Die ligte September luggie waai deur die oop vensters van die klein plattelandse kerkie, waarin ek as kind gesit het. Net soos die gewoonte van tallose ander groter en kleiner Protestante kerke, was ons kerkie besig met ’n “herlewingsdiens”. Die besoekende leraar gee ’n aangrypende preek tradisioneel vir sulke geleenthede en beklemtoon kragtig dat ons ons harte aan die Here moet gee en ’n nuwe geboorte ervaar. “U moet wedergebore word!” beklemtoon hy oor en oor, dwarsdeur die weeklange herlewing.

Soos miljoene ander het diegene van ons wat daardie aand teenwoordig was, die nuwe geboorte gesien as ’n eenmalige, emosionele ervaring wat plaasvind wanneer ’n individu “Christus aanvaar”. Is dit werklik wat Jesus Christus bedoel het toe Hy Nikodemus vertel het dat ’n mens “weer gebore” moet word om die Koninkryk van God te beërwe?

Maak geen fout nie; ’n nuwe geboorte is absoluut noodsaaklik! Daarsonder sal ons nooit die Koninkryk van God sien nie. Jesus sê so in Johannes 3:3! Tog is die vraag: wat presies is die nuwe geboorte wat Jesus beskryf het?

Verskillende idees oor die nuwe geboorte

Miljoene mense beïnvloed deur Protestante evangelistiese prediking, verstaan “wedergeboorte” baie dieselfde as die herlewingsprediker tot wie se roeping van die preekstoel af ek meer as 40 jaar gelede reageer het. Baie ander belydende Christene sien dit egter anders. Diegene wat ’n agtergrond het in een van die meer formele, gewyde kerke het ’n totaal ander siening van die “nuwe geboorte”. Die Dictionary of the Bible and Religion verduidelik in die artikel “Regeneration” dat die seremonie van kinderdoop, of kleindoop, wat nie net deur die Rooms-Katolieke, Oos-Ortodokse en NG kerke beoefen word nie, maar ook deur vele Protestante kerke, “geskiedkundig bekend staan as doop-wedergeboorte en berus op die oortuiging dat die sakramente, wanneer dit tereg uitgevoer word, die gesag het om dit wat dit voorstel, naamlik die wedergeboorte of nuwe geboorte van die kind in God se familie, toe te ken”.

Kerke wat kleindoop as ’n sakrament beskou, glo dat die seremonie self wedergeboorte toeken en dat die gedoopte persoon op daardie tydstip in die Koninkryk van God ingaan. Evangeliesgesindes sou redeneer dat die individu eers sy eie persoonlike geloofsbelydenis moet aflê, waarna hy “wedergebore” is en van daardie oomblik af, in die Koninkryk van God is.

Die oortuiging dat ons “wedergebore” moet word is nie beperk tot diegene wat Christenskap bely nie. In vandag se wêreld praat beide Boeddhiste en Hindoes ook van wedergeboorte. In sy artikel oor “Wedergeboorte” verduidelik die Interpreter’s Dictionary of the Bible dat baie van die antieke verborgenheidsgodsdienste onderrig het dat hul aanhangers nuutgebore word deur spesiale rituele. Hulle gebruik die term “wedergeboorte … om die verlossing aan te dui wat vir die gelowige verkry word deur middel van inwyding”. Van Stoïsyne en aanhangers van Pythagoras, tot volgelinge van Mithraisme en die antieke Eleusynse Verborgenhede, was daar in die nodigheid vir wedergeboorte geglo.

Argumente in godsdiens het die neiging om oor te spoel na ander areas van die lewe. In die 1970’s, toe Jimmy Carter President van die Verenigde State geword het, is “wedergeboorte” op die voorblaaie van koerante verkondig. Sedertdien is die term “wedergebore” toenemend gebruik om te onderskei tussen ywerige gelowiges in ’n Christenskap wat gevoel en ervaar kan word en diegene wat deur hulle as “Christene in naam” beskou word. Baie van diegene wat die belangrikheid benadruk van dít wat hulle ’n “wedergeboorte ondervinding” noem, kyk ook na “spreek in tale” en soortgelyke emosionele, charismatiese gebeure om te dien as bewys van hul ondervinding van die “nuwe geboorte”.

