Bybelprofesieë omtrent die einde van die tyd gebruik ontnugterende beelde van vier ruiters om die verskriklike gebeure te beskryf wat oor die wêreld gaan plaasvind kort voor die Wederkoms van Jesus Christus. Die vierde ruiter (Openbaring 6:7-8) versinnebeeld die uitbreek van pestilensies en probleme (Mattheus 24:7; Markus 13:8; Lukas 21:11) wat ’n kwart van die wêreld se bevolking gaan teister met geweld, hongersnood en “die wilde diere van die aarde”, wat virusse en bakterieë insluit (Openbaring 6:8). Teen die wêreld se huidige bevolkingsvlakke, beteken dit dat hierdie katastrofes meer as 1,5 biljoen mense sal dood! Rampe van hierdie omvang mag vergesog klink in die lig van die moderne mediese tegnologie, tog word waarskuwings van verwoestende globale epidemies al hoe meer gehoor. Dit dui daarop dat hierdie antieke Bybelprofesieë gereed is om vervul te word!

Ontnugterende verslae

Die afgelope dekades het mediese kenners kennis geneem van die herverskyning en verspreiding van aansteeklike siektes wat onder beheer geag was. Malaria het teruggekeer na gebiede waar dit bykans uitgewis was, maar word nou versprei deur muskiete wat bestand is teen insekdoders en parasiete wat antibiotika-bestand is. Vandag besmet malaria 600 miljoen mense en dood jaarliks meer as ’n miljoen kinders in sub-Sahara Afrika. Nog ’n hoofoorsaak van sterftes, tuberkulose, wat bestand is teen behandeling, versprei in ekonomies sukkelende Oos-Europese areas, Rusland, Asië en Afrika. Warmer temperature het die reikafstand van muskiete wat die Wes Nyl-virus versprei tot in Noord Amerika vergroot. Seksueel-oordraagbare siektes skiet in groot stede van die wêreld die hoogte in. Volgens ’n onlangse Verenigde Nasies verslag het die VIGS epidemie 40 miljoen mense regoor die wêreld besmet. In 2003 het VIGS meer as 3 miljoen mense gedood en meer as 5 miljoen mense besmet. Kenners meen ook dat die ergste nog kom! Die heruitbreek van aansteeklike siektes regoor die wêreld laat openbare gesondheidsbeamptes duidelik baie bekommerd – om verstaanbare redes!

Ons kwesbare wêreld

In die vorige eeu het die ontwikkeling van antibiotikums, die “wonder-oplossing” van moderne wetenskap, ’n vals gevoel van sekuriteit gebied wat baie mense laat glo het dat ons nie meer bedreig word deur aansteeklike siektes nie. Die verskyning van mikrobe wat bestand is teen kragtige medisynes, dui egter op die beperkings van wat antibiotikums kan vermag. Danksy internasionale lugvervoer kan siektedraers binne slegs ’n paar uur in kontak kom met duisende mense op besige lughawens halfpad om die aarde wat die verspreiding van sulke siektes grootliks aanhelp. Die ontstaan van mega-stede waar miljoene mense in noue kontak saamleef, fasiliteer ook die verspreiding van siektes. In ontwikkelende lande waar miljoene mense in krotbuurte saamdrom met min toegang tot skoon drinkwater, mediese dienste of die higiëniese verwydering van menslike afval en rommel, floreer hierdie siekte-epidemies. Maatskaplike ontwrigtings wat veroorsaak word deur oorlog en politieke onrus wat Afrika, die Midde-Ooste en ander dele van die wêreld teister, skep ideale toestande vir die verspreiding van aansteeklike siektes. Al hierdie faktore is teenwoordig en aan die toeneem in ons hedendaagse wêreld. Die bedreiging van bio-chemiese terrorisme – die opsetlike vrystelling van giftige mikrobes of chemiese middels in groot stedelike sentra – bied ’n vreesaanjaende scenario waardeur dit moontlik is om ’n groot aantal mense in ’n baie kort tydjie te dood. In die laaste dekade het ons wêreld duidelik kwesbaarder geword vir die uitbreek van globale epidemies wat die potensiaal het om miljoene lewens te eis – presies wat die vierde ruiter uitbeeld!

