Alhoewel ons in die Lewende Kerk van God nie die meeste van ons tyd en energie bestee om baie van die veragtelike praktyke in ons samelewing te verdoem nie, sou ek graag wou sien dat almal ten volle bewus moet wees van die standpunt wat ons inneem. Die probleem in hierdie deurmekaar wêreld is dat u—en u kinders en kleinkinders—voortdurend gebombardeer word met propaganda deur die liberale media dat, byvoorbeeld, aborsie en homoseksualiteit “aanvaarbaar” sou wees. Die liberale media verkondig deurentyd dat niemand veroordeel moet word nie! Wat hierdie twee onderwerpe betref, blyk dit dat die media die meerderheid van die regters aan hulle kant het. Dit is werklik 'n tragiese stand van sake! Het God enige rede om ons volk enigsins te vrywaar van die Groot Verdrukking as Hy op die aarde neerkyk en hierdie voortdurende veragtelike dade waarneem, ook hoe dit toeneem?

Tog besef ek dat baie van ons nuwer lesers en honderde van ons jongmense, nie die regte insig het oor die onderwerpe van aborsie en homoseksualiteit nie, want ons preek nie dikwels oor hierdie onderwerpe nie, omdat ons nie graag voortdurend negatiewe opmerkings wil maak en in die proses dan afdwaal van die onderrig oor die Koninkryk van God nie. Ons jongmense en moontlik ook honderde nuwe lesers het grootgeword en gedurig 'n humanistiese, liberale benadering oor hierdie onderwerpe asook talle andere aangehoor. Ek het persoonlik tot hierdie duidelike besef gekom toe ek in 1986 as adjunk-kanselier van Ambassador College te Big Sandy aangestel is.

Ek het tydens persoonlike onderhoude gevind dat selfs baie van ons Ambassador studente grootliks deur die liberale media beïnvloed is. Hulle het geweet van die Kerk se afkeur ten opsigte van aborsie en homoseksualiteit. Die feit dat hierdie twee onderwerpe voortdurend tydens die opvoedingsproses in 'n positiewe lig gestel is deur hulle vriende, die media, skole en ook die hele samelewing, het meegebring dat dit 'n diepliggende uitwerking op hulle gehad en hul begrip verswak het. Dit is dus nodig dat ons hierdie onderwerpe nou en dan aanroer om ons denke op koers te hou. As God se mense, moet ons leer om hierdie soort onderwerpe waaraan ons samelewing blootgestel is, te bepeins en tot die besef kom wat God se opinie omtrent sulke kwessies is.

Dus, bepeins dit en bid asseblief daaroor.
Dit is baie selde dat ek ander geestelike leiers aanhaal betreffende sosiale kwessies. Ek wil egter aanhaal uit Dr. James Dobson se Family News, want sy siening oor hierdie onderwerp stem beslis met die Bybel ooreen. Alhoewel Dr. Dobson tans nie 'n volmaakte begrip het nie, is ek van mening dat hy 'n baie opregte persoon is en 'n voortreflike bydrae lewer oor hierdie en ander soortgelyke kwessies.

Hier volg die inleiding tot sy nuusbrief van Januarie 2004: “Dit is Januarie, wat beteken dat dit tyd is om die Reinheid-van-Menselewemaand te gedenk. Om mee te begin egter, wil ek graag terugverwys na die April 2000 uitgawe van Family News waarin ek die merkwaardige storie van Samuel Alexander Armas meegedeel het, 'n klein babaseuntjie wat op 21 weke swangerskap 'n operasie aan sy ruggraat moes ondergaan, terwyl hy nog in sy moeder se baarmoeder was. 'n Fotograaf, Michael Clancy, was teenwoordig tydens die operasie en het 'n aangrypende en 'n hartverskeurende beeld vasgelê met Samuel wat sy handjie by die baarmoeder uitsteek en die chirurg se vinger vasvat. Al die mense in die wêreld behoort hierdie foto te gesien het, want dit illustreer die wonderlike menslikheid van 'n voorgeboortelike baba. Ongelukkig het al die groot beriggewers geweier om dit met die publiek te deel. Gegewe hul pro-aborsie neiging, is dit nie moeilik om hulle rede in te sien nie. Hierdie foto herinner my aan die stryd om gedeeltelik-gebore aborsies af te skaf en die talle emosiebelaaide debatte rondom hierdie kwessie in die Kongres van die Verenigde State. Senator Rick Santorum (Republikeine, Pennsilvanië), die mees uitgesproke verdediger in die Senaat oor “lewe,” pleit herhaaldelik by sy kollegas om die afskuwelike aborsieprosedure te staak waardeur die brein van die onverdoofde baba in die finale oomblikke van geboorte uitgesuig word. Hierdie stryd het agt jaar geduur. Van die teenoor-gestelde kant van die spektrum af,veg Senator Barbara Boxer (Demokrate, Kalifornië) jaar na jaar vir die wetlikheid van gedeeltelik-gebore aborsies om behoue te bly. Vir haar was die doodmaak van babas 'n kwessie van vrouegesondheid met totale verontagsaming van die welsyn van die kind …”