Diegene wat “wedergeboorte” sien as ’n kwessie van sakrament en diegene wat dit sien as ’n persoonlike ervaring, stem oor een punt saam. Beide sienings veronderstel dat Christene alreeds op hierdie huidige tydstip wedergebore is. Daardie oortuiging is fundamenteel tot hul siening van God se plan van verlossing. Is hulle egter korrek? Om te verstaan wanneer die nuwe geboorte plaasvind, is dit noodsaaklik om presies te besef wat verlossing behels.

WANNEER vind verlossing plaas

Verlossing word oor die algemeen selfs deur belydende Christene misverstaan. Volgens die Bybel is dit ’n proses! Bykans niemand verstaan daardie noodsaaklike feit nie. Laat ons egter eers vra: waarom moet ons gered word? Waarvan moet ons gered word? As ons eers hierdie kwessies verstaan, kan ons die wanneer en hoe van verlossing begin verstaan.

Om dit eenvoudig te stel, ons word van die dood gered - die ewige dood! Die apostel Paulus verduidelik: “Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Hy verduidelik verder: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23). Dit is die goddelike Vader wat die inisiatief neem om ons tot verlossing te bring. “Maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Romeine 5:8; verg. Johannes 6:37, 44). Red die dood van Christus ons dus? Let op hierdie verbysterende waarheid: “Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn. Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is” (Romeine 5:9-10).

Let daarop dat daar ’n reddingsproses is! Ons het almal gesondig. Met ander woorde, ons het almal God se heilige, regverdige wet verbreek (1 Johannes 3:4). Trouens, Paulus verduidelik in Kolossense 1:21 dat ons tevore van God vervreem en vyande is in ons gedagtes, as gevolg van ons eie bose werke. Gevolglik verdien ons die ewige dood. God het die inisiatief geneem om verlossing moontlik te maak; Christus het ons plek ingeneem en namens ons gesterf. Sy dood alleen red ons egter nie! Dit maak ons regverdiging en versoening moontlik. Dit beteken dat ons onskuldig kán wees en in harmonie met God gebring kán word. Hoewel God die inisiatief geneem het, moet ons op Sy inisiatief reageer. Petrus verduidelik dit aan diegene wat sy preek op Pinksterdag gehoor het: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38).

Dit is egter slegs die eerste stadium. Met die doop verbind ons ons om God te gehoorsaam en met ’n geestelike ontwikkelingsproses te begin. In Mattheus 24:13 maak Jesus Christus dit duidelik dat slegs diegene wat tot die einde toe vasbyt gered sal word. Verlossing is ’n proses wat vir ons begin wanneer ons God se Heilige Gees ontvang na ons doop en ’n hoogtepunt bereik wanneer “hierdie sterflike met onsterflikheid beklee word” met die opstanding wat met Christus se wederkoms gaan plaasvind (1 Korintiërs 15:53).

God verwag van ons om tussen ons bekering en ons dood iets te doen! Paulus skryf: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Korintiërs 7:1). Jesus Christus som dít op wat ons in reaksie op God se liefde moet doen toe Hy sê: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het” (Openbaring 3:21). Ons beërwe nie die Koninkryk van God met bekering nie; God verwag eerder van ons om ’n lewe van groei en oorwinning te lei, in staat gestel deur Sy Heilige Gees.

