Vandag beskou meer as twee miljard mense op ons planeet hulleself as Christene en die meeste van hulle vier die vakansiedae wat algemeen geassosieer word met Christenskap – veral Kersfees en Paasfees/Easter. Wanneer ons praat van Godsdienstige feeste wat gedurende die lente in die noordelike halfrond gevier word, neem baie mense dadelik aan dat, aangesien die Jode Pasga hou ter herinnering aan hulle verblyf en uittog uit Egipte en diegene wat Christenskap bely, Paasfees/Easter vier om die opstanding van hulle Verlosser, Jesus Christus, te herdenk.
Die meeste mense dink vandag dat die Bybelse Heilige Dae – veral die Pasga – “Joods” is. Wat dink u? Is dit waar dat slegs Jode die Pasga hou, terwyl Christene oor die algemeen Paasfees/Easter hou? Is dit moontlik dat daar ’n Christelike Pasga bestaan? Is dit dalk ’n teenstrydigheid?
Trouens, ’n toenemende aantal mense ontdek egter dat die Bybel iets te sê het oor Christelike dae van aanbidding wat ons nie sou verwag nie. Daar is so iets soos ’n Christelike Pasga en dit word duidelik in die bladsye van die Bybel openbaar.
Laat ons die waarheid openbaar deur drie vrae oor die Christelike Pasga te ondersoek, want die antwoorde is dalk nie wat u dink nie.
Het Jesus die Christelike Pasga onderhou en onderrig?
Ons bespreking begin deur die Ou Testamentiese Pasga aan te spreek. In werklikheid was dit nie net die Jode wat dit onderhou het nie – hulle was net een stam in ’n nasie van mense wat Israeliete genoem is en wat die afstammelinge van die aartsvader Israel was. God het vir die Israeliete hierdie instruksies gegee:
“Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen ’n lam neem volgens die families, ’n lam vir ’n huisgesin. Julle moet ’n lam hê sonder gebrek, ’n jaaroud rammetjie. Van die skape of van die bokke kan julle dit neem. En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand. En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huise waarin hulle dit eet. En hulle moet die vleis in dieselfde nag eet, oor die vuur gebraai; saam met ongesuurde brode moet hulle dit met bitter kruie eet” (Exodus 12:3, 5-8).
God het vir die Israeliete gesê om hulle deurkosyne te merk met bloed van die Pasgalam. Sy engel het by daardie gemerkte huishoudings “verbygegaan” en hulle geen leed aangedoen nie terwyl die eersgeborenes van die Egiptenaars daardie nag van die eerste Pasga gesterf het. Van daardie tyd af is die Pasga gehou as ’n herinnering aan God se verlossing van die Israeliete uit Egipte.
Eeue later vind ons dat Jesus Christus, ’n Israeliet uit die stam van Juda, die Pasga gedurende Sy leeftyd onderhou het. As ons Verlosser het Hy nie slegs aarde toe gekom om die lewe van ’n gehoorsame Jood te leef nie – Hy het ook gekom om vir ons sondes te sterf en Sy Kerk te stig. Hy het dus die aand voordat Hy gesterf het iets baie betekenisvol met Sy dissipels gedeel: Hy het die Nuwe Testamentiese Pasga ingestel, wat ons ook die Christelike Pasga kan noem.
In die Evangelie van Lukas lees ons van daardie laaste Pasga wat Christus saam met Sy dissipels gehou het: “En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom. En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie Pasga met julle te eet voordat Ek ly” (Lukas 22:14-15).
Ja, Jesus het die Pasga gehou, wat bestaan het uit ’n maaltyd van geroosterde lam, ongesuurde brood en bitter kruie, in ooreenstemming met die Ou Testamentiese voorskrifte. Hy het egter ook iets nuuts gedoen op daardie aand voor Sy kruisiging – Hy het nuwe Pasga-simbole ingestel.
“En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: “Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes” (Matthéüs 26:26-28).
