Vrees u oordeel, wedergeboorte of vergetelheid nadat u gesterf het? U behoort te weet wat die heerlike en hoopvolle waarheid is.

Byna geen vraag het al méér in mense se gedagtes gespook as dié, of daar lewe na die dood is nie. Vandag sal baie intellektuele reuse u ook wil laat glo dat die enigste rasionele antwoord “nee” is. Is hulle reg? Wanneer u sterf, is dit die einde?

Die afgelope tyd was moeilik. Ons is almal baie bewus van die verskillende probleme van vandag en onderliggend aan baie daarvan is wat baie rasionele mense die ergste vrees – die dood en die sterwensproses.

Die doel van hierdie artikel is nie om u bang of depressief te maak nie, maar om u hoop te gee – iets wat ons almal nodig het wanneer tye moeilik is. Daardie hoop is op lewe ná die dood. Baie mense glo in een of ander vorm daaraan, maar min van hulle is bereid om hulle lewens daarop te wed.

Verbasend genoeg beweer sommige evolusioniste en ateïste in naam dat hulle gló in lewe na die dood. Dit is vreemd, want evolusie is in wese ’n poging om lewe sonder God te verklaar en as daar geen God is nie, watter evolusionêre meganisme kan dalk lewe uit die dood terugbring? Sommige mense probeer om “’n middeweg te kies” deur te beweer dat God evolusie gebruik het om alle lewensvorms te skep, maar die ware aantrekkingskrag van evolusie is die verwerping van die Skepper en ignoreer dus enige gedragsbeperkings wat deur ’n hoër mag daarop geplaas kan word.

Die einde wat niemand sal vryspring nie

Laat ons dus nie doekies omdraai nie. Dink vir ’n oomblik daaroor na: Alhoewel ons die idee haat, gaan ons almal sterf en eers wanneer ons ouer word, besef die meeste van ons hoe kort die lewe werklik is. Ons het grootgeword en het ouers en hulle vriende hoor sê: “Kinders word so vinnig groot!” Hulle vra: “Waar is al die jare heen?” Miskien het u al sélf hierdie bekende woorde gesê.

Op die een of ander stadium word ons almal met die werklikheid van die dood gekonfronteer, hetsy dit die verlies van ’n geliefde was of moontlik het uself ter nouernood aan die dood ontkom. Wanneer ons vra: Wat gebeur wanneer ’n mens sterf?, is daar net twee moontlike antwoorde: Die donkerte van duisternis vir ewig wanneer alle bewussyn tot ’n einde kom of lewe anderkant die graf. Daar kan geen ander alternatiewe wees nie.

Baie vrae ontstaan by diegene wat die laaste antwoord glo. Indien daar lewe na die dood is, wanneer begin daardie lewe – onmiddellik of met ’n opstanding een of ander tyd in die toekoms? Hoe sal dit wees en in watter vorm sal dit wees? Sommige mense glo dat hulle vlerke sal kry en engele sal word wat op wolke sit en harpe speel. Ander mense glo in reïnkarnasie en dink dat hulle sal terugkom as ’n hond, insek of ander lewensvorm, afhangende van hoe hulle geleef het. Sommige mense dink dat hulle ’n tydperk van suiwering van hulle sondes sal moet deurmaak voordat hulle in ’n hemelse geluksaligheid sal ingaan en vir altyd na die aangesig van God sal staar – die sogenaamde “geluksalige visioen”.

Wat is die waarheid?

Is dit goed genoeg om iets wat so belangrik is te glo of nie te glo nie, op grond van emosie en opvoeding, wat u biologieprofessor u vertel het of eenvoudig wensdenkery? Emosies verander nie die werklikheid nie. Ons kan ook nie staatmaak op die manier waarop ons grootgemaak is nie, want terwyl die een persoon as ateïs grootgemaak word, word die ander grootgemaak om te glo in hierdie god of daardie god; albei kan sekerlik nie reg wees nie, maar tog glo elkeen dat hy reg is. Om ’n professor in biologie te wees, gee geen insig in die lewe anderkant die graf nie en wensdenkery is selfbedrog. Om net te wens dat iets so moet wees, máák dit nie so nie.

Vandag is dit in die mode om God te verwerp, maar omdat ’n mens nie regtig kan bewys dat Hy nie bestaan nie, is dit dan nie ’n groot waagstuk om Hom te verwerp sonder om die bewyse in ag te neem nie? Ongelukkig is te mín mense bereid om die belangrikste van alle vrae te ondersoek en te beantwoord.

