Dit is noodsaaklik dat ons verstaan dat die foute wat ons as ouers soms maak ’n invloed kan hê op ’n manier wat ons moontlik nie voorsien het nie.

Alle ouers smag daarna dat hulle kinders suksesvol in die lewe sal wees. Ongelukkig werk dinge nie altyd so uit nie. Sommige kinders eindig in die gevangenis, ander raak aan dwelms verslaaf, het kinders buite die huwelik of hulle draai bloot net as onproduktiewe lede van die samelewing uit. In ’n vorige Wêreld van Môre-tydskrif artikel (Julie-Augustus 2018) het ons na vyf redes gekyk waarom sommige kinders die spoor byster raak. In hierdie artikel gaan ons na nog vyf redes kyk. Almal daarvan is groot belangrike foute wat vermy behoort te word.


Oorsaak nommer 6: Ouerlike voorbeeld van verwerping van gesag

Wanneer ouers nalaat om die heerskappy van God of van burgerlike gesag te aanvaar, veroorsaak dit dat kinders dieselfde doen. Oneerlike ouers maak oneerlike kinders groot en as u die heerskappy van God en die mens verwerp, sal u kinders nog een byvoeg by hulle lys van owerhede wat nie deur hulle gerespekteer word nie: Uself! Galásiërs 6:7 sê aan ons: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”

Dit is belangrik dat ouers konsekwent is in die respek wat hulle aan owerhede betoon. Hoe sal u kinders respek betoon aan die verkeersbeampte wat u van die pad aftrek om ’n dagvaarding aan u uit te reik, as ú nie respek betoon nie? Hoe sal hulle godsdienstige gesag kan respekteer as u hulle na die kerk bring en dan daardie aand “gebraaide leraar” vir aandete bedien? Indien u nie die siviele en godsdienstige owerhede respekteer nie, waarom verwag u dit van u kinders? Indien u nie heeltemal met u kerk se leerstellings of met u kind se onderwyser saamstem nie, is dit miskien tyd om van kerk of skool te verander. Wat u ookal doen, selfs al sou u met ’n gesagsfiguur verskil, doen dit met respek. Dit is veral waar in die geval van geskeide ouers. Wanneer u as ouer die vader of moeder van u kind openlik voor u kind kritiseer, doen u die kind ’n diepe onreg aan. ’n Kind wat sy vader, moeder, burgerlike of godsdienstige gesag nie respekteer nie, is tot mislukking gedoem.

 

Oorsaak nommer 7: Verdeeldheid in die huis

In Matthéüs 12:25 sê Jesus aan ons: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie.” Laat ons maar eerlik wees, dit is dikwels moeilik om getroud te wees. Mans en vrouens dink net nie dieselfde nie. Professor Higgins het dié vraag in die musiekblyspel, My Fair Lady gevra: “Waarom kan ’n vrou nie meer soos ’n man wees nie?” – maar hy het die punt gemis! God het mans en vrouens verskillend gemaak en Hy het dit vir baie goeie redes gedoen. Dit is veral betekenisvol in die opvoeding van kinders. Alhoewel daar duidelike uitsonderings is, is vrouens oor die algemeen geneig om meer saggeaard as mans te wees. Daarom is hulle uiteraard minder effektiewe dissiplineerders. Dit is waarom mens hulle dikwels hoor sê: “Wag totdat jou pa by die huis kom!” Hierdie verskil is dikwels ’n oorsaak van onenigheid tussen die twee. Sommige vroue is gans te sag met kinders wat hulle sleg gedra terwyl party mans heeltemal te streng is. Ten minste kan die een ouer dalk die ander ouer só beter probeer verstaan.

