Dié aankondiging word nog steeds tydens amptelike byeenkomste gehoor, maar maak ’n baie wêreldlike Verenigde Koninkryk nog ruimte vir God? Wat hou die toekoms in?

God save the Queen” is ’n onmiddellik herkenbare frase van patriotiese sentiment in die Britse Statebond. Dit spreek hoop uit vir die lang heerskappy van die koningin en respek vir haar superioriteit in die nasionale lewe; trouens dit is te vinde op alle formele proklamasies wat van die kroon afkomstig is. Dit spreek ook vertroue uit dat God tot die land se redding kom in tye van nood. In die middel van die agtiende eeu, tydens die bewind van George II en die moeilike periode van die Jakobitiese rebellie, is die volkslied “God save the King” vir die eerste keer gesing en het later die volkslied van die VK geword. Dit is vinnig deur ander koninklike huishoudings regoor Europa aangeneem en word vandag nog deur lande van die Statebond gebruik.

Die woorde herinner aan die verhaal in die Bybel van koning Salomo se kroning (1 Konings 1:34-39) en was gebruik in die eerste aangetekende kroning van ’n Engelse monarg, toe Egbert as koning gekroon is in die Bath-katedraal in die vroeë 800’s n.C.

Hoe kan God egter “die koningin beskerm” wanneer dit lyk asof so baie mense van haar koninkryk Friedrich Nietzsche se beroemde edik van 1882 naamlik “God is dood”, aanvaar het (Die Fröhliche Wissenschaft: Leipzig: E.W. Fritzsch, bl. 137)? God leef beslis nié in die gedagtes en gedrag van baie Britse burgers nie. In 2017 het The Guardian na aanleiding van ’n Britse meningspeiling in verband met die resultate van die “British Social Attitudes” berig dat meer as die helfte van alle volwassenes in die VK en byna driekwart van alle 18-jariges tot 24-jariges sê dat hulle geen godsdienstige verbintenis het om van te praat nie. (“Die opname toon: Meer as die helfte van die VK se bevolking het geen godsdiens nie”, 4 September 2017). ’n Studie van die Pew Navorsingsentrum het in 2018 berig dat 65 persent van “godsdienstig nie-geaffilieerde” burgers in die VK gesê het dat hulle so grootgemaak is. Van daardie groep het meer as 70 persent die wetenskap beskou as voldoende om enige behoefte aan godsdiens in hulle lewens te bevredig.

Greg Sheridan, ’n besoekende genoot by King’s College, ’n deel van die Universiteit van Londen, het in ’n onlangse tydskrifartikel opgemerk: “Dit lyk asof die meeste Britte glo dat dit dom is om geloof te hê” (“The West cannot survive without a re-energised belief in Christianity”, The Spectator, 10 Augustus 2019). Hy merk op dat Brittanje meer ateïsties as sy vaderland Australië is, wat op sy beurt nog meer ateïsties is as die Verenigde State en dat godsdienstige oortuiging dwarsdeur die Engelstalige wêreld vinnig versleg.

 

Waarom is dit so?

Na die Tweede Wêreldoorlog was Brittanje se hoëlui vasbeslote om die Britse samelewing te herskep met die wetenskap as grondslag. Rasionalisme eerder as spiritualiteit het die toonaangewende ingesteldheid geword. Die resultaat was die vinnige verwêreldliking van die samelewing. In 1963 het die Anglikaanse teoloog Harry Blamires verklaar: “Daar is nie meer ’n Christelike denke nie” – die eerste sin van ’n hoofstuk met die titel “The Surrender to Secularism” (The Christian Mind, bl. 3). Nou, amper 60 jaar later, kan skrywers soos Sheridan hierdie waarneming met betrekking tot die Britse samelewing met nog groter oortuiging maak.