Wanneer hulle die dood sien naderkom, wil die meeste mense weet – is dit die einde van dit alles? Miskien is daar meer aan verbonde. Lee Iacocca was een van die groot nyweraars van die twintigste eeu en hy verduidelik dit op hierdie manier in sy boek Talking Straight:

“Ek was nog altyd verwonderd oor hoeveel klem gelê word op geloof in die hiernamaals namate mense ouer word. Tot en met hulle sterfbed het baie van die groot wetenskaplikes gedink dat omdat hulle siel en wese in hulle gebalsemde liggame toegedraai was – slegs die waarde van die chemikalieë wat gelyk sou wees aan die ou Amerikaanse 98c sou oorbly. Na die dood sou daar nie meer ’n liggaam wees nie en dit is maar hoe dit is. Wanneer hulle egter nou moet sterf, wil hulle skielik in iemand daarbo glo omdat hulle nie weet waarheen hulle op pad is nie en omdat hulle bang is – soort van doodsbang, kan ’n mens sê. Dit is dan ’n bietjie te laat”.

Iacocca vertel dan ’n humoristiese storie oor wyle W.C. Fields. Fields was ’n lewenslange agnostikus wat nie in God geglo het nie, maar ook nie Sy bestaan heeltemal verwerp het nie – nie anders as baie gewone mense van vandag nie. Die verhaal lui verder dat hy gevind is terwyl hy die Bybel op sy sterfbed lees en aan hom is toe gevra: “Waarom lees jy dit?” Hy het geantwoord: “Ek is op soek na ’n skuiwergat”.

Indien die verhaal waar was, sou W.C. Fields nie die enigste een wees wat ’n skuiwergat in die laaste oomblik – net vir ingeval – sou soek nie. Sommige van hulle werk vinniger ’n plan B uit, terwyl ander mense wag totdat hulle nader aan die onvermydelike is. Indien God bestaan, dink ons regtig dat Hy met so ’n benadering tevrede sal wees? Miskien was Iacocca reg deur te skryf: “Dit is dan ’n bietjie te laat”.

Die alternatiewe

Op een of ander stadium vra die meeste mense hulleself af: “Bestaan God? Ons wonder ook of daar lewe na die dood is?” Ons wil dit miskien nie aan ons vriende erken nie, maar dit kom in ons gedagtes op. Is dit moontlik om die antwoorde te ken? Indien wel, waar soek ons die antwoord? Behoort ons na ’n boekwinkel te gaan om boeke te koop wat tonnels en helder ligte beskryf? Wat van die idees van verskillende godsdienste? Wat van die wetenskap? Die wetenskap kan tog sekerlik tot ons redding kom!

Kan dit régtig? Lewe na die dood impliseer twee belangrike gevolgtrekkings. Eerstens moet daar ’n oppermagtige Krag wees, ’n hoër Intelligensie of Wese met die mag om ’n fisiese bestaan te laat oorgaan in ’n ander bestaansvorm. Tweedens impliseer so ’n allerbelangrike saak en verandering ’n doelstelling wat uit die aard van die saak buite wetenskaplike ontdekking is.

Die wetenskap kan nie antwoorde gee nie, want die wetenskaplikes erken self dat hulle slegs met die materiële handel. Die Nasionale Akademie vir Wetenskap van die Verenigde State het duidelik toegegee dat “of daar ’n doel met die heelal of ’n doel vir die menslike bestaan is, is nie vrae vir die wetenskap nie” (Kenneth R. Miller, Finding Darwin’s God). Wetenskaplikes waag dit egter dikwels buite hulle studieveld en maak in elk geval bewerings oor ’n doel of die gebrek daaraan. Wyle bioloog en wetenskap geskiedskrywer, William Provine van die Cornell-universiteit het gesê: “Ons moet tot die gevolgtrekking kom dat wanneer ons sterf, sterf ons en dit is die einde van ons” (Miller). Die uitgesproke Richard Dawkins het die volgende in sy boek River Out of Eden geskryf:

“In ’n heelal van fisiese kragte en genetiese herhaling gaan sommige mense seerkry, ander mense sal gelukkig wees en ’n mens sal geen sin of rede daarvoor vind nie, ook nie enige geregtigheid nie. Die heelal wat ons kan sien, het presies die eienskappe wat ons behoort te verwag indien daar aan die einde van die dag geen ontwerp, geen doel, geen kwaad en geen goed is nie – niks anders as blinde, meedoënlose onverskilligheid nie”.