“Vir 31 jaar het die aborsiebedryf voorgeboortelike babas behandel soos 'n nie-menslike wese wie se lewe niks in die oë van die wet beteken nie. Inderdaad, wyle James McMahon, 'n vroeëre praktisyn in die gruwelik gedeeltelik-gebore aborsie prosedure, het gesê dat dit nie die vraag is óf 'n fetus 'n mens is nie, maar die vraag is eerder, 'Wie is baas oor die kind?' Wel, hoe nou? Het die perfek gevormde handjie van Michael Clancy se foto aan 'n menslike wese behoort of was dit maar net 'n deel van iets waarna die vroeë vrugafdrywers verwys het as 'n bol uitgeswolle weefsel of 'n betekenislose borrel protoplasma? Wat ek nou met u gaan deel, sal hierdie vraag vir ewig en vir altyd beantwoord. Samuel Alexander Armas, die 21 weke oue fetus wat in sy moeder se baarmoeder om sy lewe geveg het, is nou vier jaar oud, 'n lewenslustige, energieke seuntjie … Wat 'n dramatiese getuienis is dit nie aan die mensdom nie, nie net wat betref hierdie een kind nie, maar van elke baba wat deur die eeue verwek is? Ons kan almal soos koning Dawid sê, “Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie” (Psalm 139:14-16).

Vriende, Dr. Dobson het beslis die spyker op die kop geslaan. Ek waardeer die feit dat hy so kragtig uitgesproke is oor hierdie kwessie. Ek is ook van mening dat ons almal ons kinders en geliefdes moet opvoed wat betref hierdie verskriklike misdaad wat elke liewe dag in die grootste deel van die wêreld gepleeg word! Ons sal van tyd tot tyd daarna verwys in ons televisie-uitsendings of selfs in 'n artikel in die Wêreld van Môre tydskrif. Ons kan dit natuurlik nie direk met dieselfde erns op televisie beveg soos op skrif nie, want ons sal dan sekerlik verdere uitsendings op talle televisiestasies geweier word. Deur al hierdie dinge moet ons, soos Jesus sê, “versigtig [wees] soos die slange en opreg soos die duiwe” (Mattheus 10:16).

Nogtans kan en moet hierdie Werk die volle Waarheid verkondig oor kwessies soos hierdie. Ons, in God se Kerk, moet ten volle verstaan hoe ver baie van die voorbokke in die media sal gaan, ook in die regstelsel, politiek en selfs van die kansel af, om hierdie afskuwelike praktyke te verdedig. Baie van u besef dat amper 45 miljoen babas sedert die Roe versus Wade uitspraak in 1973 geoffer is. Slegs die komende regering van Jesus Christus en ons deelname daarin as komende konings en priesters in 'n poging om die hele wêreld reg te ruk, sal hierdie aaklige situasie ten volle oplos.

Ons moet ons behoefte om “eers die Koninkryk te soek” bepeins en ook ons belofte om te bid en onsself heelhartig voor te berei op Christus se eerskomende regering. So skryf Paulus dan ook onder inspirasie: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korintiërs 6:2-3). Die besef dat ons as lede van God se familie onder leiding van die lewende Jesus Christus baie goed kan doen om hierdie verwronge wêreld in die afsienbare toekoms reg te ruk, is inspirerend!

Wanneer ons by die onderwerp van homo-seksualiteit kom, moet ons onsself weer daaraan herinner hoe belangrik dit is om ons jongmense te leer wat God sê, om hulle te help onderskeid tref tussen die verwarrende boodskappe uit die geledere van die media, skole en inderdaad die hele samelewing. Hierdie verdraaide inligting het wel 'n geweldige invloed op jongmense—tensy hulle met feite en Bybelse skrifture as antwoord gekonfronteer word.

Dit is uiters belangrik dat ons almal onthou waarom God ons manlik en vroulik geskape het. Let op hoe Hy dit beskryf: “Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n hulp maak wat by hom pas” (Genesis 2:18). Die vrou sou 'n “hulp” wees vir haar man om die lewe meer vervullend vir albei te maak. Die mensdom is dus in die begin as “teenoorgesteldes” geskape; manlik en vroulik. Regdeur die geskiedenis van die mens is dit oor en oor bewys hoe belangrik hierdie balans is en hoe belangrik dit is dat 'n opregte huwelik tussen man en vrou die basis van elke ordentlike beskawing moet wees.

Dit blyk duidelik uit die eerste paar hoofstukke in Genesis, dat God een vrou vir een man gemaak het. So was dit dan Sy beplanning om balans en vervulling aan die menslike ras te gee. In Maleagi se geïnspireerde boodskap, gee God 'n tweede groot doel waarom hy die man en vrou geskape het: “Het Hy dan nie een mens gemaak nie, hoewel Hy gees oorgehad het? En waarom die een? Hy het 'n geslag van God gesoek. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie” (Maleagi 2:15). God het bedoel dat uit die huwelik tussen man en vrou 'n “goddelike geslag” verwek moet word; potensiële seuns en dogters van die grote God wat in die eerste plek vir ons lewe en asem gee. Mans wat met mans “trou” of vrouens wat met vrouens “trou” kan nooit kinders verwek nie en verwesenlik so Satan se grootste doel, naamlik die totale uitwissing van die menslike ras!

