Veertig jaar gelede, op 26 Junie 1976, is die CN-toring in Toronto vir die publiek geopen. Dit het vir 31 jaar lank die titel in die Guinness Book of World Records gehou as die wêreld se hoogste vrystaande struktuur tot in September 2007 toe Dubai se Burj Khalifa met sy hoogte van 553,33 meter (1,815.4 voet) die toring oortref het.

Vir meer as drie dekades het die CN-toring as ’n rekord-houer gestaan, ’n ikoniese struktuur wat nie net Toronto alleen verteenwoordig het nie, maar ook tot ’n groot mate die Kanadese nasie. Saam met die meer praktiese voordele vir die bou van die toring, soos die verbetering van kommunikasies en televisieseine, was die struktuur gebou om Toronto “op die kaart” te plaas. Vir 57 miljoen Kanadese dollar, het CN Railways (Canadian National Railways) dit as ’n landmerk bestem om ’n groot prestasie van die Kanadese bedryf te demonstreer en die stad van die omliggende stede oorkant die grens te onderskei.

Herkenbaar regoor die wêreld, is dit as een van die groot ingenieursprestasies van die Westerse samelewing beskou en was ook as een van die moderne Sewe Wonders van die Wêreld verklaar (CNTower.ca). Dit is hoofsaaklik uit 40,500 kubieke meter gegote beton saamgestel, wat voortdurend vir byna ’n jaar lank deur ’n span van 1,537 konstruksiewerkers gegiet moes word. Dit bevat ook 998 kilometer (of 620 myl) na-spanning staal en 4,535 metrieke ton (5,000 ton) bewapeningstaal.

In dieselfde jaar as wat die Burj die plek van die toring ingeneem het, het ingenieurs ’n LED-beligtingstelsel geïnstalleer wat oor sy volle lengte strek, met inbegrip van sy antennas. Elke aand wanneer die son sak, word die toring verlig om aan Kanada se kleure hulde te bring. Gedurende die jaar verander die beligting om erkenning te gee aan “verskillende stadsgebeure, liefdadigheidsgeleenthede en sake, seisoene en spesiale openbare vakansiedae asook ’n spesiale program om terugkerende Kanadese soldate te vereer” (ibid.).

Toringhoë trots

Daar word gesê dat die toring ’n simbool van trots vir Toronto se inwoners en alle Kanadese is; dus het baie mense gedink dat dit vir die stad gepas sal wees om die ikoniese simbool van die nasie te gebruik om elke jaar in reënboogkleure verlig te word om Toronto se Gay Pride Week te vier.

Die CN-toring is nie uniek met so ’n vertoning nie. Strukture regoor Noord-Amerika word ook met reënboogkleure verlig ter viering van homoseksuele trots. Van die Wit Huis, tot die Empire State Building, tot Aspoestertjie se Kasteel by Walt Disney World, word as historiese en kulturele bakens gebruik om ondersteuning en eensgesindheid aan die Westerse samelewing se bevordering van die LGBT (Lesbiese, Gay, Biseksuele en Transgeslagtelike) agenda te verleen. Gedurende 2015 is ’n nuwe mylpaal in Toronto ingelui toe die Eerste Minister, Justin Trudeau, by die stad se “Gay Pride” parade aangesluit het. Voor en in die middel saam met mnr. Trudeau, het homoseksuele Siriese vlugtelinge gesit wat onlangs in Kanada as deel van die fokus op die “vreemdheid van die Midde-Oosterse kulture” verwelkom is (Arshy Mann, “Justin Trudeau to be the first prime minister to attend Pride Toronto”, DailyXtra.com, 17 Desember 2015).

Westerse vooruitgang in die industrie – soos dit deur die ontsagwekkende ingenieurswonder van strukture soos die CN-toring gedemonstreer word – staan nou in die skadu van indrukwekkende toringhoë prestasies van die Midde-Ooste. Om bo die Burj uit te troon, is Saoedi-Arabië se beplande Jeddah Toring veronderstel om ten minste 1,000 meter (3,281 voet) hoog te wees en sal dit in ’n byna volmaakte toringhoë jukstaposisie uitstyg bo die tuimelende moraliteit van nasies soos Kanada, wat eens op ’n tyd gesukkel het om die kernwaardes te handhaaf wat in u Bybel gevind word. Hoe pynlik moet dit vir die Bybelgelowige Kanadese wees wanneer hulle sien dat die ikoniese struktuur van hulle nasie wat as ’n baken gebou is en om ’n nasie te identifiseer, nou gebruik word om ’n lewenswyse aan te moedig wat strydig is met die God wat hierdie nasie geseën het.

Toring van skande?

In Génesis 11 lees ons van die konstruksie van ’n ander toring in die Midde-Ooste. “En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ’n stad bou en ’n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ’n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie” (Génesis 11:4). In die land Sínear, wat in die hedendaagse Irak geleë is, was die eerste koninkryk wat in die Bybel aangeteken is daarop ingestel om ’n stad en ’n toring te bou, soos dit sê, sodat “ons vir onsself ’n naam maak”. Hulle is deur Nimrod gelei, wie se naam letterlik vertaal kan word as “om te rebelleer” en het hierdie koninkryk daarna gestreef om ’n samelewing te skep wat teenstrydig met God se Wet is, om letterlik Sy gesag met hulle nietige pogings te vervang om ’n stad en ’n toring te bou wat tot aan die hemel sou strek. Dr. Douglas S. Winnail het ’n insiggewende en leersame artikel geskryf oor die parallelle van Babel en Europa in die Mei-Junie 2007 uitgawe van die Wêreld van Môre met die titel “Europa: ’n Moderne toring van Babel” – wat veral vandag toepaslik is met die onlangse gebeure wat in Europa plaasgevind het.

Die resultaat van Babel se konstruksie is tot ons voordeel opgeteken. God het ingegryp en gesê: “Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie. Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie” (Génesis 11:6-7). ’n Volk met een sienswyse of doel, wie se begeerte in stryd met God was en wie se taal verwar was, toon opvallende ooreenkomste met die korrupsie, trots, ydelheid en sinnelose sosio-politieke dialoog wat ons sien Kanada en die Westerse samelewing as geheel deurdring het.

Soos wat die stad van Toronto vertikaal met talle wolkekrabbers en hoë woonstelblokke gegroei het, was die ooglopende newe-effek ’n onderbreking van radio- en televisiekommunikasie. Die oorspronklike bedoeling van die CN-toring was ’n praktiese een; dit het voorsiening gemaak vir sommige van die hoogste gehalte televisie-ontvangs in Noord-Amerika. Nietemin was die toring se doel sedert sy vroeë konstruksie bedorwe. Dit staan nou hoofsaaklik ter ondersteuning en bevordering van sosiale ingenieurswerk, eerder as om uitsluitlik as die ingenieurswonder te dien wat dit veronderstel was om te wees. Ons Skepper gee aan ons ’n opdrag: “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ’n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes” (Jesaja 58:1) en soos die Toring van Babel probeer het om die hemel te bereik, so is die sonde van ons nasie se stede en die mensdom as geheel. Eerder as om eenvoudig in verwondering oor hierdie strukture te staan, behoort ons toe te laat dat die misbruik van ons landsbakens as ’n nasionale waarskuwing te dien: “Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou” (Openbaring 18:5).