Daar is dan ook die paleontoloog, Stephen Jay Gould, wat geskryf het: “Dit is ’n moeilike lewe en indien u uself kan wysmaak deur te dink dat daar ’n warm en vae betekenis aan verbonde is, is dit ’n groot troos. Ek dink egter dis net ’n storie wat ons vir onsself opdis” (Miller).

Is Gould reg? Is godsdiens slegs ’n selfbedrieglike trooskombersie? Is dit alles ’n reusagtige leuen om ons te help om deur die week te kom of is daar betekenis in? Het dit werklike antwoorde op werklike vrae, soos die vraag van lewe na die dood? Ongelukkig is baie van wat godsdiens genoem word net bedrog. Neem in aanmerking al die verskillende geloofstelsels wat regoor die wêreld bestaan. Kan dit almal korrek wees?

Die Bybel is bo alle twyfel merkwaardig in vergelyking met ander “heilige” boeke en dit vertel aan ons dat daar lewe ná die dood is. Dit verklaar dat ons vir ewig kan leef en nie meer pyn of hartseer sal ervaar nie. Ek dink ons wil dit almal hê, maar is dit realisties?

Die Bybel maak daarop aanspraak dat dit ons die enigste weg tot die ewige lewe bied, maar dit openbaar dat dit ’n geskenk is en nie iets wat enigiemand outomaties het nie. Is daar nie aan u gesê dat u ’n onsterflike siel het wat na die dood in die hemel of in die hel voortleef nie – of miskien in die vagevuur? Dit is skokkend hoeveel populêre oortuigings nêrens in die Bybel gevind word nie – selfs dié wat u op Sondagoggende hoor. Dink aan Romeine 6:23: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, ons Here.” Waarom glo so min mense wat daar geskryf staan – dat sonde tot die dood lei, nie die ewige lewe in een of ander boosaardige marteling nie? Die ewige lewe is nie ’n reg nie, nie ’n inherente eienskap nie, maar ’n gawe of geskenk van God.

Kyk ook na Johannes 3:16. Waarom word hierdie bekende vers so heeltemal verkeerd verstaan? Lees dit en glo dit! “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Daar is weereens ’n kontras tussen verganklikheid en ewige lewe. Dit is teenoorgesteldes. Vir ’n deeglike uiteensetting van hierdie gewilde en belangrike gedeelte in die Bybel, vra ’n gratis eksemplaar aan van ons boekie: Johannes 3:16: Verborge Waarhede van die Goue Vers of lees dit aanlyn by wvm.co.za.

’n Gewelddadige arrogante man

’n Baie vername persoon in die Nuwe Testament van die Bybel is ’n man met die naam Saulus. Hierdie man het vroeë Christene erg vervolg totdat iets dramaties plaasgevind het. Hy was op pad na Damaskus om Christene in hegtenis te neem en in die gevangenis te sit totdat, kan ’n mens sê, hy ’n amper-dood-ervaring beleef het. Hy het skielik ’n verblindende lig teëgekom en ’n stem wat sy aandag getrek het. Slegs toé het hy gestop en aan die vele antieke profesieë gedink oor die Een teen Wie hy geveg het. Saulus wat Christene met wraak vervolg het, is in ’n nuwe mens omskep wat ons as die apostel Paulus ken. Hy het tot die oortuiging gekom dat die Een Wie hy gehaat het, die geprofeteerde Messías is en dat Hy uit die dood opgestaan het.

Die vervolger het nou die vervolgde geword en Paulus het die volgende paar dekades baie lyding verduur as gevolg van sy ywerige getuienis oor Christus. In sy verdediging teen diegene wat die opregtheid van sy nuutgevonde oortuigings bevraagteken het, het Paulus die volgende geskryf:

“Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ’n nag en ’n dag het ek op die diepwater deurgebring – dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid” (2 Korinthiërs 11:24-27).

Paulus was ’n realis. Hy het besef dat alles wat hy verduur het, die gevolg was van sy prediking dat Jesus die ware Messías is wat onregverdig doodgemaak is, ter wille van ons en wat drie dae en drie nagte later uit die graf opgestaan het, net soos Hy voorspel het. Paulus se oë is oopgemaak vir die feit dat dit alles voorspel was in die profesieë wat hy sy lewe lank bestudeer het. Hy het ook besef dat al sy pyn in die prediking van Christus tevergeefs sou wees as daar nie ’n opstanding tot die ewige lewe is nie: “As ek in Éfese op menslike wyse met wilde diere geveg het, watter voordeel was dit vir my? As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons!” (1 Korinthiërs 15:32).