Die menslike neiging is egter nog altyd om dít wat God sê, met redenasies te omseil. God waarsku ons duidelik talle kere in die Bybel hierteen, byvoorbeeld: “Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12). Ja inderdaad, alle soorte weë “blyk” reg te wees vir eietydse leraars, politici en die media. Ons moet egter ons jongmense leer dat indien hierdie weë in direkte teenstelling is met God se wette en doelwitte, die uiteinde slegs die dood kan beteken!

Die Bybel keur regstreeks en herhaaldelik enige vorm van homoseksualiteit af. “En as 'n man met 'n manspersoon gemeenskap het soos 'n mens met 'n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op hulle” (Levitikus 20:13). Hierdie leerstelling word regdeur die Ou Testament gehandhaaf—en onthou, die Ou Testament was die enigste “Woord van God” wat beskikbaar was toe Jesus Christus gesê het: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4).

God se Woord is net so duidelik in die Nuwe Testament. Lees hoe beskryf Paulus die antieke filosowe—dit is juis hierdie mense se denkrigtings wat as standaard vir wysheid en rigtingaanwysing voorgehou word—se verdraaide denke en redenasies omtrent homoseksualiteit: “Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan 'n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie” (Romeine 1:26-28).

Paulus beskryf sulke individue as “mense wat—al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien—dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen” (vers 32). Die Bybel spel dit baie duidelik uit dat diegene wat sulke veragtelike dade “goedkeur,” ook voor God skuldig is!

Of ons nou self verkeerde dinge beoefen of bloot ons goedkeuring daaraan heg, is ons op hierdie aarde om die weë en wette van die grote God wat ons geskape het, te bemeester—die God wat ons in die eerste plek manlik en vroulik geskape het.

Paulus skryf: “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Korintiërs 6:9-10). Paulus dui hiermee aan dat daar in sy tyd sulke mense in die Kerk ingekom het. Deesdae is daar ook sulke mense in die Kerk van God, of sal nog in die Kerk opgeneem word. Vers 11 sê egter dat hulle in die Naam en krag van Jesus Christus “afgewas” sal word. Met die Gees van God in hulle, sal hulle gereinig word—mits hulle hulself waarlik bekeer het. Die sleutel tot al hierdie dinge is egter dat opregte bekering moet plaasvind alvorens God Sy Gees aan hulle sal gee en voordat Sy groot krag en hulp aan enige individu beskikbaar gestel sal word!

Onder die invloed van Satan die duiwel, bombardeer die media en opvoedkundige stelsels van hierdie wêreld ons sintuie met vleeslikheid en vergeefse menslike redenasies. Om dit te bowe te kom, moet ons God se Waarheid en die Wil van God in al hierdie dinge bepeins, bestudeer en veral ons kinders so leer. Ons word nou opgelei om konings en priesters in die eerskomende regering van God te wees (Openbaring 5:9-10). As toekomstige leermeesters en priesters van God wat in die wêreld van môre onder Christus sal dien, moet ons die Wil van God noukeurig bestudeer sodat ons kan “onderskeid maak tussen wat heilig en wat onheilig, en tussen wat onrein en wat rein is; en julle moet die kinders van Israel leer al die insettinge wat die HERE deur die diens van Moses aan hulle verkondig het” (Levitikus 10:10-11).

Reg aan die einde van hierdie tyd sal God se ware volgelinge beskerm, vrygemaak en as God se juwele (Engelse vertaling) hanteer word, mits hulle hul Skepper opreg dien en gehoorsaam, want God se Woord sê vir ons: “Ek sal met hulle medelyde hê soos 'n man medelyde het met sy seun wat hom dien. Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie” (Maleagi 3:17-18).

Elkeen van ons moet leer om nou reeds behoorlik te onderskei tussen hierdie dinge. Ons moet ook bereid wees om deurdrenk te word met die Woord van God—met die “gedagtes” van God—oor al hierdie kwessies. Ek doen 'n beroep op u om God se Wil noukeurig te bestudeer en te bewys ten opsigte van alle kwessies soos aborsie, homoseksualiteit, die gebruik van onwettige dwelms, “huwelike” tussen diegene van dieselfde geslag, die genot van pornografie en alle ander veragtelike praktyke wat so dikwels aan ons verwarde gemeenskap opgedis word. Daarom moet ons as God se mense voeding uit Jesus Christus en Sy Waarheid put ten einde leiers en regters te wees in die wêreld van môre.

Paulus wys ook daarop dat “die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus” (1 Korintiërs 2:14-16).

Vriende, laat ons onsself deeglik vergewis van die gedagtes van Christus sodat ons, ons kinders en geliefdes nie maklik oorweldig sal word deur die verdraaide en verdorwe propaganda wat deurgaans uitgebasuin word onder die wêreld se samelewing nie! Slegs dan sal ons waarlik “geskikte” instrumente wees om onder Christus in Sy eerskomende Koninkryk te dien.