Dit is nodig dat ouers saamwerk en baie van hierdie werk moet agter geslote deure plaasvind. Ek kan ’n gesin onthou wat ’n goeie voorbeeld hiervan was. Kleuters kan baie foute maak, metaalvoorwerpe in kragproppe druk, lampe van tafels aftrek, melk stort en wanneer hulle groter word, kan hulle begin leuens vertel. Hierdie ouers het in detail bespreek wat die belangrikste in elke stadium was. Hulle was meer bekommerd oor hulle dogtertjie wat oor die straat hardloop, as ’n glas melk wat gestort word. Deur saam te werk, het hulle op dieselfde prioriteite gekonsentreer en dit het haar ’n gevoel gegee van wat Mamma en Pappa werklik as belangrik beskou. Mamma het haar nie vir een stel waardes gekorrigeer terwyl Pappa dit met ’n ander stel gedoen het nie. Ouers kan nie van elke ding weet wat ’n kind moontlik mag doen nie, maar hulle kan saamwerk aan die ooglopende probleme.

’n Oormatig gesaghebbende vader en ’n swak emosionele moeder wat altyd tot die redding van die kind kom, sal mekaar uitkanselleer. Onder alle, behalwe die uiterste omstandighede, is dit beter om met dissipline – of die gebrek daaraan – net ’n bietjie te wag om dit eers agter geslote deure te bespreek as om voor die kinders met mekaar te verskil sover dit hulle aangaan.

Die ergste gesinsverdeling is egskeiding. Dat egskeiding algemeen geword het, is ’n jammerlike aanklag teen ons moderne wêreld, maar selfs in egskeiding behoort kinders voor u persoonlike agendas gestel te word. Te dikwels kraak die een ouer die ander een af in die oë van die kinders. Selfs al kom twee mense nie met mekaar oor die weg nie, moet hulle, as hulle hul kinders werklik liefhet, ’n reuse poging aanwend om die ander ouer te ondersteun. ’n Kind het immers net een ware biologiese vader en een ware biologiese moeder en hierdie twee mense is werklik vir die kind belangrik. Moenie daardie verhouding bederf nie!

 

Oorsaak nommer 8: Gebrek aan dissipline

God sê aan ons dat kinders liefdevolle dissipline nodig het wat konsekwent, regverdig en toepaslik vir die oortreding behoort te wees. Sommige mense is geneig om van die een uiterste na die ander te gaan. Sommige ouers mishandel hulle kinders fisies, terwyl ander geen straf toepas vir slegte gedrag nie.

Dissipline kom in baie vorms voor; van ’n paar rapse met die hand op die sitvlak, tot inperking van voorregte. Die boek Spreuke stel gepaste lyfstraf voor in (13:24; 29:15), maar soms verstaan mense die woorde verkeerd wat hier gebruik word. Die roede waarvan in hierdie gedeeltes gepraat word, kan beter vertaal word as ’n dun lat. Sommige regsgebiede laat ouers toe om hulle kinders met die hand op die “sitvlak” te raps. Dit is egter nie universeel nie, aangesien sommige nasies enige lyfstraf deur die wet verbied. Dit is nodig dat ouers bewus sal wees van wette wat hulle raak. Selfs wanneer ’n pak slae toelaatbaar is, moet dit nie uit woede gegee word nie.

Een vorm van dissipline waaraan baie mense nie dink nie, is om ’n kind toe te laat om die gevolge vir sy of haar besluite te dra. Soos ’n wyse ouer aan my verduidelik het: “Wanneer ons dogtertjie (destyds sewe of agt jaar oud) haar gunsteling rok na ’n partytjie wou dra ná die wasdag, kon sy dit nie daardie week kerk toe dra nie”. Dit was haar keuse, maar Mamma sou dit nie was en stryk vir kerk as sy dit na die partyjie gedra het nie.