Een van vele

Paulus was nie die enigste een wat van mening oor Jesus Christus verander het nie. Daar word aan ons vertel dat Jesus se eie broers nie in Hom geglo het nie (Johannes 7:5) totdat hulle Hom weer lewend gesien het na ’n wrede Romeinse kruisiging. Die opstanding was voorwaar ’n gebeurtenis wat aandag getrek het! Ten minste twee van sy broers het voortgegaan om aan die wêreld te verkondig dat Jesus inderdaad gesterf het en weer lewendig geword het.

Sy eie dissipels het gevlug toe Hy in hegtenis geneem is, maar hulle het martelaars geword omdat hulle verklaar het dat Jesus leef. Sowel die wêreldse geskiedenis asook die Bybel dui aan dat almal, behalwe die apostel Johannes, ’n marteldood gesterf het. Dink daaraan: Mense sal sterf vir ’n saak waarin hulle glo, selfs verkeerdelik, maar sal hulle sterf vir wat hulle weet ’n leuen is? Nee – hierdie manne het die kruisiging gesien, hulle het geweet dat Jesus se liggaam vir drie dae en drie nagte in die graf was en hulle het Hom lewend gesien! Selfs húlle het egter eers gesukkel om te glo wat hulle sien (Lukas 24:36-41). Thomas het reguit verklaar: “As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie” (Johannes 20:25). Die werklikheid van die opstanding het eers deurgedring toe hulle met Hom gesels en selfs saam met Hom geëet het! Hulle het dit nie net “geglo” nie – hulle het geweet dat Jesus uit die dood opgewek was. Hulle het dit met vrymoedigheid verkondig!

Dit was egter nie net Paulus, die broers van Jesus en die oorspronklike Apostels wat die opgestane Jesus gesien het nie. Soos Paulus skryf:

“Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf. Daarna het Hy verskyn aan oor die vyfhonderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het. Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels; en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene” (1 Korinthiërs 15:3-8).

Dit is geskryf toe “die grootste deel” van die “vyfhonderd broeders” nog geleef het en hierdie bewering kon bevestig of verwerp het! Dink daaraan! Hoe geloofwaardig en blywend sou hierdie Geskrifte wees as die mense van daardie tyd nie oortuig was nie?

Sommige mense argumenteer en beweer dat aangesien dit uit die Bybel self kom, dit dus ’n agterstevoor redenasie verteenwoordig – maar dink daaraan dat ons veel groter bewyse het vir die geldigheid van die Bybel as van enige ander antieke boek. Argeologie bewys telkens die skeptici as verkeerd en toon aan dat die Bybel ’n akkurate geskiedkundige verslag is. Daar is geskryf dat Paulus voor bekende landdroste, goewerneurs en konings getuig het. Hy het voor koning Agríppa II en sy suster Berníce getuig, asook vóór dit teenoor Agríppa se suster Drusílla. Baie dinge is ook uit ander bronne bekend oor hierdie individue, selfs dat Drusílla en haar seun omgekom het tydens die uitbarsting van die berg Vesuvius in 79 n.C. wat Pompeji vernietig het.

Indien die boek Handelinge nie geloofwaardig was toe Lukas dit geskryf het nie, sou dit vinnig sy geloofwaardigheid verloor het en dit geld ook vir die ander boeke van die Bybel. Terwyl Paulus deur Agríppa wie nouliks ’n morele man op énige front was, verhoor was, het Paulus gesê: “Want die koning, met wie ek ook vrymoediglik spreek, weet van hierdie dinge; want ek glo nie dat aan hom iets van hierdie dinge onbekend is nie, want dit het nie in ’n hoek gebeur nie” (Handelinge 26:26). Agríppa het dit nie betwis nie!

Kan ons werklik lewe na die dood hê? Die belangrikste Boek wat ooit geskryf is, sê ons kan en dit wys selfs na Iemand wat uit Sy eie graf geloop het om te wys dat dit gedoen kan word.

Indien ons lewe aan die anderkant van die graf kan hê, wat moet ons doen om dit te verkry? Indien u meer te wete wil kom oor hierdie onderwerp en wat God van diegene verwag wat die grootste geskenk van alles sal ontvang, maak seker dat u ’n eksemplare van ons boekies aanvra, Wat Gebeur Wanneer U Sterf? en Wat is ’n ware Christen? of lees dit aanlyn by wvm.co.za.