’n Kommerwekkende nuwe poging is op pad om die verstand van kinders te verwar sodat hulle basiese beginsels verwerp van wat waar of vals is en wat reg of verkeerd is.

Sosiale beplanners skryf ’n storie wat ontwerp is om u kinders van die werklikheid af te rokkel ...

Geleenthede soos “Drag Queen Story Time” vertel deesdae ’n werklik ontstellende storie aan kinders en dit sal nie ’n baie gelukkige einde hê nie.

Die jong mense word vandag ’n heel ander storie wysgemaak as dit wat deur vorige geslagte gehoor is. By openbare skole, biblioteke en in akademiese kringe hoor hulle ’n storie wat die betekenis van bekende konsepte verdraai en selfs die begrip van wat dit beteken om ’n seun of ’n meisie te wees. U kan verseker wees dat die storie nie die “gelukkige einde” sal hê soos wat die storievertellers sou wou hê u sal glo nie.

Dink aan “Drag Queen Story Time”, ’n geleentheid wat tydens die “Pride Month”-vierings die afgelope Junie in Albuquerque, New Mexico gehou is. Volgens die Albuquerque Journal het honderde klein kindertjies en hulle ouers op 15 Junie 2019 by die biblioteek in die middestad opgedaag, waar die selferkende “drag queens” – biologiese manne wat soos vroue aangetrek is – dikwels uitheems – stories vertel het en die kinders genooi het om saam te dans en liedjies te sing soos “If You’re Happy and You Know It” en “The Wheels on the Bus.” Hierdie onskuldige kleintjies, meestal tussen drie en sewe jaar oud, het ongetwyfeld die geleentheid geniet en ouers het hulle vreugde uitgespreek oor die geleentheid om hulle kinders bekend te stel aan hierdie verset teen gevestigde seksuele rolle (“Drag queens dazzle at library story time,” 15 Junie 2019).

“Dit is uiters belangrik om kinders te leer dat dit in orde is om anders te wees en hulleself uit te druk op maniere wat anders is as wat die gemeenskap voorheen gesê het ‘normaal’ is”, het een van die drag-queens gesê wat met die kinders gemeng het en vir hulle stories gelees het, met titels soos “Kindness Makes the World Go Round,” “We’re All Wonders” en “Celebrate You.” Daar is beslis niks mee verkeerd om kinders te leer om vriendelik te wees nie, maar u kan maklik raai dat vriendelikheid nie al is waaroor hierdie stories gegaan het nie. Dit gaan egter die verstand van enige regdenkende mens te bowe oor hoe kinders daarby kan baat vind as selfs op die oog af opbouende stories aan hulle vertel word deur mans wat vroulike kleredrag en grimering dra.

Dit mag dalk onsmaaklik wees om hierdie soort inligting in ’n tydskrif soos die Wêreld van Môre te lees, maar ons moet die werklikheid in die gesig staar. Hierdie ontwikkelings is meer ontstellend en gevaarliker as wat u wysgemaak word. Die verregaande gedrag wat deur die beplanners van hierdie gebeure voortgedryf word, word geleidelik al hoe meer aanvaar deur die grootste deel van die samelewing. Ons wêreld het op ’n plek gekom waar gedrag wat vroeër botweg as afwykend veroordeel is, nou beskou word as “geskik vir alle ouderdomme” en selfs vir die jongste kindertjies! U en ek betaal daarvoor deur middel van ons belasting, wat help om openbare biblioteke en ander instellings te ondersteun.

Ja, maatskaplike beplanners maak jag op u kinders en hulle doen dit heel “onbeskaamd”. Hulle is al dekades lank op universiteitskampusse bedrywig, hoewel baie ouers nie bewus is van die volle omvang van hulle aktiwiteite nie. Die meeste ouers is besig om geld te verdien om hulle kinders se opvoeding te help betaal. Hulle glo dat hulle kinders universiteit toe moet gaan indien hulle in die toekoms ’n goeie werk wil kry. Hulle werk hard om dit moontlik te maak – ewe gerus oor wat hulle kinders werklik geleer word en die regte prys wat hulle betaal. Was hulle immers nie self op universiteit en het dit oorleef nie? Die akademiese wêreld van vandag is egter ver verwyder van die een wat hulle slegs een of twee geslagte gelede geken het.

