Vraag: Sommige bronne, soos Wikipedia, beweer dat daar geen verband bestaan tussen die Katolieke Saint Valentine en Romeinse vrugbaarheidsgebruike soos die Luperkalieë nie. Is Valentynsdag ’n vakansiedag wat Christene behoort te vier, gegrond op hierdie stelling?

Antwoord: By navorsing van vrae soos hierdie, is dit belangrik om u bronne noukeurig te ondersoek. Byvoorbeeld, indien u Wikipedia (soos teen die einde van Desember 2012) glo, het Valentynsdag geen voor-Christelike verlede nie. ’n Noukeuriger ondersoek in verskeie bronne openbaar egter ’n ander antwoord.

Baie gewone, algemene verwysings soos die World Book Encyclopedia, erken ruiterlik die verband tussen Valentynsdag en voor-Christelike gebruike. Let op: “Die Romeine het hul fees van Luperkalieë gevier as ’n liefdesfees vir jong mense ... Na die uitbreiding van die Christendom het kerkmanne probeer om ’n Christelike betekenis te gee aan hierdie heidense fees. In 496 het Pous Gelasius die Luperkalieë-fees van 15 Februarie verander na Sint Valentynsdag op 14 Februarie. Die sentimentele betekenis van die ou fees het behoue gebly tot in die huidige tyd” (“Valentine’s Day”, Volume 19, bll. 205-206).

Wat was hierdie Luperkalieë-fees? Gedurende hierdie heidense “fees vir verliefdes”, het die Romeine die legende van die stigting van Rome gevier ter ere van die wolf wat, volgens oorlewering, die tweeling Romulus en Remus gesoog het. Romeinse priesters van hierdie heidense ritueel sou vroue met bokvelrieme slaan in die hoop dat hierdie praktyk hulle vrugbaarheid sou verhoog. Paartjies sou ook liefdestekens uitruil met “die eerste persoon van die teenoorgestelde geslag wat op daardie dag gesien word” (Herbert Lockyer, All the Holy Days and Holidays).

Wat van die aanspraak dat Valentynsdag uitsluitlik uitgedink is ter ere van die Roomse kerk se Heilige Valentinus, van wie gesê word dat hy doodgemartel is in die derde eeu n.C.? Lockyer wys daarop dat die viering van Valentynsdag – met geskenke wat algemeen gegee was aan die persone van mense se erotiese liefde – geen betekenisvolle verband hou met ’n Roomse heilige nie, dat dit baie meer in gemeen het met die antieke Luperkalieë.

Sommige mense het beweer dat Valentynsdag eers ingestel is as ’n gewone godsdienstige fees en dat dit eers later sy erotiese ondertone bygekryhet, moontlik aangemoedig deur die digter Geoffrey Chaucer se Parliament of Fowls – soms ook genoem: “Die eerste Valentynsdag gedig wat ooit geskryf is” – ’n verhaal van voëls wat in die laat winter en vroeë lente sou afpaar met hul maats, vir wie Valentynsdag spesiale betekenis sou inhou. Tensy die vakansiedag reeds sy erotiese ondertoon gehad het, sou Chaucer se verwysings en gevolgtrekkings geen sin gemaak het vir sy lesers nie! Hy het duidelik geskryf in die gees van ’n reeds gevestigde siening dat Valentynsdag ’n spesiale dag vir verliefdes is.

Maak dit saak dat Valentynsdag ’n moderne voortsetting is van ’n heidense gewoonte? Die Bybel is duidelik oor hierdie punt. God het eertyds al gewaarsku teen die beoefening van so ’n nabootsing (Deuteronomium 12:29-31). Die apostel Johannes het hierdie waarskuwing benadruk toe hy by Christene aangedring het: “My kinders, bewaar julleself van die afgode” (1 Johannes 5:21). Daar is by nie-Joodse Christene aangedring om hulle te onthou van heidense “afgodsoffers” (Handelinge 15:29). Dit verwys duidelik na vleis wat aan heidense afgode geoffer is, maar het ook geïmpliseer dat Christene hulle selfs moet distansieer van die viering van ’n vakansiedag “wat aan afgode opgedra is”.

Jesus Christus het self die nasionale en burgerlike vakansiedae van antieke Israel gevier, selfs onder die Romeinse besetting. Hy het na die tempel in Jerusalem gegaan tydens die viering van die Fees van Toewyding, ook bekend as Hanukka of wydingsfees (Johannes 10:22) – ’n vakansiedag wat God nie ingestel het nie. Dit is nie so dat ons net vakansiedae wat in die Bybel gevind word mag vier nie. Waar sodanige viering ons in stryd bring met Christelike sedelikheid, of ons insluit (direk of deur assosiasie) in die beoefening van heidense gebruike, behoort ons sodanige vierings te vermy – derhalwe behoort ons as Christene nie Valentynsdag te vier nie.

Om meer hieroor te wete te kom, bestel gerus u gratis kopie van ons insiggewende boekie, Die Heilige Dae – God se meesterplan. Dit sal u help om die feeste wat God vir Sy volk ingestel het te waardeer, asook hoe hulle verskil van die wêreld se feeste wat oorgedra is van heidense geloof en aanvaarbaar is vir vleeslike mense. Bestel u kopie aanlyn by www.wvm.co.za of skryf na die streekskantoor die naaste aan u (sien bladsy 2) om u gratis kopie aan te vra.