Sal aborsie verban word in die Verenigde State?

Met ’n nuwe jaar begin ’n nuwe lys van sake om voor die Hooggeregshof van die Verenigde State te kom. Na ’n verstommende omstrede bevestigingsverhoor het Brett Kavanaugh in Oktober 2018 by daardie hof aangesluit en met sy aanstelling het ’n moontlikheid ontstaan wat sommige mense selfs ’n paar jaar gelede as onmoontlik sou beskou. Kan die Amerikaanse hooggeregshof die Roe versus Wade-uitspraak omkeer?

Roe versus Wade, ’n berugte hooggeregshofsaak van 1973, het bevind dat aborsie deur die 14de Wysigingswet se fokus op persoonlike privaatheid beskerm word. Terwyl sommige state reeds aborsies wettig gemaak het, het hierdie uitspraak baie state se teen-aborsiewette, wat sedert die 1800’s op die boeke was, van die rol geskrap.

Baie konserwatiewe Amerikaners hoop dat die bevestiging van Brett Kavanaugh iemand sal aanmoedig om ’n nuwe saak by die Hooggeregshof aanhangig te maak – ’n saak wat ’n beslissing teen wettige aborsies kan toelaat. Hoe waarskynlik is hierdie scenario? Kan Amerika werklik teruggaan ná bykans ’n halwe eeu van wettige aborsies? Sal die heiligheid van die ongebore lewe weer gerespekteer word?

Die saak van hoë verwagtings versus die werklikheid

Ongeag waar die nuwe regter van die Hooggeregshof mag staan of watter uitwerking hy op die politieke of ideologiese neigings van die hof mag hê, is daar verskeie redes waarom die uitspraak van enige toekomstige hooggeregshofsaak, Amerika nooit heeltemal sal vrymaak van aborsie nie. Die eerste rede is dat, selfs al sou die Hooggeregshof Roe versus Wade omkeer, sal dit waarskynlik net die wettige gesag vir die regulering van aborsie aan die state omkeer en dit word verwag dat baie state aborsie wettig sal hou.

Die heel belangrikste rede hiervoor is egter dat enige regering se optrede teen aborsie ’n kwessie van die behandeling van die simptome en nie die siekte sal wees nie. Dit is tragies, maar dit wil voorkom of Amerika vergeet het dat buite-egtelike seks gevolge het!

Sedert die seksuele revolusie van die 1960’s lyk dit asof Amerika en ander Westerse nasies vasberade was om enige gevolge van buite-egtelike seks – wat die Bybel die sonde van hoerery noem – uit die weg te ruim of te ignoreer. Kondome word gratis versprei en universele gesondheidsorg word voorgestel om die uitbraak van seksueel-oordraagbare siektes en infeksies te help hanteer. Aborsies is al 45 jaar lank landswyd wettig. Tog het sonde onvermydelike gevolge en baie Amerikaners is verwoes deur onveiligheid, angs, siektes, berou en talle ander kwale weens hulle weiering om seksuele intimiteit vir die huwelik te bewaar.

Die Skepper van die heelal het seks ontwerp as iets vir ’n man en sy vrou om binne die grense van die huwelik te geniet. Wanneer seks vir die huwelik bewaar word, word baie risiko’s heelwat verminder of uitgeskakel: Seksueel-oordraagbare siektes is nie ’n bron van kommer vir getroude paartjies wat hulle van seks weerhou totdat hulle getroud is nie. Daar mag soms ’n onbeplande swangerskap wees, maar dan vind dit plaas binne ’n omgewing wat die beste ondersteuning bied – vir ouers sowel as kinders. In plaas van onvermydelike onveiligheid, angs, berou en dies meer, bied seksuele intimiteit binne die huwelik aan paartjies ’n geleentheid vir passie en teerheid, spontaniteit en stabiliteit binne die veiligheid en sekuriteit van ’n groter, onoortreflike verbintenis wat geen mensgemaakte maatskaplike struktuur kan ewenaar nie.

Ons harte moet verander

Al hierdie dinge is vandag vir die meeste Amerikaners verlore! In plaas daarvan om na die Bybel te kyk vir morele leiding, probeer hulle om die gevolge van hulle sondes te vermy. In plaas daarvan om hulle te bekeer van hoerery en egbreuk, dink die meeste mense dat hulle so selfsugtig kan leef soos wat hulle wil! Enige veranderings aan aborsiewette op federale of staatsvlak sal nie die harte van mense verander wat hulle eie plesier as die hoogste prioriteit beskou nie.

Ek sê nie dat ’n ommeswaai van Roe versus Wade nie ’n positiewe stap vir Amerika sal wees nie. Die positiewe stap is egter nie ’n magiese towermiddel vir die land se ellende nie. Ons het op ’n punt gekom waar mense glo dat hulle aan hul wellus kan toegee en die gevolge kan ignoreer. Geen uitspraak van die Hooggeregshof sal dit verander nie. Totdat daar ware bekering plaasvind en harte verander word, moet daar nie veel verwagtings wees met betrekking tot wetswysigings nie.