Met hierdie twee elemente, die brood en die wyn, sou Jesus die onderhouding van die Pasga vir altyd vir Sy volgelinge verander. Hy het aan hulle verduidelik dat die ongesuurde brood Sy liggaam verteenwoordig, wat gebreek is deur die geseling wat Hy moes verduur voor Sy kruisiging. Die wyn verteenwoordig Sy bloed, wat uit ’n spieswond gevloei het terwyl Hy sterwend aan ’n paal gehang het. As die ware Lam van God wat lank gelede ’n versinnebeelding van die letterlike Lam van die Ou-Testamentiese Pasga was, het Hy Sy lewe gegee vir die redding van die hele mensdom. Die simbole wat Hy vir die onderhouding van die Pasga ingestel het, het geweldige asook ingrypende betekenis vir die toekoms van elke mens.
’n Voorbeeld om na te volg
Voordat ons verder gaan, behoort ons daarop te let dat die Pasgabrood nie op geheimsinnige wyse, Christus se letterlike liggaam word nie en die wyn word ook nie op wonderbaarlike wyse Sy letterlike bloed nie. Albei was simbole wat Sy gebroke liggaam en gestorte bloed verteenwoordig – simbole wat geweldig betekenisvol is.
Laat ons ook let op iets anders wat Christus daardie aand ingestel het: “Jesus, omdat Hy wis dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God uitgegaan het en na God heengaan, van die maaltyd opgestaan en sy bo-klere uitgetrek en ’n doek geneem en dit om Hom vasgemaak. Daarna het Hy water in ’n bak gegooi en die voete van die dissipels begin was en afdroog met die doek wat Hy omgehad het” (Johannes 13:3).
Hier het Jesus nóg ’n element van die Christelike Pasga ingestel, naamlik om mekaar se voete te was. Jesus het Sy dissipels geleer om hulleself te verootmoedig en mekaar te dien, soos Hy hulle gedien het. Let ook verder op:
“Toe Hy dan hulle voete gewas en sy bo-klere geneem het, gaan Hy weer aan tafel en sê vir hulle: Verstaan julle wat Ek aan julle gedoen het? Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle ’n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen” (Johannes 13:12-15).
Al drie simbole – die brood, die wyn en die was van voete – is nou deel van ’n nuwe onderhouding wat ons die Nuwe Testamentiese Pasga of Christelike Pasga noem. Christene onderhou deesdae die Pasga met dieselfde simbole wat ons Verlosser ingestel het op die aand voordat Hy gesterf het.
Christus het die belangrikheid van hierdie nuwe onderhouding verduidelik: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Johannes 6:53-54). Weereens nié om Sy letterlike liggaam en bloed in te neem nie maar die simbole wat Sy offer vir die mensdom verteenwoordig.
Het Jesus dus die Pasga onderhou? Ja. Hy het die Pasga van ouds onderhou wat deur die Israeliete onderhou is. Wat selfs meer betekenisvol vir ons is; Hy het ook ’n nuwe Christelike Pasga vir Sy volgelinge ingestel, aan wie Hy gesê het om Sy voorbeeld te volg en te doen soos wat Hy gedoen het.
Namate die Christendom versprei het na Sy dood en opstanding, het baie heidene – mense wat nie van die antieke aartsvader Israel afgestam het nie – saam met die Jode in die Kerk ingekom. Dit bring ons by ons volgende vraag met betrekking tot die Christelike Pasga.
Was heidene geleer om die Christelike Pasga te onderhou?
Baie mense glo dat, namate die Kerk gegroei het, het God, om dit so te stel, “toegelaat dat die reëls verander word”. Daar word algemeen aanvaar dat, om een of ander rede, die heidene wat in die Kerk gekom het nie dieselfde reëls en wette as Joodse Christene hoef te volg nie. Mense probeer dikwels om die apostel Paulus se geskrifte te gebruik om hierdie veronderstelde “reël-verandering” of “heidense-uitsondering” te demonstreer. Laat ons egter voortgaan met ons bespreking deur te ondersoek wat Paulus in werklikheid oor die Christelike Pasga onderrig het.
In Paulus se eerste brief aan die broeders van Korinthe, vind ons ’n heel duidelike gedeelte waar hulle in werklikheid aangaande die Christelike Pasga onderrig is:
“Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis” (1 Korinthiërs 11:23-25).
Paulus – die apostel van die heidene – beskryf duidelik die onderhouding van die Christelike Pasga aan ’n gemeente van die Kerk wat bestaan het uit heidense lidmate, die Korinthiërs.
