë, God se wette en God se liefde gebou het. Nadat Hy die getroue dienaars beloon het, vertel die Bybel ons: “Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele” (Mattheus 25:41).

Wat gebeur met hierdie vervloekte individue? Bly hulle lewend tot in alle ewigheid? Of word hulle verbrand? Dít is wat die Bybel sê sal gebeur met die verstokte bose mense, diegene wat besluit het om hulself nooit te bekeer en God nooit te gehoorsaam nie: “Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ’n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ’n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die Here van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie” (Maleagi 4:1).

Die goddelose sal totaal vernietig word. Hulle sal die ewige doodstraf kry. Maleagi gaan voort met die beskrywing: “En julle sal die goddelose vertrap, want hulle sal soos stof wees onder julle voetsole op die dag wat Ek skep, sê die Here van die leërskare” (Maleagi 4:3).

Diegene wat hul eie lot uitgewerk het, diegene wat vas besluit het om nooit van hul goddelose gesindheid en aard te bekeer nie, sal totaal verbrand en stof word! Hulle sal geheel en al uitgewis word!

Baie mense het gewonder waarom, indien God, as Hy so ’n regverdige God is, mense verdoem om vir ewig te ly as hulle nooit werklik kans gehad het om die evangelie te hoor, te glo of daarop te reageer nie. Die antwoord is eenvoudig: Hy doen dit nie! God ís regverdig en billik.

Dit is Satan en sy engele wat vir ewig gekasty sal word. Satan wil hê dat ons moet glo dat sy lot as geesteswese, die lot van mense sal wees! Satan “verlei die hele wêreld” (Openbaring 12:9). In teenstelling met Satan se propaganda, sal God nie toelaat dat mense vir ewig ly nie!

Let op Jesus se merkwaardige stelling: “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel” (Mattheus 10:28).

Lees hierdie teksvers in u eie Bybel! God kan beide siel en liggaam doodmaak. Ja, God is so magtig dat Hy siele vir ewig kan uitwis! Dit beteken dat lewe, psuché in Grieks, totaal vernietig sal word. Daar is geen opstanding uit die dood waarvan Jesus hier praat nie! Ons sal dit meer duidelik sien wanneer ons later in hierdie artikel na die boek Openbaring kyk.

Ons het gesien dat daar wydverspreide godsdiensmenings is rakende die ewige straf van goddelose siele. Verskeie godsdienste glo dat ’n ewigbrandende hellevuur bose mense vir ewig sal kasty. Maar ons het ook gesien dat God by magte is om die siele van mense te vernietig. Hy sal die verstokte goddeloses vir ewig van hul ellende verlos! God is regverdig en billik!

Die gawe van die ewige lewe

Johannes 3:16 is een van vele Bybelverse wat God se liefdevolle natuur teenoor elke mens bewys. Diegene wat glo dat God die verstokte goddeloses nie heeltemal kan of sal uitwis nie, moet hierdie vers van naderby beskou: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16).

Laat ons eerstens besef dat God Sy Seun vir u gegee het! Dit is nie vir u nodig om een van daardie verstokte goddeloses te wees wat in die poel van vuur opgebrand gaan word nie. U kan vergewe word, mits u uself bekeer en die evangelie glo soos Jesus gesê het! “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15).

Maar u moet weet wat u doen en nie slegs emosioneel reageer sonder om die waarheid aan uself te bewys nie. Die Bybel vertel ons: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Ons moedig u aan om dit te doen -- deur dít wat u in hierdie tydskrif lees -- in u eie Bybel op te soek.

Indien u reeds ’n onsterflike siel het, sal u natuurlik nooit sterwe nie. U sou reeds die ewige lewe gehad het. Weereens, wat lees ons in Johannes 3:16? “... sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Jesus sê dat die goddeloses sal sterwe, maar dat diegene wat Hom werklik glo en gehoorsaam, die gawe van die ewige lewe sal hê. Indien u reeds beskik oor die ewige lewe as ’n onsterflike siel, sou ewige lewe nie ’n geskenk gewees het nie. Dit word verder beklemtoon in ’n ander teksvers waarmee u vertroud sal raak indien u ’n gereelde luisteraar van die Wêreld van Môre radio-uitsending is: “... die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23). Ons sien weereens dat die straf vir sonde die dood is! Dood beteken die afwesigheid van lewe! Die ewige lewe is ’n kosbare geskenk deur Jesus Christus!