Wat skuil agter die storie?

Drag Queen Story Time” is ’n Britse voortvloeisel van Amerika se “Drag Queen Story Hour” en albei het dieselfde doel: Indoktrineer kinders sodat hulle abnormaal as normaal aanvaar. Albuquerque se bydrae tot hierdie doelwit was duidelik ’n klinkklare sukses: “Kinders en gesinne van alle ouderdomme het op die grondverdieping gesit, met kleurvolle blomkranse en geklee in alle kleure van die reënboog, om te luister na Cruse en Patricks wat hardop gelees word ... Vanweë die positiewe reaksie het personeel van die biblioteek gesê dat hulle waarskynlik Drag Queen Story Time ’n gereelde instelling sal maak”.

Dit is nie te sê dat die geleentheid sonder teenkanting verloop het nie: “Ongeveer vyf minute na die eerste storie begin het, het ’n vrou agter in die kamer op die drag queens geskree om ‘op te hou om ons kinders seer te maak’. Sy was deur die gehoor uitgejou en deur die sekuriteit uit die gebou begelei, verby ’n klein groepie betogers wat buite die biblioteek bymekaar gekom het met bordjies met boodskappe soos ‘Los kinders uit! Drag queens gaan huis toe’” (ibid.). In werklikheid was daar sterk protesoptrede teen die aktiwiteit te wagte en dit het gebeur net soos verwag was. Daar is inderdaad steeds diegene wat die gevaar besef van wat besig is om die samelewing in te haal en voel dat hulle hul stemme moet verhef om die radikales nie loshande te laat wen nie. ’n Mens wonder egter hoe lank sulke “andersdenkendes” toegelaat sal word.

Volgens DragQueenStoryTime.com beoog die program “om die verbeelding en die pret van geslagsvloeibaarheid van die kinderjare aan te wakker, terwyl dit kinders glansryke, positiewe en onbeskaamde homoseksuele rolmodelle gee”. Wat moet die ouers dink wat hulle kinders na sulke geleenthede toe neem? Is dit regtig die individue waarna hulle wil hê dat hulle kinders na sal opsien as “rolmodelle”? Wat gaan hulle dink as Johnny by die huis kom en verklaar dat hy soos die drag queen wil wees wat hy een keer tydens storietyd in die openbare biblioteek gesien het? Is dit wat ouers werklik vir hulle kinders wil hê? Indien wel, hoe siek!

Om die woorde van Judy Zuckerman, die direkteur van Jeug- en Gesinsdienste in die Brooklyn Openbare Biblioteek te gebruik, is “Drag Queen Story Hour ’n prettige en belangrike program wat diversiteit besing op ’n manier waarop kinders kan aantrek en optree. Dit moedig kinders aan om by gedragstereotipes verby te kyk en onbeperkte selfverkenning aan te gryp. Programme soos DQSH moedig die aanvaarding van verskille aan en help om afknouery te voorkom, terwyl dit ’n aangename literêre ervaring bied” (DragQueenStoryHour.org).

Weereens, wil ouers regtig hê dat hulle kinders “ongebonde verkenning van die self” sal aangryp? “Selfuitlewing” is sekerlik een van die vele valse gode van hierdie tyd, maar behalwe dit, wil ouers wérklik hê dat hulle kinders drag queens word en hulleself uitdruk in gedrag wat baie mense steeds beskou as fundamenteel abnormaal? Ongelukkig is dit duidelik dat sommige ouers wil hê dat hulle kinders verward sal wees oor hulle natuurlike biologiese status, soos blyk uit die feit dat sommige beroemde en ander mense probeer om hulle kinders “geslagsneutraal” groot te maak.

Die ongelukkige gevolge van verskriklike storievertelling

Dr. Miriam Grossman, ’n sielkundige aan die Universiteit van Kalifornië, Los Angeles – ’n vooraanstaande skool vir hoër onderwys – het ’n belangrike waarheid in haar boek, Unprotected, in 2006 geopenbaar. In ’n onderhoud met National Review bespreek dr. Grossman haar werk:

“Ek bespreek ’n taboe-onderwerp hier: Die gevare van radikale sosiale agendas in my beroep. My kollegas het goeie bedoelings en gee baie om vir hulle pasiënte. Sentrums vir berading op die kampusse is besig om die idee te bevorder dat manne en vroue dieselfde is. Hulle onderrig jongmense nie oor die toekoms en die gesin nie. In hierdie kwessies wat so belangrik tot die gesondheid en berading van die kampus is, faal ons ons jong mense” (“Unprotected”, 6 Desember 2006).