Die vergete verlede

’n Vinnige blik op die geskiedenis onthul: “Epidemies het koninkryke verpletter, militêre leërs verslaan en ons leefwyse vir ewig verander” (Fourth Horseman, Nikiforuk, bl. 15). In die verlede het epidemies onverwags hul verskyning gemaak en dood en verwoesting oor groot dele van die wêreld gesaai. In die Middeleeue het melaatsheid, tuberkulose, kolera en maagkoors hoogty gevier in die morsige en saamgedwonge lewensomstandighede van die stede van daardie tyd. In 1348 het ’n plaagepidemie – die “Swart Dood” – binne slegs twee jaar ’n derde van die bevolking van Europa gedood (ongeveer 30 miljoen mense)! Die plaag het al langs Middeleeuse handelsroetes versprei. Columbus se matrose het sifilis van Amerika af saamgebring en dit het spoedig deur Europa versprei, aangehelp deur promiskuïteit en openbare badhuise. Europeërs het pokke na Amerika gebring waar dit 100 miljoen Amerikaanse boorlinge in een dekade gedood het omdat hulle nie natuurlike weerstand teen die siekte gehad het nie. Die mees dramatiese globale epidemie in moderne tye was die griep-epidemie van 1918, wat 50 miljoen mense in slegs 18 maande gedood het! In teenstelling hiermee het die slagvelde van die Eerste Wêreldoorlog vier jaar nodig gehad om 15 miljoen lewens te eis. Die onlangse uitbreek van EARS (Ernstige Akute Respiratoriese Sindroom) en die oplewing van aansteeklike siektes dui duidelik daarop dat die vierde ruiter steeds ’n bedreiging is vir die gesondheid van die mensdom en dat hy weer sal ry wanneer die toestande gunstig is.

Lesse uit die geskiedenis

Hoewel epidemies gereeld beskryf word as “dade van God” of natuurrampe, “verskyn hulle nie ongenooid nie. Dit verg ’n goeie dosis beskaafde provokasie om ’n epidemie te begin” (Nikiforuk, omslag). In ongeveer 450 v.C. het Hippokrates gemerk dat “siektes nie hul verskyning maak mits daar óf dramatiese verandering in menslike gesondheid óf in die gesondheid van die land is nie” – met ander woorde – “mense veroorsaak epidemies” (ibid., bl. 11). Die Duitse patoloog, Rudolf Virchow, wat as die vader van epidemiologie beskou word, het bykans 150 jaar gelede tot die gevolgtrekking gekom dat “epidemies soos groot waarskuwings lyk waaruit ’n staatsman ... kan aflei dat ’n versteuring plaasgevind het in die ontwikkeling van sy mense” (ibid.).

Menselewens en die hedendaagse omgewing verander op ongekende wyse. Kyk maar na die resultate van die bevolkingsontploffing: besoedelde lug en water in vullisbesaaide en groeiende stede, krotte waar miljoene mense in hole bly, woude wat deur ekonomiese ontwikkeling uitgeroei word en stygende temperature wat weerpatrone en die ekonomie regoor die wêreld beïnvloed. Voeg daarby die verskyning van medikasie-bestande kieme, siektes wat versprei word deur lugvervoer en immuunstelsels wat verswak is deur stres, vrye geslagtelike verkeer, binne-aarse dwelmgebruik en wanvoeding, en jy het ’n dodelike resep vir globale epidemies. Die Vigs-epidemie en skerp-stygende voorkoms van seksueel-oordraagbare siektes is die biologiese resultate van losbandigheid, swak higiëne en ’n rits hoë-risiko gedragspatrone van mense wat fundamentele gesondheidsbeginsels ignoreer en wat nie bereid is om verantwoordelikheid te neem vir die skade wat hul gedrag ander mense berokken nie.

Lank gelede het ons Skepper gewaarsku dat “as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge [nie] ... [sal] die HERE ... maak dat die pes jou aankleef ... die HERE sal jou swaar tref met tering en koors en vurige koors ... waarvan jy nie kan gesond word nie” (Deuteronomium 28:15-28).

Die Bybel onthul dat, as gevolg van die mensdom se gewilligheid om fundamentele fisiese en morele wette te ignoreer, sal ons die vrugte pluk van die verbreking van daardie wette en dat “allerhande siektes en allerhande plae ... dié sal die HERE teen jou laat opkom totdat jy verdelg is” (Deuteronomium 28:61). Jesus Christus het ook gewaarsku dat globale ellendes die voortbestaan van die mensdom sal bedreig voor Sy Wederkoms (Mattheus 24:21-22). Wanneer die vierde ruiter sy laaste rit begin, gaan hy deur menslike gedrag in die lewe geroep word. Hierdie ontnugterende profesieë is besig om te ontwaak en gaan binnekort vervul word!