Hoewel die Skepper God die mens na Sy eie beeld geskape het, het ’n toenemende aantal mense besluit dat dit vir die mensdom tyd is om beheer van sy eie lot oor te neem en die beperkings te oorskry wat al lank as integrale deel van ’n “menslike wese” beskou word.

Die filosofie van “transhumanisme” het beide professionele navorsers en motorhuis “biokuberkrakers” geïnspireer om verby die mensdom se duidelik biologiese perke te dring om die mens tot iets meer as ’n mens te herskep.

Deur medisyne en voeding, deur middel van vooruitgang in tegnologie en ingenieurswese, of selfs deur middel van direkte genetiese of biologiese verandering van die menslike fisiologie en anatomie, is die wedloop aan die gang om ’n nuwe soort mens te skep – sterker, slimmer, vinniger en met lewensduurtes wat dié van vandag se nietige sterflinge ver oortref.

Kan ons dus regtig ons spesie hervorm en ons menslikheid oortref? Indien wel, behoort ons dit te doen?

Ewige (fisiese) lewe?

Kan mens deur medisyne en wetenskap dié soort lewensduur herwin wat vroeër deur Adam en Metúsalag geniet is? Een belangrike aspek van die transhumaanse beweging behels ’n lang lewe.

Wetenskaplikes het onlangs gevalle aangeteken waar diabete wat die middel metformin gebruik, werklik 15% langer geleef het as dié sonder diabetes. Hulle is tans besig om die middel vir gebruik as ’n anti-verouderingspil vir andersins gesonde mense verder te toets.

Om slegs tien of twaalf jaar by navorsing te voeg is egter “gering” in vergelyking met ander navorsing wat aan die gang is. Wetenskaplikes aan die Universiteit van Suid-Kalifornië was in staat om die sellewe van suurdeeg tot tien keer hulle normale lewensduur te te verleng – die ekwivalent van ’n mens wat 700 - 800 jaar leef! As gevolg van die ooreenkomste in genetika, hoop baie mense dat die resultate na mense oorgedra kan word. Soos die studieleier gesê het: “Ons stel die grondslag vir herprogrammering van gesonde lewe” (USC News, 14 Januarie 2008).

Baie mense hoop dat met die oorsake van veroudering en siekte wat geïdentifiseer, gekatalogiseer en aangespreek word, vooruitgang in medisyne en wetenskap die mensdom sal toelaat om vir ewig te leef terwyl almal liggame, soortgelyk aan dié van ’n jong persoon van 20 tot 25 jaar oud, geniet.

Die bioniese mense tree na vore

Op die gebied van tegnologie, maak die mensdom reeds lankal van sy kapasiteit gebruik vir uitvindsels ten bate van gebreke wat deur besering of gestremdheid veroorsaak is. Van eenvoudige krukke en brille, tot robotbeheerde beenstutte vir verlamdes en kunsmatige oë vir totaal blinde mense, probeer ons lankal reeds om in menslike vermoëns in te gryp wat deur tyd of geleentheid verlore gegaan het deur dit te herwin of te vervang.

Die transhumanis probeer nogtans om verder te gaan as om bloot ’n verlore funksie te vervang deur tegnologie te gebruik om in der waarheid menslike vermoëns uit te brei tot buite normale beperkings – selfs tot die toevoeging van nuwe “sintuie” of vermoëns wat geen mens van nature het nie. Baie mense sien die permanente toevoeging van hoë-tegnologiese masjinerie tot ons liggaam as ’n manier om die mensdom te help om sy “vooruitgang” te versnel en sy eie volgende stap te kies in wat as sy “ewolusie” beskou word. Die wetenskapsfiksie term vir sulke tegnologies-verbeterde individue is ’n “bioniese mens” – tog is “bioniese mense” nie meer beperk tot die gebied van wetenskapsfiksie nie.

