Het u al van 5G gehoor? Indien u het, besef u wat dit inhou en wat dit vir u en u gesin mag beteken? Indien u ’n slimfoon gebruik en selfs al gebruik u dit nie – behoort u besorg te wees, want dit is baie waarskynlik dat 5G binnekort sal kom na waar u woon. Daar heers toenemende opgewondenheid oor die moontlikhede daarvan. Daar bestaan egter ook ernstige kommer oor hoe dit ons almal se gesondheid, die omgewing en kuberveiligheid sal beïnvloed. Sal dit revolusionêr wees of ’n planetêre ramp?

5G is die vyfde generasie mobiele netwerkdiens en is op klein skaal kommersieel bekendgestel deur al die groot Verenigde Koninkryk se selfoonoperateurs in 2019. Soortgelyke bekendstellings vind plaas in China, Japan, Suid-Korea, sommige lande van die Europese Unie en die Verenigde State. 5G bied hoë-spoed, byna oombliklike (“super-low latency”) kommunikasie tot 1,000 keer vinniger as 4G. Dit word bereik deur hoër frekwensies in die elektromagnetiese (radio frekwensie) spektrum te gebruik om te kommunikeer en deur die toename in die genoemde bandwydte-effektiwiteit. Dit beteken dat meer gebruikers met meer verbindingspunte in ’n beperkte geografiese gebied gekoppel kan word.

Waarom 5G?

U mag dalk vra: “Waarom het ons 5G nodig? Ons kan alreeds soveel ongelooflike dinge met 4G doen”.

Die nuwe, vinniger standaard sal dit wat gereeld die Internet of Things genoem word, moontlik maak – die draadlose konneksie om inligting oor alledaagse items in te samel, te ontleed en te verwerk. Hierdie voorwerpe kan enigiets wees, met inbegrip van alledaagse huishoudelike toestelle, plaastoerusting, horlosies en wekkers, waterleiding, verskillende robotte, hospitaalapparaat en selfs die rekenaars en masjiene wat deur besighede en nooddienste gebruik word – alles kan deur middel van ’n netwerk gekoppel word, toegang daartoe verkry en gemonitor word. 5G sal dit moontlik maak vir motors om self te bestuur en met mekaar en met verkeersmoniteringstelsels te kommunikeer wat dit moontlik maak om ongelukke te voorkom deur tot 200 keer vinniger as menslike bestuurders te reageer. Daar is wêreldwye moontlikhede en potensiaal wat net wag vir die verstandelike vermoë van die mens om dit te verken.

Die groot fokus van 5G-entoesiasme gaan oor die geweldige toename in rekenaarvaardighede vanweë massiewe vooruitgang in kommunikasie en buitengewone hoeveelhede data wat oorgedra kan word. Kenners meen dat hierdie ontwikkeling die potensiaal mag hê om ’n nuwe Nywerheids-Revolusie te veroorsaak, werk te skep en die nasionale ekonomie ’n hupstoot te gee. Vooruitskattings dui daarop dat ons in die volgende paar jaar letterlik miljoene 5G-basisstasies op aarde en 20,000 nuwe 5G-satelliete in ’n lae Aarde-wentelbaan kan sien, wat aan 200 miljard uitsenders gekoppel is.

’n Breër implementering van 5G gaan egter aansienlike belegging en tyd verg voordat dit ons woonbuurte gaan bereik. In vergelyking met 4G-seine wat die luggolwe in alle rigtings dek, kan 5G by frekwensies van 10 tot 300 GHz (gigahertz) en ’n golflengte van een millimeter, nie deur geboue of bome dring nie en kan dit selfs deur reënval versteur word. Om hierdie struikelblokke te oorkom, behoort 5G gespasieërde basis-antennas wat verskeie smal, stuurbare, hoë-kragseine uitstuur net 200 meter van mekaar in ’n netwerk geplaas te word. Soortgelyke antennas in al die 5G-toestelle, hetsy stilstaande of bewegend, sal probeer om ’n ononderbroke verbinding met die antennas by die basis te bewerkstellig. Die bestaande wetgewing sal toelaat dat hierdie seine minstens tien keer kragtiger kan wees (tot 20 watt) as die huidige 4G-seine.