Dante en die Hellevuur

Presies waar het die idee van siele wat in die vuur brand, vandaan gekom? Sommige idees het van voorchristelike konsepte gekom, maar die algemene idee van hel is gewild gemaak in die bekende gedig “Die Goddelike Blyspel” deur Dante Alighieri, wat tussen 1302 en Alighieri se dood in 1321 geskryf is. Die gedig bestaan uit drie dele, Inferno, Purgatorio en Paradiso, oftewel Hel, Vagevuur en Paradys. In Inferno, lei die digter Virgil, Dante op sy reis deur die hel. By die ingang vind hulle die onheilspellende teken: “Laat vaar alle hoop, jy wat hier binnegaan” (Inferno, na Engels vertaal deur Elio Zappulla, Kanto III, bl. 39). Virgil vertel Dante van sy reis deur die hel: “Ek sal jou gids wees, en jy sal my volg en ek sal jou deur ’n wêreld van pyn lei waar die dooie siele in eindelose pyn en geskreeu wring soos hulle uitroep om weer te sterf” (Inferno, Kanto I, bl. 24).

Dante sit sy reis deur die verskeie afdelings van die hel voort en skryf: “In die sloot, ver onder die gewel waarop ons staan, borrel daar boosaardige pik … Ek het slegs die borrels sien opkom en bars, die groot massa herhaaldelik sien opwel en saamtrek, opwel en saamtrek …” Dan sien Dante iemand wat tot die hel verdoem is: “Die sondaar is in die pik gegooi … Hulle prik die sondaar met ’n honderd gaffels...” (Inferno, Kanto XXI, bll. 189-191).

Dante het Die Goddelike Blyspel as ’n sinnebeeld geskryf, om sekere beginsels en lesse tuis te bring. Die inhoud daarvan weerspieël ook die politiek en geskiedenis van Italië gedurende Dante se tyd. Sy gedig is nie ’n letterlike weergawe van die Bybelse lering aangaande die hel nie, maar baie mense het egter die beelde deur Dante in sy gedig geskets, verkeerdelik aanvaar as letterlike waarhede!

Soos ons reeds in Romeine 6:23 gesien het -- “die loon van die sonde is die dood” -- nie lewe nie! Dit is interessant om daarop te let dat Dante se gedig, sondaars se veronderstelde ewige lyding, die tweede dood noem. Dit is baie misleidend. Die Bybel verwys na die tweede dood, soos ons later sal sien, as die totale vernietiging van lewe in die poel van vuur. Die tweede dood is nie lewe in die een of ander plek wat die hel genoem word nie. Dood is dood, nie ’n ander vorm van voortgesette lewe nie. Dood is die afwesigheid van lewe!

Watter “hel” bedoel u?

Wat so ongelooflik is, is dat met die meeste besprekings rondom die hel, die veronderstelling gemaak word dat “hel” outomaties “ewige vuur” beteken. Dit is ’n baie misleidende definisie. Die feite is dat daar vier woorde in die Bybel is wat as “hel” vertaal word, met drie verskillende betekenisse. Laat ons die waarheid ondersoek.

Die oorspronklike taal waarin die Ou Testament geskryf is, is Hebreeus. Die Hebreeuse woord wat deurgaans as “doderyk” vertaal word, is sheol, wat eenvoudig “put” of “graf” beteken. Die betekenis is nié ’n plek van ewige vuur nie, maar bloot “put” of “graf”!

Indien iemand u sou vra of u in die hel glo, vra hom dié vraag: “Watter hel?” Die Afrikaanse woord “hel” of “doderyk” in u Bybel beteken nie outomaties ’n plek van vuur of ’n plek van ewige straf nie!

Ons kom nou by die drie Griekse woorde in die Nuwe Testament wat as “doderyk” of “hel” vertaal word en elk ’n ander betekenis het. Dié drie Griekse woorde is hades, gehenna en Tartarus.

Die Griekse woord hades beteken ook “put” of “graf”, soos die Hebreeuse woord sheol. Dit beteken NIE ’n plek van vuur NIE.