Daar is ’n verskuilde agenda agter die sosiale tendense in ons wêreld. Ongelukkig is daar te veel mense wat nie hiervan bewus is nie en bloot aanvaar dat die enigste motivering vir programme soos “Drag Queen Story Time” is om afknouery te voorkom. Afknouery is onaanvaarbaar, maar wat ons vandag sien, is dat die wat geboelie is, die boelies geword het en probeer om alle teenkanting teen hulle wêreldbeskouing te smoor. Om die waarheid te sê, diegene wat in die verlede afgeknou is, is nie altyd diegene wat die grootste druk uitoefen om hierdie sosiale veranderings te bewerkstellig nie. Linkse ideoloë en anargiste spits hulle daarop toe om elke oorblyfsel van die Bybelse ontwerp van die gesin te vernietig. Soos dr. Grossman in haar boek verduidelik:

“Daar is sewentien miljoen studente wat by ons land se kolleges en universiteite ingeskryf is. Baie van hulle is nog adolessente wat beïnvloedbaar en verward is; hulle is op ’n kritieke stadium in hulle ontwikkeling en bevraagteken wie hulle is en wat hulle wil hê ... As ouer weet ek dat agter die meeste studente ’n moeder en vader is wat bekommerd is, wat hoop en bid vir hulle kind. Ek wil hulle waarsku; benewens 'n uitspattige gedrinkery en afspraakverkragting, is daar ’n ander gevaar op die kampus wat u aandag vereis. U neem waarskynlik aan dat, indien dit nodig is, u kind die sentrum vir studentegesondheid of -berading sal besoek ... die dokter of terapeut ’n neutrale persoon sal wees wat objektiewe inligting en leiding sal gee. Dink weer! Die verpleegster wat u dogter oor herpes leer, die maatskaplike werker wat u seun gerusstel oor sy homoseksuele gedagtes – hierdie mense het moontlik ’n visie vir sosiale verandering waarmee u nie saamstem nie. Hulle sien moontlik hulle werk as ’n geleentheid vir aktivisme en een van hulle doelwitte is om u kind te beïnvloed ... Hulle mikpunt is ’n androgene kultuur, waar die verskille tussen manlik en vroulik as onbenullig beskou word of ontken word en die band tussen hulle van uitsonderlikheid beroof word” (Unprotected, bll. xx-xxi).

Hierdie radikale agenda het wortel geskiet en uiters gewild onder milleniales, Gen-Xers en die media. Die tekens daarvan is duidelik vir almal om te sien. Hoe ver sal dit gaan? Wat kan u as ouer of grootouer doen? Is daar enigsins goeie nuus op die horison?

’n Ongelukkige einde word voorspel

Terwyl hierdie veranderings in ons samelewing oënskynlik van nêrens af gekom het nie, is dit nie ’n verrassing vir lesers van die Wêreld van Môre nie. O ja, die mate, die spoed en die diepte waarteen hierdie afwaartse spiraal plaasvind is verbasend, maar die rigting is nie, want ons het die morele agteruitgang in ons Westerse nasies al dekades lank voorspel. Hoé sleg dit gaan raak, is moeilik om te sê, maar dit sal baie erger word as wat ons ons kan indink voordat dit beter sal word – maar wees verseker, dit sal uiteindelik beter gaan.

Ernstige geskiedenisstudente erken dat groot nasies en wêreldryke uiteindelik agteruitgaan en tot ’n val kom. Ons het egter ’n groter Bron wat die toekoms van die nasies van Britse afkoms en Amerika openbaar asook die toekoms van die hele wêreld. Daardie Bron is die Bybel en die voorspellings daarvan is so seker soos dat die son sal opkom en ondergaan.

