Ek het vir dekades die Amerikaners en die nasies wat van die Britte afstam gewaarsku dat daar baie werklike katastrofes op hulle wag as hulle voortgaan om hulle rug op die God van die Bybel te draai. Daardie God – die enigste ware God – begin nou ingryp om die Amerikaners en die nasies wat van die Britte afstam, te straf. Hoewel die huidige vernederings ’n werklikheid is, is dit maar net die begin.

Op ’n onlangse besoek aan die Verenigde Koninkryk was ek bedroef om te sien hoe die Britte die oorname van hulle eens groot nasie gedwee aanvaar. Stadig maar seker, maand na maand gebeur dit reg voor hulle eie oë!

As ’n voorbeeld van wat besig is om te gebeur, berig die Britse invloedryke Daily Telegraph in ’n skokkende voorbladartikel gedateer 23 April 2008, die volgende:

“Engeland is afgevee van ’n kaart van Europa wat deur die burokrate in Brussels opgestel is, as deel van ’n skema, wat die Tories beweer, dreig om die nasionale identiteit van die land te ondermyn.

Die nuwe Europese plan verdeel Engeland in drie sones wat saamgevoeg word met gebiede in ander lande.

Die ‘Manche’ streek dek ’n deel van suidelike Engeland en noordelike Frankryk terwyl die Atlantiese streek dele van westelike Engeland, Portugal, Spanje en Wallis insluit. Die Noordsee-streek sluit dele van oostelike Engeland, Swede, Denemarke, die Nederlande en dele van Duitsland in. ’n Afdruk van die kaart, wat geen melding maak van Engeland of Brittanje nie, het selfs die Engelse kanaal hernoem na die ‘Kanaalsee’. Elke sone sal ’n ‘transnasionale streeksvergadering’ hê, alhoewel hulle nie oor uitgebreide magte sal beskik nie. Die sones word egter as simbolies belangrik geag deur ander lande”.
Kan jy nou meer!

Brittanje se Daily Mail berig ook oor daardie verraderlike plan en beskryf hoe in hierdie beraamde plan van die Europese Unie, elke streek bestuur sal word deur ’n “beherende gesag” van onverkose beamptes onder toesig van ’n direkteur. Nie een sal in die Verenigde Koninkryk gevestig wees nie!

Die Daily Telegraph berig aangaande ’n besorgdheid geopper deur die Konserwatiewe Party se segsman, Eric Pickles: “Die Arbeider-regering is nou op heterdaad betrap waar hulle met Europese burokrate saamsweer om ’n Europese superstaat te skep via die agterdeur”.

Gekonfronteer deur Britte wat ontstoke is deur die voorstel, het die Britse regering se kantoor vir Buitelandse Sake, Pickles se besorgdhede afgemaak as “belaglik” en “onrussaaiery”. ’n Verklaring deur die kantoor vir Buitelandse Sake hou vol: “Herhaalde pogings om mense bang te maak sodat hulle glo dat die EU op een of ander manier ‘Brittanje gaan afskaf’ is keer op keer as vals bewys – en hierdie is net nog ’n armsalige poging. Hierdie groeperings word gebruik om fondse na verskillende streke in Europa te versprei wat gelyksoortige omgewings-, vervoer- en toeriste belange het”.

’n Beampte van Engeland se Departement van Gemeenskaplike en Plaaslike Regering hou vol: “Hierdie bewerings is volkome onsin. Dit gaan oor samewerking met ander lidstate om te verseker dat die Europese Streekontwikkelingsfonds projekte ondersteun wat werklik ’n verskil sal maak aan ons ekonomie en lewenskwaliteit – veral in die minderbevoorregte gebiede”.

Praat die Arbeider-politici en regeringsburokrate die waarheid? Of sal ’n Europese regering probeer om Brittanje af te skaf? Wat sê u Bybel? Derduisende van u weet dat die Brits-afstammende en die Amerikaanse volkere in der waarheid die eindtydse oorblyfsel van die antieke “Huis van Israel” is wat meer as twee millennia gelede deur Assirië oorwin en in ballingskap weggevoer is voordat hulle sogenaamd “verdwyn” het.

Baie geleerdes beskryf daardie “verdwene” nasies as die “Verlore Tien Stamme van Israel”. Alhoewel die meeste historici met hulle tred verloor het, het hulle nie verdwyn nie! Vandag kan die afstammelinge van hierdie nasies duidelik met die mense van noordwestelike Europa, Brittanje tesame met die voormalige Gemenebes nasies en die Verenigde State geïdentifiseer word. Letterlik dosyne profesieë van die Bybel beskryf wat met hierdie nasies gebeur het, nou besig is om te gebeur en wat binnekort nog gaan gebeur –tensy hulle bekeer en hulself heelhartig na die God van die Bybel wend.

Hierdie werklik boeiende geskiedenis – ’n werklike “sleutel” om ons te help om ongeveer 90% van eindtydse profesieë te verstaan – word verduidelik in ons insiggewende boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? behoort regtig hierdie uiters belangrike boekie sorgvuldig te lees! Indien u nog nie ’n kopie het nie, skryf of skakel ons streekkantoor naaste aan u (gelys op bl 2 van hierdie tydskrif), of skakel in op die Internet by ons webtuiste www.wvm.co.za en vra vir ’n gratis kopie van hierdie kragtige en baie betekenisvolle boekie. Dit sal u werklik insig gee in wat nou besig is om te begin gebeur.

