Vir diegene met oë om te sien, die ware betekenis van die sogenaamde “geheimsinnige” profesieë in die boeke van Jesaja en Openbaring is besig om in fokus te kom – ten spyte van wydverspreide pogings om die ware bedoeling van die Skrif te verberg. Gebeure wat vandag nuus is, tesame met die opgetekende geskiedenis, wys duidelik dat baie lankoordenkte Bybelse profesieë vandag reg voor ons oë besig is om gestalte aan te neem!

Die apostel Johannes het byna 2,000 jaar gelede in ’n visie ’n reeks profeties-belangrike gebeure gesien wat sal plaasvind aan die einde van hierdie tydvak, net voor Jesus Christus se wederkoms na die aarde. Johannes het in Openbaring 17:1-6 ’n weelderig geklede vrou wat op ’n skarlakenrooi dier ry beskryf. Hierdie vrou het intieme verhoudings met regeerders van die wêreld gehad en het die wêreld beïnvloed met haar leringe. Johannes boekstaaf die vrou se naam as “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde”. Jesaja het sewe-honderd jaar vroeër profesieë opgeteken aangaande ’n vrou wat hy die “dogter van Babel” en “gebiedster van die koninkryke” genoem het (sien Jesaja 47). Hy beeld hierdie vrou uit as iemand wat oordrewe en omvattende aansprake maak: “Ek sal in ewigheid wees, gebiedster vir altyd ... Dit is ek en niemand anders nie! Ek sal nie as weduwee sit of kinderloosheid ken nie”.

Presies wie is dan hierdie geheimsinnige, weelderig geklede vrou wat in hierdie profesieë uitgebeeld word, en waarom word sy verbind met die antieke stad van Babel? Watter rol het sy in die geskiedenis gespeel, en watter rol gaan sy op die wêreldverhoog speel namate die einde van die tydvak nader?

Vervulde profesieë

Wanneer Bybelse profesieë ’n “vrou” beskryf, is die verwysing dikwels na ’n kerk of ’n godsdienstige stelsel. Die vrou wat in Openbaring 12:1 genoem word is die ware Kerk van God. Dit lyk ook of Johannes in 2 Johannes 1 na die Kerk as ’n vrou verwys (sien ook 2 Korinthiërs 11:2 en Efesiërs 5:25-27).

Kyk egter ook na ’n ander vrou wat in Openbaring 17:1-6 beskryf word. Hierdie vrou, oordadig geklee in pers en skarlakenrooi, goud en edelgesteentes, is ’n godsdienstige organisasie of stelsel wat die wêreld beïnvloed het met haar leringe. Hierdie magtige instelling het ook intieme verhoudings gehandhaaf met die politieke leiers van die wêreld. Jesus Christus noem Sy ware Kerk ’n “klein kuddetjie” (Lukas 12:32), in teenstelling met die grootte en mag van hierdie “vrou” van Openbaring 17.

Is daar ’n kerk wat geskille tussen regerende konings besleg het – en selfs konings bevorder of onttroon het? Is daar ’n kerk wat haarself die reg toegeëien het om die aardbol te verdeel onder verskillende ekplorerende nasies? Is daar ’n kerk wat selfs vandag nog ’n uitgebreide diplomatieke korps handhaaf en aktief deelneem aan onderhandelings tussen strydende nasies? Dit is miskien geen verrassing nie dat vir baie eeue, Bybelgeleerdes oor die algemeen die vrou in Openbaring 17 geïdentifiseer het as die Rooms-Katolieke Kerk.

Let op die name wat die Skrif aan hierdie vrou gee. “Die groot Babilon” en “dogter van Babel” sinspeel daarop dat baie van hierdie organisasie se godsdienstige leringe teruggevoer kan word na antieke heidense Babilon. Inderdaad, van die idee van ’n soewereine Pous, tot die verering van Moeder en Kind, tot die aanbidding van ’n nuut gebore god op 25 Desember, tot die wyd verspreide gebruik van standbeelde in aanbidding, tot die eerbiediging van ’n “heilige hart” – oor en oor vind ons ooreenkomste tussen Babiloniese en ander antieke heidense leringe en die rituele en geloofsbelydenisse van die Roomse kerk (sien Hislop, The Two Babylons). Ten spyte van so baie praktyke wat van nie-Christelike aanbidding oorgeneem is, maak hierdie kerk daarop aanspraak dat hul alleen die geldige “apostoliese opvolging” hou van Jesus Christus. Alhoewel selfs eerlike Katolieke teoloë toegee dat hierdie aanspraak nie bevestig kan word nie, en dat die mees aangehaalde “bewys” om hierdie aansprake te ondersteun, te vinde is invervalste dokumente (sien Kung, The Catholic Church, bl. 30-31). Historiese bronne wys duidelik dat aansprake van universele oppergesag van die Biskop van Rome uitgevaardig is deur ambisieuse mans wat hulself wou verhef bo leiers in Antiochië, Alexandria, Jerusalem en Konstantinopel (Kung, bl. 45-52).