Let nou op die volgende vers: “Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (vers 26). Sommige mense beweer dit beteken dat ons die simbole van die brood en wyn verskeie kere per jaar behoort te neem – dalk selfs élke keer wanneer ons bymekaar kom om God te aanbid. Indien ons egter met insig lees, merk ons dat dit nie is wat Paulus geskryf het nie. Hy het eenvoudig verduidelik dat, wanneer ons daardie simbole neem, ons die dood van ons Here en Verlosser verkondig – of herdenk – in afwagting op Sy Wederkoms.
Ons gee toe dat dit vol betekenis is. Vir eers herinner dit ons daaraan dat Jesus Christus terugkom na hierdie aarde. Dit is nie moeilik om in te sien dat ons nou daardie tyd nader nie – soos wêreldtoestande aandui, is dit baie naby. Ons behoort egter ook daarop te let dat, soos Paulus verduidelik, die Pasga ’n herdenking is van Christus se dood. Met ander woorde dit is ’n herinnering van Christus se dood. Waarom sou ’n mens ’n herdenking hou op enige dag wat onsself kies? Waarom sou ’n mens dit hou op ’n dag wat verskil van dié dag van die herdenkingsgeleentheid?
In die Verenigde State vier ons Onafhanklikheidsdag op 4 Julie en dit verwys na die ondertekening van die Onafhanklikheidsverklaring in 1776. In Frankryk is Bastilledag ter herdenking van die stormloop van die Bastille op 14 Julie 1789. In Mexiko word 16 September gevier as Onafhanklikheidsdag – die dag toe die Katolieke priester en patriot Miguel Hidalgo sy bekende oproep tot sy gemeentelede gedoen het om in opstand te kom teen die Spaanse Ryk. Elkeen hiervan word herdenk op die datum waarop die oorspronklike geleentheid plaasgevind het. Die meeste ander lande het hulle eie spesifieke kalenderdatums om spesiale geskiedkundige gebeurtenisse te herdenk.
Op ’n kleiner skaal – maar steeds baie belangrik – vier getroude paartjies dikwels hulle huweliksherdenking. Wanneer is dit? Op die datum toe hulle in die huwelik getree het! Byna elke man weet dat sy vrou nie baie gelukkig sou wees indien hy die dag van hulle huweliksherdenking vergeet of voorstel dat hulle dit altyd op enige ander willekeurige datum vier nie.
Waarom sou ons dus dink dat God tevrede sou wees indien ons sou besluit om Christus se Pasga op ’n ander dag te herdenk as wat dit werklik is? Tydsberekening is vir God baie belangrik en die tydsberekening van die Christelike Pasga herinner ons aan die ontsaglike betekenisvolle gebeurtenis wat op daardie dag plaasgevind het – die kruisiging en dood van Jesus Christus aan ’n paal om ons van ons sondes te red.
Voorbereiding vir die Pasga
Paulus beskryf selfs verder hoe ons onsself behoort voor te berei om daardie Pasga te onderhou: “Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here. Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink” (1 Korinthiërs 11:27-28).
Paulus openbaar dat God omgee vir die wyse waarop Sy mense voorberei vir die Christelike Pasga. Hy verwag van ons om deur selfondersoek daarvoor voor te berei. Dit is nodig dat ons ons lewenswyse eerlik evalueer in die lig van God se Wette en aanwysings terwyl ons deur selfondersoek daarvoor voorberei. Dit is nodig om onsself eerlik te evalueer hoe ons ons lewens leef in die lig van God se Wette en aanwysings. Terwyl ons onsself ondersoek, moet ons die nodigheid aan Christus se offer en God se vergifnis in ons lewens erken.
Weereens, onthou dat Paulus dit alles aan die broeders van Korinthe geskryf het, wie Grieks was – nie Joods nie. Hierdie onderhouding van die Pasga was nie net vir die Jode of Israeliete nie – dit was vir alle Christene.
Let op Paulus se vermaning: “Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ’n nuwe deeg kan wees – soos julle inderdaad ongesuurd is – want ook ons paaslam is vir ons geslag” (1 Korinthiërs 5:7). Wanneer die antieke Israeliete die Pasga gehou het, was dit die versinnebeelding van die Lam van God wie vir die sondes van die mensdom gesterf het – alhoewel hulle dit nie op daardie tydstip geweet het nie. Paulus skryf: “Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid” (vers 8).