Namate hulle seun en dogter groter geword het, is hulle toegelaat om belangriker besluite te neem, maar moes die gevolge daarvan dra. Hulle moes leer om met hulle keuses saam te leef. Hierdie ouers het die potensiaal vir skade, wat inherent is aan sommige van hulle kinders se geleenthede om te kies, deeglik oorweeg en sou reëls neerlê indien hulle kinders iets wou doen wat tot permanente skade kon lei. Daar was keuses wat hulle nooit aan die kinders self oorgelaat het nie, soos om uit te bly tot na die aandklokreël of om ontspanningsdwelms te gebruik. Om die waarheid te sê, geen ouer kan waarborg dat kinders nie skadelike dinge sal aanvang nie, maar deur aan hulle toepaslike keuses saam met wyse raad te gee, verseker ouers dat hulle kinders minder geneig sal wees om teen ouerlike gesag in opstand te kom wanneer dit regtig saakmaak.

In die geval van my vriende, het áltwee hulle kinders opgegroei om suksesvolle lewens te lei en standvastige burgers te word wat kon bydra tot voordeel van die samelewing. Hulle het van ’n vroeë ouderdom selfdissipline geleer. Hulle het ook geleer dat terwyl Mamma en Pappa hulle toegelaat het om sekere besluite te neem, was die raad wat aan hulle gegee is voordat besluite geneem is, meestal korrek. Die seun wou ’n paar honderd dollar op “laetoon luidsprekers” vir sy motor spandeer. Sy pa het opgemerk dat hy sy hardverdiende kontant sou vermors, sy gehoor benadeel en geld op iets mors waarvoor hy gou moeg sou word. Na ’n paar maande het die seun aan sy pa erken dat hy die regte advies aan hom gegee het. Dit was ’n belangrike les. Vader het die beste geweet!

Geen blywende skade kom uit die toelaat van ouderdom-toepaslike keuses nie, solank as wat die ouers “voet by stuk hou”. ’n Paar trane wat vroeg in die lewe gestort word, kan later in die lewe baie dinge voorkom. Te dikwels gee ouers toe en die kind leer nooit dat daar gevolge vir sy of haar besluite sal wees nie terwyl selfdissipline ook nie ontwikkel word nie.

 

Oorsaak nommer 9: Ouerlike ontmoediging

Gedurende die afgelope 30 jaar is heelwat oor selfbeeld geskryf en op verskeie maniere is dit ’n gebrekkige konsep. Die idee is geopper dat as Jannie ’n lae selfbeeld het, hy sleg sal uitdraai, maar as ons “hom” ’n sterk selfbeeld gee, sal hy uitsonderlik vaar. Gelukkig het baie owerhede met reg hierdie ingesteldheid bevraagteken en van die foute daarvan uitgewys. Let op hierdie twee foute, om mee te begin:

Eerstens, wanneer ouers net aan Jannie vertel hoe wonderlik hy is, beteken dit dat sy welsyn van hulle afhanklik is. Wat gebeur wanneer hy hom in die werklike wêreld bevind, waar ander mense dalk nie dink dat hy so spesiaal is nie? Wil ons werklik sy welsyn aan ander mense oorlaat?

Tweedens, wat hy van homself dink en wat hy is, mag dalk nie ooreenstem nie. Hy mag dalk dink dat hy spesiaal is of dat hy goed kan basketbal speel, omdat mense hom nie die waarheid wil vertel nie, maar as hy dink hy is gereed vir die hoërskoolspan, leef hy dalk in ’n droomwêreld. Ons sien dit al die tyd op televisie in talent-programme soos Britain’s Got Talent of American Idol. Wanneer hulle nie die paal haal nie, sal sommige individue met die beoordelaars (wat eintlik iets weet) argumenteer dat hulle verkeerd is.

Hoe het hierdie selfbeeld dwaasheid dus in die eerste plek begin? Soos dr. Jeffrey Fall in sy verhandeling, Suksesvolle ouerskap volgens God se riglyne uitwys, is daar ’n balans tussen aanmoediging en aftakeling van ’n kind. Kinders het aanmoediging nodig, maar sommige ouers, veral vaders wat in moeiliker tye van oorlewing grootgeword het, is geneig om strenger en veeleisender teenoor hulle kinders te wees. Generasies van die Groot Depressie en die Tweede Wêreldoorlog wou weer hê dat hulle kinders beter daaraan moes toe wees, wat dus die pendulum in die ander rigting geswaai het.