In Galasiërs 2:20 verduidelik Paulus hoe ons geestelik moet groei: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het”. Christus het nie net gesterf om die loon van sondes te betaal nie, maar na drie dae en drie nagte het Hy uit Sy graf opgestaan om vir ewig te leef. Hy is in krag en heerlikheid verhef as die “Eersgeborene uit die dode” (Kolossense 1:18). Dit is deur Sy lewe wat ons ook ewige lewe mag hê (Romeine 5:10).

Net soos nuwe lewe in die proses van menslike geboorte gegee word - met ’n verwekking, ’n groei- en ontwikkelingstydperk en dán die geboorte in die wêreld - so ook word ’n nuwe lewe gegee in die proses van verlossing. Ons word verwek, ons groei en ontwikkel as Christene en dán gaan ons die Koninkryk van God binne. Die “wanneer” van verlossing is die opstanding uit die dode wanneer ons uiteindelik die Koninkryk van God as geesgebore kinders van God sal beërwe. Christus sê in Lukas 20:36 dat ons die “kinders van God [is], omdat hulle kinders van die opstanding is”.

’n Fariseër word vertel om wedergebore te word

Nikodemus was geskok. Hy het in die geheim, in die nag, na Jesus gekom en vertroulik erken dat hy en ander godsdiensleiers Hom as ’n man van God herken het. Het hy gedink dat Jesus die stempel van goedkeuring sou waardeer, al was dit in die geheim?

Wat die Fariseër ookal verwag het, het dít wat Jesus hom vertel het as ’n groot skok gekom. U sien, as Fariseër, het Nikodemus nooit oorweeg dat sy verlossing in twyfel getrek kan word nie! Hy was op stuk van sake ’n nougesette wetsgehoorsame man volgens die tradisie van die Fariseërs. Hy is uit die geslag van Abraham gebore aan wie God eertyds die beloftes gemaak het. Hy is op die agtste dag besny, wat hom ’n deelgenoot van die verbondsgemeenskap gemaak het. Hy was nie een van die gehate tollenaars wat deur die opmerksame Jode as onrein en sondig beskou is vanweë hul gedurige kontak met heidene nie. Hy was nie een van die am ha eretz - die “mense van die grond” nie - daardie gewone massas wat so besorg was met die vervelige aangeleenthede om ’n bestaan te maak dat hulle min vry ure per dag gehad het om die Tora te bestudeer.

Die Koninkryk van God was die hoop van Fariseërs soos Nikodemus. Hulle het in die opstanding geglo en dat die Messias ’n Koninkryk sou vestig om alle nasies te regeer net soos die profete voorspel het. Die Jode van die eerste eeu het egter die Koninkryk en die opstanding in bykans geheel in ’n fisiese en materialistiese lig beskou. Hulle het hul toegang tot die Koninkryk as hul geboortereg beskou deur die beloftes wat in die verbond met Abraham gemaak is. Hoewel hulle die nodigheid erken het dat ’n heiden bekeerling sy ou identiteit na die besnydenis en die “mikvah” (rituele onderdompeling) om kind van Abraham te word, aflê, het hul geen soortgelyke nodigheid gesien vir hulself nie (verg. Johannes 8:32-36). Was hulle nie alreeds kinders van Abraham en daarom uiteraard erfgename van die beloftes nie?

Dít is wat Nikodemus geskok het oor Jesus se reaksie teenoor hom. Christus sê dat Nikodemus nie geregtig was om die Koninkryk van God te beërwe op grond van sy fisiese afkoms as nakomeling van Abraham nie. Toegang tot daardie Koninkryk was slegs gegrond op geestelike afkoms.

In Johannes 1 kontrasteer die apostel Johannes die reg van diegene wat van die gees gebore is met diegene wat bloot van die vlees gebore is, om die toon aan te gee vir die Johannes 3 weergawe van Nikodemus se gesprek. “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ’n man nie, maar uit God gebore is” (Johannes 1:11-13).