Ons het reeds gesien dat Jesus Christus se eerste dissipels onderrig is om die Christelike Pasga te hou. Nou sien ons dat Paulus, jare na Jesus se dood, vir die heidene die simboliese betekenis van die Pasga geleer en verduidelik het hoe om daarvoor voor te berei. Hoe kan iemand ontken dat die Pasga bedoel was vir alle Nuwe Testamentiese Christene om onderhou te word?
Ten spyte hiervan onderhou die meeste mense wat Christenskap bely nie die Christelike Pasga nie. Dit bring ons by ons laaste vraag.
Waarom hou so baie mense eerder Paasfees/Easter?
Ons het reeds gesien dat die Bybel baie te sê het oor die Christelike Pasga. Daarenteen, is dit nie opmerklik dat daar nie ’n enkele Bybelse opdrag of gebod is om ’n viering te hou ter herdenking van Christus se opstanding nie?
Asseblief, moenie verkeerd verstaan nie – Jesus Christus se opstanding is lewensbelangrik en noodsaaklik. Trouens, ons baseer ons hoop op die ewige lewe daarop. Ons lees dat “as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon” (Romeine 8:11).
Inderdaad, die opstanding is uiters belangrik, maar selfs al deursoek u die Nuwe Testament van begin tot einde sal u géén gebod of opdrag vind om Christus se opstanding met ’n viering of Heilige Dag te herdenk nie. Waarom hou so baie mense dan Paasfees/Easter?
Jarelange lesers van hierdie tydskrif weet dat die meeste vakansiedae van vandag se hoofstroom-Christendom ’n blatante heidense oorsprong het. Dit is die geval met Paasfees/Easter. Waarom maak dit saak? Ons hoofredakteur, Gerald Weston skryf: “Soos ons gesien het was Istra die antieke godin van vrugbaarheid en liefde ook bekend onder die name Istra, Eostre, Easter, Astárte, Aphrodite, Artemis en Inanna. In die Hebreeuse taal is Astarot die meervoudsvorm van Astárte en ons vind baie verwysings na die aanbidding van Astarot in die Ou Testament, maar nooit in ’n positiewe konteks nie! (Paasfees/Easter: Die storie wat nie vertel is nie, hoofstuk 2, beklemtoning bygevoeg). Paasfees/Easter hou nie verband met Joodse of Christelike praktyke nie, maar met antieke vrugbaarheidsmites wat gekoppel is en wat verband hou met heidense kulture en vierings.
Indien ons dus in ag neem wat die verband daarvan met antieke heidense tradisies is, waarom hou mense Paasfees/Easter? Die geskiedenis openbaar dat, nadat Christus Sy Kerk in die eerste eeu gestig het, ingrypende veranderings deur sommige mense na Sy dood ingebring is. Sodoende het die hoofstroom, sigbare kerk toenemend verskil van die getroue kudde wat by Christus se voorbeeld en leerstellings gehou het. Namate nuwe generasies tot stand gekom het, het die druk om aan te pas by die heidense gebruike rondom hulle geweldig toegeneem – praktyke wat feeste, gebruike en tradisies ingesluit het wat hulle oorsprong gehad het in antieke vrugbaarheidsrites en die heidendom, hoewel nie direkte aanbidding van Ishtar en ander heidense figure nie.
Daarenteen het getroue Christene gehou by die leerstellings van Christus en Sy Apostels en die Pasga op 14 Nisan gevier – die veertiende dag van die eerste maand van die Hebreeuse kalender en hulle het dit gedoen selfs nadat die Roomse kerk in die tweede eeu n.C. ’n vroeë weergawe van Paasfees/Easter op ’n Sondag naby die datum van die Pasga begin hou het. In The Catholic Encyclopedia word vertel dat “terwyl Anicetus, Pous was, het St. Polycarp – toe reeds op ’n baie hoë ouderdom – met hom kom beraadslaag het (160-162) oor die Pasga-twispunt; Polycarp en ander mense in die Ooste wat die fees op die veertiende van die maand Nisan gevier het, ongeag die dag van die week waarop dit geval het; terwyl dit in Rome altyd op ’n Sondag onderhou is” (“Pous St. Anicetus,” NewAdvent.org).