Die London Daily Telegraph berig oor verskeie “werklik lewende” individue wat hulleself deur tegnologie verander het. Voorbeelde sluit ’n man in wat ’n kompas onder sy vel laat inplant het om aan hom ’n ingeboude sin van rigting te gee. ’n Ander persoon se prostetiese oog is deur ’n hoë-tegnologiese toestel vervang wat alles wat hy sien koordloos opneem. Iemand anders het rekenaarskyfies in die weefsel van sy hand in laat plant om aan hom koordlose toegang tot sy rekenaar, motor en huis te verskaf. Die Britse ingenieur, Kevin Warwick, het selfs elektrodes aan die senuwees van sy arm laat heg om hom direk met ’n rekenaar te verbind wat hom toelaat om met behulp van alleenlik sy gedagtes ’n robotarm en rolstoel te beheer. Hy het aan The Telegraph gesê: “Ek is menslik gebore, maar ek glo dit is iets waaroor ons die mag het om te verander” (“The Real Cyborgs”, 20 Oktober 2014).

Moontlik het geen agentskappe die “transhumanistiese” agenda so heelhartig aangegryp soos militêre groepe in die VSA se Defense Advanced Research Projects Agency, wat algemeen as DARPA bekend staan nie. In die November 2011 artikel “‘Supersoldate’: Die soeke na die uiteindelike menslike moordmasjien”, beskryf The Independent verskeie sulke “supersoldaat” projekte. Dit sluit pille in wat soldate help om op volle kapasiteit vir ’n volle 48 slapelose ure te werk, dwelms wat die geheue verander sodat trauma en skuld verwyder word en ’n harnas wat magnetiese velde aan die brein verskaf om leervermoë en redeneringsvaardighede dramaties te verbeter. Maatskappye soos Lockheed en Raytheon het futuristiese “huidskelette” ontwikkel – masjiene wat deur soldate aan hulle arms en bene vasgebind word om hulle superkrag en uithouvermoë te gee, wat hulle toelaat om moeiteloos prestasies te behaal soos om 100 kg gewig op te lig en te dra en 16 km per uur te hardloop sonder enige merkbare teken van inspanning.

Wat om van “transhumanisme” te dink

Hoe behoort ’n Christen op sulke pogings te reageer?

Terwyl dit prysenswaardig is om lyding te verlig en geleenthede vir gestremdes te skep, behoort die pogings om die mensdom se beperkings te oortref met ’n deurdagte en versigtige oog beskou te word.

Dit is geen verrassing dat sulke prestasies en selfs meer, binne ons bereik is nie. God het Self by die Toring van Babel opgemerk dat wanneer die mensdom saamwerk “sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie” (Génesis 11:6). Ons weerspieël ons groot Ontwerper en Skepper en daarom is ons vermoë om te ontwerp en te skep so ontsaglik groot!

Daar is nogtans ’n waarheid wat transhumaniste soms heeltemal te onverskillig hanteer: Ons reflekteer wel ons Skepper en is na Sy beeld geskape (Génesis 1:26)! Om die menslike vorm en ontwerp te minag is om dit te waag om ’n geskenk van God wat die mensdom uniek besit te minag.

Ons sterflikheid is ’n produk van ons sonde (Romeine 6:23) en pogings om ons beperkings te omseil sonder om die bron te erken – geestelike swakheid en sonde teen ons Skepper – is ’n dwaling en is tot mislukking gedoem! Die konsep om onsself heeltemal volgens ons eie grille en giere te “herontwerp” en God se doel vir ons en Sy wense vir ons lewens te verwaarloos, herinner mens aan die oorspronklike keuse wat Adam en Eva in die tuin van Eden gemaak het: Om ons eie weg bo Syne te kies.

Dit alles ignoreer die lewe en doel van die enigste Een in die hele geskiedenis van die mensdom wat werklik “transhumaanse” status verwerf het: Jesus Christus! Hoewel Hy eens op ’n tyd vlees en bloed was soos die res van ons (Johannes 1:14; Hebreërs 2:14), bestaan Hy nou in die volheid van die goddelike heerlikheid van God Self (Johannes 17:5; Hebreërs 1:3)!

Hy bied daardie selfde volheid aan diegene wat Hom sal volg. Diegene wat werklik begeer om hulle menslikheid te bowe te kom, kan dit doen! In werklikheid is dit die ware doel vir die mensdom – om uiteindelik oneindig meer as die grense van die vlees te oortref en die glansrykheid van die Gesin van God Self in te gaan. Dit sal nooit gebeur deur toestelle of pille of miljoen dollar masjiene van DARPA nie. Dit sal slegs aan diegene gegee word wat bereid is om Godvresende lewens te lei, nou binne hulle ware menslike vermoëns, terwyl hulle die beloning in die oog hou wat Christus dan met Hom sal saambring (1 Johannes 3:1-2).