Die antieke Grieke het verstaan dat verwekking plaasgevind het wanneer die saad van die vader met die bloed van die moeder verenig is. Christus beklemtoon dat hierdie verwekking wat in die moeder se liggaam plaasvind as gevolg van menslike keuse en hartstog, nie die een is wat afstammelinge voortbring wat die Koninkryk sal beërwe nie. Uiteindelik is dit nie ons fisiese afkoms wat belangrik is nie, maar ons geestelike afkoms!

Wanneer sal die nuwe geboorte plaasvind?

Die Bybelse illustrasie van “wedergeboorte” is ooreenkomstig met die fisiese geboorteproses. Die geestelike wedergeboorte wat met die doop plaasvind, word vergelyk met verwekking deur ’n mens se vader. Na verwekking moet ons as Christene groei en ontwikkel net soos ’n fetus in die moeder moet groei en ontwikkel voordat dit gereed is om gebore te word. Die Bybel vergelyk die eintlike geboorte met die opstanding. Dit word duidelik gemaak in Johannes 3:6 toe Jesus vir Nikodemus sê: “Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees” Paulus verduidelik in 1 Korintiërs 15:50-53 dat, terwyl vlees en bloed nie die Koninkryk van God kan beërwe nie, sal ons in onsterflike gees verander word met die opstanding.

Net soos die wind oor groot mag beskik maar tog onsigbaar is, so sal diegene ook wees wat werklik uit die Gees gebore is (Johannes 3:8). In hierdie lewe is ons soos Adam - met ’n fisiese, sterflike liggaam. Na die opstanding uit die dode, sal ons ’n verheerlikte geestesliggaam hê - net soos Jesus Christus na Sy opstanding (1 Korintiërs 15:43-49; Openbaring 1;13-15). Ons “vernederde liggaam” sal verander word om te wees soos Sy “verheerlikte liggaam” (Filippense 3:21). Jesus Christus word nie meer moeg of honger nie. Hy is nie meer onderwerp aan pyn of dood nie. Hy het uit die graf gekom om nooit weer te sterf nie! Jesus is herstel tot die volle glorie wat Hy met die Vader gedeel het voordat die aarde bestaan het en sit nou aan die Vader se regterhand as ons Bemiddelaar en Koning wat binnekort kom (Johannes 17:4; Hebreërs 4:14-16).

In Kolossense 1:18 en Openbaring 1:5, word Jesus Christus die “Eersgeborene uit die dode” genoem. In Romeine 8:29 word Hy die “die eersgeborene ... onder baie broeders” genoem. Dit dui duidelik daarop dat ons ook “uit die dode gebore” sal word! Die Griekse term wat as “eersgeborene” vertaal is, is prototokos. Protos is ’n Griekse woord wat “eerste in rang en belangrikheid” beteken. Hierdie betekenis word gedemonstreer deur die woord as voorvoegsel te gebruik in woorde soos prototipe.

Terwyl die Bybel baie ooreenstemmings gebruik om ware Christene te kenmerk - soos pasgebore kindertjies in 1 Petrus 2:2, seuns in Hebreërs 12:6-7, lewende stene om ’n geestelike tempel mee te bou in 1 Petrus 2:5 of dele van die menslike liggaam in 1 Korintiërs 12:12 - bly die nuwe geboorte steeds die mees kragtige en volledige verduideliking van wat letterlik betrokke is in ons toegang tot die Koninkryk van God. Dit verduidelik waaroor verlossing werklik gaan - naamlik om letterlik kinders van God te word (Hebreërs 2:10).

Nou is ware Christene erfgename wat nog nie geërf het nie. Christus maak dit duidelik dat dit slegs met die opstanding is wat “die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom” en wat Hy aan die opgewekte heiliges sal sê: “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk” (Mattheus 25:31, 34). Jesus Christus onthul duidelik aan Sy dissipels in Mattheus 24:13 dat slegs diegene wat volhou en vasbyt tot die heel einde, gered sal word. God het ’n groot uiteindelike doel. Hy vermenigvuldig Homself in ons! Ons kan in God se Familie wees as ten volle gebore kinders - jonger broers van Jesus Christus wat die eersgebore van baie broeders is (Romeine 8:29).