Die woord Gehenna is afgelei van die Hebreeuse uitdrukking ge hinnom wat “vallei van Hinnom” beteken. Hierdie vallei lê aan die suidekant van Jerusalem. Soos miljoene ander besoekers, het ek dit verskeie kere besoek. ’n Mens kan sê ek was hel toe en terug!

Die vallei van Hinnom was eertyds gebruik as ’n stortingsterrein vir Jerusalem se vuilgoed, wat deur swawel vuur verbrand of deur wurms en maaiers verteer is. Nou en dan is die liggaam van ’n tereggestelde krimineel in dié vuur gegooi. Gehenna het dus ’n simbool geword van die plek van oordeel wat met vuur vereenselwig word. Die Griekse woord gehenna word gebruik deur die Evangelieskrywer, Mattheus, wanneer hy van Jesus se woorde vertel: “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur” (Mattheus 5:22). Daardie “helse vuur” is in werklikheid die Gehenna vuur.

Jesus het gesê dat diegene met ’n onboetvaardige moordadige gesindheid in gevaar staan van Gehenna. Dit is ’n vuurpoel, soos ons later sal sien, waar die onboetvaardige goddelose verbrand word en die straf van die ewige dood sal ly!

Nou, die vierde woord wat in die Bybel as “hel” vertaal word is gegrond op die Griekse woord Tartarus. Dit dui ’n toestand van beperking aan en is nie op mensewesens nie, maar wel op gevalle engele van toepassing. Let op na 2 Petrus 2:4: “Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word;”

Hier volg ’n verduideliking soos gegee in An Expository Dictionary of Biblical Words deur W.E. Vine,’n Engelse verklarende woordeboek van die Bybel: “Die werkwoord tartaroo, vertaal as ‘in die hel gewerp,’ in 2 Petrus 2:4, dui op onderworpenheid aan Tartarus, wat nóg sheol nóg hades nóg hel is, maar dié plek waar die engele na wie se besondere sonde verwys word, in die skrifgedeelte, opgesluit word om vir die oordeel in bewaring te bly. Die gebied word beskryf as ‘putte van duisternis’”.

Wat dan, is die hel? Vanuit die Bybelse perspektief is dit drie verskillende plekke of toestande.

  • Sheol (in Hebreeus) of Hades (in Grieks), wat “put” of “die graf” beteken.
  • Gehenna, wat “die vallei van Hinnom” beteken. Dit verwys simbolies na ’n vurige oordeel.
  • Tartarus, wat dui op die aanhouding van die gevalle engele.

U sien dus dat, om die woord “hel” vir al drie hierdie verkillende betekenisse aan te wend, nie `n akkurate weerspieëling van die Bybelse waarheid weergee nie. Weereens moet u dus vra: ”Spesifiek van watter hel praat u?”

Wat gebeur met die onkundiges?

Is God onregverdig? Sal Hy nie aan almal op aarde ’n ware geleentheid tot verlossing bied nie? Sal God individue wat na Sy gelykenis geskape is en nooit die ware evangelie gehoor het nie, aan die ewigbrandende hellevuur oorgee? Nee! God is nie onregverdig nie -- Hy sal aan elkeen ’n geleentheid gee!

En tog, hoe sal die menigte wat nog nooit Christus se naam gehoor het nie, hul kans kry? Ons sal onthou dat, toe die apostel Petrus van die naam van ons Verlosser Jesus Christus gepraat het, hy met vrymoedigheid verkondig het: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12).

Tog het biljoene mense nie eens die ware evangelie of die naam van hul Verlosser gehoor nie. Hoe kon hulle ooit ’n kans gehad het om te glo? Die Bybel wys vir ons dat alle mense hul geleentheid tot verlossing sal ontvang. Vir diegene wat nie geroep is om die waarheid werklik te verstaan nie, is daar die Laaste Oordeel wat in Openbaring 20 beskryf word.

Wie sal in daardie oordeel wees? Aan wie sal dan hul eerste geleentheid tot verlossing gegee word? Kom ons kyk na een bemoedigende voorbeeld. Wat dink u is die uiteindelike lotsbestemming van sommige van die boosste mense op aarde, mense wie God reeds gestraf het? Let op wat Jesus van die bose mense van Sodom sê: “En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word; want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy bly staan het tot vandag toe. Maar Ek sê vir julle dat dit vir die land van Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag as vir jou” (Mattheus 11:23-24).