Baie Bybelse profesieë voorspel wat nou besig is om te begin gebeur met die Amerikaanse en Brits-afstammende volkere. Die hele boek van Hosea is in werklikheid ’ntweeledige profesie – dit beskryf wat met daardie nasies in antieke tye sou gebeur, en wat nou op die punt staan om met hulle te gebeur gedurende hierdie voorspelde “tyd van die einde”. Soos die boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? verduidelik, is die Angel-Saksies-Keltiese nasies van Brittanje afstammelinge van die stam van Efraim – een van die sogenaamde “Verlore Tien Stamme”.

Verstaan asseblief. Die stam van Efraim is nie “Joods” nie – en die Bybel maak ’n duidelike onderskeid tussen die “Huis van Israel” en die “Huis van Juda” (2 Konings 14:12-14). Wat sê God se geïnspireerde woord gaan gebeur met moderne Efraim, hierdie nasies wat van die Britte afstam?

“Efraim – hy vermeng hom met die volke; Efraim is ’n roosterkoek wat nie omgekeer is nie. Vreemdes verteer sy krag, en hy bemerk dit nie; ook is grysheid oor hom uitgesprei, en hy weet dit nie. Ja, die trotsheid van Israel getuig openlik teen hom; en tog bekeer hulle hul nie tot die Here hulle God nie, en ondanks dit alles soek hulle Hom nie” (Hosea 7:8-10).

Nuwe regulasies van die Europese Unie moedig miljoene immigrante aan om Engeland binne te gaan, veral vanuit die vorige Kommunistiese nasies van Oos Europa. Golwe immigrante, hetsy Rooms-Katoliek of Moslem, verander die gevestigde karakter van buurtes – somtyds selfs van hele stede en dorpies. Gedurende my besoek aan Brittanje vroeër hierdie jaar, het die groot getal artikels in die Britse pers my opgeval wat die verlies aan die nasie se Britse karakter betreur. Is dit enige wonder dat baie inheemse Britte ontstoke raak wanneer hulle gekonfronteer word met EU planne wat die nasionale grense van Brittanje ignoreer, wanneer hulle sien dat die EU se burokrate eerder verkies om die nasie se burgers te verdeel in verskeie “streke” saam met ander nasies, sonder om Brittanje se nasionale karakter en geskiedenis in aanmerking te neem?

Is dit voorbestem vir Brittanje om deur Europa verswelg te word? Die Almagtige God sê: “Israel is klaar ingesluk. In die oë van die nasies het hulle nou geword soos ’n ding wat niemand wil hê nie. En tog het die leiers by Assirië gaan hulp soek. Efraim is soos ’n eensame wildedonkie; hy het vir homself vriende gaan soek. Maar al sou hy ook vriende maak onder die nasies, sou dit niks baat nie, want Ek gaan hulle nou bymekaarjaag, en binnekort sal hulle soos donkies swaar dra aan die las van die koning van Assirië” (Hosea 8:8-10 NV). Die Britse deel van die moderne “Huis van Israel” staan op die punt om “ingesluk te word”. Miskien dink die misleide leiers van Brittanje dat hulle ekonomiese voordele sal verkry deur verskeie verdrae en bondgenootskappe met “hierdie nasies” te sluit. Min besef hulle die voorspelde “verdriet” wat dit gaan meebring!

Wat behoort ons vriende en geliefdes in Brittanje te doen? God se woord sê: “Want Efraim het die altare vermenigvuldig om te sondig – die altare het vir hom tot sonde geword. Ek het hom tienduisende leringe van my wet voorgeskrywe, maar dit word as iets vreemds geag” (Hosea 8:11-12). Daardie betreklik min Britte wat God waarlik vrees moet bewe vir Hosea se woorde, en moet heelhartig terugkeer na die God van die Bybel, begin om Hom te eer en begin om die “leringe” van Sy Wet te gehoorsaam!

Ons in hierdie Werk, die eindtydse dienaars van die lewende God, waarsku nou ons geliefde vriende in Brittanje om “wakker te skrik” en te besef wat besig is om te begin gebeur! Stadig maar seker, oor die volgende paar jaar, gaan die eens groot Britse nasie verneder word – tensy dit ’n nasionale berou tot bekering ondergaan wat eg en opregis. Soos ons in die verlede gewaarsku het, mag Brittanje uiteindelik self onttrek – of uitgesit word – uit die EU. Selfs dan, soos God se woord dit duidelik maak, is die komende oorname van Brittanje deur ’n tien-nasie konfederasie – wat u Bybel as die “Dier” beskryf – absoluut verseker tensy daar ware berou tot bekering plaasvind!

Hoewel die Britse Daily Telegraph skryf, “sê Totsiens aan Engeland”, openbaar God se woord die goeie nuus dat die Britse nasie teruggebring sal word uit gevangenskap, en sal leer om die Here hulle God te “soek” wanneer Christus se Koninkryk in die “laaste van die dae” gevestig word (Hosea 3:5). Mag God daardie dag verhaas!