In die doopseremonie, stel Christene die opstanding self voor (Romeine 6:1-5). Dit is met die opstanding wat ons ons uiteindelik met onsterflikheid sal klee en werklik die Koninkryk van God sal beërwe (1 Korintiërs 15:50-53). Ons word simbolies in ’n watergraf begrawe en staan dan op uit die water om ’n nuwe lewe te leef. In Johannes 3:5 verwys Christus na die nodigheid om van die water en van die Gees gebore te wees. In die Bybel word water dikwels as simbolies van die Heilige Gees gebruik (Johannes 7:38-39). Op uit die water te kom met die doop is simbolies van ons eintlike hergeboorte met die opstanding.

Om die Bybelse “wedergeboorte” aan bekering of ’n emosionele gebeurtenis met die doop gelyk te stel, bring mee dat die hele punt dat verlossing ’n proses is, gemis word! Verlossing begin met ons ontvangs van God se Heilige Gees na die doop om sodoende deelagtig gemaak te word aan die “goddelike natuur” (2 Petrus 1:4). Christene neem dan toe in genade en kennis deur die res van hul natuurlike lewens. Die verlossingsproses sal ’n hoogtepunt bereik ten tye van die opstanding met die Christen se volle aankoms in die glorieryke Koninkryk van God as ten volle verheerlikte, Geesgebore kind van God. Dit is waar, God is besig om “baie kinders na die heerlikheid [te] bring” (Hebreërs 2:10)! Sal u een van hulle wees? Indien wel, moet u “weer gebore” word!

Griekse beskrywings wat verwys na ’n nuwe geboorte

Die Griekse woord gennao word in Afrikaans as beide “gebore” en “verwek” weergegee. Soms gebruik Bybelvertalers hierdie terme asof hulle heeltemal verwisselbaar is, maar dit is foutief - hierdie klaarblyklike klein aangeleentheidjie, kan lei tot groot verwarring en eindig in ’n reuse wanbegrip.

Die Interpreter’s Bible, ’n kommentaar wat 12 volumes beslaan, gee ’n eenvoudige maar duidelike reël vir wanneer gennao as “gebore” vertaal moet word en wanneer “verwek” verkieslik is. “Geboorte kan beskou word as óf van die vader se kant, waarin die werkwoord “verwek” is, óf van die moeder se kant, waar die werkwoord “baar” is” (Volume 8, Abingdon Press, bl. 505). “Baar” is die aktiewe vorm van “gebore word”.

Die Afrikaanse woord “verwek” verwys na die vader se terloopse optrede wat nasate voortbring. Sinonieme werkwoorde is “teel” of “voortbring”. Om te “baar” verwys na die moeder se rol in die voortbring van die nasate - d.i. om hulle vir die volle tydperk te dra en in die wêreld te bring. In Afrikaans is “verwekking” deur die vader beperk tot bevrugting. In die Grieks het gennao egter ’n breër betekenis en kan dit gebruik word om die ganse proses van die “voortbring” van ’n kind in die wêreld te beskryf. Ons vind een so voorbeeld in Mattheus 1:20, waar gennao vertaal is as “verwek” terwyl dit in Mattheus 2:1 vertaal is as “gebore”. In elke geval maak die samehang die behoorlike vertaling na Afrikaans duidelik.

