Vraag: Wat is die rol van die Heilige Gees in ’n Christen se lewe? Wat gebeur met diegene wat die Heilige Gees ontvang, maar later God se roeping verwerp?

Antwoord: 
Jesus sê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Johannes 6:44). Niemand kan deel van die Goddelike gesin word sonder ’n roeping van ons Hemelse Vader nie. Die roeping moet opgevolg word deur bekering, doop en ontvangs van die Heilige Gees (Handelinge 2:38-39). Christene ontvang die Heilige Gees deur die oplegging van hande deur Sy ware leraars (Handelinge 8:14-17).

Na ontvangs van die Heilige Gees, betree ’n Geestelike verwekte Christen ’n lewe van opleiding, toetsing, oorwinning en geestelike groei (2 Petrus 3:18). Christene groei geestelik deur te gee (Handelinge 20:35), deur God se Werk getrou te doen en Sy wil te gehoorsaam (Johannes 4:34). Jesus het gekom sodat ons Sy voorbeeld van diensbaarheid kan navolg (Mattheüs 20:25-28) en ’n oorvloedige lewe kan hê (Johannes 10:10).

Met die hulp van die Heilige Gees moet Christene hul menslike aard en die weë van hierdie wêreld oorwin. Dit is nie altyd maklik nie: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan” (Handelinge 14:22). Diegene wat egter standvastig bly, sal die ewige lewe ontvang. “En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Mattheüs 10:22).

Ongelukkig is daar party Christene wat nie tot die einde toe vasbyt nie; hulle versaak die lewenslange proses van bekering en groei, en keer terug na die weë van die wêreld en die sondige lewens wat hulle eens gelei het. Diegene wat die Heilige Gees ontvang het en nogtans volhard in opstand teen die God wat hulle eens gedien het, se voorland is die poel van vuur. “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel. Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Hebreërs 10:26-31).

Hoe sorg ons dat ons nader aan God en nie verder van Hom af wegbeweeg nie? Ons moet onsself gedurig ondersoek. “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie – as julle ten minste nie verwerplik is nie! Maar ek hoop dat julle sal insien dat ons nie verwerplik is nie” (2 Korintiërs 13:5-6).

Sondig ’n Christen wat die Heilige Gees ontvang het nog steeds? Ja! Maar boetvaardige Christene wat waarlik berou het oor die sondes wat hulle gepleeg het, kan vergewe word wanneer hulle hul foute voor God bely en hul wegkeer van daardie sondes. Jesus Christus maak God se vergifnis moontlik. “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ’n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Johannes 2:1-2). Ons moet diep dankbaar wees teenoor Christus, ons Verlosser, aangesien ons op geen ander wyse saligmaking kan ontvang nie, slegs deur Sy Naam kan enigiemand gered word (Handelinge 4:12).

Om meer van God se plan vir redding te wete te kom, skryf gerus vir ons gratis boekie, Is hierdie die enigste dag van redding? Dit sal u help om God se plan te verstaan – nie net Sy plan vir u nie, maar vir die ontelbare miljarde mense wat geleef en gesterf het sonder om ooit Jesus Christus se Naam te hoor.