VRAAG: Dit lyk asof die profeet Jesaja in Jesaja 26:14 aandui dat die dooies nie opgewek sal word nie. Ons weet egter dat Jesus Christus die hoop op ’n opstanding verkondig het. Waarna verwys Jesaja dan?


ANTWOORD: Die Bybel beskryf die opstanding op baie plekke (sien 1 Korinthiërs 15:50-54; 1 Thessalonicense 4:13-17; Johannes 5:28-29; Openbaring 20). Die Skrif verduidelik egter ook dat daar ’n tyd sal kom waarin die onboetvaardige goddelose mense verbrand sal word om nooit weer op te staan nie (Maleági 4:3; Openbaring 21:8; 20:4-15). Daarom, wanneer Jesaja die dooies beskryf wat nie uit die dood opgewek word nie, beskryf hy die toekomstige toestand van die onboetvaardiges, diegene wat hulself nie wou verander nie.

Jesaja het geskryf: “Dooie mense herlewe nie, skimme staan nie op nie; daarom het U hulle besoek en verdelg en alle gedagtenis aan hulle laat vergaan” (Jesaja 26:14). Indien ons die konteks van Jesaja se woorde verstaan, sal dit ons help om die identiteit van hierdie onboetvaardige mense te verstaan.

In Jesaja 24:1 sê God: “Kyk, die HERE maak die aarde leeg en verwoes dit, en Hy keer sy oppervlakte om en verstrooi sy bewoners.” Let ook op dat die “bewoners van die aarde deur ’n gloed verteer” word (vers 6) en ’n hoogtepunt sal bereik wanneer daar ’n groot aardbewing sal wees (verse 19-20). Hier beskryf Jesaja die Dag van die Here – die dag van God se toorn en gramskap wanneer Hy hemel en aarde sal laat sidder en bewe (Jesaja 13:13; Joël 3:16). Dit is dieselfde dag van die Here wat Jesus Christus in Openbaring 16 beskryf, waartydens sewe “skale” van die goddelike oordeel op die mensdom wat hulle nie bekeer nie, uitgestort sal word.

Let verder op die eindtydse konteks van Jesaja se profesie: “En in dié dag sal die HERE besoeking doen oor die leërskare van die hoogte in die hoogte en oor die konings van die aarde op die aarde; en hulle sal opgesluit word soos gevangenes opgesluit word in ’n kuil en bewaar word in ’n kerker” (Jesaja 24:21-22). Kan hierdie “leërskare van die hoogte” Satan en sy demone wees wat al die nasies bedrieg en gevange gehou het regdeur die verloop van die mens se geskiedenis? Ja, verseker (sien Jesaja 14:12-17; Openbaring 12:9; 20:1-3)!

Die apostel Paulus identifiseer duidelik die “leërskare van die hoogte” en noem hulle die “wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu” en “bose geeste in die lug” (Efésiërs 6:12). Satan en sy demone sal aan die einde van hierdie tyd opgesluit word in “kettings van duisternis” (2 Petrus 2:4). Hulle sal toegesluit word in Tartarus (’n Griekse woord wat “plek van inperking” beteken), tot hulle tyd van oordeel (Judas 6, 13). God sal ook “die konings van die aarde” straf (Jesaja 24:21). Dit sal plaasvind wanneer die dier en die valse profeet lewendig in die poel van vuur gewerp word (Openbaring 19:20) en al die ander wat teen Jesus Christus sal veg met Sy Wederkoms, sal gedood en aan die voëls gegee word om verteer te word (Openbaring 19:21).

 

Finale oordeel

Dit is betekenisvol dat die woord “hulle” in Jesaja 26:14 gebruik word en vers 13 verwys na die “ander here buiten U” wat “oor ons geheers” het. Inderdaad, hierdie eindtydse “heersers” – die dier en valse profeet – sal verbrand word in die poel van vuur wat gereserveer is vir die onboetvaardiges. Jesaja 26:14 sê: “Dooie mense herlewe nie, skimme staan nie op nie”. Die onboetvaardige dier en die valse profeet sal nie weer uit die dood opgewek word nadat hulle in die poel van vuur gewerp is nie; hulle sal vir ewig dood wees.” Dit kan slegs gebeur wanneer die dier en die valse profeet, wat in die poel van vuur verbrand is, vir ewig vernietig is en nooit die opstanding sal ervaar waarna alle ware Christene uitsien nie.