Die Bybelse profeet Jesaja het die mense van sy tyd gewaarsku: “Hoor die woord van die HERE, owerstes van Sodom! Luister na die wet van onse God, volk van Gomorra” (Jesaja 1:10). Die twee stede Sodom en Gomorra was bekend vir hulle afwykende seksuele gedrag. Tot vandag het die termes “sodomeer” en “sodomie” ’n negatiewe konnotasie. Min Bybelgeleerdes – baie minder as dié wat nie geleerdes is nie – erken dat die profesieë van Jesaja nie net aan die Jode van sy tyd gerig was nie, maar ook aan die Huis van Israel, wat bestaan uit die nasate van die broers van Juda wat sal leef in die eindtyd.

God het ’n bevel gegee teen die dra van klere wat eie aan die drag van die teenoorgestelde geslag is. “’n Vrou mag geen mansklere dra nie, en ’n man mag geen vroueklere aantrek nie; want almal wat dit doen, is vir die HERE jou God ’n gruwel” (Deuteronómium 22:5). Dit verwys nie na vroue wat ’n broek dra wat vir vroue ontwerp is of ’n Skot wat ’n Skotse rokkie dra nie. Inteendeel, die opdrag van die Skrif is dat God ’n duidelike onderskeid wil hê, nie verwarring nie – manne behoort manne te wees en vroue behoort vroue te wees. Dit is ongetwyfeld hier waar Paulus vandaan kom toe hy verklaar het: “Of leer die natuur self julle nie dat as ’n man lang hare het, dit vir hom ’n oneer is nie”? (1 Korinthiërs 11:14) voordat hy verduidelik dat vroue oor die algemeen langer hare as manne behoort te hê.

God neem nie die bevordering van die LGBTQA + -lewenswyses ligtelik op nie. Die apostel Paulus maak dit baie duidelik in Romeine 1:24-27. Hy betig nie net die mense wat sulke lewenswyses beoefen nie, maar ook die mense wat dit goedkeur (Romeine 1:32). Diegene wat aan God getrou is, behoort ywerig vir die samelewing te bid en hulle te waarsku teen die sondes wat hulle sal inhaal, hoewel hulle nie toegelaat word om hierdie mense te oordeel nie. Nietemin, die Woord en wil van God is duidelik: Die mens se verwerping van Sy weë sal ons duur te staan kom, veral naby die eindtyd, wanneer Sy toorn bekend gemaak sal word (Jesaja 58:1; Romeine 1:18).

Die term “LGBTQA +” wat hierbo gebruik word, is by verre nog nie die hele storie van die versameling ‘lewenstyle’ wat deur die hedendaagse seksuele kampvegters daarvan bepleit word nie. Dit is egter nodig dat u die laaste twee letters in daardie etiket verstaan: Die “A” staan vir “bondgenote” en dit is dié mense wat hierdie gedrag goedkeur en bepleit en die “+” dui aan dat die lys van vreemde gedrag nog nie volledig is nie. Wie kan voorspel watter nuwe gedrag nog tot hierdie polities korrekte “beskermde lys” bygevoeg sal word?

Praat die waarheid in liefde

Dit is belangrik om alle Skrifgedeeltes in ag te neem sodat niemand die boodskap van die Bybel verkeerd verstaan nie. Dit is duidelik dat die kleredrag wat eie aan die drag van die teenoorgestelde geslag is asook ander gedrag, volgens die Bybel afskuwelik genoem word. Terselfdertyd bied die Bybel hoop vir misleide individue wat vasgevang is in sulke gedrag – baie meer hoop as wat ooit gevind kan word by die selfvoldane individue wat die woorde van God verstaan, maar weier om hulle gesindheid dienooreenkomstig te verander. Die Bybel spreek daardie gesindheid aan, waar Christus se veroordeling aangeteken is van diegene wat Sy wonderwerke gesien het, maar geweier het om hulle van hulle sondes te bekeer:

“Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het. En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word; want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy bly staan het tot vandag toe. Maar Ek sê vir julle dat dit vir die land van Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag” (Matthéüs 11:21, 23-24).