Daar is ook ’n ander realiteit aan die werk – veral vaders kan van nature oordrewe veeleisend wees. Daarom waarsku die apostel Paulus ons in Kolossense 3:21: “Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie.” Ook in Efésiërs 6:4: “En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.”

Moenie ooit aan u kind vertel dat hy of sy vir niks goed is nie en moenie so ’n perfeksionis wees dat u kinders sal ophou probeer nie. Kinders is kinders. Dit is aanvaarbaar vir hulle om foute te maak terwyl hulle hope eerlike aanmoediging nodig het. Wanneer hulle goed doen, sê dit vir hulle, maar wanneer hulle verbrou of op die verkeerde spoor is wat betref hulle talente, bespreek dit eerlik en vol liefde op ’n gepaste tyd.

 

Oorsaak nommer 10: Lae verwagtings

Sommige ouers sê vir hulle tieners: “Ek weet dat jy waarskynlik dronk sal word, dwelms sal uittoets, te vinnig sal ry of voor die huwelik seksueel betrokke sal raak”. Ander ouers gaan so ver as om geboortebeperkingspille aan hulle dogters te gee. Hierdie soort advies kom dikwels van ’n ouer wat hierdie soort dinge gedoen het toe hulle nog jonk was en dus verwag dat alle tieners dieselfde sal doen. Dit is waar dat baie tieners hierdie foute begaan, maar nie almal nie. Daar is van hulle wat nooit dronk word nie, nooit dwelms uittoets of seks voor die huwelik beoefen nie. Wanneer ’n ouer lae verwagtings te kenne gee, kom dit neer op toestemming.

’n Beter benadering is om u verwagtings, dat u kinders nie hierdie dinge sal doen nie, bekend te maak maar u tog sal besef dat hulle dit wel kan doen. Indien hulle dan ’n paar slegte besluite neem, laat hulle weet hoe teleurgesteld u is omdat hulle tekort geskied het aan die gesin se verwagtings. Indien die verwagting laag gestel word, mag kinders moontlik nie volgens hulle vermoëns presteer nie. Indien dit te hoog is, mag ’n kind dalk nie eers probeer nie. Daar behoort ’n balans in die opvoeding van kinders te wees, maar minimale of lae verwagtings moedig mislukking aan.

 

Liefde is die slotsom

Al hierdie punte saamgevoeg, kom op een woord neer – liefde. Ons kommunikeer ons liefde aan ons kinders deur mense te wees na wie hulle kan opsien en respekteer. Ons leef konswekwent sonder skynheiligheid. Ons toon wysheid, behandel mense regverdig en is onselfsugtig. Ons toon ons liefde aan hulle deur tyd saam met hulle deur te bring. Ons betoon ons liefde wanneer ons tyd afstaan om hulle met ywer op die regte pad te lei en wanneer ons ’n voorbeeld van respek aan gesag stel. Ons demonstreer ons liefde aan hulle wanneer ons as ouers ons geskille opsy skuif sodat ons hulle met ’n eensgesinde benadering kan grootmaak. Ons toon ons liefde wanneer dissipline regverdig toegepas word en volgens die oortreding met beginselvastheid. Ons wys ons liefde wanneer ons ons van ontmoedigende “kritiek” weerhou en eerder ons kinders deur eerlike aanmoediging opbou en hulle laat besef dat ons hoë, maar redelike verwagtings van hulle koester. Ons maai wat ons saai en as ons deur ons aksies liefde gesaai het, sal ons kinders opgroei volgens die weg wat hulle behoort te kies (Spreuke 22:6)!


Deel 1https://www.wvm.co.za/lees-artikel.php?id=750&title=waarom-kinders-die-spoor-byster-raak