Gesondheids- en sekuriteitsrisiko’s

Sommige mense voer aan dat onvoldoende onafhanklike veiligheidstoetse op 5G-tegnologieë uitgevoer is om die impak daarvan op menslike gesondheid of die omgewing te bepaal. In die Verenigde State glo baie mense dat die Federale Kommissie van kommunikasie nie voldoende regulering van die 5G-industrie voorsien nie. In ’n poging om dit teen te werk, het sommige groepe protesoptogte gereël, soos byvoorbeeld die petisie “International Appeal: Stop 5G on Earth and in Space” – sedert Augustus 2019, met meer as 130,000 ondertekenaars uit meer as 198 lande. Hulle wil voorkom dat 5G-netwerke in werking gestel word voordat daar nie méér navorsing gedoen is oor die potensiële gesondheidseffekte van die tegnologie nie. Een van die handtekeninge is dié van dr. Martin Pall, die emeritus-professor van die Departement vir Biochemie en Mediese Wetenskappe aan die Washington State University, wat sê: “Om miljoene antennas te op te rig sonder ’n enkele biologiese veiligheidstoets, is waarskynlik die domste idee wat iemand nóg in die geskiedenis van die wêreld gehad het” (5G: Great Risk for EU, U.S. and International Health, bl. 81).

Ander mense benadruk die kuberveiligheidsrisiko wat die 5G-mobiele netwerke en infrastruktuur inhou. Hulle neem die feit in ag dat die Chinese tegnologiese reus Huawei ’n leier op die gebied van 5G-tegnologie is en die afgelope tien jaar $2 miljard belê het. Dit plaas hulle selfs vóór die V.S. se tegnologiese reuse, wat gewoonlik die ontwikkeling van sulke nuwe tegnologieë oorheers. In die geval van 5G, “lyk dit asof die V.S. verloor” en “dat China se voorsprong in 5G, die V.S. van stryk bring”, volgens ’n artikel in die Time tydskrif van 23 Mei 2019. Die V.S. regering vereis sedertdien dat Amerikaanse maatskappye ’n spesiale lisensie sal kry om met Huawei sake te doen, wat tot gevolg het dat verskeie V.S. tegnologie-reuse hulle bande met die firma verbreek. Die kommer wat uitgespreek is, gaan oor kuberspioenasie en daar word gesê dat Huawei ’n pion van die Chinese regering is. Volgens die tydskrif Time is die vrees dat sodra alles – fabrieke, kragsentrales, hospitale, lughawens en meer – deur 5G met mekaar verbind is, ’n voortgesette kuberaanval ’n sosiale ineenstorting kan veroorsaak. Die EU en die V.K. steun die gebruik van Huawei hardeware in nie-kritieke 5G-installasies, tot die ergernis van die V.S., wie se leiers nie wil hê dat hulle bondgenote van Chinese tegnologie afhanklik sal wees nie.

Nuwe geestelike omgewing

Natuurlik hoop baie mense dat 5G ’n beter wêreld sal inlei en hoop ook dat die kommer oor die tegnologie oordrewe is. Wanneer ons dink aan hoe die samelewing 5G-tegnologie tans gebruik, kan ons ongelukkig daarvan seker wees dat die mensdom dit sal gebruik vir goed sowel as vir kwaad. Profesie is duidelik en die mensdom maak steeds gebruik van die middele wat tot sy beskikking is om ’n wêreld te skep wat gebuk gaan onder korrupsie en smag na ’n beter tydperk om te kom (Romeine 8:22-23).

Wat kan ons op geestelike vlak hieruit leer? Indien die strewe na 5G verwesenlik kan word, is die wêreld op die punt om verstrengel te raak in ’n radikaal vreemde elektromagnetiese omgewing wat ons self geskep het. Die luggolwe sal daarvan deurtrek wees; dit sal ons omvou soos ’n kombers en ons op onbekende, onvoorsiene maniere beïnvloed, maniere wat moontlik nadelig vir ons gesondheid is. Ons sal dit nie sien of hoor nie, maar ons sal weet dat dit daar is.

Waarvan die meeste mense onbewus is, is die feit dat ons reeds deur ’n soort geestelike uitsending omring is, wat voortdurend teen ons welstand inwerk. U Bybel verduidelik dit in Efésiërs 2:2 wat na Satan verwys as “die owerste van die mag van die lug” wie hierdie wêreld deurdrenk en omvou met sy goddelose maniere en gedagtes. Net soos radiogolwe word hy nie gesien of gehoor nie, maar sy bose invloed is oral om ons. Die Skrif verseker ons dat hy daar is.

Die Evangelieboodskap wat ons verkondig, handel oor ’n radikaal anders geestelike omgewing wat binnekort oor die hele wêreld sal strek. Satan se omgewing sal deur die Wederkoms van Jesus Christus “afgeskakel” word. Kan u uself ’n wêreld voorstel waaruit hierdie afbrekende invloed heeltemal verwyder is? Die Bybel beskryf dat die aarde gedurende daardie tyd “sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). Alle lewe sal floreer en voorspoedig wees in hierdie nuwe, getransformeerde geestelike omgewing en die resultaat sal vrede, goeie gesondheid en geluk wees – ’n pragtige wêreld wat herstel is en uiteindelik in harmonie met sy Skepper sal wees (Handelinge 3:21).