’n Mens mag wonder hoe dieselfde woord gebruik kan word om te beskryf hoe beide ’n man ’n kind verwek en ’n vrou ’n kind baar. Die antwoord is dat die proses as ’n geheel beskou word. ’n Verwekte kind in die moederskoot word gesien as gennao - of “voortgebring” - deur sy vader. (Indien die kind voor geboorte sou sterf, was die kind “voortgebring” maar is nie meer nie). ’n Kind wat gebore is, is ook “voortgebring” deur sy moeder. Daarom is “voortgebring” - wat elke aspek van die geboorteproses van beide ouers se kant dek - eintlik die beste vertaling van gennao. Ware Christene is nou deur God “voortgebring”. Ons sal van Hom “voortgebring” bly vir solank ons voortgaan om te groei met God se Gees. Dan, mits ons “oorwinnaars” is (Openbaring 2:26), sal ons uiteindelik ten volle “voortgebring” word wanneer ons geestelik gebore word met die opstanding!

Die term gennao kan ook in kombinasie met voorvoegsels en ander woorde gevind word wat verwys na wedergeboorte of ’n nuwe geboorte. Een so ’n term is anagennan, wat letterlik “herverwek” of “hergebore” beteken. Dit kom slegs voor in 1 Petrus (1:3, 23) en verwys na ons wat opnuut voortgebring word deur “onverganklike saad”, ’n proses wat gesien word met sy begin met geestelike verwekking en wat eindig in die opstanding (verse 4-5).

’n Ander woord, palingenesia (letterlik “weer word”) word in Mattheus 19:28 en Titus 3:5 gebruik. Uit hierdie twee verse leer ons weereens van ’n proses wat met geestelike hernuwing, gesimboliseer deur die doop, begin en eindig in die opstanding - wanneer die 12 Apostels letterlik “nuut sal word” nadat hulle verheerlikte geestesliggame ontvang het (1 Korintiërs 15:43-44). Dit is wanneer hulle op die 12 trone sal sit om die 12 stamme van Israel te oordeel.

’n Vorm van hierdie uitdrukking, palin genomai, is die enigste Griekse uitdrukking wat ooit in die Septuagint (’n Griekse vertaling van die Ou Testament wat in Christus se tyd in gebruik was) gebruik is om na ’n nuwe geboorte te verwys. Dit word in Job 14:14 gebruik waar Job die opstanding afwag: “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing [palin genomai, wedergeboorte] kom”.

Die laaste uitdrukking wat ons sal ondersoek, is genan anothen in Johannes 3:3. Dit word dikwels as “weer gebore” weergegee, maar baie kenners glo dat dit só beter vertaal word “verwek van bo”. Thayer’s Lexicon verduidelik anothen as “van bo … van bo af … Dikwels … van die hemel of van God”. Die volgende omskrywing wat gegee word, is “van die eerste …. Daarom … opnuut, weer oor, aanduidend van herhaling (’n gebruik wat ietwat raar is, maar verkeerdelik deur baie ontken word)” (Strong’s no 509). Thayers’s Lexicon staan hierdie tweede definisie vir Johannes 3:3 voor vanweë Nikodemus se reaksie, waarin hy dink Christus bedoel dat hy “’n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word” (vers 4) - ’n herhaling van die menslike geboorte-ervaring.

Dit is natuurlik nie die punt van die aangeleentheid nie. Beide idees is korrek. Ons moet weer voortgebring word - maar hierdie keer is dit van bo. Dit is ’n proses met sy oorsprong by ons Hemelse Vader - nie van onder met ’n aardse vader nie. Die belangrike punt om te verstaan oor Johannes 3 is watter stadium van die proses beskryf word. In ’n ander konteks kon genan anothen bloot verwys het na ons huidige staat om nou deur God “voortgebring” of “verwek” te wees. Gegrond op Christus se woorde in Johannes 3 egter, kan ons vasstel dat Hy dui op ’n voltooide proses. Diegene wat genan anothen is, word gesien as bestaande uit gees (vers 3) en onsigbaar soos die wind (vers 8). Die frase genan anothen in die onmiddellike konteks van Johannes 3, word dus beste weergegee as “ten volle weer voortgebring” - d.i. wedergebore as “kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is” (Lukas 20:36).