Ons moet die waarheid praat: Daar is ’n diepgaande verskil tussen reg en verkeerd en die Woord van God bepaal die verskil. Ons behoort te onthou dat ons almal per slot van rekening sondaars is wat ons van ons eie bose dade moet bekeer. Ons behoort dit nooit ons plig te ag om die oordele van God uit te deel nie en besef dat “die toorn van ’n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie” (Jakobus 1:20). In plaas daarvan behoort ons te bid vir genade aan alle mense. Om beter te verstaan hoe God vir elke mens die geleentheid sal gee om tot bekering te kom, kontak een van ons streekkantore. Die adreslys verskyn op bladsy 2 en vra ons gratis eksemplaar aan van Is Hierdie die ENIGSTE Dag van REDDING? of lees dit aanlyn op wvm.co.za.

Die profeet Jeremia bied ’n gepaste beskrywing van die moderne huis van Israel: “Want my volk is dwaas; My ken hulle nie; dwase kinders is hulle, en hulle is onverstandig; slim is hulle om kwaad te doen, maar om goed te doen, weet hulle nie” (Jeremia 4:22).

Wanneer volwassenes hulle soos ‘dom kinders’ gedra en hulle kinders leer om diegene aan te prys wat biologiese feite en selfs die opvallendste waarhede verwerp, wat kan ons verwag? Die profeet Hosea gee die antwoord. Let op hierdie skrikwekkende waarskuwing: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jý die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp [bv. ’n leraar van wát rég is] nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet” (Hoséa 4:6).

Waarom God se woede?

Dit is vir baie mense maklik om God se plan, Sy doel en waarom Hy sekere gedrag veroordeel, verkeerd te verstaan. Terwyl Hy die Tien Gebooie gegee het, was dit nie om die mens te straf nie, maar om ons te wys dat sekere gedrag altyd verkeerd is en pyn en lyding tot gevolg sal hê. Minstens drie van Sy gebooie beskerm spesifiek die gesin: Die opdragte om ons moeder en vader te eer, die opdrag om nie egbreuk te pleeg nie en die opdrag om nie dit wat aan u naaste behoort, te begeer nie. Dit sluit sy of haar eggenoot in (Exodus 20:12, 14, 17).

Die Tien Gebooie is ook opgeteken in Deuteronómium 5, waar God die feit betreur het dat Sy volk dit nie in hulle harte gehad het om Hom te gehoorsaam nie. Let op waarom Hy wil hê dat ons aan Hom gehoorsaam sal wees: “Ag, as hulle maar so ’n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan” (vers 29). Ja, God weet die beste. Hy weet wat werk en wat werk nie. “God is liefde” (1 Johannes 4:8, 16) en Sy Wet is “die wet van vryheid” (Jakobus 2:11-12) – dit bevry ons van gedrag en verslawing wat pyn meebring.

God beveel ouers om hulle kinders Sy weë te leer vir hulle eie beswil. Net nadat hy die Tien Gebooie herhaal het, het Moses die ouers opdrag gegee: “En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronómium 6:6-7). Hierdie opdrag is baie duidelik en ouers wat dit nie doen nie, stel hulle kinders in gevaar.

Bepaal die leerstelling van verdraagsaamheid teenoor mense wat anders dink en optree as onsself, dat ons die misleidings ondersteun van diegene wat verward is oor hoe hulle geskape is? Behoort ons die lewenstyle goed te keur wat in stryd met die lewenswyse is wat ons Skepper vir ons ontwerp het? Behoort ons die soort gedrag aan kinders bekend te stel terwyl hulle te jonk is om te verstaan waaroor dit gaan? Behoort ons nie liewer ons kinders te leer om vriendelik teenoor alle mense te wees en terselfdertyd vir hulle duidelikheid te gee oor wat reg en verkeerd is nie?

Die boodskap van die Wêreld van Môre is dat daar ’n tyd kom wanneer ons wêreld op ’n ander manier onderrig sal word as wat dit vandag gedoen word. Die duiwel wat die verloop van hierdie huidige bose wêreld organiseer, sal uit die weg geruim word. Hy sal nie meer toegelaat word om mense te verwar oor wie en wat hulle is en oor die groot doel wat God vir hulle in gedagte het nie. Die Wet van God sal die fondament van kennis wees. Kinders sal grootword by twee liefdevolle ouers – ’n man en ’n vrou – wat hulle op die regte manier sal leer.

Intussen behoort ouers hulle te skaam wat hulle kinders verwar deur hulle bloot te stel aan ’n skadelike, bedrieglike storie en ’n verskuilde agenda!