Die verwysing na die skarlakenrooi vrou as “die moeder van die hoere” is beide ’n verleentheid en leersaam wanneer dit in ’n historiese konteks geplaas word. Gedurende die “Protestantse Hervorming”, het baie nuwe kerke uit die Roomse kerk gekom uit “protes” teen verskeie leringe en praktyke. Die idee van ’n oppermagtige pousdom was verwerp, tesame met idees oor aflaatbriewe, vagevuur, gebede aan en vir die dooies, en baie ander leringe wat nie in die Skrif te vinde is nie. As ons egter objektief na die saak kyk, moet ons erken dat hierdie kerke baie ander nie-Bybelse doktrines en praktyke behou het (bv. die viering van Kersfees en die verandering van die Sabbat na Sondag) wat hulle oorsprong in Rome het. Die verhouding tussen die Roomse kerk en die Protestantse kerke is soos dié van moeder en dogter. Dit is hoekom die skarlakenrooi vrou ook genoem word die “moeder ... van die gruwels van die aarde” – haar korrupte, nie-Bybelse godsdienstige leringe is oorgeneem [uit die heidendom] en het die godsdienste van die wêreld beïnvloed!

Die profesieë in Openbaring 17 verwys na hierdie weelderig geklede vrou wat ry op ’n dier met sewe koppe en tien horings. Die sewe koppe is sewe herlewings van ’n politieke stelsel wat verbind is aan die antieke Romeinse Ryk. Die tien horings is tien konings of politieke leiers wat hulle mag sal gee (hulle onafhanklikheid sal oorgee) aan ’n oorheersende politieke leier wat, aan die einde van die tydvak, na vore gaan kom om ’n herlewing van hierdie “Romeinse” stelsel te lei in sentraal Europa. Die vrou wat op die dier ry stel ’n invloedryke godsdienstige leier voor wat hierdie politieke stelsel bevorder en lei. Dit is geen geheim dat die Roomse pouse die keisers van die Heilige Romeinse Ryk gekroon het nie, en dat hedendaagse pouse die opkoms van dit wat die Europese Unie geword het, bevorder het nie. Bybelprofesieë waarsku dat aan die einde van hierdie tydvak, Satan ’n politieke leier gaan bemagtig en beïnvloed wat ’n verenigde tien-nasie Europese staat gaan oorheers en wat bygestaan gaan word deur ’n Babiloniese godsdienstige leier van wêreld-formaat (sien Openbaring 13).

Die Dae wat voorlê

Afgesien van onlangse skandale waarby geestelikes betrokke is ten opsigte van seksuele misbruik van jong kinders en tieners, maak die Rooms-Katolieke Kerk inbreuk tussen die lidmate van ander kerke wat hulle eie probleme ondervind het. Pous Benedict XVI het onlangs uitgereik na Anglikane wat ongelukkig voel oor hulle kerk se liberalisering, deur hulle toe te laat om baie van hulle tradisionele liturgieë en gebruike te behou as hulle hul bekeer tot Rooms-Katolisisme.

Daar word verwag dat Benedict se beplande September 2010 besoek aan Engeland polemiek gaan veroorsaak en die Anglikaanse gemeenskap moontlik verder gaan destabiliseer. Waarnemers verwag dat hy gedurende hierdie besoek Kardinaal John Henry Newman tot ’n Rooms-Katolieke heilige gaan verklaar. Newman, ’n intellektuele 19de eeuse Anglikaanse geestelike wat hom tot Rooms-Katolisisme bekeer het, word deur baie gesien as ’n simbool van Benedict se begeerte dat meer Anglikane die “Tiber sal oorsteek” en by die Roomse kerk sal aansluit.

Pous Benedict streef ook aktief die ekumeniese pogings na om met die Oosterse Ortodokse kerke te herenig, wat amper duisend jaar gelede van Rome geskei het. Die “moeder”-kerk beywer haar inderdaad aktief vir die terugkeer van haar “geskeide” dogters – net soos Bybelse profesieë aandui! Wees op die uitkyk vir die toename in hierdie omvattende ekumeniese pogings van die Rooms-Katolieke Kerk – wat sy hoogtepunt sal bereik met die “dogter van Babilon” se bevordering en ondersteuning van ’n politieke figuur wat sal opstaan uit die as van die ou Heilige Romeinse Ryk – namate hierdie antieke profesieë gestalte aanneem in die nuus!