Polycarp was ’n direkte dissipel van die apostel Johannes. Anicetus en Polycarp het nie ’n ooreenkoms bereik oor hierdie onderwerp nie en ’n paar dekades later het Victor, ’n ander biskop in Rome, probeer om al die kerke van Klein-Asië te dwing om die onderhouding van die Christelike Pasga op 14 Nisan te laat vaar. Die geskiedskrywer Eusebius het ons geleer dat ware Christene nié onder die druk geswig het nie.
“Die biskoppe van Asië het, onder leiding van Polycrates, egter besluit om te hou by die ou gebruik wat aan hulle oorgelewer is. Hy het self in ’n brief wat hy aan Victor en die kerk van Rome gerig het, die tradisie uiteengesit wat aan hom oorgelewer is: Ons hou die presiése dag, sonder om iets by te voeg of weg te laat. In Asië het belangrike mense ook aan die slaap geraak [gesterf] ... Tussen hulle was Filippus, een van die twaalf Apostels … verder ook Johannes, wat ’n getuie sowel as ’n leraar was, wat teen die bors van die Here gelê het ... Hulle het almal die Pasga op die veertiende dag, ooreenkomstig die Evangelie gehou en in geen opsig daarvan afgewyk nie in navolging van die reël van die geloof ... Daarop het Victor, wie die leier van die kerk in Rome was, dadelik probeer om die gemeentes van die hele Asië en die kerke wat met hulle saamgestem het, as heterodoks van die gemeenskaplike eenheid af te sny en hy het briewe geskryf en al die broeders daar heeltemal uit die kerk geban (“Church History (Book V),” NewAdvent.org).
Verbasend genoeg het dit nie lank geduur voordat diegene wat die Christelike Pasga onderhou het, uit die kerk as geheel geban is nie, nadat die Raad van Nicea die ware Bybelse onderhouding vervang het met die Paasfees/Easter wat deur die Roomse kerk verkies is. Relatief min mense het voortgegaan om die praktyk te volg wat Jesus Christus deur Sy voorbeeld vir hulle geleer het.
Nee, Jesus het nie afstand gedoen van die Pasga nie. Inteendeel – Hy het die Christelike Pasga ingestel en Sy dissipels en ander mense wat Hom gevolg het, het voortgegaan om dit te onderhou. Trouens, ’n toenemende aantal Christene onderhou vandag dieselfde Bybelse Christelike Pasga.
Die volgende stappe
Die antwoorde op ons vrae openbaar die waarheid in verband met die Christelike Pasga: Jesus Christus het dit aan Sy dissipels geleer, die apostel Paulus het dit aan heidense Christene geleer en getroue volgelinge het eeue lank ywerig vasgehou aan hierdie leerstelling, ten spyte van intense vervolging.
Wat van u? Heel moontlik het u nog nooit die Nuwe Testamentiese Christelike Pasga oorweeg nie. Dalk het u aangeneem dat die Pasga net Joods is. Dalk is u nog altyd geleer dat Christene Paasfees/Easter behoort te hou.
Dit is nodig dat u dit bestudeer en aan uself bewys. Dit gaan immers oor die lewe en dood van ons Verlosser en ons gehoorsaamheid deur Sy opdragte te volg. Dit gaan selfs oor die vergifnis van ons sondes en ons hoop op die ewige lewe.
Sodra u dit alles deurdink het, sal u dalk belangstel in hoe om self die Christelike Pasga te onderhou. Duisende mense net soos u het tot dieselfde gevolgtrekking gekom en het geleer om hierdie belangrike gebeurtenis elke jaar getrou te onderhou. U kan meer te wete kom deur ’n gratis eksemplaar van ons studiegids Die Heilige Dae – God se meesterplan, van die streekskantoor naaste aan u aan te vra. Die lys van kantore verskyn op bladsy 2 van hierdie tydskrif. U kan dit ook aanlyn lees by wvm.co.za.
Indien u vrae het wat u persoonlik wil vra, sal verteenwoordigers van die Lewende Kerk van God, wat die Wêreld van Môre borg, graag met u praat en enige vrae wat u mag hê oor die Christelike Pasga beantwoord. Hierdie fundamentele praktyk van die getroue eerste-eeuse Kerk word steeds onderhou deur diegene wat deesdae in Christus se voetspore wandel.