God het die mense van Sodom met vuur en swawel verteer en almal vernietig. Ly hulle ook nou in die sogenaamde vlammehel? Nee! Hulle is dood! Tog het Jesus gesê dit sal vir hulle “verdraagliker” wees in die oordeelsdag. Watter oordeelsdag is dit? In Openbaring 20 vind ons ’n opstanding tot oordeel, waarin die boeke geopen sal word, soos die Bybel sê. Dit is op hierdie tydstip dat diegene wie geestelik verblind was, die begrip van die Bybel en die woorde van die lewe vir die eerste keer sal ontvang: “En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke” (Openbaring 20:12).

Ja, diegene wat weens hul eie sondes gely het en diegene wat onskuldige slagoffers van verdrukking en volksmoord was, sal opgewek word om die Boek van die Lewe te verstaan. Hulle sal hul eerste ware geleentheid kry om die Evangelie en die liefde van God die Vader vir die ganse mensdom te verstaan. Soos Petrus skryf: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:9).

In die Laaste Oordeel, sal biljoene ateïste, sondaars en heidene uiteindelik uit hul vorige lyding leer en die geleentheid gegun word om hulself werklik te bekeer, die evangelie te glo en uiteindelik die Koninkryk van God te beërwe.

Die tweede dood

Maar wat van diegene wat reeds hul gewete verstomp en oorgegee het aan hul eie wil tot rebelsheid, haat en sonde? Diegene wat die waarheid van God geken het, maar Sy vergifnis en liefde wederegtelik verwerp het, sal in ’n poel van vuur verbrand word. “En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openbaring 20:14-15).

Hierdie is die tweede dood, die ewige doodstraf waarvan daar geen opstanding is nie. Diegene wat hul verstand afgesluit het om hulle nooit te bekeer of aan Jesus Christus oor te gee nie, sal totaal verswelg word. Hulle sal die lyding ervaar van die wete wat hul noodlot is, vóór hul laaste teregstelling. Maar ’n liefdevolle en genadige God sal hulle vir alle ewigheid van hul ellende verlos.

Dan sal die hele aarde deur vuur gesuiwer word! “Maar die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand” (2 Petrus 3:10).

Wanneer die aarde eers gesuiwer is deur Gehenna-vuur, die poel van vuur, sal almal òf verheerlikte lede van God se familie wees (soos beskryf word in 1 Korintiërs 15, die “opstandingshoofstuk”), òf hulle sal vir alle ewigheid dood wees, verbrand in die poel van vuur. Die Duiwel en sy engele (as onsterflike geeste) sal vir ewig gekasty word. Dit is hulle lotsbestemming, nie die mensdom s’n nie!

God is ’n God van absolute regverdigheid en absolute liefde. Op Sy tyd en op Sy manier sal Hy aan elkeen die geleentheid tot verlossing bied. Die Duiwel het die hele wêreld mislei en die oorgrote meerderheid van mensewesens vandag op aarde verblind, maar God het ’n plan van redding, selfs vir die bose sondaars van Sodom. Hulle sou ’n folterende pynvolle les geleer het en sal hul geleentheid in die Laaste Oordeel ontvang. En diegene wat onskuldige slagoffers van ongeregtigheid en volksmoord was, sal gesond, verkwik en geseënd wees met hul eerste geleentheid vir verlossing!

Diegene wie geroep, getrou en uitgekies is in hierdie tyd, sal saam met Christus in Sy Koninkryk regeer. Hulle sal saam met Christus die aarde help onderrig, dien en regeer, vir ’n duisend jaar. Ná hierdie “Millennium” kom die opstanding tot die oordeel. Dan, laastens, sal die regte hellevuur -- die poel van vuur -- die verstokte goddeloses vernietig!

Tot dan moet ons ag slaan op die apostel Petrus se waarskuwing: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? -- julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt” (2 Petrus 3:11-12).

Ja, ons moet geestelik waaksaam en getrou wees, uitsien na ’n wonderlike toekoms, ’n toekoms vol hoop waarvan u gehoor het op die Wêreld van Môre radio-uitsending en gelees het in die bladsye van hierdie tydskrif. Petrus gaan voort: “Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede” (2 Petrus 3:13). Ons kan onsself inderdaad saam met die apostel Petrus verheug dat daar hoop is vir ons almal, deur ons Verlosser, Jesus Christus.