Sheridan se punt is dat vir die oorlewing van die Westerse beskawing, dit ’n “herlewing van geloof in die Christendom” nodig het. Sheridan is nie die eerste persoon wat dit uitwys nie. Pous Johannes Paulus II het die Europese Parlement in Straatsburg in Oktober 1988 toegespreek en ’n oproep gedoen vir ’n “verenigde Europa vanaf die Oeralgebergte tot die Atlantiese Oseaan”. Godsdienstige eenheid eerder as politiese eenheid, was die belangrikste wat hy in sy gedagtes gehad het – ’n eenheid wat spruit uit Europa se “meer intense soeke na sy siel” (George Weigel, Witness to Hope, 1999: HarperCollins, bll. 542, 584). Deur die pleidooi te ignoreer, het Europa in plaas daarvan probeer om enige verwysings na die rol wat die Christendom in die grondslag en identiteit gespeel het, te ignoreer of heeltemal te skrap, asof dit iets is om oor skaam te wees. Sheridan som dit goed op in sy artikel as hy sê: “Die moderne liberale opinie is nie net vyandig teenoor die Christendom nie, dit is duidelik verleë oor enige verbintenis daarmee”. Dit geld vir Europa sowel as vir die Verenigde Koninkryk.

Hoe kan die Westerse wêreld dus ’n “oplewing” van geloof in die Christendom ontwikkel as die wêreld rondom hom toenemend wêreldlik raak? Soos John Paul II voor hom, bied Sheridan nie ’n maklike antwoord vir die probleem nie, maar beklemtoon eerder die behoefte aan ’n terugkeer na godsdiens.

 

Hoe sou dit egter plaasvind?

Volgens ’n betroubare Bron wat duisende jare gelede geskryf is, sal daar binnekort ’n herlewing van godsdiens in Europa plaasvind wat sal lyk asof dit die weg aandui. Dit sal egter ’n groot verandering in die Europese denke verg: ’n Bereidwilligheid om die bonatuurlike wêreld te erken, ten spyte van die feit dat sulke idees deesdae ten gunste van rasionalisme verwerp word.

Die boek Openbaring, die laaste boek in u Bybel, voorspel ’n persoon wat tekens, verstommende dade en wonderwerke sal doen om die wêreld te mislei (Openbaring 13:11-17). Die resultaat sal ’n godsdienstige herlewing wees waarin ons huidige rasionalistiese bevolking die skepping van ’n gekombineerde godsdienstige/ekonomiese stelsel sal aanneem. Dit mag dalk lyk na ’n opvallende soort van herlewing van godsdiens, maar die Bybel toon dat dit ’n besliste goddelose verloop van sake sal wees. Dit sal nie vir ewig bestaan nie en inderdaad ook nie vir baie lank nie.

Gereelde lesers van die Wêreld van Môre weet dat ons die Wederkoms van Jesus Christus as Koning van die konings en Here van die here verkondig, soos dit in profesieë regdeur die hele Bybel uiteengesit is – veral in die boek Openbaring. Jesus Christus se Wederkoms sal die vernietiging van hierdie herleefde godsdiensstelsel teweegbring. Hulle sal teen Hom veg en met Sy Wederkoms verslaan word. Die gevolg, soos geprofeteer en seker is, sal die vestiging van die ware aanbidding van God wees. Dit is nie die oplossing wat Johannes Paulus II in sy verklaring aan die Europeërs in gedagte gehad het nie. Dit is ook nie wat hy daarna met die Sowjet-leier Mikhail Gorbachev tydens sy besoek aan die Vatikaan in 1989 bespreek het nie. Johannes Paulus II het gestreef na “’n herstel van normaliteit, ’n terugkeer na Europa se ware geskiedkundige verloop” (Weigel, bl. 602). Die uitwerking van Christus se Wederkoms sal eerder wees dat die aarde met die kennis van God gevul sal word “soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9; Hábakuk 2:14).

Na Jesus Christus se Wederkoms sal die burgers van die Verenigde Koninkryk en alle ander aardse koninkryke met begrip en oortuiging aan die Koning van die konings kan uitroep: “God beskerm die Koning!” [“God save the King!”]. Elke mens, ja elkeen, sal weet dat ’n almagtige God in die hemel en ook op die aarde regeer.

Indien u nog nie ons volgende twee boekies gelees het nie, OPENBARING: Die Verborgenheid Onthul en Die Dier van Openbaring: Mite, beeldspraak of werklikheid? – wat albei ’n enorme hoeveelheid lig op hierdie onderwerp werp – kan u dit aanlyn lees by wvm.co.za of u kan ’n gratis eksemplaar by u naaste streekkantoor aanvra. (Adreslys op bladsy 2 van hierdie tydskrif.)